Читать книгу Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie - Страница 9

Оглавление

Gariepdam

Skaars twintig kilometer buite Sandfontein kry hulle padwerke. Hulle word voorgekeer by die stop/ry-bordjie.

“Dis genoeg om my na drank te laat gryp,” sê Daleen ongeduldig terwyl sy die bedrywighede dophou. “Dis net my geluk – wanneer ek op dié pad is, kom ek alewig padwerke teë.” Sy trommel ongeduldig met haar vingers op die stuurwiel.

“Die ergste is, dit lyk soms asof hulle nooit hier was nie, nooit aan die pad gewerk het nie,” antwoord Karien langs haar.

“Ten minste probeer hulle,” sê Amelia. “Ek haal my hoed vir hulle af – om in dié koue weer buite te werk.”

Hulle staan ’n goeie tien minute voor hulle mag ry.

“Dit bly darem maar ’n aaklige pad om te ry,” merk Amelia later op. “Hier is niks om na te kyk nie, niks wat die aandag ’n bietjie aflei nie. Net die lang, reguit stuk teer.”

“As boervrou behoort jy na die veld en diere te kyk,” meen Karien, kouend aan haar duimnael.

“In die winter? Eerder nie. Die vaalte maak my depressief. Ek hou van die Vrystaat in die somer, ná goeie reën, wanneer die veld groen is en van blydskap blink.”

“Ek’s honger. Dis ook geen wonder nie, ek het gistermiddag laas geëet, en ook nou nie wat ek ’n gebalanseerde maaltyd sal noem nie,” sug Karien.

Daleen kyk op haar horlosie. Hulle is skaars twee ure uit Sandfontein weg, maar nou ja, dit was háár idee om rus-rus te ry. “Ons kan altyd by die Gariepdam stop en iets kry om te eet,” stel sy voor.

“Ons kan daar oornag ook,” sê Amelia. Toe sy die onderlangse blik tussen Daleen en Karien sien, voeg sy vinnig by: “Ons hét mos besluit om ons reis rus-rus aan te pak.”

“Wel, dit pas my,” sê Karien. “Ek het nog nooit daar oornag nie. Sien mos maar net die dam verbyflits as ons die pad suide toe vat.”

“Moet ek hulle bel, hoor of hulle vir ons plek het?” Amelia haal terstond haar selfoon uit.

“Hulle sal plek hê,” sê Daleen. “Ons is in elk geval klaar hier.” Sy ry eers verby die oord, hou langs die indrukwekkende damwal stil.

“Dis lekker om buite seisoen rond te ry,” verklaar Amelia. “Ek dink dit het iets te doen met die feit dat ek in afsondering op ’n plaas bly, maar die gewoel vakansietye mergel my uit. Kyk nou net, dis so heerlik rustig. Ons is die enigste mense hier.”

Hulle staan sy aan sy op die wal na die massa water en staar.

“Dis jammer die sluise is nie oop nie,” sê Karien. “Dit moet ’n fantastiese gesig wees, die bruisende water.”

“Dit is,” knik Daleen. “Ek en Darius het dit eenkeer gesien toe ons Jeffreysbaai toe was.”

Sy kyk na die enorme damwal. Die pad wat daaroor loop, is ’n swart vlek op die amper wit oppervlak. Langs die wal is hope parkeerplek, en ’n entjie verder nooi groen gras met tafels en bankies moeë reisigers om te rus. Ons moes dít gedoen het, dink Daleen, padkos gepak het en net hier op die groen gras langs die massa water geëet het, soos toe ek en Darius nog klein was.

“Ek’s honger,” ruk Karien se stem haar uit haar dagdroom.

Hulle ry terug na die vakansieoord.

Daar is wel plek, deel die nors ontvangsdame hulle mee, en ná Daleen die vorms ingevul het, oorhandig sy die sleutel vir rondawel nommer 14 met ’n sug.

“Oeps!” lag Daleen toe hulle in die viertrek klim. “Ek dink ons kan met sekerheid sê dat ons beslis nie haar dag gemaak het nie.”

“Ek dink sy’s vies omdat ons nie langer bly nie,” sê Amelia. “Sy het tog vriendelik gelyk toe ons verblyf gevra het.”

“Kom ons gaan eet eers,” soebat Karien toe Daleen die sleutel in die aansitter draai. “Ons kan later rondawel toe gaan.”

Die restaurant is net langs ontvangs, met ’n mooi uitsig op die swembad wat skitterend koud en rimpelloos lê.

Hulle bestel elkeen ’n hamburger. So, dink Daleen geamuseerd, Karien se dieet van ’n paar dae gelede is iets van die verlede.

Hulle wag nie lank op hulle bestelling nie, tot Karien se blydskap.

“Wat het julle gister hierdie tyd gedoen?” vra Daleen terwyl sy die sous van haar hamburger wat oor haar ken drup met haar vingers afvee.

“Ek weet nie meer nie,” sug Karien.

“Ek ook nie, dit voel soos eeue gelede.” Amelia strek haar hand om die tamatiesousbottel by te kom.

“Kom nou! Almal kan altyd sê waar hulle eenuur die vorige middag was! Dis etenstyd, mense,” herinner Daleen hulle. “Ons assosieer mos almal eenuur met kos. Ek weet ek het gister eenuur ’n bier vir middagete gehad. Kan julle dit glo, ’n bier! Daar was soos gewoonlik niks in die yskas nie, behalwe nou die bier en katkos. Ek was nie honger genoeg om winkels toe te ry of katkos te eet nie. Toe drink ek maar die bier. Ek was nogal bang my pasiënte ruik dit.”

“As ek dan nou moet sê,” sê Karien, “het ek eenuur gister voor die skool gewag vir die kinders om uit te kom, hulle het nie gister sport gehad nie. Ek dink ek het ’n meat pie geëet.”

“En ék was soos gewoonlik besig om getrou kos op te skep. Ons eet mos elke ete aan ’n gedekte tafel,” sê Amelia.

“Wat Maria dek, ja,” sê Daleen, steeds kouend aan haar hamburger.

“Dit is so. Ek weet ek is vreeslik bederf met die twee huishulpe, maar dis nou maar soos Gert grootgeword het. Hy glo nie daaraan dat sy vrou haar hande in skottelgoedwater moet steek nie.”

Dit raak stil aan die tafel, elkeen konsentreer op die laai van die vurk, die kou van die kos.

Daleen kyk om haar rond. Dit ís rustig buite seisoen, soos Amelia opgemerk het. Buiten hulle drie is die enigste ander klante ’n ouerige egpaar, en ’n pa en ma met hul seuntjie. Terrible twos, dink Daleen geamuseerd terwyl sy toekyk hoe eers die ma en dan die pa sukkel om hul spruit sover te kry om te eet. Hy is meer geïnteresseerd in wat om hom aangaan as wat voor hom is, lag sy in haar enigheid.

Lag met ’n traan, soos ’n donnerse nar, dink sy ’n bietjie jammer vir haarself. Sal daar ooit ’n tyd kom dat sy haar eie kinders teen haar bors sal vashou? Seker nie. Wat haar antwoord aan Jan ook al gaan wees, daardie voorreg is haar, Daleen Joubert, nie beskore nie. Sy verlang, besef sy. Sy verlang wragtig al klaar. Hoe is dit moontlik? Sy was nog altyd so goed daarmee om haar emosies te beheer. En nou, skaars tweehonderd kilometer weg van die huis, verláng sy.

Sy kyk op na haar vriendinne, albei skynbaar diep ingedagte. “Is dit moontlik om nou al, skaars twee uur op die pad, te verlang?”

“Dit is,” sê Amelia nadenkend. “Ek verlang klaar na Gert.”

Sy’s eerder rasend van bekommernis oor Gert, vermoed Daleen.

“Ek verlang nog nie na my kinders nie,” sê Karien kouend. “Seker omdat hulle in elk geval hierdie tyd van die dag nog by die skool is, besig met sport. Die verlange sal my wel tref wanneer dit drieuur word en ek hulle moes gaan oplaai.”

“Verlange na my kinders is al so deel van my dat ek dit skaars meer registreer,” sug Amelia. “Ek háát koshuise.”

Karien kyk opsommend na Daleen. “Hoekom vra jy? Na wie verlang jý dan?”

Daleen reik na haar servet, vee haar mond onnodig lank af voor sy sê: “Jy weet daar’s niemand om na te verlang nie. Ek het slegs gewonder of dit moontlik is.”

Sy staan oorhaastig op om te gaan betaal. Karien kry dit altyd reg om tot in haar siel te kyk, dink sy effens verbouereerd.

Sy teken die kredietkaartstrokie en kry die ander twee by die viertrek.

Hulle vind hul rondawel sonder moeite. Sit ’n rukkie onkant gevang deur niksdoen op die stoep, voor hulle besluit om winkel toe te stap om slaai en peuselhappies vir die volgende paar dae te koop.

“Daar is dalk iets te sê vir mans wat van bestemming tot bestemming jaag,” sê Amelia toe hulle die kruideniersware ’n rukkie later op die kombuistoonbank neersit. “Dis nog so vroeg en ons het niks om te doen nie.”

“Jy’s reg, ek is klaar verveeld. Kom ons gaan verken die plek. Te vóét,” beklemtoon Daleen en reik na die rondawel se sleutel.

Hulle stap op die stil paadjies wat tussen die rondawels deur kronkel. Daleen neem stewig die voortou, die ander twee blasend agterna. Dis nogal ’n groterige oord. Hier en daar staan ’n voertuig voor ’n rondawel, andersins is die plek verlate.

Dis lekker dat die paaie nie net gelyk is nie, dink Daleen toe hulle ’n stewige opdraand begin uitstap. Sy draf genoeg gelyktes elke oggend.

’n Uur later laat sak hulle hul moeë voete in die yskoue swembadwater, broekspype hoog opgerol.

“Nee, magtig, Daleen,” sug Karien en vryf oor haar seer, ongeoefende kuite. “Toe jy sê ons moet gaan stap, het ek gedink dís wat ons gaan doen. Nie op ’n drafstap voortstorm nie!”

“Dit het darem die tyd ’n bietjie omgekry,” sê Amelia.

Karien lê terug op haar rug, haar voete morsdood in die koue water. ’n Grys kat kom om die hoek gesluip. “Hier’s vreeslik baie katte,” merk sy op terwyl sy probeer om hom nader te lok.

“Ek wonder wie sorg vir hulle,” sê Amelia.

“Ek dink die restaurant sit vir hulle kos uit, anders kyk die gaste maar.” Daleen skud haar kop. “Dis eintlik ’n treurigheid om te sien hoe hulle saans om die braaivure bedel.”

“Ek wil ten minste twee katte en twee honde hê.” Karien kom regop toe die kat haar ignoreer en gaan sit om hom te was.

“Hoekom het julle nie diere nie?” vra Daleen, verbaas dat sy nou eers daaroor wonder.

“Dawid is allergies,” sug Karien. “Ek kry altyd die kinders so jammer, dat hulle so troeteldierloos deur die lewe moet gaan. Gelukkig het hulle ouma ’n kat, anders was troeteldiere seker vir hulle ’n rariteit.”

“Kom,” sê Daleen terwyl sy haar yskoue voete uit die water lig en energiek met haar hande begin vryf om weer die bloed te laat vloei. “Daar is ’n bottel wyn in die yskas wat nou baie hard na my roep.”

Nooit is 'n lang, lang tyd

Подняться наверх