Читать книгу Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie - Страница 8

Оглавление

Daleen

Dís hoekom ek draf, dink Daleen toe sy om haar kyk. Die winterson steek sy kop lui bokant die koppies uit, sy hoor voëltjies om haar roep, dis net sy en haar ritmiese voetval op die teerpad. Sy het jare terug begin draf om haar kop skoon te kry, nou vermoed sy dat sy verslaaf is daaraan. Die lekkerte van die stilte, die pad en sy.

Selfs die honde agter die toe hekke groet haar stertswaaiend wanneer sy verbykom. Sy weet altyd wanneer daar nuwe intrekkers is: dis die honde wat nog vir haar blaf. Maar eendag, nie te ver in die toekoms nie, gaan hy haar ook stertswaaiend kom groet, glimlag sy toe sy verby ’n blaffende hond draf.

Miskien moet ek nou omdraai, besluit sy. Sy het al klaar verder as gewoonlik gedraf, en sy moet nog pak en vir tannie Hester die woonstel se sleutel gaan gee.

Toe sy die trappies na haar woonstel twee-twee uitgedraf het, leun sy teen die deur om haar asemhaling weer normaal te kry. Jy wóú mos verder draf, berispe sy haarself. En dit het nie eens gehelp nie. Die spoke wat knaend om haar draai, vir húlle kon sy nie weghardloop nie.

“Dokter is nie gewoonlik so uitasem nie, is alles reg?” klink tannie Hester se bekommerde stem agter haar op.

Sy maak haar oë vir ’n oomblik toe, haal eers weer diep asem voor sy omdraai om na haar buurvrou te kyk. “Doodreg, dankie, tannie, ek het so ’n bietjie verder gedraf as my gewone roete.”

Dis die een vraag wat sy nog nooit kon beantwoord nie, dink sy terwyl sy na tannie Hester kyk: hoekom staan bejaarde mense altyd vroeg op? Dis winter, dis koud – die ideale verskoning om laat te lê, snoesig onder jou duvet. En hier staan tannie Hester, aangetrek, smeersel lipstif op die plooimondjie. As ek nie verdomp verslaaf was aan hardloop nie, sou ék nog gelê het, dink Daleen.

“Nou ja, wys my gou wat ek alles vir jou moet doen terwyl jy weg is. Help nie mens los dit tot laaste nie, of hoe, dokter?”

Daleen gee ’n suggie. “Tannie is reg. Kom sommer in. Daar is nie veel wat gedoen moet word nie, ek gaan net vir twee weke weg.” Sy stoot haar voordeur oop en laat tannie Hester eerste inloop.

“Jy moet jou deur sluit voor jy uitgaan, hartjie. Hier is so baie misdaad in hierdie land van ons. ’n Mens moenie dink dat net omdat ons op ’n klein plekkie bly, dit ons gespaar word nie.”

Agter haar rug trek Daleen ’n baie onvroulike gesig. “Natuurlik, tannie,” beaam sy.

Sy het ’n baie sagte plekkie vir tannie Hester, het haar hoeka bygestaan toe oom Frik twee jaar gelede oorlede is, maar sowat van bemoeisiek het sy nog nooit gesien nie. En dit word elke jaar net erger.

Sy weet sommer geen hoekie van haar woonplek sal veilig wees met tannie Hester wat vrye toegang daartoe het nie. Daarom het sy by voorbaat haar mees persoonlike goedjies in haar kas toegesluit. As dit nie was dat Dennis elke dag gevoer moet word nie, sou sy nooit gedroom het om haar spaarsleutel aan tannie Hester te oorhandig nie. Maar haar kat moet eet, en daar is geen ander keuse as tannie Hester nie.

Sy wys haar gou waar die katkos gebêre word, verduidelik weer dat Dennis slegs dié spesifieke katkos eet, en dat tannie Hester nie vir hom kos van die tafel moet bring nie. Dit akkordeer nie met sy spysverteringstelsel nie.

“Tannie moet my nou verskoon, ek wil nog in die stort spring. Ek het net ’n uur voor ek vir Amelia en Karien moet oplaai.”

“Natuurlik, dokter. Maar is hier dan nie potplante wat ek moet water gee nie?”

“Tannie weet tog ek het nie tyd om nog na plante ook om te sien nie,” lag Daleen. “Dis net Dennis.”

Sy weet tannie Hester is eensaam ná oom Frik se afsterwe, daarom maak sy graag tyd om met haar te gesels, maar nie vandag nie, besluit sy beslis. Sy neem tannie Hester stewig aan die elmboog en help haar by die voordeur uit.

“Dokter is vandag regtig deurmekaar,” lag die tannie. “Waar is die sleutel dan?”

“Natuurlik! Hier, ek het dit op die kassie by die deur gesit.”

“Dokter moet die stukkie vakansie geniet, mens moet soms ’n bietjie wegkom.”

“Dankie, tannie.”

Daleen maak die voordeur dankbaar agter haar toe en gaan pak vinnig haar laaste paar goedjies in haar tas. Sy rits die tas toe en Dennis stap stert in die lug die kamer binne. Sy gryp hom, druk hom styf teen haar vas terwyl hy sagte spingeluidjies maak.

“Jy moet mooi bly, skattebol. Ek gaan vreeslik na jou verlang. Gaan jy ook na my verlang?”

Dennis kyk haar verontwaardig aan, maar bly haar ’n antwoord skuldig.

“Werk tog maar mooi met tannie Hester. Jy weet sy hou nie baie van katte nie, daarom is dit ekstra lief van haar om na jou te kyk.” Sy sit die kat op die bed neer en gryp haar handdoek om te gaan stort.

Sy het net uit die stort gestap, die handdoek om haar lyf gedraai, toe sy die bekende deuntjie van haar selfoon hoor. Vinnig draf sy na haar bed, lig vir Dennis af en op haar skoot. Sy kyk na die selfoon, voel haar hart teen haar ribbes skop toe sy die bekende, beminde naam sien. Sukkel wragtig om haar asemhaling normaal te hou.

“Haai . . .” Haar stem het daardie hees klank van verlange, van totale oorgawe, besef sy te laat.

“Ek is bly ek kry jou, ek het vroeër ook gebel.”

“Ek was in die stort.”

“Nog nie op pad nie?”

“Ek trek net gou aan, dan ry ek.”

“Ek wens jy wil nie gaan nie.”

“Ek moet. Op hierdie stadium wil ek weg wees van jou. Net vir ’n rukkie, sodat ek vir myself kan dink. Kan besluit of ek kans sien vir wat jy voorgestel het. Jy wil tog seker ook hê dat ons albei sekerheid moet hê? Dis ’n groot stap, ons kan nie later omdraai en sê dit was ons hormone nie. Alhoewel ek seker is dat ons hormone wel ’n groot rol speel!”

“Jy is reg, natuurlik. As dit net nie vir so lank was nie.”

“Dis net twee weke!” lag Daleen.

“Ek moet gaan, my eerste pasiënt is hier. Bel my asseblief vanaand.”

Daleen druk die telefoon met ’n glimlag dood. Sy was seker dat die liefde haar nie beskore is nie. Het al, om die waarheid te sê, begin regmaak vir ’n altyd-op-haar-eie-bestaan, vandaar Dennis. Tot sy in Jan se oë gekyk het. Liefde met die eerste oogopslag.

Sy lag, tel Dennis op en druk hom weer teen haar vas. “Ek het altyd gedink sulke liefde bestaan net in goedkoop romantiese boeke,” sê sy vir die kat, wat haar onbegrypend aanstaar. “Hoe verkeerd was ek nie!”

Dennis knip sy oë tydsaam, maar het geen opinie nie.

Nooit is 'n lang, lang tyd

Подняться наверх