Читать книгу Huppel en sy maats - W. O. Kühne - Страница 8

Bo in die groot boom

Оглавление

Met ’n wip en ’n trap seil Huppel oor die polle – trippel-trippel deur die grassies, huppel-huppel oor die plassies.

Hy pyl diékant toe en die wolke seil daardie kant toe, en die vleiwind pluk aan sy kuif. O, hy voel so lekker verspot.

Huppel-huppel saam met die wind,

trippel-trippel, Huppelkind.

En kerplaks! Daar stamp hy sy toon teen iets. Kyk nou hoe seer is dit.

Wat kan dit wees? Hy buk en hy soek onder die polle rond, maar hy sien niks.

Nou het hy ’n beter plan. Hy draai rondomtalie en kyk tussen sy bene deur.

A! Nou kan hy sien wat dit is. Dis ’n klein padwyser onder die polle.

En wat staan op die padwyser in groot, vet letters geskryf?

LEKKERLAND

Nou wil jy glo! ’n Padwyser na Lekkerland.

Huppel vergeet skoon van sy seer toon. Hy wil baie graag gaan kyk hoe dit in die Lekkerland lyk.

Met ’n wip en ’n trap seil hy oor die polle – trippel-trippel deur die grassies, huppel-huppel oor die plassies. O, en die Huppelkind word so moeg.

Hy gaan lê onder ’n groot boom plat op sy rug.

Die boom is so hoog soos tien huise met ’n lang skoorsteen bo-op. En wat sit daar op die hoogste toppie? Daar sit ’n klein, swart spikkeltjie.

“Môre, môre, Klein Swart Spikkeltjie, jy sit so lekker hoog. Sê vir my, kan jy die Lekkerland daar van bo af sien?”

Die Klein Swart Spikkeltjie fladder soos ’n veertjie af na onder, al om en om en om die boom, en kom langs Huppel sit. En raai, dit is al die tyd ’n stokou, slim ou maraboe.

“Wil jy Lekkerland toe gaan, Huppelkind?” vra hy, en hy skud sy vere reg.

“O, asseblief, Maraboe, asseblief. Weet jy waar dit is?”

“Ek weet goed genoeg waar die Lekkerland is, Huppelkind, maar ek vlieg mos hoog in die lug. Die paadjie op die grond ken ek nie. Maar ek sal jou sê wat jy kan doen.”

“Toe nou, Maraboe, sê nou gou!”

Huppel en sy maats

Подняться наверх