Читать книгу Huppel en sy maats - W. O. Kühne - Страница 11
Vra vir Steek
Оглавление“Nou luister dan mooi. Jy stap en jy stap en jy stap, en as jy by die suikerklontklippertjies kom, kyk jy links en regs.
“Dan draai jy drie maal rondomtalie, en voor jou sal jy ’n huisie met ’n blou deurtjie sien. Moenie aan die deurtjie klop nie, want die knop is los. Moenie aan die venstertjie klop nie, want die ruit is uit. Gooi ’n suikerklontklippie op die dak, en dan vra jy my vriend Steek hoe loop die pad.”
“Baie dankie, Vlak-Floors,” sê Huppel.
“Mooi loop, Huppelkind,” sê Vlak-Floors. “Maar oppas net, as jy langs die pad ’n groot lummel met bakore sien, moet jy onder die polle inkruip. Dit is Vlei-Floors, en ek en Wielie en Walie is baie bang vir hom. Onthou nou, hoor.”
“Baie dankie, Vlak-Floors. Maar sê vir my, wie is Wielie en Walie?”
“Wielie en Walie is my twee handlangertjies. Hulle lyk so eenders soos twee druppels water. Hulle slaap nou in my baadjiesak, anders het ek jou gewys hoe hulle lyk.”
Met ’n wip en ’n trap seil Huppel oor die polle – trippel-trippel deur die grassies, huppel-huppel oor die plassies.
By die suikerklontklippertjies kyk hy links en regs. Toe draai hy drie maal rondomtalie en sowaar! Voor hom staan ’n huisie met ’n potblou deur. Hy klop nie aan die deurtjie nie, want die knop is los. Hy klop nie aan die venstertjie nie, want die ruit is uit. Hy gooi ’n suikerklontklippie op die dak, en wie loer deur die skoorsteen?
’n Klein kêreltjie met ’n fluit in sy hand.
“Môre, môre,” sê Huppel, “is jy Steek?”
“Môre, Huppelkind,” sê Steek. “Kom in, kom in. Kom kyk net wat maak ek.”
Huppel seil in die skoorsteen af en sy oë rek groot. Wat maak Steek?
Hy kerf ’n koekoek uit ’n blokkie hout.
“Vir wie maak jy die koekoek, Steek?”
“Ek maak die koekoek vir ’n klok,” sê Steek. “In Lekkerland is al die klokke koekoekklokke, en elke koekoek sing ’n ander wysie. Ek moet hierdie outjie nog sy wysie leer. Ek speel vir hom voor op my fluit.”
“O, Steek,” sê Huppel, “sê tog gou vir my, hoe moet ek loop om die Lekkerland te kry?”
“Ek kan sien jy wil baie graag Lekkerland toe gaan, Huppelkind,” sê Steek. “Ek gee net gou die koekoek kos – ’n olieboomsaad en ’n kweperpit – en dan sê ek jou hoe die paadjie loop.”
“Toe nou, Steek, sê nou gou!”
“Nou luister dan mooi. Jy stap en jy stap en jy stap, en as jy by die diep kuil kom met die soet water wat nooit opdroog nie, kyk jy links en regs. Dan draai jy vier maal rondomtalie, en voor jou sal jy ’n ou, ou stomp sien lê.”
“’n Ou, ou stomp wat in die biesies lê?” vra Huppel, en hy spring op en af en hy klap sy handjies.
“’n Ou, ou stomp wat in die biesies lê,” sê Steek. “En dan gaan sit jy op die stomp.”
“Doodstil soos ’n muis, nog stiller as ’n muis?” vra Huppel en hy trippel en dans van pure plesier.
“Doodstil soos ’n muis, nog stiller as ’n muis. En dan sal jou maatjies kom.”
“Wat soveel is soos al die vingers aan my hande en die tone aan my voete?” vra Huppel, en hy kan nou glad nie meer wag nie.
“Nog meer as die vingers aan jou hande en die tone aan jou voete,” sê Steek, “maar waar het jy daarvan gehoor?”
“My oupa het my daarvan vertel,” sê Huppel.
“Jou oupa is baie slim, Huppelkind. Hy weet goed waar die Lekkerland is. Draf nou gou en gaan sit op die stomp en maak soos jou oupa sê.”
“Baie dankie, Steek,” sê Huppel.
“Mooi loop, Huppelkind,” sê Steek. “Maar oppas net, as jy langs die pad ’n groot lummel met ’n lap op sy broek kry, moet jy onder die polle inkruip.
“Dit is Haak, en ek is baie bang vir hom.”