Читать книгу Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie - Страница 19

Оглавление

’n Boervrou

“Dis pragtig!” roep Amelia uit toe hulle voor die indrukwekkende lodge stilhou. Hulle kyk waarderend na die klipopstal voor hulle by ontvangs aanmeld.

“Hier’s net twee beddens,” sê Amelia benoud toe hulle die chalet binnestap. Twee mooi dubbelbeddens, moet sy toegee, elk met ’n pragtige wit geborduurde duvet oor. Maar nog steeds net twee. Sy slaap beslis nie saam met een van haar vriendinne in dieselfde bed nie!

“Toemaar,” lag Karien, “ek en Daleen gee nie om om ’n bed te deel nie, of hoe, Daleen?”

“Hmm. Ek sien hier’s ’n staproete.” Daleen bestudeer ’n pamflet wat sy van die bedkassie opgetel het.

“Ek’s game,” verras Amelia haarself. “Ek het nie verniet staptekkies gekoop nie.”

Hulle pak vinnig uit en trek gemakliker aan.

Die staproete is vir al drie ’n belewenis. Hulle volg die roete al langs ’n rivier en sien troppe boksoorte, bewonder die berge in die verte met hul sneeutoppe. Amelia neem so baie foto’s dat haar kamera se geheuekaart vol raak. Gelukkig het Werner gesorg dat sy nog twee bring.

Op ’n klip aan die oewer van die rivier gaan hulle sit, drink bakhand van die helder bergwater. Hulle sit in stilte, elkeen besig met haar eie gedagtes, terwyl hulle die skoonheid van die omgewing indrink.

Gert sou baie gee om sy veld dié tyd van die jaar so groen te sien, sug Amelia. Sy wens sy kon ’n stukkie van hierdie betowerende plek vir hom vat. ’n Bietjie sneeu van die berge gaan haal om vir die kinders te wys. Foto’s is herinneringe vir die een wat daar was; dit vertel nie ’n verhaal nie. Nie die vólle verhaal nie. Dalk moet sy so iets op die plaas begin, bespiegel sy, ’n gastehuis. Sy en Maria kan bak en brou, die mense onthaal. Op uitstappies te perd vat . . . Nee wat, Gert sal nie van vreemdes op sy plaas, in en om sy huis hou nie. En as sy eerlik moet wees, kan hulle plaas nie hierdie soort uitsig bied nie.

Sy kyk op na die berge. Sou dit só vir Adam en Eva in die tuin van Eden gevoel het? Asof jy God kan aanraak? Want hier is sy meer as ooit bewus van God se nabyheid. Twyfel sy nie eens daaraan nie. Hier is sy gerus in die wete dat op hierdie plek, op hierdie klip langs die yskoue rivier, geen onheil skuil nie. Geen ongediertes nie, dink sy toe sy ’n ritseling in die ruigte langs hulle hoor en versigtig vir die ander die ooi en haar lammetjie uitwys.

“Ons moet terug,” verbreek Daleen later die byna magiese stilte. “Dit raak donker.”

Amelia kyk verbaas na die skaduwees wat vinnig langer word, voor hulle opstaan en die terugtog in stilte aanpak.

“Gaan ons in die restaurant eet?” vra Karien toe hulle die chalet binnestap. “Ek sien daar is onder andere springbokboud op die spyskaart.”

Die ander twee stem in, en hulle was hande, kam hare en sit vars lipstif aan voor hulle weer uitstap.

Die restaurant is ’n gesellige vertrek met sowat tien tafels en ’n groot, breë kroegtoonbank. Tot hulle verbasing is daar heelwat ander gaste, terwyl hulle niemand op hul staptog teëgekom het nie.

“Kom kry vir julle!” nooi die gasvrou waar sy agter die stomende potte staan. Sy skep hul borde tot boordens toe vol en hulle gaan by ’n tafel sit.

Amelia neem haar vriendinne se hande in hare en doen ’n kort gebed.

Toe sy hoor hoe een van die gaste spog oor die groot koedoebul wat hy platgetrek het, sit sy haar mes en vurk vinnig neer. “Is dit ’n jagplaas?” vra sy verbaas.

“Onder andere,” knik Daleen met haar mond vol vleis.

“Dis die lekkerste wild wat ek nog geëet het,” sê Karien en laai weer haar vurk vol.

Amelia reik na haar wynglas. “Om te dink al daardie bokkies wat ons vanmiddag gesien het, word geskiet. Maar nou ja, laat ek nie daaroor wroeg nie. Genade, daarvoor is die kos net té voortreflik!”

Sy kyk waarderend na die bord voor haar: springbokboud gestop met spek en kruie, rys, brosgebraaide, goudgeel aartappels, pampoenkoekies dik van die stroop, lang, dun repies boontjies met ’n pikante sous wat sy glad nie ken nie. Sy kou langsaam aan ’n hap, probeer die geur en smaak onderskei, maar dit bly haar ontwyk.

Hulle eet hulle borde blinkskoon, en Daleen gaan selfs vir ’n tweede porsie.

Die ander gaste, wat ná ete om die kroegtoonbank saamgetrek het, nooi hulle gesellig om by hulle aan te sluit. Vir die eerste keer in haar volwasse lewe is Amelia deel van ’n gesprek met wildvreemdes. Sy is seker dis die wyn wat haar tong so los maak, wat haar so amusant maak, want die ander gaste lag waarderend vir haar grappies.

Dís wat sy mis, dink sy mismoedig toe hulle laataand effens onvas op hul voete terugstap na hul chalet. Sy wil saam met haar man kuier, tot laataand, om ’n bottel wyn as dit moet. Sy wil saam met hom oor onsinnighede lag, saam met hom laf raak. Sy wil nie elke aand sedig en vroom na die televisie staar nie, sy wil met hom gesels, met hom skerts.

Sy wil weer seks hê, stomende, wilde seks. Is dit te veel gevra?

Nooit is 'n lang, lang tyd

Подняться наверх