Читать книгу Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie - Страница 18

Оглавление

Drie Janne

Karien en Amelia loop by die padstal uit, hul arms gelaai met pakkies. Gewoontes is vieslike goed, dink Karien terwyl sy na die pakkies in haar hande kyk. Sy het onbewustelik al Dawid se gunstelinge gekoop: biltong en droëwors, die konfyte waarvan hy die meeste hou.

Daleen kom aangestap na hulle, ’n glimlag so breed soos die Oranjerivier op haar gesig.

“Julle al klaar? Gee my so ’n paar minute.”

Sy kyk na die man wat in die deuropening verskyn. “Hallo! Jy moet Piet wees, ek’s Daleen.” Sy skud sy hand entoesiasties. “Pragtige plek wat jy hier het!”

Karien skud haar kop stadig. Sy het haar nog altyd verwonder aan die gemaklike manier waarop Daleen met vreemdelinge kommunikeer. Sou hulle dit vir mediese studente as vak aanbied? Iets soos: “Hoe om met vreemdelinge te gesels.” Nee, dalk eerder: “Oorkom jou skuheid.”

“Daleen het darem ’n breë glimlag,” merk Amelia onderlangs op.

“Dis vandat sy daardie geheimsinnige oproep gekry het,” knik Karien en hou Daleen uit die hoek van haar oog dop terwyl sy druk in gesprek met Piet is. Waaroor sou hulle praat, die weer?

“Weet jy van wie die oproep was?” vra sy vir Amelia terwyl hulle hul pakkies in die viertrek laai.

“Jan.”

“Jan? Wie de hel sal dít wees?” Dis ooglopend dat Daleen verlief is; daardie spreekwoordelike vonkel in haar oë verklap haar.

“Ek weet nie. Dis só frustrerend! Ek kon net hoor sy noem hom Jan, voor sy daar anderkant gaan staan en praat het. Daar is, sover ek weet, net drie Janne op die dorp.” Amelia begin hulle op haar vingers aftel. “Een: ou oom Jan du Randt van Uilskraal – glo nie hy sal haar só kan laat glimlag nie. Twee: Jan Pretorius.”

“Die gerehabiliteerde alkoholis?”

“Einste. Maar ek dink nie Daleen sal vir hom val nie, hy het nie die regte persoonlikheid nie. Te inkennig.”

“Wie nog?”

Amelia laat ’n derde vinger triomfantlik by die ander aansluit. “Jan van die Koöperasie.”

“Dalk is dit hý . . .”

“Nou is jy laf. Hy is maklik tien jaar jonger as Daleen, en wragtig nie wat ek aantreklik sal noem nie. Jy weet tog sy gaan altyd vir die aantreklike ouens.”

“Hét. Sy het jare laas ’n boyfriend gehad. En almal wat jy opgenoem het, is getroud.”

“Dalk ís hy getroud.” Amelia kyk na Karien, voeg dan vinnig by: “Nie dat ek buite-egtelike verhoudings goedpraat nie, maar dat dit gebeur, is ’n feit.”

“Ek háát buite-egtelike verhoudings. Hy staan daar in sy swart pak met sy sedige gesig en hy beloof voor God en gemeente om getrou aan sy vrou te bly. Tot die dood hulle skei.”

“Praat ons nog van Daleen?” vra Amelia terwyl sy haar vriendin onderlangs dophou.

Karien ignoreer die vraag, hou haar hande besig, haal biltong uit ’n pakkie. Wat is dit met mense, meer spesifiek met máns, dat hulle groener weivelde soek? Sy het al baie daaroor gewonder, selfs voor Dawid se dinge. Hoekom het sý nog nooit ’n begeerte gehad om oor die draad te loer nie? Of is sy regtig seksueel so koud soos Dawid haar gereeld vertel?

Haar ma se woorde kom weer by haar op: Wat God saamgevoeg het . . . Nee, God voeg nie alle huwelike saam nie. Maar wanneer jy ’n belofte gemaak het, kom jy dit na, of jy in God glo of nie. Punt. Daleen wéét dit.

Sy draai na Amelia, wat haar kamera uitgehaal het en fluks foto’s neem van Piet se plek. “Ek glo nie Daleen sal by so ’n toksiese verhouding betrokke raak nie.”

“Jy’s reg, sy sal nie. Dalk woon die geheimsinnige Jan op ’n totaal ander dorp.”

Daleen wuif vir hulle en kom vinnig aangestap met ’n paar pakkies swaaiend in haar hand. Piet kyk haar waarderend agterna.

“En waaroor skinder julle?” vra sy. “Moenie eens daaraan dink om te stry nie, julle lyk albei skuldig.”

“Ons skinder nooit!” roep Amelia gemaak gekrenk uit. “Ons wonder.”

“Waaroor nogal?”

“Oor jou,” Karien kyk betekenisvol na Daleen, “en daardie geheimsinnige oproep.”

“Wie is hierdie Jan wat jou oë so laat vonkel en hoekom weet ons niks?” vra Amelia.

“Dis mý geheim,” sê Daleen beslis. “Dalk vertel ek julle eendag, maar nie nou nie.”

“Maar ons het nog nooit geheime vir mekaar gehad nie en ons wíl weet! Jy is dit aan ons verskuldig!”

“O, nogal?”

“Natuurlik,” sê Amelia. “Ons is al ou getroudes en – kom ons wees eerlik – ons sekslewe is voorspelbaar eentonig. Ons het opwinding nodig!”

“En ek het stof nodig vir die roman wat ek eendag nog gaan skryf,” beaam Karien.

Daleen lag net en laai haar inkopies in. “Miskien eendag,” sê sy vaag.

“Moenie dink ons gaan van Jan vergeet nie, hoor,” sê Karien. “Sorg dat jy ons vroeër eerder as later vertel. Ek het rêrig alles nodig wat ek op papier kan neerpen, al die saucy details. Ek beplan ’n wárm roman!”

“Piet sê daar’s die mooiste lodge so twintig kilometer buite die dorp. Ek weet dis nader Jeffreysbaai toe as ons deur Stutterheim ry, maar ek sal graag wil sien hoe die pad deur die berge lyk. Dis ’n effense ompad tot in Oos-Londen, maar ons het mos tyd?” vra Daleen.

“Berge!” sê Amelia. “Dit sal lekker wees.”

Karien skuif haar gemaklik reg op die agtersitplek. Nee, dink sy, Daleen is nie dom nie. Sy sal nie betrokke raak in ’n buite-egtelike verhouding wat in elk geval, soos alle buite-egtelike verhoudings, van die begin af gedoem is nie.

Nooit is 'n lang, lang tyd

Подняться наверх