Читать книгу Eindspel - Wilna Adriaanse - Страница 12

Hoofstuk 8

Оглавление

Ellie staan só dat sy Clive se bakkie kan dophou en terselfdertyd sien as iemand by die gebou se voordeur uitkom. Sy was bly toe sy hier kom en sien hy is nog by die kantoor.

Dis net voor vyf toe sy hom gewaar. Hy het gewig verloor en sy hare is baie kort geknip. Sy sien hoe hy haar gewaar en vassteek. Dan klim hy egter in sy bakkie en skakel die enjin aan, sonder om weer na haar te kyk waar sy oorkant die straat staan. Hy trek uit die parkeerplek en versnel toe hy in die straat indraai.

’n Paar meter later stop hy, en sy sien hoe die bakkie se truligte aangaan. Hy hou stil langs haar, leun oor en maak die passasiersdeur oop.

Sy klim langs hom in, kry haar sit en gordel vas. “Dankie. Is jy haastig of kan ek vir jou êrens ’n bier gaan koop?”

“Ek is op ’n dieet.”

“Ek sien jy het gewig verloor. Wat dan van ’n glas water of ’n Coke Light?”

Hy trek weg.

“Net nie by Joe’s nie,” sê sy toe hulle om die eerste hoek gaan. “Ek het nie nou lus vir die hele klomp nie.”

“Dan moet ek seker geëerd voel dat jy lus het vir my, of soek jy eintlik net ’n guns?”

“Komaan, Clive, as daar een mens is wat behoort te verstaan dat ek moes wegkom, is dit jy.”

“’n Fokken SMS, Mac! Is dit te veel gevra?”

“Ek is jammer. Dit is werklik al wat ek kan sê. Ek wou baie kere bel of ’n boodskap stuur, maar ek was bang as ek hoor hoe julle sukkel, sal ek terugkom. Ek weet mos ek is op ’n baie ongeleë tyd weg.”

Hy antwoord nie. Vat net die afrit na die Panorama-hospitaal en ry tot by die eerste winkelsentrum. Hulle klim stil uit en hy praat eers weer toe hulle oorkant mekaar in die eerste die beste restaurant sit.

“Ek het gedink jy is dalk dood.”

Sy sit haar hand oor syne. “Nou gaan jy my laat huil.”

“Nee, fok, net nie dit nie. As jy wil huil, gaan doen dit in ’n ander man se dop, nie myne nie. Ek het ’n kak dag gehad.”

Die kelner kom neem hulle bestelling. Clive bestel koffie. Toe sy haar wenkbroue lig, sê hy hy het nog ’n vergadering.

Ellie bestel ook koffie.

“Hoe gaan dit met Ansie en die kinders?”

Hy vee oor sy gesig. “Ansie is moeg vir ander mense se stout kinders wat nie wil leer nie. Dan haal sy dit op ons twee uit en dan kom kla hulle by my. Sy sê dis vir hulle eie beswil dat sy wil hê hulle moet leer. Maar hulle is tieners en wanneer het jy al ’n tiener gesien wat verder kan kyk as wat sy neus lank is? Die toekoms is oormôre se probleme. Nou is dit eers vriende en dates en parties.”

“Hoe gaan dit met Belinda in die hoërskool? Laat jy haar darem uitgaan?”

“Dis ’n flippen nagmerrie. Die mannetjies kom daar aan vol hormone en smiles en gejelde hare. Kastig ’n boek kom terugbring, of een kom leen, of die Vader weet watse kak verskonings, en dan net gou bly vir koffie of koeldrank. Ek het soms so lus en jaag die hele lot weg en sluit die hek.”

Ellie lag. “Jy kan dit nie doen nie. Ons almal moet êrens begin. Hoe het jy op daai ouderdom gelyk?”

“Beslis nie so vol hormone nie.”

“En met jou en Ansie?”

Hy vee oor sy gesig. “Wat kan ek sê, ons haal steeds soms ons frustrasies op mekaar uit, sy reken steeds ek moet eerder ’n ander job soek voor ek glad nie meer die man is met wie sy getrou het nie. Ek wens sy wil soms dinge minder ernstig opvat en net ’n bietjie ontspan. As sy nie huiswerk nasien nie, word daar kos gemaak of huis skoongemaak of klere gewas. Dit sal lekker wees as sy nou en dan die huis en die kinders kan los en net by my kom sit en musiek luister of kak praat. Ek dink dis wanneer die probleme in huwelike begin, as ’n mens ophou om sommer kak met mekaar te praat. Ligsinnige strooi. Alles raak in ’n stadium so ernstig. Dis huisverband en karpaaiement en kinders … jy het nie ’n idee hoeveel tyd ons spandeer om oor die kinders te praat nie. Is hulle nog OK? Doen hulle nie dalk al dwelms nie? Wat as hulle begin? Drink hulle nie dalk skelm nie? Moet hulle na hierdie of daai party toe gaan? Dié een kort ’n paar skoene en daai een ’n rok, maar dit kos soveel soos die maand se kruideniersware. Dit hou net nie op nie.” Hy bly half uitasem stil. “Jy wou weet.”

Ellie steek haar hand uit en raak aan syne. “Hel, ek het jou gemis.”

“So sê hulle almal.”

Hulle kyk na mekaar asof albei wag dat die ander een ’n deur sal oopmaak.

Clive strooi ’n sakkie suiker in sy koffie toe die kelner dit bring. Roer lank die koffie in die rondte. Sit dan terug en neem ’n sluk. “Waarom Montagu? Ken jy mense daar en was jy die hele tyd daar?”

“Ja, die hele tyd. Nee, ek ken niemand daar nie. Dit was maar net die plek waar die son die aand gesak het toe ek uit die Kaap weg is. Ek het afgetrek om iets te drink, aan die gesels geraak met die eienaar van ’n klein kroegrestaurantjie, en besluit enige plek is seker so goed soos die volgende. Dit was na genoeg aan die Kaap as my ma my nodig het, en met al die mense wat naweke daarheen kom, staan ’n nuweling nie soos ’n seer vinger uit nie.”

“En die orrel?”

“Ek het een oggend by die kerk verbygeloop en gehoor iemand speel, en toe gaan ek in. Na die tyd het ek en die orrelis aan die gesels geraak en toe hy hoor my pa het orrel gespeel en ek kan ’n paar note druk, het hy my genooi om te kom speel wanneer ek lus het. Soms speel ons saam, ander kere gaan speel ek alleen. Ek hou van ’n orrel. Daar is soveel elemente waarop jy gelyk moet konsentreer dat jy nie tyd het om aan ander dinge te dink nie. Dis baie soos hierdie job. Jy moet leer om ’n klomp drade bymekaar te kry en daar te hou, anders gaan jy nooit ’n saak oplos nie. As jy met ’n orrel nie jou hand- en voetwerk regkry nie, is daar nie musiek nie.” Sy glimlag. “Kort vraag, lang antwoord.”

“Wat doen jy elke dag met al jou tyd?”

“Ek maak tuin en werk sommige aande by die restaurantjie se kroeg, en wanneer die orrelis weg is, speel ek Sondae in die kerk. Ek het vir die eerste keer ’n baie eenvoudige lewe. Ek het ’n hangmat en ’n swaai onder die boom en ek bring lang ure daar deur. En ek het ’n leidam wat gedurende die somermaande ook my swembad was. En ek lees.”

“Waar bly jy?”

“Ek huur ’n huis op ’n plaas net buitekant die dorp. Dierbare mense.”

Hy skud sy kop.

“Ek dink een van die predikante is besig om op my verlief te raak,” voeg Ellie by.

Clive sit die koppie neer, vou sy arms voor sy bors en sit terug op die stoel. Vat weer die koppie vir nog ’n sluk. “’n Predikant?”

“Waarom klink jy so verbaas? Het jy gedink niemand sal ooit in my belangstel nie?”

Hy skud sy kop. “Fok, nou het ek amptelik alles gehoor. Jy, ’n predikantsvrou! Die man ken jou skaars vyf maande.”

“Soms weet ’n mens dadelik.” Toe sy sien hoe sy wenkbroue optrek, glimlag sy. “Niemand praat van trou nie. Ek sê ek dink hy is besig om op my verlief te raak. Dis al. Dalk vra hy nooit en dalk sê ek nee.” Sy rek haar oë vir hom.

“My skat, as hy ’n predikant is, sal hy wil trou. Trust my.”

“Dalk maak ek ’n goeie predikantsvrou uit.”

“Weet hy van jou vorige lewe? En dat jy nou in ’n kroeg werk? Kén die man jou ooit?”

“Hy weet ek was of is in die polisie. Die detail is nie belangrik nie. Hy is nie aldag so happy met die kroeg nie, maar gelukkig is dit ook maar sy gemeentelede wat daar eet en drink, so hy kan nie te veel sê nie. Dis nie asof dit ’n hool is nie. Die eienaar laat my baie aan Joe dink. ’n Straight shooter. Jy weet waar jy met hom staan. As dit nie vir hom was nie, het ek waarskynlik daardie eerste aand verder gery.”

“Pla …” Hy bly stil en sy sien hoe sy blik, wat vlugtig na haar borste beweeg het, terug na haar gesig verskuif.

“Ek weet nie. Ons is nog nie daar nie.”

“Die man wil jou vra om met hom te trou, maar hy het jou nog nie eers kaal gesien nie? Wat, sit julle die ligte af?”

Ellie lag hardop. “Ek gaan nie my sekslewe of gebrek daaraan met jou bespreek nie.”

“Jy moet dalk eers ’n kopdokter gaan sien voor jy vir die man jou antwoord gee. Jy klink nie vir my lekker nie. Of dalk moet julle albei een gaan sien, want hy klink ook nie vir my te lekker nie.”

“Ek het vir Albert gesien,” verander sy die onderwerp.

“En?”

Sy vertel hom van die gesprek met Albert, maar laat haar besoek aan Williams uit, en sy sê nie dat sy eintlik by Happy van Clara se ontvoering gehoor het nie.

“Dis blykbaar nie nuus vir jou nie. Het jy dit gisteraand al geweet?”

“Ja.”

“Waarom het jy my nie gesê toe ek jou gebel het nie?”

“Omdat ek geweet het jy sal nie kan wegbly nie.” Hy lig sy hand toe sy haar mond oopmaak. “As ek egter geweet het die bliksemse Greyling het vir Williams gesê waar jy is, sou ek jou vertel het.”

“By wie het jy van Clara gehoor?”

Hy trek sy skouers op. “By ’n kontak.”

“Sien jy nog vir Albert?”

Clive knik. “Ek het hom een of twee keer by ’n kuier gesien, maar dis nie asof ons die laaste tyd veel vir mekaar te sê het nie.”

“Hoe gaan dit by die kantoor?”

“Hoe dink jy gaan dit?”

“Waarmee is julle besig?”

“Net waarmee ons besig was toe jy weg is. Behalwe dat daar elke dag nog fokkers bykom wat ook gecheck moet word.” Sy een wenkbrou lig. “As jy nie gaan terugkom nie, wat is die punt ek vertel jou enigiets?”

“Wie het gesê ek gaan nie terugkom nie?”

“Jy het nou net vir my gesê jy oorweeg dit om met die predikant te trou.”

Ellie lag. “Dis nie wat ek gesê het nie.”

“Mac …”

Sy ken die klank in sy stem. “As jy weer gaan verskoning vra, gaan ek nou loop.”

Hy skud sy kop. “Ek het opgefok.”

“Ons almal het. Dis een van die redes waarom ek moes wegkom. As ek besluit om terug te kom, moet ek sorg dat so iets nooit weer gebeur nie. Nie met my of enigiemand anders nie.”

“Ek was verantwoordelik vir jou en ek het geweet ons is oorhaastig. Om so ’n undercover-operasie saam te stel verg beplanning en opleiding. Dit was jou eerste keer. Ons moes jou beter toegerus het, maar ek het my laat verlei deur Greyling se bravade en ons almal se behoefte aan die een of ander vorm van sukses. Die Here weet, ’n mens kan ook net soveel keer op jou moer kry voor jy moedeloos raak.” Hy raak stil. “Ek wil steeds weet wat presies daardie laaste aand gebeur het. Greyling se hande is nie so skoon soos hy almal wil laat glo nie.”

“Dis water onderdeur die brug. Vertel my eerder wat jy van Clara weet?”

“Dat sy sedert Vrydagaand vermis word, en dat Williams dit nog nie by die polisie aangemeld het nie. Blykbaar soek sy eie mense nog na haar.”

“Wat dink jy het van haar geword?”

Hy skud sy kop. “Sy kon weggeloop het.”

“Ek weet, maar ek sal geld daarop verwed dat sy nie weggeloop het nie. Sy was soms moeilik en ’n bedorwe brokkie, maar sy is baie lief vir haar familie. Hoe vreemd dit ook al mag klink.”

“Dink jy regtig jy ken haar so goed dat jy kan raai wat sy sal doen of nie doen nie?”

“Ek het haar nie lank geken nie, maar dis nie altyd die belangrikste nie. Wat belangrik is, is wat ek gesien en gehoor het toe ek saam met haar was. Ek het haar per geleentheid gevra waarom sy nie net by Allegretti intrek nie. Sy was in daardie stadium al twintig en dis nie asof sy werklik meer haar familie se toestemming nodig het nie. Haar antwoord was dat haar familie, en veral haar oom en tannie, baie goed vir haar is en ’n mens stel hulle nie graag teleur nie. En sy was baie ernstig toe sy dit gesê het. Jy moet onthou die Williamse het nie kinders nie en sy is soos hulle eie.”

“Ek dink jy was nog altyd selektief blind wat haar betref. Dis waarskynlik die rede waarom ek jou nie sou vertel het nie. Ek ken jou te goed. Ek kan eintlik sien hoe jou kop klaar begin werk het. Glo my as ek jou sê, as sy nie weggeloop het nie, is hierdie saak dalk baie meer kompleks as wat dit lyk en jy is nog nie reg daarvoor nie. Gaan huis toe en gaan kry jou kop behoorlik skoon. Die feit dat jy dadelik gekom het toe dit lyk of iemand jou soek, spreek boekdele. Jy het nog nie genoeg afstand gekry nie.” Hy staan op. “Ek moet ry.”

Toe hy voor die kantoor stilhou, kyk hulle vir mekaar.

“Gaan huis toe en gaan maak nog ’n bietjie tuin of speel ’n bietjie met die predikant.”

“Ek is bekommerd oor haar.”

“Ek weet, maar hierdie is nie jou probleem nie.”

Sy leun oor en soen hom op die wang. “Pas jouself op en sê groete by die huis.”

“Bel my darem so af en toe!” roep hy agter haar aan.

Sy lig haar hand.

“En stuur ’n troukaartjie …”

Ellie lig haar middelvinger.

Eindspel

Подняться наверх