Читать книгу Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie - Страница 13

Оглавление

Die nuwe tandarts

Karien kyk met deernis na Daleen, wat wel aan die slaap geraak het en nou met haar kop ongemaklik teen die ruit lê. Hoekom het sy nie vir Daleen vertel nie? ’n Gedeelde las . . . Maar as sy vertel, maak sy dit wáár. En sy is nog nie gereed vir die waarheid nie.

Wat het haar in die eerste plek na Dawid aangetrek? Sy onthou hulle eerste ontmoeting goed, maar wat was nou eintlik die aantrekkingskrag? Tog sekerlik nie net dat hy so ’n mooi man is nie?

Sy het ná universiteit by die plaaslike koerantjie op Sandfontein begin werk. Sy was amptelik ’n joernalis, maar was te skaam om dit aan haar studentemaats te erken. Die meerderheid van hulle het by vooraanstaande koerante en tydskrifte begin werk. Sy, wat een van die topstudente in hul jaar was, het boerebegrafnisse en -troues gedek. Meer begrafnisse as huwelike, dink sy wrang. Nie omdat sy nie beter werk kon kry nie, maar omdat sy graag na haar tuisdorp wou terugkeer.

Haar pa was toe al afgetree, maar besiger as ooit. Hy het in bykans elke komitee gedien, en was nog tot sy dood baie aktief by die skool betrokke. Hy is al amper drie jaar dood, dink sy verras, soms voel dit nog soos gister. Sy het nooit, soos so baie ander skoolhoofde se kinders, hand uitgeruk net om haar pa te wys nie. As sy reg onthou, het hulle nie eintlik probleemkinders in die skool gehad nie. Want haar pa was regverdig . . . goed.

As enigste kind was sy nog baie afhanklik van haar ouers – dis hoekom sy Sandfontein se koerantjie bo ’n glanstydskrif verkies het. Seker ook omdat sy gedink het dat sy die koerant tot groter hoogtes kon neem. Die vermetelheid van die jeug, darem . . . Tog was sy nooit spyt oor haar keuse nie, want sy was gelukkig met haar beskeie werksomstandighede.

Sy het een oggend opgestaan met die allerverskriklikste tandpyn, en ’n week lank met die pyn probeer saamleef omdat sy ’n fobie oor tandartse het. Dit bly eienaardig dat sy met haar tandartsfobie toe halsoorkop vir een geval het. Tot die oggend toe sy weer, ná die eerste mond vol van haar ma se saggekookte eier, inmekaargekrimp het van die pyn.

“Ek het gister vir jou ’n afspraak by die nuwe tandarts gemaak,” het haar ma doodluiters gesê. “Jy loop nou al ’n week met ’n dik bek rond. Gaan vanoggend spreekkamer toe en kry dit agter die rug. Pyn verdwyn nie omdat jy dit ignoreer nie.”

Met haar hand nog steeds beskermend om haar mond gevou, het sy grootoog omgedraai. “Wat het van dokter Maritz geword?”

“Hy is mos pas op pensioen. Twee jong tandartse het sy praktyk gekoop; hulle het laas week begin. Ek het vir jou ’n afspraak by dokter Du Plessis gemaak, die mooier een van die twee. Ek moes ou Elisa se arm behoorlik draai om vir jou plek te kry by hom. Die ander tandarts het plek gehad, maar hy is nou regtig nie iets om na te kyk nie.”

“Ma het vir my ’n afspraak by hom gemaak omdat hy aantreklik is?” het sy verstom gevra. “Ma, as jou tand seer is, gee jy nie om of ’n trol dit stop nie!”

“Jy het nog nie vir Dawid du Plessis gesien nie! Selfs ek moet erken dat hy my knieë lam maak, en jy weet mos dis net jou pa wat dit nog ooit kon regkry.”

Haar ma was reg. Een kyk in Dawid se blouer-as-blou oë, en sy was verlore. Soos in ’n goedkoop liefdesverhaal, dink sy wrang. Sy het hom ge-“dokter” toe sy daar in is, ’n uur later was hy Dawid, ’n paar maande later was hy haar verloofde, na nog ’n paar maande was sy swanger met Ronel en kort daarna was sy mevrou dokter Du Plessis.

Wie weet of sy met hom sou getrou het as sy nie saam met hom in die bed gespring en swanger geword het nie . . .

Dalk was dit die enigste keer dat sy haar pa teleurgestel het, mymer sy. Hy het nooit van Dawid gehou nie, het ook nie regtig probeer om dit weg te steek nie. Hy was vriendelik genoeg met hom, maar altyd op ’n afstand.

Nooit is 'n lang, lang tyd

Подняться наверх