Читать книгу Huppel en sy maats - W. O. Kühne - Страница 10
Vra vir Vlak-Floors
Оглавление“Nou luister dan mooi. Jy stap en jy stap en jy stap, en as jy by die bessiebosboord kom, kyk jy links en regs.
“Dan draai jy twee maal rondomtalie, en voor jou sal jy ’n huisie met ’n geel deurtjie sien. Moenie aan die venstertjie klop nie, want die ruit is uit. Klop aan die deurtjie, en vra my vriend Vlak-Floors hoe loop die pad.”
“Baie dankie, Fiefman,” sê Huppel.
“Mooi loop, Huppelkind,” sê Fiefman.
“Maar oppas net, as jy langs die pad ’n mannetjie sien wat net soos ek lyk, moet jy onder die polle inkruip. Dit is Diefman. Ek en Jasper is baie bang vir hom. Onthou nou, hoor.”
“Goed, Fiefman. Maar wie is Jasper?”
“Jasper is my mak muis. Hy slaap nou onder die emmer op die solder, anders het ek hom vir jou gewys.”
Met ’n wip en ’n trap seil Huppel oor die polle – trippel-trippel deur die grassies, huppel-huppel oor die plassies.
By die bessiebosboord kyk hy links en regs. Toe draai hy twee maal rondomtalie en sowaar! Voor hom staan ’n huisie met ’n goudgeel deur.
Hy klop nie aan die venstertjie nie, want die ruit is uit. Hy klop aan die deurtjie, en wie maak oop?
’n Klein kêreltjie met ’n pet op sy kop.
“Môre, môre,” sê Huppel, “is jy Vlak-Floors?”
“Môre, Huppelkind. Kom in, kom in. Kom kyk net wat maak ek.”
Huppel glip deur die deurtjie en sy oë rek groot. Wat maak Vlak-Floors?
Hy maak fraai klein steweltjies met vetertjies van groen en geel.
“Vir wie maak jy dit, Vlak-Floors?”
“Ek maak dit vir die mense van Lekkerland. Daar dra baie van my steweltjies met hul vetertjies van groen en geel.”
“O, Vlak-Floors, sê tog gou hoe kom ek by die Lekkerland, sê tog gou.”
“Ek sal jou graag self soontoe vat, Huppelkind, maar met my steweltjies met hul vetertjies van groen en geel draf ek so vinnig dat jy nooit sal byhou nie. Ek moet jou maar sê hoe die paadjie loop.”
“Toe nou, Vlak-Floors, sê nou gou!”