Читать книгу Nooit is 'n lang, lang tyd - Anchien Troskie - Страница 17

Оглавление

All you need is l♥ve

Daleen se selfoon lui net toe hulle by die padstal instap. Hulle het die stalletjie anderkant Aliwal-Noord op pad Queenstown toe raakgery. Dis in elk geval onmoontlik om dit nié raak te sien nie: pers, blou, groen en rooi, met ’n groot naambord: Piet se plek. Biltong, droëwors, vars vrugte en yskoue koeldrank, belowe die kennisgewingbord verder.

Daleen voel haar hart agter haar ribbes skop toe sy Jan se naam op die skermpie lees. Sy verskoon haarself en stap na die ry peperbome aan die ander kant van die padstal.

“Jan . . .” Sy voel hoe haar asem in haar keel stol, sodat dit byna onmoontlik is om te praat. Sy is oombliklik vies vir haarself. Sy gedra haar soos ’n verliefde tiener, en só ken sy haarself nie. Sy het nog nooit so opgetree nie.

“Het jy al tot ’n besluit gekom?”

Sy hoor die ongeduld in Jan se stem, wil haar eers daaroor vererg, besluit dan om dit te ignoreer. Hulle het hierdie rusreis tot satwordens toe bespreek. Dis háár tyd hierdie. Saam met háár vriendinne, sodat sy tot ’n ingeligte besluit kan kom. Sy gaan haar nie laat aanjaag nie.

“Nee,” antwoord sy, sonder enige verdere verduideliking.

“Ek wens jy wil. Dis eensaam sonder jou.” Die versugting is hoorbaar.

“Ek wil ’n deurdagte besluit neem, nie ’n oorhaastige besluit wat op hormone gegrond is nie.”

“Hoe ver is jou pro/con list?”

Daleen hoor die lag agter die woorde. “Moenie met my formule spot nie, jy weet dit werk,” lag sy ook.

“Daleen, daar is nie nadele aan verbonde nie.”

“Hoekom is nadele dan al wat ek sien?” Sy hoor die wanhoop in haar stem, sluk hard in ’n poging om haar stem neutraal te hou. “Ons gaan verantwoordelik wees vir die opbreek van ’n huwelik. Jóú huwelik. Ons gaan ’n kind ontwrig. Jóú kind. Te veel mense gaan seerkry as gevolg van ons.” Darius, haar pasiënte, haar vriende – ’n bose kringloop, voeg sy in haar gedagtes by.

“Wanneer laas het jy aan jouself gedink? Jy’s altyd bekommerd oor wat ander gaan dink. Dink jy nie dis tyd dat jy jouself eerste stel nie?”

“Ek het myself eerste gestel toe ek hierdie hopelose verhouding met jou begin het,” sug Daleen. “Toe het ek net aan myself gedink. En kyk waar is ons nou. Nie weer nie, nie dié keer nie. Ons moet ander se gevoelens ook in ag neem.”

“Ek het aangeneem jy’s lief vir my.”

“Ek is. Maar soms is selfs liefde nie genoeg nie.”

“All you need is love . . .”

“Jan . . .”

“Ek is moeg om ’n leuen te lewe. My huwelik was nog altyd een groot, vet lieg. Ek gaan hierdie huwelik beëindig, dit sweer ek, wat jou besluit ook al is. Ek het gehoop dat ons saam ’n nuwe begin kan maak.”

“Hoekom kan ons nie maar net aangaan soos nou nie? Niemand weet nie, niemand kry seer nie.”

“Van een leuen na ’n ander? Nee, Daleen, nie weer nie.”

Hulle groet en lui af, niks nader aan ’n oplossing nie. Twee mense wat mekaar liefhet. Wat bymekaar hoort, maar as gevolg van omstandighede nie naby mekaar gesien mag word nie.

Daleen staar vir ’n oomblik oor die veld, na die berge, die spitse in die verte spierwit van die sneeu. ’n Pragtige gesig – iets soos dit sou sy graag met Jan wou deel.

Sy plak ’n glimlag op haar gesig. Haar vriendinne mag haar nie só desperaat sien nie.

Nooit is 'n lang, lang tyd

Подняться наверх