Читать книгу Huppel en sy maats - W. O. Kühne - Страница 7
Оглавление“Maar jy moet doodstil sit, so stil soos ’n muis – nog stiller as ’n muis. Jy moet nie roer nie. Jy hou net jou oortjies en jou ogies oop. Verstaan Oupa se kind nou mooi?”
“As ek doodstil sit, so stil soos ’n muis, nog stiller as ’n muis – sal daar dan maatjies kom, Oupa?”
“Maatjies! My liewe kind, maak jy maar soos Oupa sê. Jy sal self sien, daar sal soveel maatjies kom dat jy hulle op al die vingers van jou hande en al die tone van jou voete nie kan tel nie.”
“Sowaar, Oupa?”
“Sowaar, my kind.”
O, en toe is Huppel tog so bly. “Ek wens dit was al môre, Oupa. Ek sal doodstil soos ’n muis op die ou stomp tussen die biesies gaan sit, nog stiller as ’n muis, op die ou stomp tussen die biesies langs die diep kuil vol soet water wat nooit opdroog nie. En ek sal wag vir die maatjies wat nog meer is as al die vingers aan my hande en al die tone aan my voete. O, Oupa, ek wens die son kom al op, sommer so in die middel van die nag. Wie kan al die maatjies tog wees?”
“Jy sal wel sien, my kind. Maar onthou net, as iemand langs die pad jou vra wie jy is, moet jy mooi sê: ‘Ek is my oupa se Huppelkind van Aan-die-Beek van Krom-en-Skeef.’ Toe, en nou moet jy gaan slaap.”
O, en Huppel is tog so bly,
môre gaan hy maatjies kry.
Hy raak sommer dadelik aan die slaap. Toe dit lig word, spring hy uit sy bed en trek sy klere aan. Toe onthou hy dat hy agter sy ore moet was, en hy doen dit gou eers. En toe is dit al in die middel van die dag, en hy spring weg na die diep kuil vol soet water wat nooit opdroog nie.