Читать книгу Huppel en sy maats - W. O. Kühne - Страница 4
Oupa sê so
ОглавлениеIn die middel van die wêreld in die middel van ’n vlei het ’n vrolike knapie by sy oupa gebly. Sy naam was Huppel.
Die huisie in die middel van die wêreld in die middel van die vlei se naam was Aan-die-Beek.
En die straatjie voor die huisie in die middel van die wêreld in die middel van die vlei het ook ’n naam gehad. Sy naam was Krom-en-Skeef.
Huppel se oupa was ’n visser.
Bedags het hy sy hoeke in die diep kuile tussen die riete laat sak. Snags het hy sy nette in die stroom gespan. Dan sit Huppel maar in die middel van die vloer, in die middel van die huisie, in die middel van die wêreld, in die middel van die vlei en speel.
O, en hy wens tog so dat hy ’n maatjie kan hê.
Eendag wag hy totdat sy oupa van die stroom af kom, en toe vra hy vir hom waar hy ’n maatjie kan kry.
In die middel van die week in die middel van die nag kom sy oupa terug.
Sy pet is nat en sy baard is nat. Sy trui is nat en sy broek is nat. Daar is water in sy groot stewels en hy stap sliep-slop, sliep-slop.
“Oupa, Oupa, sê vir my,
waar kan ek ’n maatjie kry?”
Oupa skud die water uit sy snor uit. Hy hang sy nat pet en sy nat trui aan ’n haak agter die deur op. Hy keer sy groot stewels oor ’n balie om en hy sit hulle voor die vuur neer om droog te word. Toe gaan sit hy self voor die vuur in sy diep ou stoel, en hy tel vir Huppel op sy skoot.
“My kind,” sê hy, “hier in die middel van die wêreld in die middel van die vlei is nie ander kinders nie. Maar ek sal vir jou sê wat jy kan doen.”
“Toe nou, Oupa, sê nou gou!”
“Nou luister dan mooi. Môre, in die middel van die dag, gaan stap jy ’n lang, lang ent oor die vlei. Jy stap en jy stap en jy stap totdat jy by die diep kuil vol soet water kom. By die diep kuil vol soet water wat nooit opdroog nie, lê ’n ou, ou stomp tussen die biesies. Jy moet op die stomp gaan sit.