Читать книгу Huppel en sy maats - W. O. Kühne - Страница 12

Langs die soet water

Оглавление

Met ’n wip en ’n trap seil Huppel oor die polle – trippel-trippel deur die grassies, huppel-huppel oor die plassies.

Hy wip oor ’n sloot en hy glip om ’n bos, hy vleg deur die biesies en die wind jaag hom bo-oor ’n bult.

Maar hy rus nie.

Hy seil diékant toe en die wolke pyl daardie kant toe, en die vleiwind pluk aan sy kuif. En daar ver voor hom sien hy die soet water blink van die diep kuil wat nooit opdroog nie.

Ligvoet, ligvoet, Huppelkind,

skep my op en dra my, wind.

Langs die soet water van die diep kuil wat nooit opdroog nie, lê die ou, ou stomp tussen die biesies. Dit is net soos Oupa gesê het.

Huppel gaan sit op die stomp, doodstil soos ’n muis, nog stiller as ’n muis. Hy wag en hy wag en hy wag en daar kom geen maatjies nie.

Hy sal maar nog moet wag.

Al wat na die kuil toe kom, is die voëls van die vlei en die voëls van die bos en die voëls wat op die hoogste berge bly.

Hulle piep en hulle sing, hulle swem en hulle duik, hulle skrop en kweel en roep na mekaar. Die hele bos dreun soos hulle raas. O, en die Huppelkind se hart is so seer, want waar kan sy maatjies tog bly?

Hy sal maar nóg moet wag.

Maar al wat na die vlei toe kom, is die diertjies van die veld en die diertjies van die vlakte en die diertjies wat in die rantjies bly. Hulle vroetel en hulle snuffel, hulle piep en hulle knor, hulle speel en baljaar en roep na mekaar. Dis diertjies net waar jy kyk.

En toe begin ou Huppelkind huil, want waar, o wáár kan sy maatjies tog bly?

Huppel en sy maats

Подняться наверх