Читать книгу Eindspel - Wilna Adriaanse - Страница 13

Hoofstuk 9

Оглавление

Nick stop sesuur voor die adres in Milnerton. Die huis is ’n straat van die see af. Dis omring deur hoë mure en al wat sigbaar is, is die twee motorhuisdeure en ’n hek wat vermoedelik na die voordeur toe lei. Daar staan drie voertuie. Hy lui die klokkie. Barnard kom maak oop. Nick hoor gedempte stemme êrens in die huis.

Regs van die voordeur is ’n ruim vertrek wat seker ’n sitkamer moet wees. Op die oomblik staan daar twee lessenaars en ’n paar gemakstoele. Barnard beduie hom dieper die huis in, na ’n eetkamer met openinge na die kombuis en sitkamer toe.

By ’n lang tafel in die middel van die vertrek sit daar, tot sy verbasing, brigadiers Ahmed en Zondi. Hy herken hulle van die vergadering wat hulle na sy inhegtenisneming gehad het, en ander ontmoetings. Hy skud hand met albei en gaan sit langs Barnard.

“I hear you have problems and need our help,” val Andile Zondi met die deur in die huis. “What can you offer us in return?” gaan sy voort sonder om vir ’n antwoord te wag.

“What do you want?”

“Information. Everything you guys have on the people we are investigating. In other words, we want what you have. No excuses and no withholding info any longer. As you know, we had some very bad luck recently and one of our most opportunistic operations unfortunately also did not succeed. Partly because of you. We have a lot of trouble, but we can’t afford to sit on our hands until our internal problems have been sorted out. There are some very dangerous people out there that need to be apprehended. At the moment we are all after the same thing and it makes sense to consolidate our resources.”

“I’ll have to speak to my superiors. Some of our intel is highly confidential and if it falls into the wrong hands many lives will be at risk.”

“I have already spoken to Monica. She understands the problem and we have come to an agreement.”

Nick wonder waarom Monica hom nog nie ingelig het nie en van wanneer af hulle twee op voornaamterme is.

Hy knik en Zondi kyk na Ahmed.

“Ons,” Ahmed beduie na Zondi en Barnard, “het gepraat en besluit die beste sal ’n joint operation wees. Ek sal vir jou twee mense gee wat ek vertrou, en van hulle kant af kry jy vir Barnard en nog twee beamptes. Ons het eenvoudig nie meer om te spaar nie. Maar ek wil herhaal wat brigadier Zondi vir jou gesê het. Ek is nie Kersvader nie. Ek deel nie sommer net gunsies uit nie. As ek agterkom julle is besig om ons te screw, sal ek persoonlik sorg dat niemand julle in die vervolg selfs ’n glas water aanbied nie. Let alone hulp van enige aard. Ek gee jou persoonlik my woord dat ek enige tyd tot jou beskikking sal wees, maar as jy my bedonner, is jy uit.” Hy beduie met sy hand in die rondte. “Ons het hierdie huis reggemaak vir ’n operasie wat ons moes kanselleer. Julle kan dit gebruik. Sorg dat julle teen môreoggend vir ons min of meer ’n begroting en ’n plan van aksie ingee. Papierwerk wat ons op lêer kan hou.”

Nick stoot sy bene onder die tafel in en knik. Vanoggend se hoofpyn begin weer by sy slape klop. Voor hy iets kan sê, lui die klokkie en Barnard gaan maak oop.

Drie mans en ’n vrou stap agter Barnard in en kry sitplek om die tafel.

“Right, if we are all here we can begin. I don’t need to tell you that this meeting is highly confidential, as is all the info that you are about to receive. If I hear a word repeated of what is said here today, I will personally put you in jail.” Zondi kyk na Ahmed. “Do you want to say something at this stage?”

Hy skud sy kop. “You may continue.”

Sy beduie na Nick. “This is Colonel Malherbe from Interpol. He has been working undercover for the Allegretti family for a couple of years. Last night there was a shooting at the house of Enzio Allegretti and he has been missing ever since. A man who has been working for him was shot and is critically ill in hospital. That is the first part of a very complicated story.” Sy kyk weer na Ahmed.

“Soos brigadier Zondi sê, dit is ’n ingewikkelde storie, want die meisie aan wie Allegretti ’n paar maande gelede verloof was, word vermoedelik ook sedert Vrydagaand vermis. Clara Veldman. Clara se oom is Nazeem Williams.” Hy vee oor sy gesig. “Ons het rede om te glo Williams én Allegretti het dealings met die Russe en die Chinese. En dalk nog van die ander ook. Julle eerste prioriteit is om Allegretti en die meisie op te spoor. Die rede waarom julle nog nie hiervan weet nie, is omdat nie een van die verdwynings al by die polisie aangegee is nie. Kolonel Malherbe gaan die operasie lei, maar ons is ’n span. Ek soek julle volle samewerking.” Hy kyk na Nick en staan op. “Right, ons gaan julle los om aan die werk te spring.”

Andile Zondi staan ook op en Barnard stap saam met hulle voordeur toe. Nick kyk na die gesigte om die tafel. Hy wag tot Barnard terug is.

Hy vra hulle om hulleself om die beurt voor te stel en te sê van watter eenheid hulle is.

“Frans de Bruin. Misdaadintelligensie.” Frans is ’n lang, skraal man. Hy het krom skouers soos iemand wat sy lewe lank by deuropeninge moet buk. Sy gesig is ook lank en hy het groot ore.

“Stacy Hendriks. Georganiseerde misdaad.” Stacy lyk vir Nick soos iemand vir wie ’n mens jou probleme sal wil vertel. Sy het ’n sagte gesig met mondhoeke wat opkrul sodat dit die indruk skep dat sy permanent glimlag. Sy het ’n gemaklike en rustige energie. Haar donker oë is helder en hy vermoed ’n mens kan jou met haar misgis. Sy lyk maar net so rustig.

“Bonani Gaba. Organised crime.” Niks aan Gaba is sag nie. Dit lyk of hy uit hoeke aanmekaargesit is. Hy is aansienlik korter as De Bruin. Hy is nie vet nie, maar het ’n paar skouers en ’n hoekige bolyf soos ’n voorryman.

“Jeremy Jansen. Tegniese dienste.” Nick weet nie veel van die modebedryf nie, maar hy vermoed Jansen sou vir ’n model kon gaan. Alles aan hom is in proporsie en sy gesig is waarskynlik eenhonderd persent simmetries. Hy het groot donker oë wat seker al ’n paar vroue van hulle goeie voornemens laat vergeet het.

“Ek aanvaar die meeste van julle ken mekaar en vir kaptein Barnard?”

Almal knik.

“Eerstens, dankie dat julle bereid is om met die saak te help. Ek weet julle almal het vol dossiere. Van my kant af sal ek alles in my vermoë doen dat ons die saak so gou moontlik kan oplos. Dit beteken egter nie ons gaan oorhaastig wees nie. Ons het net een kans.”

Nick begin hulle vertel van die skietery by Allegretti se huis en die ontvoering Vrydagaand in Kampsbaai.

“Ons het nog geen bewyse dat die twee voorvalle met mekaar verband hou nie. Die feit dat hulle verloof was, laat ’n mens egter wonder. Ons kan ook nie die moontlikheid uitsluit dat Allegretti by Clara Veldman se verdwyning betrokke was nie. Hoewel motief belangrik is, gaan ons net eers gou fokus op die feite wat ons in die hande kan kry. Daarna sal ons na motiewe begin kyk.”

Nick kyk na Jansen. “Selfoonrekords. Laaste plek en tyd waar albei se selfone geregistreer het. Ek hoef nie vir julle te sê dis dringend nie. Vra gunste, dreig, enigiets. Ek weet almal sê altyd hulle is besig en dis nie die enigste saak nie, maar ek wil nie op die oomblik verskonings hoor nie.

“De Bruin en Hendriks, bel die lugdienste. Kyk of hulle name op enige passasierslys voorkom. Daar is sekuriteitskameras op van die geboue naby Paranga. Ek soek die beeldmateriaal van Vrydagaand. Ek soek ook ’n lys van alle personeel wat daardie aand aan diens was. Bel vanaand ál julle kontakte. Binne en buite die departement. Hoor sommer net of iemand nuwe inligting het wat nog nie by die lêers uitgekom het nie.” Hy kyk na Clive. “Ons het iemand nodig om die admin te doen.” Dan gaan sy blik weer oor die ander. “Ek soek alle brokkies inligting wat hier aankom in lêers. Elke bewysstuk. Elke verslag. Niemand hou enigiets vir homself nie. Waarsku ook sommer julle huismense dat julle vir ’n rukkie redelik skaars gaan wees. Ons sien mekaar môremiddag vieruur weer hier en dan wil ek die een of ander vorm van nuus hê.

“Terloops,” sê hy toe hulle opstaan, “my naam mag nêrens gebruik of genoem word nie. As daar enige navrae is of iemand vra om met julle baas te praat, bel vir kaptein Barnard.”

“Ja, kolonel,” kom dit asof uit een mond.

“My naam is Nick,” sê hy terwyl hy twee selfoonnommers neerskryf en dit vir Jansen gee. “Dis die nommers wat ons soek.” Hy sit ’n skoon bladsy op die tafel neer. “Julle name en selfoonnommers. Sorg dat almal mekaar se nommers het.” Hy skryf sy nommer boaan die lys. “En onthou, hierdie is nie ’n amptelike ondersoek nie. Nie een van hierdie voorvalle is al aangemeld nie. Ons is nog nie veronderstel om hiervan te weet nie. Wees vaag, sê net genoeg dat mense bereid sal wees om julle te antwoord, maar moet geen detail gee nie.”

Toe almal weg is, stap Nick en Clive deur die res van die huis. Uit die eetkamer en kombuis loop ’n groot leefkamer met rusbanke en gemakstoele en ’n platskerm-televisie teen die muur. Nick wonder vir watse operasie die huis ingerig is.

Links van die voordeur is ’n studeerkamer met ’n lessenaar en twee gemakstoele. Twee van die slaapkamers af in die gang het ook lessenaars in, met ’n enkelbed-divan teen die muur. Daar is ’n badkamer in die gang en aan die punt van die gang is wat blyk die hoofslaapkamer te wees. Daar staan ’n koninggrootte bed in die middel van die vertrek met twee bedkassies weerskante. Dit lyk of die inwoners die plek net so gelos het.

In die agterplaas is ’n grasperk, ’n swembad en ’n groot plataanboom waarvan die blare al verkleur het – en ’n klomp lê op die grasperk en in die swembad.

Hulle stap terug na die studeerkamer en gaan sit oorkant mekaar by die lessenaar.

“Ons het nie genoeg mense nie.”

Clive knik. “Ons almal weet dit, maar dis al wat ons gaan kry. Eerstens omdat daar werklik nie meer is om te spaar nie en tweedens omdat ons nie voor die voet mense wil betrek nie. Hierdie is mense wat ons en Ahmed persoonlik gekies het.”

Hulle begin oor die begrotingsdokument praat en na ’n paar minute is Nick bly hy het na Barnard toe gegaan. Hy ken sy storie en weet presies wat hulle moontlik nodig kan hê.

Hy het lanklaas so nou saam met ’n span mense gewerk. Dit gaan ’n aanpassing wees.

Eindspel

Подняться наверх