Читать книгу Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie - Страница 12

Оглавление

Apartheid in reverse

Die terugtog teen die wind laat hulle skreeuend van die lag aan mekaar vasklou, hul monde wyd oop, die klank weggewaai deur die wind. Dit neem hulle baie langer om weer by die rondawel te kom.

Daleen en Karien staan, elk met ’n koppie stomende koffie, bibberend van die koue hulle beurt en afwag om onder die warm stort in te spring.

Dis ná twee toe hulle warm genoeg voel om die pad aan te durf. Middagete het bestaan uit een van Amelia se voorafbereide etes wat hulle in die mikrogolf ontvries en opgewarm het.

“Ek sal bestuur,” bied Karien aan terwyl hulle die bagasie in die viertrek laai.

“Ek moet erken, ek is nou lekker lui,” gaap Amelia terwyl sy die agterdeur oopmaak en inklim. “Julle weet mos ons boervrouens is gewoond daaraan om so ’n ou snoozie ná middagete te vang.”

“Geen wonder nie, ná daardie groot ete van jou trek selfs mý oë toe,” gaap Daleen saam en oorhandig die sleutels aan Karien.

“So, ek mik vir Burgersdorp?” vra Karien toe sy die viertrek aanskakel.

“Burgersdorp is die logiese keuse,” knik Daleen, “ons kan vanaand daar oorslaap.”

Sy lê terug teen die sitplek en laat toe dat die gerusstellende gedreun van die kragtige enjin haar sus. Wat gaan sy doen? Wat is die regte ding om te doen? Daar is ’n fyn lyn tussen reg en verkeerd, het haar pa gereeld gewaarsku. Wat vir die een persoon reg is, is nie noodwendig vir iemand anders reg nie. En die lewe het haar geleer dat die grys gebied tussen wit en swart soms baie breed is.

Wat gaan haar twee dierbare vriendinne, wat sy al ’n ewigheid ken, van haar dink as die waarheid eendag uitkom? Want die waarheid kom altyd uit. Eendag, iewers wanneer jy dit die minste verwag, bars die bom, en dan sit jy met die gebakte pere.

Daleen kry lag vir haarself. As haar Afrikaans-onderwyser haar nou kon hoor!

Sy loer onderlangs na Karien. Sou sy regtig vanoggend gehuil het? Soos Karien nou daar sit, meerkatregop agter die stuurwiel, oë stip op die pad, lyk sy só weerloos dat Daleen die impuls moet onderdruk om haar styf teen haar aan te trek en alles wat verkeerd is in haar lewe reg te maak.

As sy maar net kon, sug sy innerlik, as sy die vermoë gehad het om wonders te laat gebeur. Maar hoe kan sy Karien help as sy self nie eens ’n eenvoudige besluit kan neem nie? Nee, sy gaan nie nou daaraan dink nie. Ondervinding het haar geleer: hoe minder jy aan ’n probleem dink, hoe makliker kom die oplossing.

Sy loer weer na Karien. Sy is bereid om ’n jaar se inkomste te verwed dat wat ook al met Karien fout is, met Dawid te doen het. Wat het Karien met Dawid laat trou? Was dit bloot haar ontydige swangerskap? Tog, Karien was nooit konvensioneel nie. Sy het nog nooit toegelaat dat haar Calvinistiese wortels haar lewensloop bepaal nie. Dalk is sy regtig lief vir Dawid.

Karien is die een mens wat Daleen geglo het haar drome sou najaag ná skool. ’n Dromer, ’n gebore skrywer. Sy het op skool nie juis oorgeloop van selfvertroue nie, maar sy was ook nie skaam nie. Sy sou ’n skrywer word, het almal voorspel, ’n beroemde skrywer. Daardie droom het nooit waar geword nie. Karien se verweer is dat sy nie goed genoeg is nie, terwyl Daleen vermoed dat die teendeel eerder waar is.

Karien se enigste swakheid is dat sy haar nog altyd te maklik laat ompraat het. Dat sy moeilik “nee” sê. Kan dít die rede vir haar huwelik wees? Is Dawid só glad van mond dat hy Karien in die huwelik kon inpráát? Dawid . . . daar is nou ’n goeie voorbeeld van die wortel van alle kwaad. Die Sandfonteiners kan tot vandag nie uitgepraat raak oor die pragtige Du Plessis-paartjie nie, want ja, Dawid ís ’n mooi man.

En hy het sy duim stewig op Karien se kroontjie. Hoekom sién sy dit nie? Karien maak soos hý maak, drink wat hý drink, eet wat hý eet. Dis nie hoe liefde moet wees nie, dink Daleen. Is liefde nie juis vryheid om jouself in ’n verhouding te wees nie? Is liefde nie juis om jou maat se donkerste geheim te ken en hom of haar nogtans te aanvaar nie? Vir haar, weliswaar ’n buitestander, kom dit voor asof Dawid Karien slegs aanvaar omdat sy haar aan sy wil onderwerp het.

Dalk is sy onregverdig, bespiegel Daleen, juis omdat sy nog nooit van Dawid gehou het nie. Sy vind hom te arrogant, te veel van ’n skoupou, beslis nie goed genoeg vir Karien nie. Karien verdien soveel beter. Sy sug onwillekeurig.

“En as jy so sug?” vra Karien.

“Ag, ek dink sommer . . . Is dit nie vir jou ook eienaardig dat ’n mens se gedagtes altyd so op loop gaan wanneer jy in ’n motor is nie?”

“Weet ek dit nie! Dis wanneer ek die volgende vyf jaar van my lewe beplan.” Karien kyk oor haar skouer na waar Amelia oopmond lê en slaap. “Siestog, sy kan regtig nie sonder ’n snoozie nie. Ook maar lekker bederf!”

“Gelukkig snork sy nie. En ek wonder of sy met jou sal saamstem oor die bederf.”

“Hoe bedoel jy?”

“Soms dink ek Amelia kan haar hare uit haar kop trek van frustrasie. ’n Mens kan ook net sóveel teepartytjies vir buurvrouens hou.”

“Of stokperdjies hê,” stem Karien saam.

Dis vir ’n oomblik stil; net Amelia se diep asemhaling is hoorbaar.

“Is jy gelukkig?” vra Daleen, haar blik voor haar op die pad.

“Natuurlik! Hoekom sou ek nie wees nie?”

Daleen sug innerlik. Karien se antwoord was té vinnig, té passievol. Dit was net so goed soos ’n erkentenis dat alles nie pluis is nie. Sy plaas haar hand op haar vriendin se skouer en is, ten spyte van haar vermoedens, verbaas toe sy Karien hoor snuif.

“Ek’s fine, regtig,” sê sy sag. “Hoekom probeer jy nie ook slaap nie?”

“Slaap is net vir die onskuldiges,” sug Daleen. Karien sal haar wel vertel, op haar eie tyd, weet sy.

“Onskuld is soms net ’n verskoning vir onnoselheid.”

“En ek was nog nooit onnosel nie.”

“Presies,” sê Karien.

Daleen draai haar só dat haar rug na Karien wys en maak haar oë toe. Slaap sal sy tog nie kan nie, sy dink sy het laas as tiener in die dag geslaap. Maar niks keer haar om te dínk nie.

Sy het Karien leer ken as vyfjarige, toe hulle albei bedremmeld by die kleuterskool opgedaag het. Haar eerste indruk van Karien was dat sy die mooiste dogtertjie in die hele wêreld moet wees. Pragtige lang, donker hare en die donkerste oë. En haar klere! Sy het nie, soos die ander vyfjariges, in rokkies of sweetpakkies kleuterskool toe gekom nie. Sy was die een dag ’n feëprinses, kompleet met vlerkies, ander dae ’n seerower, oogklap en al. Ál die kinders was jaloers op haar klere.

Daleen se tweede indruk was dat sy te ernstig was, selfs toe. En baie impulsief – sy het nooit gedink voor sy doen nie. Karien het baie fasette, het sy toe al besef. Maar sy was die beste vriendin waarvoor ’n mens kon vra, selfs op daardie ouderdom.

Amelia het eers heelwat later in die skool gekom, in die middel van standerd drie. Self ’n mooi kind, met ’n lyf wat baie ander haar beny het. Sy het dit ongelukkig nie meer nie, moet Daleen toegee, dalk het die gemaklike lewe op die plaas haar tóg te veel bederf.

Sy en Karien het Amelia jammer gekry omdat niemand met die nuwe kind wou praat nie en het toe maar skaam-skaam die eerste skuif gemaak. Gou het hulle drie ’n gedugte span geword: die drie musketiers. Alles saam gedoen: sport, huiswerk, take, álles. Selfs, toe hulle op hoërskool was, saam op dates gegaan. Lekker dae gewees.

Ná skool is hulle saam Kovsies toe. Hulle harte wou breek omdat hulle nie in hul eerste jaar saam in ’n kamer kon wees nie. Maar laatnag se koffiedrinkery het tog daarvoor opgemaak. Baie oggende het Daleen met die opstaanslag amper op Karien getrap. Dié het laatnag, wanneer die verlange na haar ouerhuis en alles wat bekend was te veel geword het, na Daleen se kamer gesluip en op die matjie voor haar bed kom lê en slaap.

Daleen het medies gestudeer, Karien B.A. met tale – sy wou joernalis word en later natuurlik skrywer – en Amelia huishoudkunde. Daleen was vanselfsprekend die langste op universiteit; die ander twee het klaargemaak en is terug na Sandfontein. Nadat sy haar graad gekry het, het sy by oudokter Cronjé gaan soebat om haar in te neem in sy praktyk. Sy wou naby haar vriendinne wees.

En naby Darius, haar enigste familielid. Hy het die plaas oorgeneem, maar was op daardie stadium nog ongetroud. Baie kere gesê dat hy by die diep kant ingegooi is. Die voortydige afsterwe van hul ouers het hom gedwing om sy studie op te skop en te gaan boer. Gelukkig was hy nog altyd ’n boer in murg en been; hy wou nooit iets anders wees nie.

Toe Daleen terug is Sandfontein toe, was Amelia reeds getroud met Gert, ryk en gesiene boer van die distrik, en reeds swanger met hul eersteling, Werner. Dawid, pas gekwalifiseer as tandarts, het ’n praktyk op die dorp oopgemaak en sterk by Karien begin vlerksleep. Daleen het gevoel die beste dae van hulle vriendskap is verby. Dat haar twee beste vriendinne aanbeweeg het, móés aanbeweeg, het sy hulle gegun. Dit was net swaar om nie meer so ’n belangrike deel van hul lewe te wees nie.

Sy self kon natuurlik ’n belangrike deel van iemand anders se lewe geword het, want aan vlerkslepende jong manne was daar aan die begin nooit ’n tekort nie. Later, toe sy dit duidelik gemaak het dat sy nie belangstel nie, dat sy op haar beroep wil konsentreer, het die ewige gekuier afgeneem.

Sy het altyd gewonder of daar iets met haar skort. Hoekom kon sy nooit verlief raak nie? Nie eens op skool was daar outjies wat haar hart vinniger kon laat klop nie. Sy het wel op skool met ’n paar ouens uitgegaan, nie omdat sy noodwendig wou nie, eerder omdat sy genoeg druk van haar ouers en vriendinne ervaar het om te voel sy móés. Sy het haarself gereeld getroos dat dit in haar gene is. Hulle Jouberts trou laat, soos haar ouers gedoen het.

Darius was toe ook nog ongetroud, en sy was gerus in die wete dat hulle twee tog nog iemand sal ontmoet. Darius het uiteindelik. Hy is getroud met Veronica, tot die ontsteltenis van die hele dorp. Daleen het selfs as gevolg van hul huwelik pasiënte verloor. Want Veronica is bruin . . . En ’n klein dorpie bly ’n klein dorpie.

Vandag, vyf jaar later, skinder die mense nie meer so erg nie. Die meerderheid het Veronica al aanvaar as deel van hul gemeenskap. Veral ná die geboorte van Rikus, wat hierdie jaar drie word. Hy lyk op ’n druppel water na sy oorlede oupa, en hy’s wit, tot groot vreugde van die Sandfonteiners.

“Gelukkig vir Darius kuier sy darem nie so tussen die hotnots nie,” het Daleen eendag ’n gesprek tussen twee gesiene vrouens gehoor, ook maar lekker jaloers omdat hy nie een van húlle gekies het nie. Op daardie oomblik het Daleen se gevoel jeens Veronica begin verander. Want ja, tot haar skaamte moet sy erken dat sy ook vir Darius bitter kwalik geneem het oor sy keuse, veral aangesien daar nooit ’n gebrek aan vrouens was wat in hom belanggestel het nie. Sý wat kastig so verlig is!

Sy het ná hulle troue nie meer so gereeld op die plaas gekom nie, vir Darius gesê dis omdat sy hom en sy bruid tyd alleen saam gun. Sy het geweet hy weet sy lieg. Dit was net vir haar so moeilik om te sien hoe Veronica in haar pa en ma, groot Verwoerd-ondersteuners, se huis leef. Asof dit haar reg is. Asof sy daar hóórt.

Nadat sy toevallig die gesprek tussen die twee snobistiese vrouens gehoor het, het sy besluit om vir ’n naweek te gaan kuier sodat sy self kon besluit wie en wat Veronica is. En sy is ontnugter. Veronica is ’n stil vrou wat die grond aanbid waarop Darius loop, en hy voel kennelik dieselfde oor haar. Daleen het daardie naweek ’n diep gesprek met Veronica gehad – en uitgevind die rede hoekom Veronica nie meer saam met haar eie mense kuier nie, is nie omdat sy haarself nou as blank beskou nie, maar eerder omdat haar eie mense haar nie meer wil ken nie. Omdat húlle haar as blank beskou. Apartheid in reverse.

Daleen se hart het oopgegaan vir die pragtige, petite vrou. Sy kon vir die eerste keer vandat sy ’n skoonsuster het haar arms om haar slaan en haar opreg in die familie verwelkom. Nie omdat sy vir haar jammer is nie, eerder omdat sy haar so bewonder. Vir Darius het sy gesê dat hul ouers trots sou gewees het om Veronica as skoondogter te hê – haar manier om vir hom jammer te sê.

En klein Rikus het behoorlik in haar hart gekruip. Bloed is dikker as water, weet sy nou. Darius het daardie aand, nie meer heeltemal nugter nie, bely hy hoop sy volgende kind is nie so wít nie. “Ons is so ’n bleek nasie,” het hy vir Daleen gesê terwyl hy oor die rand van sy brandewynglas na haar loer, “en ek het nog altyd van donker sjokolade gehou.”

Daarna het niemand dit meer gewaag om voor Daleen iets neerhalends oor haar familie te sê nie. Sy het nie meer stilgebly nie, sy het hulle verdedig. Al het die meeste dorpenaars Veronica en Rikus in die gemeenskap begin aanvaar, sou daar altyd diegene wees wat hulle nie kon of wou aanvaar nie. Wat altyd ’n rede gesoek het om smalend van hulle te praat.

Met die terugry dorp toe ná daardie naweek het Daleen gewonder hoekom ware liefde – hel, énige liefde – haar nie beskore is nie. Asof sy Cupido op een of ander wyse te na gekom het . . . Tot sy vir Jan ontmoet het. Skielik het sy geweet hoekom die liefde haar so lank ontwyk het: sy moes rég wees daarvoor. Vir alles op aarde is daar tog ’n tyd. En met die ouderdom kom selfvertroue, ook vertroue in jou vermoëns – as mens, as vrou, as lover. Sy was eindelik rég vir die liefde.

Die laaste paar weke het sy egter weer begin twyfel. Die huwelik is ’n heilige instelling. Wie is sy om die derde party in ’n huwelik te wil wees? Hoekom doen sy dit aan haarself? Aan hulle? Is dit nou die tyd om die verhouding te beëindig . . . en die risiko te loop om vir ewig alleen te wees? Nou, vóór die waarheid uitkom en die dorp nog ’n sappige skinderstorie beetkry?

Of moet sy Jan se voorstel ernstig oorweeg? Wat is in elk geval fout met haar en Darius dat hulle liefdeslewe so kontroversieel moet wees? En wat van Bennie, Jan se seuntjie? Hoe gaan hý haar aanvaar?

Nooit is 'n lang, lang tyd

Подняться наверх