Читать книгу Eindspel - Wilna Adriaanse - Страница 14
Hoofstuk 10
ОглавлениеDis skemer toe Ellie voor Melissa-hulle se huis stilhou. Sy het gewik en weeg of sy hier sal stop, maar vandat sy vir Clive en Albert gesien het, verlang sy na bekendes. Iemand wat haar dalk beter ken as wat sy haarself ken.
Na twintig jaar se vriendskap is daar nie meer geheime tussen haar en Melissa nie. Hulle spot dikwels dat hulle nie kan bekostig om kwaaivriende te word nie. Hulle weet net té veel van mekaar. Die feit dat Melissa ook ’n sielkundige is, is soms ’n voordeel, maar soms ook ’n nadeel. Daar was al tye dat Ellie gewens het sy kan dinge probeer wegsteek. Tot dusver kon sy dit egter nog nooit regkry nie.
Melissa maak die deur oop. Staan terug en frons. “Ek het klaar al ons ou klere vir die welsyn gegee en die brood is op.”
“Ek sal ’n kind ook vat.”
“Daarmee kan ek dalk help. Maar net as jy twee vat.” Melissa sluit die veiligheidshek oop. Steek haar arms uit en druk Ellie teen haar vas. “Ek weet nie waarom ek jou groet nie. Ek is so moerig vir jou. Wat de hel het van jou geword? Ek het weke laas van jou gehoor.”
“Jy moenie so bekommerd oor my wees nie. Ek is soos ’n kakkerlak. Almal sal al weg wees, dan sal ek nog hier êrens rondsluip.”
Melissa kyk na die motorfiets voor die deur. “Ek sal liewer nie vra nie.”
Hulle stap die huis in. Van êrens af hoor Ellie gille.
“Dis die pa se beurt om hulle te bad. Teen hierdie tyd is hy en die badkamer natter as hulle, maar dit gee my die kans om darem een glas wyn in vrede te drink.” Sy tel die bottel op wat op die kombuistoonbank staan, haal nog ’n glas uit die kas en skink dit vol. “Kom ons gaan sit in die sitkamer. Dis die laaste plek waar hulle my sal kom soek.”
Toe hulle oorkant mekaar sit, lig Melissa haar glas. “Ek weet nie waarop ons kan drink nie, maar cheers.”
“Hoe gaan dit met julle?”
Sy waai met haar hand. “Soos dit in die suburbs kan gaan. Vertel eerder wat maak jy hier? Is jy terug?”
“Ek het besigheid in die stad gehad, en nee, ek is nog nie terug nie.”
“Watse besigheid? Was jy by jou ma? Ek het vir haar en Janus raakgeloop en hulle vertel my hulle gaan trou.”
“Ek hoor ook so. En nie wanneer nie; eerskomende Saterdag. Volgens haar is daar geen rede om langer te wag nie.”
“Is jy orraait daarmee?”
“Nee, maar aan die ander kant moet sy nou maar maak soos sy wil. Ek sien nie meer kans vir die oorloë met haar nie. Sy klink gelukkig en hulle gaan vir hulle ’n karavaan koop en ek weet nie wat hulle nog alles beplan nie. Solank ek net nie saam met hulle hoef te gaan kamp nie. Of by hulle in die huis hoef te bly nie.”
Melissa lag. “Julle kan drie matching sweetpakke laat maak wat julle op julle kampekspedisies kan dra.”
“Jy het beslis al te veel wyn gehad.”
“Hoe gaan dit met jou en die predikant?”
“Ek dink dis tyd dat ek hom stadig daarop begin voorberei dat ek dalk nie die soort vrou is na wie hy soek nie. Aan die ander kant wonder ek soms … wat is die kanse dat so ’n goeie man ooit weer my pad sal kruis? Veral ’n goeie man wat vir my kans sien?”
“Jy kan nie met ’n man trou omdat hy ’n goeie man is nie. Jy moet darem iets vir hom voel ook.”
“Ek dink ek sal iets vir hom kan voel.”
“Nee, dis nie soos dit werk nie, en jy behoort dit te weet.”
“Mel, het jy al daaraan gedink dat al hierdie liefde en emosies wat ons dink daar moet wees, bullshit is? Kyk na die egskeidingsyfers. Is dit nie tyd dat ons ’n ander model moet begin volg nie?”
“Soos om met iemand te trou vir wie jy niks voel nie?”
“Maar vir wie jy baie respek het.”
Melissa skud haar kop. “Sweetie, jy kry dalk te veel son. Nee, hoewel dit wonderlik is as ’n mens jou partner respekteer, moet daar darem iets meer wees.”
“Ek dink jy maak ’n fout, maar ons kan dié gesprek op ’n ander dag voortsit.”
“Jy en Albert?”
“Ek het hom vanmiddag gesien. Albert is steeds Albert en sal dit waarskynlik altyd bly. ’n Deel van my sal seker altyd op ’n manier vir hom omgee, maar dalk is dit soos ’n ma vir ’n stout kind omgee. Ek weet ook nie. Verhoudings is nie my sterkpunt nie. Jy kan waarskynlik ’n sielkundige verhandeling skryf oor die keuses wat ek maak, en dis waarom ek wonder of ek nie dalk nog altyd die ding aan die gatkant beetgehad het nie.”
“Dis daai bleddie sprokies se skuld. Ek het besluit daar is nie ’n manier hoe ek vir Mia ’n sprokie met ’n prins in gaan lees nie. Ek gaan nie nog ’n vrou grootmaak wat haar lewe lank na haar Prince Charming soek nie.”
“Die arme kind. Ek sal graag wil weet hoe jy dit gaan regkry. Soms dink ek ons is geneties geprogrammeer om dit te doen.”
“Mel?” onderbreek Antonie se stem hulle.
Melissa rol haar oë. “Ek dink sy grootste vrees is dat ek sal wegloop en hom met die kinders en die huis en die hond en die tuinier en die huishulp en sy ma los.” Sy roep: “In die sitkamer!”
Antonie kom ingestap. “Wat maak jy hier?” Hy steek vas toe hy Ellie sien. “Ellie, my magtig. Ek het nie geweet jy is hier nie.” Hy stap nader en soen haar.
Kort op sy hakke kom die twee peuters ingehardloop. Gee Ellie een kyk en klim dan op haar skoot. “Ellie my iets gebring?” wil die driejarige Mia weet terwyl haar boetie ook gretig sy hand uithou.
“Soos jy kan sien, word hulle vir die strate grootgemaak. Antonie, praat met jou kinders. My magtig, ’n mens sou sweer hulle is niks gewoond nie.”
“Julle twee, ’n mens bedel nie so nie.”
Ellie staan op en haal twee pakkies lekkers uit haar rugsak. “Vra net eers vir julle ma of julle dit al mag eet.”
“Ons het klaar kos geëet,” snip die seuntjie.
“Vat julle lekkers en gaan kyk ’n bietjie TV,” sê Melissa.
“Dis die sielkundige wat vir ander ouers leer om nie die TV as ’n babysitter te gebruik nie,” laat Antonie droogweg hoor.
“Desperate times call for desperate measures. En jy kan asseblief vir Mr Delivery bel. Ek het nog nie kos gemaak nie.”
“So het ek geruik.”
Ellie staan laggend op. “Jou vrou gaan nou vir jou lekker kos kom maak. Ek moet ry.”
“Hoe gaan dit met jou?”
“In een stuk.”
“Jy lyk baie goed.”
Ellie het hom deur die jare nog altyd jammer gekry. Dit was beslis nie sy skuld dat sy beste vriend hulle twee se verlowing verbreek het nie, maar dis asof hy haar na al die jare steeds nie behoorlik in die oë kan kyk nie. Sy en hy moet miskien eendag alleen ’n bottel wyn oopmaak en die lug suiwer, want sy hou van hom en sy dink Melissa kon nie ’n beter man gekry het nie. En sy hou hom beslis nie verantwoordelik vir die feit dat sy vriend haar op ’n dag nie meer wou hê nie.
“Jy kan nie nou al ry nie. Eet ten minste eers saam met ons,” sê Melissa.
“Ek moet by die huis kom. Dit was ’n lang dag. Ek sal jou bel, dan kom kuier julle ’n slag weer vir ’n naweek.”
Ellie en Antonie groet en dan druk sy Melissa teen haar vas. “Pas jou man mooi op. Hy is nog ’n Prince Charming.”
Melissa soen haar op die wang. “Pas jou op en kom nou ’n slag terug. Ek mis jou. Of sit net meer gereeld jou selfoon aan.”
Toe Ellie in die straat indraai, kyk sy terug na waar Melissa en Antonie in die deur staan. Antonie se arms is van agter om sy vrou en die beeld tref Ellie op ’n sagte plek onder haar ribbes. Wat sy nie vir Melissa sê nie, is dat sy letterlik bid hulle twee se huwelik moet hou. Sy het êrens ’n voorbeeld nodig. Hulle soort normaliteit anker haar wanneer die wêreld om haar te deurmekaar raak.
Nick was sy bord en eetgerei. Op pad huis toe het hy onthou om koffie en melk te kry, en sommer ’n paar vooraf vervaardigde bakkies kos ook in sy mandjie gegooi. Die prentjies op die bakkies het hom honger gemaak, maar hy kan nou nie juis onthou hoe die kos gesmaak het nie. Daar is te veel dinge om aan te dink. En vanaand is daar veral een gedagte wat hy nie afgeskud kry nie. Hy neem sy selfoon en stuur ’n boodskap vir Clive Barnard.
Het jy dalk ’n selfoonnommer vir McKenna? Die een wat ek nog het, is blykbaar nie meer geldig nie.
Dit neem ’n rukkie voor Clive antwoord. Nee. Waarom soek jy haar?
Ek wil haar sommer iets vra wat sy dalk nog onthou van haar tyd by Allegretti.
Jammer. Ek kan nie help nie.
Nick lê al toe hy iets onthou. Hy skakel die bedlig aan en vat sy selfoon. Hy google mediese dokters in die Kaap se noordelike voorstede. Na ’n rukkie se soek tussen die blaaie wat opkom, vind hy wat hy vermoed die regte een kan wees.
Dis een van die sinnelose dinge wat hy destyds gedoen het nadat hy in Ellie McKenna se huis gaan rondkyk het. Hy het uitgevind wie die meisie is wat op ’n klomp foto’s in die huis was. Melissa Calitz. Hy het so pas aan haar gedink. Volgens sy bron daardie tyd is sy met ’n dokter getroud en woon in Tygerberg-heuwels of Welgemoed.
Hy kry ’n nommer vir die spreekkamer en stoor dit op sy selfoon. Hy sal dit môreoggend skakel.
Daarna skakel hy nog ’n keer die hospitaal, maar daar is geen nuwe nuus oor Patrice nie. Toe maak hy sy oë toe en laat die naweek se gebeure soos ’n film in sy gedagtes terugspeel. Toe dit niks nuuts oplewer nie, gaan hy ’n entjie terug. Probeer dink aan enige gesprekke wat hy die laaste week of twee met Allegretti gehad het, gesprekke waarvan hy dalk nou eers die konteks verstaan. Maar daar is niks wat uitstaan nie.
Dis die duiwe, besef Ellie toe sy behoorlik wakker is en die geluide kan eien. ’n Rilling glip teen haar rug af. Die horlosie langs haar bed sê dis drie-uur. Haar Ierse ouma het altyd verwys na “the witching hour” – die tyd wat hekse en geeste op hulle bedrywigste is.
Die nag behoort aan uile, nie duiwe nie. Sal dit ’n kat wees wat hulle pla? ’n Slang?
Dit raak weer stil. Daar is geen naggeluide nie. Nie eers die huis maak ’n geluid nie. Dis ’n stil ou huis hierdie. Die huis op die hoogte. Soms, net nadat die son gesak het, is daar ’n krakie of twee, amper soos ’n sug. Sy hou van die plek. Na vyf maande het hulle twee mekaar se grille en nukke agtergekom en is daar ’n vreedsame naasbestaan. Sy voel veilig in die huis. Die dik ou mure is stewig, die dak lek nie. Soos die son al hoe meer noord skuif namate die herfs vorder, is dit asof die vensters wyer word. Die son se strale dieper laat inkom.
Sy het nie vanaand die uile gehoor nie, besef sy. Sy hou van uile, en was bly toe sy agterkom sy het ’n familie hier agter die huis in die ou buitegebou geërf. Sy wil die storie glo dat uile boodskappe van die ander kant af bring. Daarom luister sy elke aand of sy hulle hoor. Sy gaan staan soms op die stoep om hulle te sien jag. Anders as ander voëls, maak hulle byna geen geluid wanneer hulle vlieg nie. Sy het oor hulle opgelees en agtergekom spesiale vere breek die turbulensie op in kleiner strome, wat die klank demp. Sagte fluweelagtige donse demp die klank nog meer. Stil jagters van die nag en skugter waarnemers van die dag.
Die duiwe fladder nog ’n oomblik en ’n paar koer voor die stilte weer neerdaal. Onwillekeurig soek-soek haar hand onder die kussing tot sy die koue metaal raak vat.
Elke oggend as die son opkom en ’n streep oor die houtvloer gooi, belowe sy haarself dit was die laaste nag. Een of twee keer het sy dit al reggekry om in die bed te klim, selfs haar oë toe te maak, maar elke keer moes sy in ’n stadium weer opstaan en haar rewolwer uit die kluisie haal en onder haar kopkussing sit. En selfs dan wil die slaap nie altyd kom nie.
Sy staan op. In die kombuis skakel sy die ketel aan, dan gaan trek sy haar warm sokkies aan en gooi ’n trui oor haar kop. Die kamer wat sy as studeerkamer ingerig het, is aan die ander kant van die huis. Die lamp op die lessenaar flikker ’n keer of wat toe sy dit aanskakel. Daar lê stapels papier. Sommige is in lêers, maar die meeste bladsye is in hopies. Sy kan toe-oë haar weg deur al die papierwerk vind.
Sy hoor hoe die ketel afskakel en gaan maak vir haar tee. Met die beker in haar hand kom sit sy by die lessenaar, maar kyk na die groot velle papier wat teen die muur opgeplak is. Daar is name, lyne, verwysings, pyle, vraagtekens. Sy kom sit dikwels snags hier. Soms lees sy weer deur ’n verslag, ander kere sit sy net. Soms voel dit of al die name op haar vel getatoeëer is.
Sy was al ’n week of twee hier toe sy agtergekom het iemand by haar departement het vergeet om haar toegangskode tot die interne netwerk te kanselleer.
Sy was einde verlede jaar oorgehaal om te bedank. Die brief was al geskryf, die papierwerk aan die gang, toe haar hoof haar vra om haar besluit te heroorweeg.
“Take some time off,” het brigadier Andile Zondi haar aangeraai. “I can stretch it to six months if need be. Sort yourself out, get some fresh air and do some living. Then come back and give me your answer.”
Brigadier Ahmed, haar oorlede pa se vriend en hoof, het saamgestem toe sy hom van Zondi se aanbod vertel.
“Ons twee het mos al hierdie gesprek gehad. Jy weet ’n mens neem nie onder sulke omstandighede sulke ingrypende besluite nie. Gaan maak jou kop skoon en besluit dan.”
Dis nie asof sy nie probeer om haar kop skoon te maak nie. Die hemel weet, sy doen haar bes. Soms verbeel sy haar sy kry dit reg, maar op ’n dag en soms in die middel van die nag is dit asof ’n deur oopgaan – en aan die ander kant van die deur is vrae, nagmerries, verwyte, kwaadwees. Dan voel dit soos een van daardie vertrekke by ’n kermis waar jy jou tussen ’n klomp spieëls bevind. Spieëls wat die waarheid verwring, wat jou dinge laat sien wat dalk nie bestaan nie en op die ou end beelde van jouself wys wat jy nie wíl sien nie.
Sy het toe Zondi se aanbod aanvaar, en gehoop die gal sal bedaar en êrens tussen die spieëlbeelde sal sy die waarheid uitken.
Die dag toe sy agtergekom het sy het nog toegang tot al die departement se lêers, was dit soos ’n teken. Sy het geweet wat om te doen. Die belangrikste saak van haar lewe probeer oplos. Die moord op John McKenna.
Sy glo die mense wat aan die saak werk, doen hulle bes; sy weet ook hoe meer tyd verstryk, hoe skraler is die kans dat hulle die skuldiges gaan vind. Sy blaai weer deur die lêers, tel hier en daar ’n bladsy op. Sy is reeds honderde male deur al die papierwerk, en steeds is daar nie ’n naam of name na wie sy die vinger kan wys nie. Een van die koerante het destyds gepraat van ’n “random shooting”, wat daarop sinspeel dat die koeëls enigeen kon getref het. Haar pa was ongelukkig op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. Sy hou nie van daardie verduideliking nie. Dit is te sinneloos. John McKenna was te groot om sinneloos te sterf. Sy dood moet ten minste ’n rede hê. Toeval is nie goed genoeg vir hom nie.
Sy hoor weer ’n duif, kom orent en gaan staan by die venster. Die werf is stil. Die buitelig is aan en sy kyk na die akkerboom by die voordeur wat al heelwat kaler is. Die blare daaronder raak by die dag meer. Vanaf die stoep kan sy al die klam grond onder die blare ruik. Daardie aardse reuk van molm wat so eie aan die herfs is.
Vannag is dit egter nie haar pa se dood wat haar wakker hou nie. Sy kan Clara nie uit haar gedagtes kry nie. Clive kan maar sê dis nie haar verantwoordelikheid nie, maar dit help nie. Sy vóél verantwoordelik.
Sy draai om en kyk weer na al die name en strepe op die velle papier teen die muur. Daar is soveel moontlikhede. In die soort bestaan wat Nazeem Williams voer, is daar nooit enkelvoudige probleme en oplossings nie. Hy is ’n man met baie vyande, net soos die res van hulle. Hulle lewe in ’n wêreld waar lojaliteit deur die grootte van jou beursie bepaal word.
Sy neem ’n laaste sluk tee en gaan lê weer. Die bed is koud en sy trek haar bene op en krul in ’n hopie. Sy mis soms ’n ander lyf hier langs hare. Daardie nadertrek, die hand op die heup, jou lyf in die ander een se holte. Julle asemhalings wat mettertyd mekaar vind en op dieselfde ritme in en uit dein. Die nag is nie gemaak vir alleen wees nie. Sy wil liewer nie dink aan waar Clara vannag is nie. Sy het al geleer dat die dood soms genadiger is, maar die gedagte dat Clara dalk dood is, maak haar naar. Die lewe skuld haar nog tyd.