Читать книгу Huppel en sy maats - W. O. Kühne - Страница 9

Vra vir Fiefman

Оглавление

“Nou luister dan mooi. Jy stap en jy stap en jy stap, en as jy by die bamboesbos kom, kyk jy links en regs. Dan draai jy rondomtalie, en voor jou sal jy ’n huisie met ’n groen deurtjie sien.

“Maar moenie aan die deurtjie klop nie, want die knop is los. Klop aan die venster en vra my vriend Fiefman hoe loop die pad.”

“Baie dankie, Maraboe,” sê Huppel.

“Mooi loop, Huppelkind,” sê Maraboe.

Met ’n wip en ’n trap seil Huppel oor die polle – trippel-trippel deur die grassies, huppel-huppel oor die plassies.

By die bamboesbos kyk hy links en regs.

Toe draai hy rondomtalie en sowaar! Voor hom staan ’n huisie met ’n grasgroen deur. Hy klop nie aan die deurtjie nie, want die knop is los. Hy klop aan die venstertjie, en wie maak oop?

’n Klein kêreltjie met ’n bril op sy neus.

“Môre, môre,” sê Huppel, “is jy Fiefman?”

“Môre, Huppelkind. Kom in, kom in. Kom kyk net wat maak ek.”

Huppel wip deur die venstertjie, en sy oë rek groot. Wat maak Fiefman?

Hy maak ’n visnet met gate so groot soos wawiele.

“Hoekom is die gate in jou net dan so groot, Fiefman?”

“Die gate is so groot omdat die vissies so klein is in die diep kuil vol soet water wat nooit opdroog nie, Huppelkind.”

O, en toe is Huppel tog so bly. “Fiefman, Fiefman, sê tog gou, hoe kom ek by die diep kuil vol soet water wat nooit opdroog nie? Sal jy my die paadjie soontoe wys?”

“Ek sal jou graag self soontoe vat, Huppelkind, maar nou sit ek vas in my visnet. Ek moet jou maar sê hoe die paadjie loop.”

“Toe nou, Fiefman, sê nou gou!”

Huppel en sy maats

Подняться наверх