Читать книгу Eindspel - Wilna Adriaanse - Страница 11
Hoofstuk 7
ОглавлениеDis stil in Kirstenbosch toe Ellie daar kom. Hier en daar is ’n werker besig, maar sy gewaar nie ander besoekers nie. Sy stap al met die kronkelpaadjie langs tot by die groot witstinkhout. Dis koel onder die takke en sy gaan sit op die bankie onder die boom. ’n Klam mistigheid hang in die klowe. Die aarde ruik na blare en nat grond. Herfs het aangebreek.
Soms verbeel sy haar die pyn en verlange is ligter, maar wanneer dit soos ’n golf oor haar breek, voel dit steeds asof sy daarin sal kan verdrink. Dit neem haar asem weg, laat haar angstig soek na iets om aan vas te hou. Sy het toe nie met iemand gaan gesels nie. Dit is die laaste ding op aarde wat sy wil doen. Hoe verduidelik ’n mens aan iemand hoe die golwe jou moeg gespartel op die strand uitspoeg? ’n Strand waar die stilte jou ook wil oorweldig. Die niks. Nog ’n lugleegte en jy sukkel weer om asem te kry. En dan moet jy seker nog van die koue ook vertel. Want dit maak nie saak wat die temperatuur is nie, dit is asof sy nooit meer die koue in haar kan afskud nie. Dit wat die golf nie kan regkry nie, sal die stilte en die koue dalk.
Hoeveel keer kan ’n mens jou selfoon optel om te bel voor die impuls verdwyn? Hoeveel truuks kan jou brein met jou speel voor die afwesigheid deel van jou geheue word? Die persoon is nie meer daar nie. Moet jy dit jou mantra maak? Op jou handpalms laat tatoeëer? Sal dit help dat die golwe jou nie so onverhoeds betrap nie? Maar waarom wil jy jouself herinner aan iets wat jy nie wil onthou nie? Dan dalk eerder die brein se speletjies.
Sy wonder, as sy nog een geleentheid sou kry om met hom te gesels, waaroor hulle sou praat? Oor die alledaagse? Sê ’n mens die dinge wat jy nooit werklik in die lewe sê nie, omdat dit te soetsappig is, gee jy vir mekaar opdragte? Moenie oor my treur nie. Kyk mooi na jouself. Wees gelukkig. Werk hard. Probeer jy ou wonde heel? Hulle twee sou dalk net stil gewees het. Elkeen so half met hulle eie gedagtes besig, soos hulle dikwels laat saans gesit het. Daarom probeer sy ook nie nou dink aan iets om te sê nie. Sy sit maar net, met die boom se skurwe bas wat teen haar rug druk.
Na ’n ruk haal sy die selfoon uit haar sak en soek haar ma se nommer.
Dis egter ’n manstem wat antwoord.
“Hallo, dis Ellie wat praat. Is my ma miskien daar?”
“Eleanor, dis nou ’n verassing om jou stem te hoor. Dis oom Janus hier. Hoe gaan dit met jou? Ek en jou ma het net gisteraand van jou gepraat.”
Geen van die meditasie-oefeninge wat sy die afgelope paar maande geleer het, kon nog daarin slaag om haar irritasie met dié man te stop nie. Selfs net as haar ma sy naam noem, voel dit asof sy ’n mond vol asyn sluk.
“Dit gaan goed. Ek is ongelukkig ’n bietjie haastig en wil net gou met my ma praat.”
“Sekerlik, hou aan, ek neem gou vir haar die telefoon. Dan groet ek eers. Kom kuier ’n slag. Ons verlang al na jou.”
Ellie hoor hoe hy aan ’n deur klop. “Lief, dis Eleanor. Sy sê sy moet gou met jou praat.” Sy kan nie haar ma se antwoord uitmaak nie, maar hoor hom lag. “Ek sal my oë toehou …”
“Ellie, waar val jy nou uit?” antwoord haar ma na ’n rukkie.
“Is Ma besig?”
“Ek is in die bad.”
Die asyn raak méér as ’n mond vol by die gedagte dat hy in die badkamer ingeloop het waar haar ma kaal is.
Ellie kyk hoe ’n eekhoring oor die gras hardloop, ’n oomblik vassteek, reguit na haar kyk en verder hardloop. Twee duiwe kom sit ’n paar treë van haar af en soek pik-pik na iets om te eet. Haal asem, herinner sy haarself. Haal diep asem voor jy met haar praat.
“Hoe gaan dit met Ma?”
“Dit gaan baie goed. En daar by jou?”
“Met my gaan dit ook goed. Is alles by die huis reg?”
“Ek is eintlik bly jy bel, want ons het ’n koper vir die huis en jy sal moet kom teken.”
“Wat bedoel Ma daar is ’n koper, en van wie praat Ma as Ma sê ‘ons’ het ’n koper?”
“Ek het jou mos laas gesê Janus se dogter is ’n eiendomsagent en sy het aangebied om te help met die huis se verkoop. Of ten minste net haar ore oop te hou vir moontlike kopers. Die mense was gister hier en hulle is mal oor die plek en wil so gou moontlik intrek. Wanneer sal jy kan kom teken?”
Haar ma het steeds nie gesê wie die “ons” is nie, maar eintlik weet Ellie. Sy weet nie waarom sy gevra het nie.
“Ek het vir Ma gesê Ma moenie oorhaastig wees nie en ek sal darem eers ’n paar agente wil kry om die huis te waardeer.”
“Ek is nie ’n kind of ’n oumens dat jy namens my besluite moet neem nie. Ek kan darem seker vir myself besluit of ek my huis wil verkoop.”
“Die huis is tegnies nie Ma s’n nie, maar behoort aan ’n trust.”
“Ek gee nie om of die huis tegnies aan die koningin van Engeland behoort nie. Ek wil nie meer hier bly nie. Ons het ’n heerlike dorpshuis in ’n sekuriteitsoord gesien. Dis ideaal vir ons. Die tuintjie is net groot genoeg vir Janus om nog in die grond te krap. Ons dink daaraan om vir ons ’n karavaan te koop en ’n bietjie te gaan toer. Vriende van Janus behoort aan hierdie gesellige karavaanklub wat allerhande lekker uitstappies reël.”
Toe ’n man by Ellie verbystap en stop om na haar te kyk, besef Ellie hoe hard sy asemhaal. Vyf tellings in, hou vir vyf, blaas vir ses tellings uit.
“Ma was nog nooit ’n kampeerder nie.”
“Dis waarom ons die karavaan wil koop. Deesdae se karavane het tot ’n toilet in. Janus het jare lank ’n karavaan gehad en is baie bedrewe.” Haar ma raak ’n oomblik stil voor sy verder praat. “Ek het lank genoeg by die huis gesit.”
“Hoe gaan dit verder met Ma?”
“Dit gaan baie goed. Die beste wat dit in jare met my gegaan het.”
“Ek is bly om dit te hoor.”
“Wanneer sal jy kan kom dat ons die koopkontrak kan teken?”
“Ek weet nie. As die mense so mal is oor die huis, sal hulle seker ’n week of wat kan wag. Ek moet net eers ’n paar dinge reël.”
“Jy is met opset net moeilik. Wanneer laas het ek jou iets gevra? En die een ding wat ek jou vra, wil jy nie eers vir my doen nie. Jy is net so selfsugtig soos jou pa.”
“Ek sal die kontrak kom teken, Ma, maar gee my net ’n dag of wat kans om ’n paar dinge te reël. Wat gaan Ma met die meubels maak?”
“Ek weet nie. Jy moet maar kom haal wat jy wil hê. Hier is niks waarmee ek regtig wil trek nie. Dis vir ons ’n nuwe begin en ek wil nie ou spoke saamneem nie.”
“Ek sal vir Ma ’n e-posadres SMS. Vra die agent moet vir my die koopkontrak daarheen e-pos.”
“Goed.” Daar is weer ’n stilte. “Ellie, hy is baie goed vir my. Ek wil hê jy moet dit weet.”
“Ek is bly, Ma.”
“Sal jy troue toe kom? Sy kinders gaan almal daar wees.”
Ellie hoor die onsekerheid in haar ma se stem en sy ervaar ’n pyn êrens oor haar bors. “Natuurlik sal ek kom, Ma. Het julle al op ’n datum besluit?”
Ellie hoor die huiwering.
“Saterdag.”
“Wat bedoel Ma? Dié Saterdag wat nou kom?”
“Ja. Ons het besluit dis laf om te wag. Dis nie asof ons jonger word nie en ons weet ons hoef nie verder te soek nie. Ellie, ek weet dis gou, en ek wil hê jy moet weet ek het jou pa tog op my manier liefgehad. Maar met jou pa was dit nie aldag maklik nie. Met Janus is dit maklik. Hy is my pasmaat. Eendag as jy dalk die regte persoon ontmoet, sal jy verstaan.”
Ellie het lus om te lag, want haar ma klink nie baie oortuig dat sy wel eendag die regte persoon sal ontmoet nie. Sy wil haar ma vra of sy nog drink, maar sy is nou te moeg. Dis ’n gesprek vir ’n ander dag. “Ek moet nou eers groet. Ek sal Ma dan Saterdag sien. Is daar iets wat ek vir Ma kan doen?”
“Nee, dankie. Magda en Delia reël sommer alles. Die liewe goed. Jy sal mal wees oor hulle.”
Dis nie die eerste keer dat haar ma na Janus se twee dogters as “liewe goed” verwys nie. Haar ma het wragtig die jackpot geslaan. Nie net ’n nuwe man nie, maar sommer twee liewe dogters ook. Én ’n seun.
“Laat weet maar as daar iets is wat ek vir Ma kan doen. SMS vir my die reëlings.”
“Ek maak so. Dankie vir die bel.”
Sy begin om vir haar ma te sê sy kuier by haar pa, maar haar ma het reeds doodgedruk.
Ellie bly sit eers net so. Nie seker wat sy volgende moet doen of waarheen sy moet gaan nie. Sy raak aan die boomstam. “Ek kan jou hoor, en ek probeer my bes. Maar met ons twee was dit nooit eenvoudig nie. En nou met dié man … en die twee nuwe dogters …” Ellie glimlag. “Ten minste hoef jy nie sleg te voel dat net jy so maklik vervangbaar is nie.”
’n Voël kom sit op die onderste tak en die blare roer liggies. Ellie wil hardop lag toe sy sien dis ’n vink. Haar pa was nooit lief vir vinke nie.
“Karma, old man. Vir al die vinke wat jy met ’n kettie uit die tuin verwilder het.”
Sy weet nie of sy hom moet vertel haar ma gaan trou nie. Die groot liefde van sy lewe het iemand gevind wat haar gelukkiger maak as wat hy ooit het. Dalk weet hy dit. Sy hoop as dit die geval is, is hy so gelukkig waar hy is dat hy nie omgee nie. Sy dink weer aan die huis wat nou verkoop gaan word. Soms as sy nog nie behoorlik wakker is nie of net voor sy aan die slaap raak, verbeel sy haar sy sien hom daar in sy tuin. En dan, vir ’n oomblik, is die wêreld reg en die pyn minder. Deesdae is daar egter ’n ander gesig wat soms voor syne inskuif en om daardie rede is dit dalk beter dat die huis verkoop word. Sy het nodig om hom êrens te onthou. Êrens waar hy soms gelukkig was.
Sy staan op, raak weer aan die boom. Sy tel ’n blaar van die grond af op en druk dit in haar rugsak. “Ek sal weer kom kuier.”
Sy stap stadig terug na die ingang toe.
Toe Ellie ’n entjie van die huis in Rondebosch met die motorfiets stop, is dit nie op ’n ingewing nie. Sy is nie die spontane soort nie.
Vandat Happy haar vertel het Clara is weg, het sy geweet sy sal hierheen kom. Al was sy vir Albert kwaad omdat hy dit gevra het. Dit is dalk júis waarom sy kwaad was vir hom. Sy het geweet sy moet kom. Al het sy die gedagte vir haarself probeer wegsteek, en al voel haar mond droog en haar hande klam by die gedagte om dalk vir Reggie te sien.
Dis halfvier en die straat is redelik besig met kinders in sportklere wat van die skole af kom. Voor die huis staan ’n paar motors geparkeer.
Tot haar verligting is dit Elroy wat kom oopmaak toe sy die interkom se knoppie by die hek druk.
Hy frons toe hy haar sien. “Kan ek help?” Dan trek sy oë op skrefies. “I don’t believe it. Miss McKenna. Wa val jy uit?” Hy beduie na haar hare. “Soos ’n brand-new sikspens.” Die glimlag waarmee hy haar groet, verdamp egter vinnig, asof hy homself betrap het dat hy iets verkeerds doen.
“Hallo, Elroy. Hoe gaan dit met jou?”
“Dit het al beter gegaan.”
Ellie onthou die eerste keer toe sy hom ontmoet het. Hy en Reggie het haar by die kantoor gaan oplaai en na Williams toe gebring. Elroy was nog altyd vriendelik en gemoedelik. Baie anders as Reggie. Daar is egter op die oomblik min van sy gemoedelikheid te sien. Dis asof hy binne ’n paar maande aansienlik ouer geword het.
“Is meneer Williams hier?”
Hy stap nader, maar huiwer voor hy die hek oopmaak. “Hy is eintlik nogal besig.”
Sy glimlag. “Ek sal hom nie lank ophou nie.”
“Miskien moet ek net eers gaan hoor of hy nou mense kan sien. Dit gaan rêrig bietjie dol hier.” Hy sluit darem die hek oop.
“Dis reg. Stuur maar groete as hy besig is.”
Sy wag in die voorportaal terwyl hy in die huis verdwyn. Niks het hier verander nie. Sy kan hiervandaan die eetkamertafel sien en dis ’n wonder daar is nie koekies of kos op nie. Sy het in haar lewe nog nie soveel eetgoed gesien soos in hierdie huis nie.
“Juffrou McKenna?” Nazeem Williams stap haastig nader.
“Meneer Williams, ek is jammer dat ek so onaangekondig hier aankom, maar ek was in die omgewing.”
Hy beduie na die sitkamer regs van hulle. “Kom sit.”
“Ek het eintlik net kom sê ek is baie jammer om van Clara te hoor, en om te vra of julle dalk al iets van haar gehoor het. En om persoonlik vir u te sê ek het nog nooit weer kontak met haar gehad nie. Ek is nou jammer ek het nie maar kontak gehou nie, maar ek wou nie ’n reeds moeilike situasie nog meer kompliseer nie.”
Hy vee oor sy gesig. “Ek het al baie moeilike dinge in my lewe gedoen, maar hierdie laaste paar maande het my oud gemaak.” Hy kyk haar reguit in die oë. “Is jy ’n gelowige mens?”
“My pa was baie gelowig. Van dit het oorgespoel.”
“Glo jy dat God ’n mens soms straf vir dinge wat jy gedoen het?”
“Ek weet nie of dit straf is nie, maar ek weet soms voel dit so.”
“Op die oomblik voel dit of ons gestraf word.”
“Ek is jammer ek kan nie help nie.”
“Na alles wat gebeur het, was ek verplig om mense aan te stel om na haar te kyk. Sy het hulle lewe hel gemaak en het my gesoebat om jou in die hande te kry en te laat terugkom. Ek het ’n rukkie probeer, maar dit was of jy van die aardbol af verdwyn het.”
“Ek moes ’n rukkie wegkom.”
“Juffrou McKenna … dink jy Allegretti het haar?”
Ellie skud dadelik haar kop. “Ek het myself al ’n paar keer dieselfde vraag gevra, maar ek dink nie so nie. Hy het baie foute en het waarskynlik ook al ’n paar dinge gedoen waarvoor hy gestraf behoort te word, maar op sy vreemde manier was hy lief vir haar en hy sal haar nie ontvoer nie. Hy weet hoe traumaties dit vir haar sal wees. Sy is baie geheg aan julle, haar familie.”
“Ons kon maar net ons bes doen.”
“Het u al die polisie in kennis gestel?” Ellie weet nie of sy haar die blink in sy oë verbeel nie. En dis interessant dat hy haar nie vra waar sy gehoor het nie.
“Nog nie amptelik nie.”
“Dalk is dit tyd om dit te doen.”
Nazeem vee weer oor sy gesig. “Dis nie so eenvoudig nie. Daar is allerhande dinge wat ek moet opweeg, waarvan haar veiligheid die belangrikste is. As ek geweet het wie haar het of waar sy is, het ek ’n beter idee gehad wat om te doen. Daar bestaan seker ook ’n moontlikheid dat sy weggeloop het. Dat dit háár plan was.”
“Ek hoop eintlik dis die geval, maar ek sê weer, sy is baie lief vir julle en sy weet dit sal julle harte breek.” Ellie staan op. “Ek wil u nie ophou nie. Ek wou net kom sê het ek is jammer en ek hoop sy kom veilig terug.”
“Mavis sal jou graag wou sien, maar sy lê op die oomblik. Die dokter het haar vanoggend ’n inspuiting gegee. Sy slaap en eet al sedert Vrydagaand niks. Jy kan dink hoe verantwoordelik sy voel.”
Voor Ellie kan antwoord, kom ’n vrou by die voordeur in en toe Williams haar sien, roep hy haar. Ellie herken haar eers toe sy die sitkamer binnekom.
“Sally, dis juffrou McKenna wat destyds vir Clara opgepas het.”
Ellie het opgestaan en steek haar hand uit. “Ons het per geleentheid vinnig ontmoet. Ek is baie jammer om te hoor van u probleme.”
Sally Veldman knik haar kop. “Dankie.”
Mavis en Sally kom uit goeie gene. Hulle moes mooi meisies gewees het. Albei is steeds op ’n manier aantreklik, hoewel die jare spore op Sally se gesig gelaat het.
“Het jy nog niks gehoor nie?” wil Williams weet toe sy omdraai.
Sy steek vas en skud haar kop. “Niks.”
“Ons gaan nie moed verloor nie.”
Sally knik net terwyl sy wegstap.
Williams kyk haar ’n oomblik lank agterna. Ellie wonder wat alles in daardie blik vasgevang is. Sy wonder of Sally hulle blameer vir Clara se verdwyning. Dis altyd die maklikste om iemand anders te blameer.
By die hek steek sy haar hand na hom uit. “Baie sterkte.”
Hy neem dit in albei syne. “Baie dankie dat juffrou aangekom het. Ek waardeer dit werklik baie.”
Sy is al ’n entjie weg toe hy agter haar aan roep: “As jy dalk iets hoor, laat weet my asseblief.”
Ellie draai om. “Ek maak so.”
Nadat Nick die Rondebosch-afrit geneem het en ’n rukkie later in die straat indraai, herinner hy homself aan ’n hond wat van boom na boom hardloop om te ruik. Hy weet nie of hy na bekende of onbekende reuke op soek is nie. Dit voel net asof ’n oerinstink hom waarsku dat daar vreemde dinge op sy terrein aangaan waarvan hy kennis behoort te dra.
Nick ry stadig, maar nie so stadig dat hy aandag sal trek nie. Sonder om rond te kyk probeer hy soveel detail inneem as wat hy kan. Motors voor die huis. Mense wat dalk in- of uitkom. Enigiets kan potensieel ’n stukkie van die legkaart wees. Hy is al verby die huis toe hy haar gewaar. Hy weet nie wat het hom laat omkyk nie. Dalk die rooiblonde hare wat in die son glinster asof daar koperdraad ingevleg is. Dit kan ook die manier wees waarop sy stap. Elke mens het ’n unieke manier van beweeg en iets sê vir hom hy het al daardie stap gesien. Hy ry stadiger terwyl hy nog ’n keer omkyk, maar die bestuurder agter hom druk op sy toeter. Weerskante van die nou straat is motors geparkeer en hy is verplig om te versnel. Hy ry om die blok en toe hy terugkom, is sy weg.
Hy hou nie van die krieweling in sy nek nie.