Читать книгу Eindspel - Wilna Adriaanse - Страница 8

Hoofstuk 4

Оглавление

Nick stop vroegoggend by die klub in Groenpunt. Hy is verlig om te sien Paul se motor is reeds in die parkeergarage. Hy is egter verbaas om Gabriella se motor te sien. Dít op ’n Maandagoggend.

Paul is aan die agterkant van die klub in sy kantoor. Na al die tyd betrap Nick hom steeds dat hy soms in die aande om hom kyk en dink dit is onmoontlik dat die plek ooit weer stil sal kan word. En tog daal die stilte telkens soggens weer hier neer, asof die vorige aand nooit gebeur het nie. Dalk is dit die aantrekking van so ’n plek. Die suggestie dat niks werklik is of vir ewig onthou sal word nie.

Nick beduie vir Paul om saam met hom te kom. Hulle stap tot by een van die kroeë.

“Wat gaan aan?” wil Paul weet.

“Wanneer laas het jy vir Allegretti gesien?”

“Saterdagnag toe julle twee hier weg is.”

“En sedertdien het jy ook nie weer van hom gehoor nie?”

“Nee. Wat is aan die gang?”

Nick vertel hom van die toneel waarop hy gisteraand afgekom het. En dat Allegretti se selfoon sedertdien outomaties na stempos deurskakel.

Paul vee oor sy kort hare. “Jy het gesê ons is amper klaar. Ek het ’n lewe waarheen ek wil teruggaan. Soos dit nou vir my lyk, raak julle net dieper in die kak.”

“Dink jy hierdie is my keuse? As ek my sin gehad het, was nie een van ons twee vanoggend nog hier nie.” Nick hoor die skerpheid in sy stem.

“Fok, ek het nie meer lus vir hierdie mense nie. Ook nie om ’n korrupte besigheid se deure oop te hou nie.”

“Jy kan nie meer gatvol as ek wees nie.”

Paul lig sy hande, maar antwoord nie.

“Wat maak Gabriella hier?”

“Ek weet nie. Jy sal haar moet vra.”

“Het sy toegang tot die kluis en die rekeninge?”

“Ja, sy het.”

“Sal jy asseblief vir my kyk of daar onlangs enige vreemde onttrekkings uit die besigheidsrekening was, of uit Enzio se persoonlike rekening? Kyk ook vir my wanneer laas het hy sy bankkaarte gebruik.”

“Daar was nie onttrekkings uit die besigheidsrekening nie, ek kyk elke dag. Ek sal egter op sy persoonlike rekeninge ingaan.”

Nick kyk in die rigting van Enzio se kantoor op die boonste verdieping. “Dalk moet jy sommer ook vir my gaan kyk wat in Gabriella se rekeninge aangaan.”

“OK.”

“Sal jy dit kan doen sonder dat sy agterkom?”

Paul verwerdig hom nie ’n antwoord nie, draai net om en stap terug kantoor toe.

Nick stap teen die trap op. Hy gee twee kloppe voor hy die deur oopstoot.

Gabriella praat op haar selfoon. Sy glimlag toe sy hom sien. ’n Stadige, lui glimlag. Vincenzo Allegretti se enigste dogter en sy oogappel is ’n baie mooi vrou. Dalk té mooi. Die wêreld weier haar nie maklik iets nie. Nick kan nie besluit wie die moeilikste van die twee is nie. Hy vermoed die lewe het dalk al vir Enzio ’n paar klappe gegee, terwyl sy suster op die oog af ongeskonde tot hier gekom het.

“I’ll call you back.” Sy sit die selfoon op die lessenaar neer. “Nick, my love. Ek besluit elke keer ek gaan hard-to-get speel, maar die oomblik wat ek jou sien, verloor ek die stryd. I just want to throw myself at your feet.”

Nick glimlag, al voel hy nie vandag na glimlag nie. “Gabi, die man voor wie se voete jy neerval, moet nog gebore word.”

Sy sit agteroor in Enzio se groot stoel en hy gaan sit oorkant haar.

“Wat maak jy so vroeg op ’n Maandag op kantoor? Ek het nie besef jy kán so vroeg opstaan nie.” Hy probeer sy stem lig hou. Hy het tog gehoop Enzio is dalk hier.

“Somebody has to keep this place up and running. En aangesien my broer die plot verloor het, moet ek dit maar doen.”

“Wat bedoel jy hy het die plot verloor?”

“Het jy hom nie Saterdagaand gesien nie? We all like to relax and take some time to play, maar hy weet nie meer waar die grense is nie. So, ek het gisteraand besluit as hy hierdie plek down the drain laat gaan, gaan ek ook verloor.”

“Paul is darem nog hier en van wat ek kan aflei, is hy ’n goeie bestuurder.”

“Ek stry nie, maar weet jy wat was een van die lesse wat my pa ons van kleins af geleer het? Niemand gaan ooit soveel lojaliteit teenoor jou besigheid hê as jyself nie. Ek het nie na al my pa se lesse geluister nie, maar ek onthou nogal daardie een. En jy weet so goed soos ek, die feit dat hy ons Kaap toe gestuur het om ’n besigheid hier te kom oopmaak, was ’n toets. He is not going to trust us with anything bigger if we fuck this up.”

Sy is ongewoon ernstig en Nick wonder of sy meer weet as wat sy sê. Dis nie Gabriella se gewoonte om oor besigheid of verantwoordelikhede bekommerd te wees nie. Hy weet nie of meisies wat so besonder mooi gebore word ooit werklik geleer word dat die lewe soms verantwoordelikhede ook het nie. Die lewe het ’n manier om mooi mense voor te trek. Hulle te beskerm teen wreedhede en swaarkry. Dit is waarom dit die wêreld altyd aangryp as een van sy mooi kinders op ’n dag deur die ander kant van die lewe ingehaal word.

“Gepraat van jou broer, weet jy dalk waar hy is? Ek moet dringend met hom praat, maar hy antwoord nie sy selfoon nie.”

“How would I know where he is? He’s a big boy.”

“Wanneer laas het jy hom gesien?” ignoreer hy haar vraag.

“Saterdagaand hier by die klub.” Toe hy ’n oomblik lank stil is, vra sy: “What are your plans for the rest of the day?”

“Ek het ’n klomp goed wat ek moet doen.”

“Always the busy bee. You know that too much work makes Jack a dull boy.”

“Wat maak jy regtig so vroeg hier?”

“Ek het jou mos gesê iemand moet kyk wat hier aangaan. Ek het hom al ’n maand gelede gesê as hy nie sy shit uitsorteer nie, gaan ek my pa sê. As die klub nie geld inbring nie, gaan my pa dit toemaak, and I’m not going back to Joburg.”

“Hy het sover ’n sukses hiervan gemaak, teen almal se verwagtinge in. Ek dink hy gaan net deur ’n moeilike tyd. Hy sal regkom.”

“Ek gaan nie so ’n kans waag nie. Saterdagaand was sy laaste kans.”

“Waar is Ken?”

“At this very moment? Why do you want to know?”

“Ek bedoel, is hy in die Kaap, of is hy weer landuit?”

Sy draai haar kop skeef. “Come to think of it, I haven’t got a clue. I think he was here on Saturday night, but I haven’t seen him since then.”

“Hy is jou man. Wonder jy nie waar hy is as hy net wegraak nie?”

“Should I?”

Nick skud sy kop. “To each his own. Miskien het julle ’n wenresep beet. As jy iets van jou broer hoor, sê hy moet my dringend bel.”

“En wat kry ek in ruil vir die guns?”

“Ek sorg dat jy veilig is.”

“Safety is so boring. There are far more interesting things you could do to me.”

Nick glimlag weer. “Gabi, jy is besig om ’n cliché te word.”

Sy lag hees. “Nick Malherbe, jy kan my maar beledig, maar ons albei weet ek kry altyd wat ek wil hê.”

Toe hy buite kom, skakel hy ’n nommer en vra om met kaptein Clive Barnard te praat.

Hy moet ’n rukkie wag.

“Barnard.”

“Dis Nick Malherbe. Ek is …”

“Ek weet wie jy is.”

“Ek moet jou sien.”

“Dis Maandagoggend. Ek het nie tyd nie.”

“Het jy nie eers tyd vir ’n koppie koffie nie?”

“Nie regtig nie.”

“Ek het dringend hulp nodig.”

“Daar is kanale daarvoor.”

“Ek is nie seker wie ek hiermee kan vertrou nie.”

“Moet ek geëerd voel dat jy my gebel het?”

“Call me crazy. Ek weet ek vat ’n kans, maar ek het nie op die oomblik baie opsies nie.” Toe hy klaar gepraat het, verwag hy dat Barnard die foon gaan dooddruk.

“Waar moet ek jou kry?” kom dit na ’n oomblik se stilte.

“Sê vir my waar dit gerieflik vir jou sal wees. Verkieslik ’n plek waar ons nie in te veel bekendes gaan vasloop nie.”

Hulle kom ooreen op ’n koffieplek in die Canal Walk-winkelsentrum.

Toe Nick ’n uur later daar aankom, besef hy weer hoeveel hy sulke sentrums haat. Daar is net te veel van alles. Mense, winkels, goed. Die wêreld sal nog vergaan in al die kak wat elke dag gemaak word. Hoeveel het ’n mens in die lewe nodig? Selfs op ’n Maandagoggend is daar te veel van alles.

Barnard sit reeds toe hy by die plek kom. Hulle skud nie hand nie, Nick skuif net oorkant hom in.

Hy het later eers uitgevind kaptein Clive Barnard was destyds McKenna se hanteerder toe sy vir Clara Veldman opgepas het. Nick ervaar weer ’n krapperigheid. Hulle het sy lewe baie moeilik gemaak.

’n Kelner kom nader en albei bestel koffie.

“Ek kan steeds nie besluit of ek geëerd moet voel dat jy my gebel het, en of ek jou moet bliksem nie,” val Barnard weg. “Dink jy regtig daar is net korrupte mense oor?”

“Dis nie wat ek gesê het nie. Luister na wat ek jou gaan vertel en sê my wat jy sou gedoen het.”

“Shoot. Maar onthou ek is nie ’n priester nie. As jy vergifnis vir jou sondes soek, is jy op die verkeerde plek. Ek doen nie confessions nie.”

Nick vertel hom van die gebeure die vorige aand by Allegretti se huis en dat die Italianer vermoedelik verdwyn het.

Voor Clive kan reageer, bring die kelner hulle koffie en elkeen roer ’n sakkie suiker in sy koppie voor hulle weer opkyk.

“Is die saak aangemeld?”

“Nee, ons kan nie bekostig dat iemand dit opfok nie. Ek kan dit egter nie alleen doen nie. Eerstens ken ek nie meer genoeg mense hier nie en tyd is ’n kwessie. Jy behoort te weet hoe langer dit neem om aan die gang te kom, hoe kouer raak al die spore.”

“Dink jy Allegretti het dit gedoen?”

“Ek het daaraan gedink, maar ek twyfel. Allegretti is tot baie in staat, maar hy hou nie daarvan om sy hande vuil te maak nie.”

“Maar dis ’n moontlikheid?”

“Alles is ’n moontlikheid.”

“Wat het jy nodig?”

“’n Span wat saam met my die ondersoek kan doen. So gou en diskreet moontlik. Verkieslik voor georganiseerde misdaad hiervan hoor.”

“Waar lê die gewonde ou?”

“Christiaan Barnard.”

“Hulle is eintlik veronderstel om die polisie te laat weet as daar skiet- of meswonde inkom. Het jy die dokter en die personeel gevra om dit nog nie aan te meld nie?”

“Nee, ek het vir hulle gesê ek is van die polisie en gehoop hulle sal aanvaar dis reeds aangemeld.”

“Nou wil jy hê ek moet vir jou sê wie jy kan vertrou en wie nie.”

Nick knik. “In ’n neutedop, ja. Verkieslik so gou as wat jy kan.”

“Wat kry ek as ek jou help?”

Nick vou sy arms en sit agteroor op die stoel. “Soek jy ’n bribe?”

Clive laat sak sy koppie, vee sy mond af en begin sy stoel agteruit stoot. “Ek loop liewer voor ek jou bliksem.”

Nick lig sy hande. “Wat wil jy hê?”

“Ek wil deel van die ondersoek wees. En ek wil onbeperkte toegang hê tot die inligting wat julle tot dusver versamel het oor Allegretti en die ander.”

“Ek kan nie bekostig dat dit soos die vorige keer eindig nie. Hierdie is ons laaste kans. Ons het jare lank gewerk om al ons inligting te kry. In die verkeerde hande kan dit vir ons onberekenbare skade veroorsaak.”

“Dis my voorwaarde.”

“OK, maar ek gaan die operasie hardloop. Dis nie onderhandelbaar nie.”

Clive knik. “Solank jy weet wat jy doen, sal ek jou nie pla nie. Ek het in elk geval nie tyd nie, maar ek wil op hoogte gehou word.” Dan staan hy op. “Gee my ’n uur of vier en ek kom terug na jou toe.”

Clive mik om op te staan, maar Nick beduie hy moet sit.

“Dit was die een helfte van die storie. Die ander helfte is dat Clara Veldman sedert Vrydagaand vermis word. Sy was saam met vriende by Paranga in Kampsbaai.”

Clive skuif dieper af in sy stoel, skud sy kop. “Jissis, dis ’n fokken sirkus.”

Nick knik.

“Wat sê haar vriende?”

“Ek het die nuus gisteraand gekry en dis nie asof ek toegang tot enige van haar mense het om uit te vind wat gebeur het nie.”

“Dis darem net te toevallig. Sy en Allegretti verdwyn twee dae uitmekaar.”

“Ek glo nie aan toeval nie.”

“Ek ook nie en soos ek vir Williams ken, is hierdie saak ook nog nie by die polisie aangemeld nie. Hy kan dit nie bekostig nie.” Clive staan op.

Nick volg hom en toe hulle saam uitstap, sê hy: “Ek gee nie om of julle vriende is nie, maar ek soek nie vir Greyling naby een van hierdie sake nie.”

Clive steek vas, draai na Nick. “Jy het na my toe gekom vir hulp. Ek sal doen wat ek kan, maar ek gaan my nie oor alles laat voorskryf nie. Jy sal my moet vertrou om vir jou die regte mense te bring.”

Nick wil nog iets sê, maar Clive het reeds weggedraai.

In die bakkie draai Nick versigtig sy kop heen en weer. Die kopseer het nou na sy nek versprei en dit voel of die senings enige oomblik kan skiet. Hy trek weg, maar stop by die eerste kafee, koop ’n botteltjie water en ’n koevertjie met vier hoofpynpille. Hy sluk al vier gelyk. Dan haal hy sy selfoon uit, skakel ’n nommer.

“Riana Kellerman, goeiemôre.”

“Riana, dis Nick.”

Dis vreemd hoeveel ’n stilte kan sê, dink hy toe sy nie dadelik reageer nie. Hy sien haar in sy geestesoog. Die ouens was destyds lekker jaloers toe Nols haar gekry het. Hy vermoed daar was ’n hele paar wat belustig was vir haar. Gelukkig is hy slim genoeg om te weet ’n mens se beste vriend se vrou is verbode vrugte. Selfs in jou gedagtes.

“Ek het nogal gewonder of jy sal onthou.”

“Hoe gaan dit? Het jy al iets van Nols gehoor?”

“Nee, ek vermoed dit neem ’n rukkie om al die papierwerk af te handel. Ek weet ook nie of daar papierwerk is wanneer ’n mens die dag vrygelaat word nie.”

“Weet die kinders?”

Weer ’n stilte. “Ek dink nie ek gaan hulle vertel nie. Hulle was drie en een toe hy weg is. Hulle ken hom nie meer nie.”

“Ek dog jy het hulle geneem om te gaan kuier?”

“Aan die begin, ja, maar hoe ouer hulle geword het, hoe moeiliker was dit. Here, Nick, dis nie lekker om met kinders vir hulle pa in die tronk te gaan kuier nie. Hulle het begin vrae vra. En met die trek Kaap toe het dit moeilik geraak. Ek kon nie bekostig om elke maand drie vliegtuigkaartjies te koop nie.”

“Ek kan dit verstaan, maar jy kon my gevra het, al was dit nie elke maand nie.”

“Ek het gedoen wat ek gedink het die beste vir die kinders sal wees.”

“Dis nie asof hy iemand doodgemaak het nie.”

“Dit maak nie saak nie. ’n Tronk is ’n tronk. Dis nie ’n plek vir kinders nie. Ek wou nie hê hulle moet met so ’n stuk bagasie skool toe gaan nie.”

“Riana, dis sy kinders. Hy het ’n reg om hulle te sien.”

Hy hoor die snorkgeluid wat sy maak. “Ek weet nie of jy die een is wat vandag vir my moet preek nie. As dit nie vir jou was nie …”

Hy sug. Dit is ’n pad waarop hulle al ’n paar keer was. “As jy wil hê ek moet weer verskoning vra, of vergifnis, sal ek dit doen, maar dit gaan niks aan die saak verander nie.”

“Kan ek jou iets vra … as jy vandag weer daardie besluit moet neem, sal jy dit weer doen?”

Nick wens hy het nie gebel nie. “Ek kan die maklike antwoord gee, en sê ja, ek sal dit weer doen, maar dis nie so eenvoudig nie. Ek weet nie wat ek vandag sal doen nie. As jy vir my sê hy sien nie meer sy kinders nie, sou ek dalk anders besluit. Ek weet nie.”

“Weet jy dat ek van hom geskei het?”

“Wanneer?”

“Verlede jaar.”

“Waarom het jy my nooit gesê nie?”

“Aanvanklik wou ek nie omdat ek geweet het jy sal my probeer ompraat. En daarna het dit net nie meer saak gemaak nie. Ons maak elkeen ons eie keuses.”

Nick maak sy oë toe en vryf sy nekspiere.

“As hy jou kontak, sê asseblief vir hom ek sal hom graag wil sien. Ek kon lanklaas vir hom gaan kuier.”

“Ek sal hom sê. Hy sal in ’n stadium hier moet uitkom. Al sy persoonlike goed is nog hier en ons sal seker die meubels moet verdeel. Ek kan seker nie verwag hy moet met niks uitstap nie.”

Nick wil sê fok die meubels, gee vir die man sy kinders terug, maar dis asof sy woorde opgedroog het.

“Sterkte.”

“Dankie, vir jou ook. Terloops, waar is jy?”

“In die Kaap.”

“Is jy nog in die diens?”

“Ja.”

“Dalk moet jy maar probeer uitkom. Dis ’n job sonder ’n ingeboude trip switch. Die een of ander tyd kom die kortsluiting en dan is julle almal in julle moere. Klim uit terwyl jy darem nog min of meer weet wie jy is.”

“Ek volg dalk jou raad.”

“Sien jy weer iemand?”

“Nee, daar is nie op die oomblik tyd daarvoor nie.”

“Nick … is jou hande nog al die jare skoon of is jy net slimmer?”

Nick wens hy het nog pille gekoop. Dis asof die vier wat hy gedrink het net sy kopseer vererger het.

“Riana, ons twee sal op ’n ander dag oor daardie een moet praat. Ek het nie vandag die tyd daarvoor nie, want ons sal seker eers moet vasstel wat die woord ‘skoon’ beteken.”

“Waarom dink jy het hy jou nie destyds probeer betrek nie?”

“Ek weet nie, dis ’n vraag wat jy hom sal moet vra. Ek moet ongelukkig nou eers hardloop.”

Hulle groet en Nick skakel die bakkie aan en trek weg. Stop en drink eers die botteltjie water leeg voor hy verder ry.

Hy en Nols Kellerman het mekaar gedurende hulle eerste week van opleiding ontmoet. Dit was een van daardie maklike vriendskappe. Hulle het mekaar se grappe verstaan. Hulle was mekaar se strooijonkers. Mekaar se party buddies. Altyd gesorg dat die ander een veilig by die huis kom as daar te hard geparty is.

Die dag van sy eerste egskeiding is Nols saam met hom hof toe. Na die tyd gesorg dat hy iets eet en toe het hulle die res van die dag op die balkonnetjie van Nick se nuwe eenmanswoonstel oor die rand van hulle brandewynglase die lewe probeer uitpluis.

Die eerste keer toe Nick begin agterkom het iets is verkeerd, was gedurende die ondersoek na ’n motordiefstalsindikaat. Dit was hoogstens ’n krieweling êrens. Daar is min dinge wat jou so blind maak soos die begeerte om nie te sien nie. Die tweede keer het hy ’n nag lank wakker gelê en somme gemaak. Die volgende oggend het hy Nols gevra of alles OK is. Mense dink vriendskap sorg dat alle deure oop is, maar dis nie so nie. Dis baie makliker om sekere vrae vir ’n vreemdeling te vra as vir jou beste vriend. Soos die vraag: “Het jy ’n dossier laat wegraak en geld in ruil daarvoor geneem?” Dit maak nie saak hoeveel doppe hy ingehad het nie, hy kon dit nie vir Nols vra nie.

Teen die derde keer het hy al so min geslaap dat hy nie meer sy eie oordeel vertrou het nie. Hy het nagte lank sy teorie aan flarde probeer skiet. En toe die maklike weg geneem en na hulle hoof toe gegaan. Iemand anders moes die som maak. Nols is die volgende oggend tydelik geskors, en daar is met ’n ondersoek begin. Ongelukkig vir Nols het hy nie sy spore goed toegevee nie, want dit het die ouens nie twee weke geneem nie, toe is alles op die tafel en word hy skuldig bevind.

Toe Nick die eerste keer vir hom in die tronk gaan kuier, was hy baie kwaad.

“Dis fokken karre, en die versekering betaal in elk geval uit. Dink jy dis die rykgatte se enigste karre? En dis nie asof iemand in enige van die diefstalle doodgemaak is nie. Wat dink jy van my?”

Nick het hom laat praat.

“Jy is nie ’n vriend se gat nie. Waarom het jy nie éérs na my toe gekom nie? Waarom het jy my nie gewaarsku nie? Is dit nie wat pelle doen nie?”

Nick het gevoel hoe dit stil raak in sy kop. Die woorde waarmee hy gekom het, het opgedroog. Niks wat hy sê, sou dit kon beter maak nie.

“Jy weet nie wat kos twee kinders nie.”

Nick het sy kop geskud. Nog ’n rukkie na die stortvloed geluister en sy bes probeer om nie sigbaar verlig te wees toe besoektyd verby was nie.

Daarna het hy nog ’n paar keer gaan kuier. Dit was toenemend of ’n lig in Nols gedoof is. Die tweede keer was hy nog kwaad, maar die intensiteit was nie meer daar nie. Die derde keer was hy stil, maar het darem hier en daar geantwoord of gereageer. Die laaste twee keer wat Nick gegaan het, het hy glad nie gepraat nie. Ook nie vir hom gekyk nie.

Riana wil weet waarom hy wat Nick is nog nie oor die lyn getrap het nie. Wat die res van die bevolking nie besef nie, is dat daar verskillende lyne is. Hulle wil resultate sien, en hulle wil glo die polisie is onkreukbaar eerlik, maar hulle verstaan nie dat die twee dinge nie altyd kan saamloop nie. Of hulle verkies om nie te weet nie.

Mense vra dikwels waarom het jy besluit om ’n polisieman te word. Hy het agtergekom elkeen het sy eie rede. Sommige verstaanbaar, ander byna lagwekkend naïef. Hy het nog nooit vir ’n ander een se rede gelag nie, want syne is waarskynlik die ergste graad van naïwiteit wat jy kan kry. Hy vermoed as ’n seun sonder ’n pa grootword, probeer jy die res van jou lewe om jou eie held te word. Die probleem is dat jy nie werklik weet hoe dit moet lyk of voel nie, so op ’n dag betrap jy jouself dat jy soos ’n hond voel wat sy eie stert jaag. En tog hou jy maar aan. Dalk in die hoop dat jy eendag in iemand anders se oë iets sal sien wat jy nie self kan sien nie.

Nols het met ’n pa grootgeword.

Eindspel

Подняться наверх