Читать книгу Eindspel - Wilna Adriaanse - Страница 10

Hoofstuk 6

Оглавление

Ken Visser se kantoor is in die Victoria en Alfred Waterfront. Die logo op die voordeur is die letters VE en dit vorm ’n krullerige eenheid. Visser Enterprises. Nick het nog altyd gedink dis ’n verbeeldinglose naam. Ken is in Zimbabwe gebore en sy pa woon steeds daar. Daar was al gerugte dat hy noue bande met die Zimbabwiese regering het, en Nick weet daar was beslis al ’n hele paar transaksies met hooggeplaaste Suid-Afrikaanse regeringsamptenare. Die Vissers se oorspronklike besigheid was die in- en uitvoer van wild, maar dis lankal nie meer so eenvoudig nie.

Die ontvangsdame sê Ken is in ’n vergadering en wil nie gesteur word nie. Nick knik, maar stap verby haar en klop aan die deur waarop Ken se naam staan.

Die meisie spring op en stap haastig nader asof sy hom sal kan keer om in te gaan. Toe daar nie antwoord kom nie, draai Nick die knop en stap in. Ken Visser sit agter sy lessenaar en oorkant hom sit twee vreemde mans. Êrens in Nick se agterkop sê ’n stemmetjie hy het al die een gesien.

Ken lyk verbaas. Dan sit hy agteroor in sy stoel. “Dis ’n verrassing, maar ek het ongelukkig nie nou tyd om te kuier nie. Maak ’n afspraak en dan kan ons gesels.”

Nick bly staan egter en na ’n oomblik kyk Ken na die ander twee.

“Gentlemen, would you please excuse us for a moment, and I apologise for the bad manners.”

Hulle stap uit en Nick gaan sit oorkant Ken.

“Jy kan bly wees ek is vandag in ’n goeie bui. Niemand loop in my kantoor in nie.”

“Ek is op soek na Enzio. Weet jy waar hy is?”

Ken skud sy kop. “Nee. Waarom soek jy hom by my?”

“Dis belangrik dat ek met hom praat.”

“Waarom weet jy nie waar hy is nie? Is dit nie jou job nie?”

“Wanneer laas het jy hom gesien?” kom Nick met ’n teenvraag.

“Ek weet nie. Woensdag of Donderdag, of dalk Saterdagaand by die klub. Dis nie belangrik genoeg om te onthou nie.”

“En wanneer laas het jy met hom gepraat?”

“Is jy doof of net stadig – hoeveel keer moet ek sê ek onthou nie?”

“Kan jy onthou waaroor julle gepraat het?”

Ken sit agteroor, vou sy arms en glimlag. “Seker ditjies en datjies.”

“Ek kry hom sedert gisteraand nie in die hande nie. As jy weet waar hy is, is dit dalk nou die regte tyd om slim te raak en my te sê.”

“Jy is die een wat in sy gat opgekruip is, nie ek nie. Wil jy nou vir my sê jy het hom verloor? Ek wonder wat die ouman daaroor sal sê.”

Nick ken hom lank genoeg om te weet hy mors sy asem en dreig sal niks help nie. Vir Ken Visser vang jy nie trompop nie. Hy is nie bang vir dreigemente nie. Jy sorg dat jy slimmer as hy is.

“Waar was jy gisteraand?” Soms hou hy egter daarvan om moedswillig te wees. ’n Mens kry nou en dan interessante reaksies.

“By die huis. Nie dat dit enigiets met jou te doen het nie.” Hy glimlag weer. “Jy kan my dierbare vrou vra as jy my nie glo nie. Ons was die hele aand in die bed.”

Nick staan op en stap deur toe. “As dit die geval is, wonder ek waarom kla sy steeds.”

“Fok jou, Malherbe. Wie gee jou in elk geval die reg om hier in te kom en my te kom ondervra?”

“Laat weet my as jy van Enzio hoor,” laat Nick oor sy skouer hoor terwyl hy uitstap.

“As hierdie ’n donnerse truuk van julle twee is sodat hy uit sy verpligtinge kan kom, gaan julle baie seer kry. Sê jy dit vir jou baas. Nou is nie die tyd om speletjies met my te speel nie.”

Die ontvangsdame gee Nick ’n vuil kyk toe hy verby haar stap. Die twee mans wat by Visser was, staan op van die stoele waar hulle gewag het en stap terug kantoor toe. Hy onthou skielik waar hy die een gesien het: in die klub saam met Enzio. Hy het ’n hoë pos in die regering.

Ouderdom maak nie saak nie, dink Nick toe hy in die bakkie klim; êrens in die diepste manwees bly ’n stukkie seuntjie wat graag sterk wil wees. Wat graag wil hê sy straaltjie moet die verste trek. Daar is seker mans wat dit ontgroei, maar hy vermoed die oorgrote meerderheid loop lewenslank met dié basiese behoefte. Hy het net gedink hy het dit al effens ontgroei.

Hy het bewyse dat Ken Visser nie juis die getrouste van eggenote is nie, maar die vent wil beslis nie hoor Gabriella kla oor sy vermoëns nie. Hy vermoed soms mans het sekere evolusionêre prosesse oorgeslaan.

Toe hy by die Waterfront uitdraai, besluit hy om na Allegretti se huis toe te ry. As vars polisieman het hy destyds ’n hoof gehad wat baie kwaai was oor ’n misdaadtoneel.

“Daar is nie ’n fokken kyk-weer-geleentheid nie,” het hy dikwels gesê. “Jy kry een kans. As jy dit opneuk, behoort jy die mensdom ’n guns te doen en onder die eerste bus in te loop. Want as jy dit nie verstaan nie, is jy nie ’n polisieman se gat nie en ook nie veel werd vir die groter samelewing nie.”

Dis dieselfde kaptein wat hulle geleer het dat ’n mens onmoontlik alles self kan doen en na jou instinkte moet luister.

“Jy moet jou span vertrou, maar as daai stemmetjie hier in jou gut nie wil stil word nie, al is dit in die nag, dan staan jy op en jy gaan soek daai ding wat hom aan die praat hou. Dan trap jy op tone en jy roer moere, maar jy hou aan tot jy dit gekry het. En as jy vir my sê jy het nie daai stemmetjie gekry nie, dan moet jy vinnig ’n career change maak. Die wêreld het seker altyd roomysverkopers nodig.”

Sy selfoon lui en hy sien dis Clive Barnard.

“Kan jy sesuur in Milnerton wees?”

Nick kyk op sy horlosie. “Ja.”

“Ek stuur vir jou die adres. En as ek jou raad kan gee, los jou ego by die huis.”

Nick besluit om liewer nie daarop te reageer nie. “Is jy baie besig?”

“Wat wil jy hê?”

“Dat jy saam met my na Allegretti se huis toe gaan. Ek is bang ek mis iets omdat ek die huis ken.”

“Gee my ’n uur.”

“Kan jy ’n span van Forensies saambring?”

“Jy is ook een van daai mense wat die hele donnerse arm wil hê as jy eers die pinkie gekry het.”

Toe hy aflui, besluit Nick om eers Kampsbaai toe te ry.

Volgens Monica se inligting is Clara laas saam met vriende in Paranga gesien. ’n Gewilde restaurant en kuierplek. Hy was al per geleentheid saam met Allegretti daar. Op pad daarheen probeer hy aan ’n verskoning dink.

Die bestuurder is nie daar nie, maar die assistent herken hom. Nick vra hoe dit gaan en wil dan weet of dit moontlik sal wees om ’n groep van tien mense volgende Saterdagaand vir ete te bring. Hy laat dit deurskemer dat dit vir Allegretti is, maar hou dit vaag.

“Is dit waar wat hulle sê van die jong girlfriend?” wil die assistent weet.

“Wat sê hulle?”

“Hulle het Vrydag ’n shoot hier naby gedoen en het na die tyd vir ’n drink en dinner gekom. Sy is blykbaar ontvoer toe sy hier weg is.”

“Dis nuus vir my. Hulle het ’n paar maande gelede die verhouding verbreek.” Nick probeer sy gesig neutraal hou. “Het iemand die voorval gesien, of is dit weer een van daardie stories wat vlerke kry soos dit oorvertel word?”

“Ek was nie aan diens nie, maar een van die ander mense beweer sy is in ’n donker paneelwa ingedruk, op dieselfde oomblik wat ’n voertuig oorkant die straat in ’n ander een vasgery het. Blykbaar was haar lyfwagte in die voertuig wat oorkant die straat geparkeer was. Hulle sê die ander voertuig het nie eers probeer stop nie en het na die tyd weggejaag. Dink jy dit kon gebeur het?”

Nick skud sy kop. “Ek het nie die vaagste idee nie. Vreemder dinge het seker al gebeur, maar mense word nie sommer net ontvoer nie. Dalk het dit maar net so gelyk.”

Die jong man knik. “Ek glo ook die ou kyk dalk te veel flieks.” Hy wil weet of hy ’n bespreking moet maak, maar Nick steek sy hand uit, groet en sê hy sal teen Donderdag bevestig.

Hy stap deur toe, maar draai om. “Hoe laat het al die dinge gebeur?”

“Ek dink hulle het gesê so iets na twaalf.”

Buite op die sypaadjie probeer Nick sien of van die geboue CCTV-kameras het wat die sypaadjie dek. Hy gewaar een op ’n gebou se dak ’n paar honderd meter verder, stap tot onder die kamera en probeer skat hoe ver die reikwydte is. Hulle sal daardie beeldmateriaal in die hande moet kry.

“Fokkit,” laat Clive hoor toe hulle ’n uur later uit die hysbak in Allegretti se leefvertrek uitstap. “Ek het duidelik ’n paar verkeerde besluite in my lewe geneem.”

“Dit voel gewoonlik net die eerste paar keer so.”

“Ek kan myself op hierdie stoep sien sit.” Met dié gewaar Clive die kroeg teen die agterste muur en steek vas. “Bliksem. As jy nie meer die job wil doen nie, laat weet my.”

“Het jou ma jou nie ook van klatergoud geleer nie?”

Clive skud sy kop. “Sy was te besig om my te leer om te koes wanneer my pa klap.”

Nick stap eerste met hom na Patrice se woonstel toe. Hy is bly om te sien die deur is nog gesluit. Binne die deur kyk hy na Clive. “Sê my wat jy sien.”

Clive gee ’n tree in die vertrek in, kyk dan op sy tyd rond. Sak op sy hurke terwyl sy blik nog oor die vertrek gaan. Dis eers toe hy weer regop staan dat hy begin praat.

“Ek dink dit was een persoon en die skoot is op ’n baie kort afstand gevuur, anders sou daar meer spatsels gewees het. Albei was waarskynlik regop toe daar geskiet is. Hy het eers ’n rukkie hier gelê voor hy badkamer toe gekruip het. Het jy al gesoek vir ’n patroondoppie?”

“Ja. Ek het dit gekry.”

“Dan twyfel ek of dit ’n professionele hit was. So ’n persoon sou die doppie saamgeneem het. Dit was ’n haastige job,” gaan Clive voort. “Hierdie was nie deel van die beplanning nie.”

“As dit ’n ontvoering was, waarom kom skiet hulle vir Patrice in sy woonstel, en los hom dan lewendig?”

“Dalk het hy wakker geword en wou hy gaan kyk wat gaan aan. Hoe lank werk hy al vir Allegretti?”

Nick skud sy kop. “Patrice werk vir my. Ek is baie seker dis nie ’n inside job nie. En as hy deel van die plot was, waarom het hulle hom geskiet?”

“Hy het sy doel gedien.”

Nick skud sy kop. “Hy was nié hierby betrokke nie.”

“Jy sal nie die eerste een wees wat daardie fout maak nie.”

Nick knik. “Dit mag so wees, maar oor Patrice voel ek baie seker.”

“Ons aanvaar nou hier was iemand anders in die huis. Die logiese verklaring is dat dit Allegretti is wat geskiet het.”

“Hoe meer ek daaraan dink, hoe meer besef ek dit ís die logiese verklaring. As dit die geval is, was Allegretti baie desperaat. Ek het jou gesê hy hou nie daarvan om sy hande vuil te maak nie. En dit pla my dat daar geen rekord op die kameras is van iemand wat die perseel inkom of verlaat nie. Allegretti is nie dom nie, maar dit sit nie in sy broek om so ’n sekuriteitstelsel te omseil nie.”

Clive draai om en Nick stap met hom deur die kombuis, uit by die agterdeur en al met die stegie langs tot by die dienshek.

“Daar is nie met die slot gepeuter nie. Wie ook al hier in of uit is, het ’n sleutel gehad.”

“Waarvoor word die hek gebruik?”

“Die vuilgoeddromme word hier uitgeneem. Ryk mense hou nie daarvan om hulle eie vullis te sien nie. Aflewerings word ook hier gedoen, en Patrice gebruik dit as in- en uitgang. Die skoonmaker wat twee keer ’n week inkom, gebruik dit ook.”

“Het die skoonmaker ’n sleutel?”

“Nee, Patrice maak vir haar oop.”

Clive kyk na die kamera wat op die hek fokus. “En daar is geen beeldmateriaal nie?”

“Niks verdags nie.”

Hulle draai stil om en stap langs mekaar terug kombuis toe. Hulle loop stadig deur die hele huis. Nie een van hulle raak aan iets nie.

Onder in die woonstel wil Clive weet of dit is waar Ellie gewoon het.

“Ja.” Nick vertel hom van die aand wat die alarm op die trap geaktiveer is en sy hoog en laag gesweer het dit was nie sy nie.

Clive glimlag skeefweg. “Dit was waarskynlik sy. Sy is baie goed in haar job.”

“Hoe gaan dit met haar?” Hy hou die vraag so lig moontlik.

“Ons het nie juis op die oomblik kontak nie. Soos jy seker weet, is sy vir ses maande met verlof en woon sy sedert haar ontslag uit die hospitaal nie meer in die stad nie.”

Nick wil sê hy vind dit vreemd dat hulle nie kontak het nie, maar bedink hom. Dis seker nie baie slim om vir jou nuwe partner te sê jy dink hy lieg nie.

Hy gaan wys vir Clive die beeldmateriaal van Vrydagaand. Behalwe vir hom wat Allegretti Saterdagnag net voor een aflaai, en die wagte wat hulle rondes doen, was daar geen ander beweging in en om die huis nie.

Terwyl hulle vir die forensiese beamptes wag, maak Nick koffie en hulle gaan sit in die leefkamer.

“Waarom is sommige mense net nooit tevrede nie?” wonder Clive hardop.

“Is jy tevrede met jou lewe?”

“Ek kan doen met meer geld, soms ’n bietjie meer tyd vir myself, nou en dan ’n bietjie meer seks.”

“Dis waarskynlik maar soos hierdie mense ook voel. Net nog ’n bietjie meer van alles.”

Clive knik stadig sy kop op en af. “Jy is seker reg, maar van waar ek sit, het hulle min of meer die jackpot geslaan.”

“En van waar ek sit, doen jy ook nie te sleg nie.”

Clive lag. “Daai som sal jy vir my moet verduidelik.”

“Jy kry dit blykbaar reg om ’n gesinslewe saam met hierdie soort job te laat werk. Hoeveel ouens ken jy wat dit kan sê?”

“Het jy oor my gaan uitvind?”

“Doen ons almal dit nie maar nie?”

“Ek weet jy was twee keer getroud. Ek weet nie wie elke keer die jeukerige een was nie.”

Nick glimlag. “Is dit ooit so eenvoudig?”

Voor die ander man kan antwoord, bel die wagte van onder af om te sê daar is twee ouens wat sê hulle moet inkom.

Al twee fluit toe hulle uit die hysbak stap.

“Fok!”

Nick kyk na die twee bloedjong mans. Wanneer het hulle skoolkinders begin inneem, of is dit hy wat oud geword het?

“Maak toe julle monde,” sê Clive en beduie na Nick. “Kolonel Malherbe van Interpol. Dis Phillips en Mossie. Soos jy sien, moes ek ongelukkig die appies vat.”

As ’n mens vinnig kyk, kan die nuwe aankomelinge ’n tweeling wees. Albei is lig, albei dra bril en hulle is ewe lank en het dieselfde skraal gesigte en lenige lywe. Die enigste verskil wat Nick kan sien, is dat Phillips ’n donsbaardjie het.

Die drie mans skud hand. “Hy het vir ons gevra, want ons is die beste, kolonel.”

“Sommer net Nick.”

Albei knik. “Kaptein Barnard sê julle het ietwat van ’n probleem.”

Die vier stap saam na Patrice se woonstel toe, terwyl Nick vir hulle vertel wat gebeur het. Voor hulle ingaan, trek die twee jonges eers hulle oorjasse, skoenbedekkings en handskoene aan.

“Wie was almal hier binne sedert die voorval?”

“Ek en twee paramedics.”

“Net vir die rekord sal ons maar van julle drie ’n sampletjie vat. Niemand anders nie?”

“Ek het die deur gesluit gehou.”

Albei knik en dan verdwyn hulle in die woonstel in.

Nick draai om en gaan skakel weer die koffiemasjien aan. Hy sal binnekort kos in sy lyf moet kry.

Eindspel

Подняться наверх