Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan - Страница 11

8

Оглавление

Véronique sit vinnig orent en maak haar mond oop om te gil.

Die gemaskerde gestalte buk vinnig vooroor en druk haar mond stewig toe.

“Moenie skree nie, senorita,” fluister Don Diego hier naby haar. Sy ontspan en hy neem sy hand weg.

“Wat … wat maak jy hier?” vra sy en trek die komberse tot by haar keel op.

“Jy moet hier wegkom – nou dádelik!”

Sy skud haar kop onbegrypend.

“Ek verstaan nie.”

“Daar is nie nou tyd om te verduidelik nie. Toe, staan op en trek aan!” Hy fluister, maar sy stem is nog gebiedend.

Sy aarsel.

“Ek kan nie. Gaan eers uit.”

“Ek sal my rug op jou draai. Toe, maak net gou!”

Hy staan terug en gaan dan eenkant met sy rug na haar staan.

Véronique gehoorsaam hom sonder om verdere vrae te vra. Sy verklee haastig.

“Ek is gereed, monsieur.”

Hy help haar om haar mantel om haar skouers te hang.

“Ons moet deur die venster wegkom. Ek het reeds baie gewaag om by die deur in te kom.”

Sy knik.

“Ek weet nie waaroor alles gaan nie, maar ek hoop dat jy later sal verduidelik.”

Hy trek haar aan haar arm na die venster, kyk buitetoe en glip dan oor die vensterbank tot op die balkon. Hy help haar agterna. In stilte hardloop hulle na die verste punt van die balkon wat bo-oor die dak van die waenhuis is. Hulle praat nie; sy volg hom gedwee sonder om te weet waaroor alles gaan.

Die sprong na die waenhuisdak is gewaag, maar hy land ligvoets daarop en beduie dan vir haar om hom te volg.

Sy aarsel en meet die afstand na die dak onder haar. Dit stel haar gerus dat hy daar onder is om haar val te keer. Dan haal sy diep asem en spring.

Hy vang haar voordat haar knieë onder haar kan swik. ’n Oomblik lank hou hy haar vas sodat sy haar ewewig kan terugkry, en haar hart klop wild in haar keel. Dan laat hy haar skielik los, neem haar hand en lei haar oor die dak na die agterkant waar hulle sonder veel moeite, met behulp van opeengestapelde kiste, van die dak afklim.

Toe hulle eindelik op die grond staan, luister hy ’n oomblik aandagtig of hy nie verdagte geluide hoor nie en dan lei hy haar die bosse in, teen die berg uit.

Eers toe hulle ’n hele ent van die huis af is, vra sy: “Waarheen gaan ons?”

“Daar is ’n hut hoër op in die berg. Ek het vars perde daar gelaat. As ons gerus het, kan ons die tog na die Kaap aanpak.”

Hulle het nie baie ver gevorder nie, toe uitroepe van die herehuis se kant af hulle bereik. Hulle gaan staan ’n oomblik en kyk terug.

Werkers skarrel op die werf rond, honde blaf en tussenin kan hulle Etienne Lorraine se bulderende stem hoor.

“Sy mag nie wegkom nie! Julle bring haar terug … dood of lewend!”

Véronique kyk onbegrypend na Don Diego.

“Wat nou?”

“Hulle het ontdek dat jy nie meer in jou kamer is nie. Kom, ons tyd is min. As hulle die honde op ons spoor sit, sal dit moeilik gaan om voor te bly.”

Sy volg hom nou sonder aarseling omdat sy nie begryp waarom monsieur Lorraine so angstig is om haar terug te kry nie. Miskien sal Don Diego ’n verklaring daarvoor hê.

Hulle hardloop so vinnig as wat die digte plantegroei dit toelaat teen die berg op. Agter hulle het monsieur Lorraine reeds die honde losgelaat en hoor hulle die diere tjankend van opgewondenheid die spoor vat.

Véronique struikel telkens en Don Diego moet haar die laaste ent na die hut help. Die honde haal hulle stadig maar seker in. Daar is nog skaars honderd tree tussen hulle en hul agtervolgers. Dan doem die donker silhoeët van die hut skielik voor hulle op.

Don Diego laat Véronique ’n oomblik alleen en kom sekondes later met twee perde te voorskyn. Sy bewegings is blitsvinnig.

“Kom, laat ek jou ophelp!” gebied hy.

“Ek sal self regkom, dankie,” sê sy, maar hy help haar tog vinnig in die saal. Dan spring hy rats op sy perd.

“Volg my net, ek ken die pad.”

Hy gee sy perd spore.

Hulle ry op ’n wilde galop teen die berghelling af. Agter hulle hoor Véronique die opgewonde uitroepe van hul agtervolgers toe die geluid van perdepote deur die nag dring. Sy lê laag oor die saal sodat ’n onsigbare tak haar nie van die perd se rug sal afstamp nie. Haar vrees vir die honde is vir die oomblik vergete en die opgewondenheid borrel deur haar. Dis ’n wilde jaagtog in ’n wilde land vol onbekende gevare. Die maan maak spookbeelde oor die vallei en voor haar sien sy die donker mantel van Don Diego in die ligte bries wapper. Die ysige koue laat haar wange gloei, maar sy voel dit skaars.

Hul agtervolgers kan hulle nie inhaal nie, en hulle gooi gou tou op. Maar Don Diego jaag voort en Véronique bly kort agter hom. Sy dink aan die tyd in Frankryk toe sy dikwels só deur die veld gejaag het vir die blote plesier daarvan. Nóú is dit nie vir haar plesier nie; nogtans kan sy dit nie verhelp om opgewonde te voel nie. Die vreemde ervaring is vir haar louter genot.

Eindelik hou Don Diego sy perd in; sekondes later is sy langs hom.

Hy kyk na haar blink oë en gloeiende wange, wat selfs in die maanlig sigbaar is, en glimlag half.

“Dit lyk asof u van avontuur hou, senorita.”

Sy lag effens.

“As ek geweet het waarom daar op my jag gemaak is, sou ek dit dalk nie so prettig gevind het nie, of hoe, monsieur?”

Hy haal die masker van sy gesig af en gooi dit tussen die bosse in.

“Hulle gaan jou wéér in die hande probeer kry, senorita.”

“Maar hoekom dan?”

Hy kyk weg oor die donker vallei.

“Ek het ’n vermoede gehad dat monsieur Lorraine baie meer omtrent jou vader se verdwyning weet as wat hy bereid is om te erken. ’n Mens hoor baie dinge as jy na die bediendes en werkers luister. Lorraine is in geldelike nood. Die skat wat hy ontdek het, was waarskynlik nie groot genoeg dat hy sy lewenstandaard kan handhaaf nie. Ek vermoed dat hy jou vader wil opspoor met die doel om hom te dwing om sy besittings te oorhandig. Daarom het hy jóú nodig gehad.”

“As ’n soort gyselaar?”

“Jy kan dit so noem.” Hy kyk na haar. “Ek het met ’n ompad verneem dat hy jou vannag wou ontvoer. Jy moet versigtig wees, senorita. Ek sal nie altyd byderhand wees nie, en hy sal dit weer probeer.”

Sy knik stom. Sy besef nou eers hoe ’n noue ontkoming sy gehad het. Wie weet nie wat alles nog sou gebeur het as Don Diego haar nie uit die herehuis kom haal het nie.

“U het baie gewaag, monsieur.”

Hy glimlag geheimsinnig.

“Dis vir ’n goeie doel, senorita.”

“Waarheen gaan ons nou?” vra sy.

“Ek neem jou terug na die Kasteel. Daar sal jy die veiligste wees. Moenie weer daar padgee nie. Ek vermoed monsieur Lorraine het sy dogter gedwing om daardie briefie te skryf; ek glo nie senorita Lyzette het iets met die hele ding te doen nie – en dit kan weer gebeur.”

Sy knik net.

Hulle ry op ’n stadiger pas verder om die perde ’n blaaskans te gee. Don Diego volg ook nie die koetspad na die nedersetting nie, maar hou ’n hele ent daarvandaan in die veld langs.

Hulle bereik die Kasteel laat die oggend. Don Diego hou sy perd in en draai na haar.

“Moenie uit die Kasteel padgee voordat jy van my gehoor het nie, senorita.”

“Goed, ek sal nie, monsieur. Wat moet ek doen as ek iets nodig kry?”

“Kry dan iemand om jou te vergesel. Ek moet nou gaan.” Hy klim van die perd af en tel haar uit die saal. Hy neem Véronique se perd se teuels en klim terug op sy perd. “Adios, senorita!”

“Bon chance, monsieur!”

Sy kyk hom agterna toe hy wegry. Hy het haar laas nag van ’n onaangename lot gered, en sy kry die gevoel dat die gevaar nie verby is nie.

Sy draai stadig om en gaan die Kasteel binne. Sy is uitgeput. Hulle was die hele nag op die pad en het net af en toe stilgehou om die perde ’n blaaskans te gee. Dit was ’n lang, vermoeiende nag waarin al haar ou bekommernisse teruggekom het. Daar was nie eens kans om ’n paar minute in te sluimer nie.

Sy bereik haar kamer met slegs een gedagte – om te slaap totdat sy al die vermoeienis uit haar gestel het.

Die dae sleep traag verby. Sy waag dit nie buite die mure van die Kasteel nie en daar is ook nie vir haar iets om te doen om die tyd om te kry totdat sy weer van Don Diego hoor nie.

Sy word genooi om een aand saam met die kommandeur en sy skoonsuster, Johanna, te eet. Dis ’n Saterdagaand en sy bestee die hele middag om haar hare en tabberd gereed te kry. Die eer om saam met die kommandeur aan tafel te sit, val nie elkeen te beurt nie.

Dis ’n klein, gesellige ete met net hulle drie. Aanvanklik praat hulle oor alledaagse dinge, maar dan vra die kommandeur: “Vorder u darem met die opsporing van u vader, juffrou?”

“Monsieur Fernandez soek op die oomblik, U Eksellensie. Hy wil nie hê dat ek hom moet help nie. Hy dink dat dit te gevaarlik is.”

Die kommandeur knik.

“Hy het heeltemal reg. U sal verbaas wees om te weet hoeveel gewetenlose mense hier aan die Kaap is. ’n Mens kan dit ongelukkig net nie weet voordat hulle hier aanland nie.”

“Die hele Kaap praat van die manier waarop u Don Diego se lewe gered het. Almal bespiegel oor u en die Spaanse edelman,” sê Johanna.

Véronique bloos ongemaklik.

“Dis net praatjies, madame. Die don gaan terug Spanje toe sodra hy my vader opgespoor het.”

Die kommandeur kyk verbaas na haar.

“Dit is ’n onverwagte besluit. Skaars twee weke gelede het hy my nog uitgevra oor grond in Drakenstein. Ek het die indruk gekry dat hy hom hier wou vestig.” Hy haal sy skouers op. “Ek het hom seker verkeerd verstaan.”

Véronique staar na die kommandeur. Het Don Diego dalk ’n plan gehad om hom aan die Kaap te vestig? Waarom het hy dan van plan verander?

“Ek het hom gister gesien, U Eksellensie, toe het hy niks gepraat van ’n plaas in Drakenstein nie.”

“Wel, as hy ooit sou besluit om hier te kom woon, sal ek hom van die uitsoekgrond gee. Ons het meer van sý soort nodig. Dit sal jammer wees as hy teruggaan na Spanje. Ek verstaan sy moeder was van Franse afkoms.”

Véronique knik.

“Maar hy het in Spanje grootgeword. Sy vader was Spaans.”

“Na Frankryk sal hy nooit kan gaan nie,” sê die kommandeur na ’n rukkie. “Hy is ’n Protestant.”

Véronique lyk ongelukkig.

“Daar het baie dinge in Frankryk verander sedert die Edik van Nantes herroep is. Ek verlang nog na my vaderland, maar soos wat dit wás, nie soos dit nou is nie.”

“Ons verlang almal die een of ander tyd terug, juffrou … maar die meeste van die mense hier aan die Kaap sien hul vaderland nooit weer nie,” antwoord Johanna.

Véronique sluk hard.

“Ek sal Frankryk darem graag nog een keer wou sien.”

Die kommandeur skud sy kop.

“Die nuus wat ons uit u vaderland kry, is nie gerusstellend nie. Daar is groot onrus en ontevredenheid in Frankryk. Nee, juffrou, ek sal u nie aanraai om soontoe terug te keer nie.” Hy laat toe dat Johanna vir hom nog van die potgebraaide eend inskep en hervat dan: “Ek sal u vriendjie môreoggend laat gaan.”

Véronique kyk vinnig na die kommandeur.

“Hy het geen heenkome nie, U Eksellensie. Hy het gehoop dat monsieur Lorraine hom sal help om ’n skoenmakery te begin, maar nou sal daar niks van kom nie.”

Die kommandeur frons.

“Hoekom kom hy dan nie na mý toe nie? Die Hollands Oos-Indiese Kompanjie help die nuwe nedersetters om op hul bene te kom.”

“U moet sý posisie ook verstaan, U Eksellensie. In Frankryk word die adel nie deur gewone mense lastig geval nie. U is vir Claude van die hoogste adel en hy sal u nooit nader om hom te help nie.”

Die kommandeur skud sy kop ongelowig.

“Julle Franse is voorwaar ’n sonderlinge nasie. Sowat van ’n verknogtheid aan stand het ek nog nêrens raakgeloop nie. Sê asseblief vir die knaap om my Maandagoggend om tienuur te kom spreek. Dan kan ons die sakie opklaar.”

Véronique glimlag.

“Dankie, U Eksellensie.”

Heelwat later keer sy terug na haar kamertjie. Sy voel goed omdat sy vanaand iets vir Claude kon doen, al kon sy haar eie probleme nog nie oplos nie. Die kommandeur het nog nie gevra dat sy ander verblyf moet soek nie, en sy is baie dankbaar.

Sondagoggend vroeg staan Véronique in die binnehof van die Kasteel toe Claude uit die selle vrygelaat word. Sy skrik toe sy hom sien. Sy hare is deurmekaar, sy klere is vuil en hy lyk uitgehonger.

“Dit lyk nie juis of hulle jou goed behandel het nie, Claude,” sê sy simpatiek.

Hy trap verleë rond.

“Ek voel sleg oor wat ek gedoen het, ma’mselle. Monsieur Lorraine sien my sowaar nie weer nie.”

“Wat gaan jy nou doen?”

Hy haal sy skouers op.

“Ek weet nie. Ek het nie eens ’n plek om vannag te slaap nie.”

Sy dink ’n oomblik na en dan helder haar gesig op.

“Ek ken die eienares van die Blou Dolfyn. Ek is seker daarvan dat madame Schoonveld vir jou iewers ’n plekkie sal kan inruim tot tyd en wyl jy vir jouself kan sorg.”

Hy skud sy kop.

“Ek kan nie só na ’n herberg toe gaan nie.”

“Sy sal verstaan. Sy is ’n baie gawe vrou. Ek sal nie saam met jou kan gaan nie, maar ek sal aan jou verduidelik hoe om daar te kom.”

Hy lyk nog onseker.

“Sy sal my nie glo nie.”

“Ek sal ’n briefie vir jou saamgee. Miskien, as ek dit kan regkry, sal ek môre soontoe gaan.”

“Ek wil nie vir ma’mselle moeite aandoen nie.”

“Dis geen moeite nie. Wag hier, ek gaan net gou die briefie skryf.”

Tien minute later is sy terug en oorhandig aan hom ’n verseëlde brief. Hy neem dit onseker by haar.

“Merci, ma’mselle.” Dan val iets hom skielik by en sy gesig helder op. “Ek het goeie nuus vir ma’mselle.”

“En wat is dit?”

“U vader leef nog. Ek het dit van die klomp daar onder in die selle gehoor. Hulle weet nie waar hy is nie, maar hulle is seker daarvan dat hy nie dood is nie.”

Véronique se hart ruk van blydskap.

“Wat het hulle alles gesê, Claude?”

Hy aarsel.

“Hulle het gesê dat iemand die juwele uit hom probeer kry, ma’mselle, maar dat hy weier om te sê waar hy dit versteek het.” Hy slaan sy oë neer. “Hulle het hom al baie gemartel, maar hy weier om te sê.”

Véronique se uitdrukking word strak.

“Gemartel?”

“Oui, ma’mselle, maar ek weet nie of dit waar is nie. Hulle het baie stories vertel, ek weet net nie of ’n mens dit kan glo nie.”

“Die belangrikste is dat hy nog lewe, Claude.”

Hy knik ywerig met sy kop.

“Oui, dis tog al wat saak maak.”

“Jy moet môreoggend by die kommandeur wees. Hy wil jou spreek.”

Hy frons.

“Dis seker weer oor ek my met monsieur Lorraine bemoei het.”

Sy skud haar kop glimlaggend.

“Non, hy wil jou net help om ’n skoenmakery te begin. Jy moes hom eerder al gevra het.”

“Werklik?”

Sy lag.

“Toe, weg is jy! Dra asseblief my groete aan madame Schoonveld oor.”

Hy maak ’n verspotte, lomp buiging voor haar en grinnik.

“Dankie, ma’mselle! Ek sal eendag ’n groot klip uit u pad rol!” Dan draai hy om en draf by die ingang uit voordat sy hom kan antwoord.

Sy kyk hom ingedagte agterna. Die nuus dat haar vader nog lewe, laat die hoop weer in haar opvlam. Alles is nog nie verlore nie en een van die dae sal sy en hy dalk herenig wees. Wat ’n vreugdevolle dag sal dit nie wees nie!

Véronique wag totdat Claude se onderhoud met die kommandeur verby is voordat sy na hom in die binnehof stap.

“Ek wil saam met jou na die Blou Dolfyn gaan,” sê sy toe hy verras opkyk.

“Alles het reggekom, ma’mselle! Ek sal al teen Vrydag kan begin skoene maak!”

“Ek is bly.” Hulle stap by die Kasteel uit en al geselsend in die rigting van die markplein.

Véronique het, sedert Don Diego haar Donderdag na die Kasteel teruggebring het, nog nie weer uitgegaan nie. Nou is Claude by haar en hoewel hy nog maar ’n jong seun is, voel sy dat sy darem iemand by haar het ingeval iets voorval. Hulle bereik die herberg egter sonder enige teëspoed.

Madame Schoonveld is heeltemal inskiklik met Véronique se voorstel dat Claude in die Blou Dolfyn tuisgaan tot tyd en wyl hy ander verblyf het, en Véronique is verlig toe dié saak opgeklaar is. Nou hoef sy haar nie nog oor Claude ook te bekommer nie.

“En as betaling vir jou verblyf hier,” sê madame Schoonveld, “sal jy vir my en my man elkeen ’n paar nuwe stewels moet maak.” Sy lig die soom van haar rok sodat haar skoene uitsteek. Hulle is verweerd en uitgetrap. “Ek het lankal ’n paar nodig, maar ek kom net nie sover om vir my ’n paar te laat maak nie.”

Claude lag opgewek.

“Vrydag kan ek al begin, madame! Die kommandeur het my vanoggend gesê dat die Kompanjie my sal help tot ek selfstandig is.”

Madame kyk na hom.

“Jy is ’n gelukkige ventjie. Ek en my ou man het met niks hier aangekom.” Sy glimlag trots. “Nou staan die herberg al vir vier jaar en ons maak genoeg om van te lewe.”

“Hoekom het jý Kaap toe gekom, Claude?” vra Véronique skielik.

Hy aarsel voordat hy antwoord.

“My ouers is albei in die gevegte met koning Lodewyk se soldate dood. My twee susters is albei getroud en ek het alleen oorgebly. Toe kom ek maar Kaap toe.” Hy grinnik verleë. “’n Man soek mos maar na ’n bietjie avontuur, of is dit nou verkeerd?”

Madame Schoonveld lag.

“Wel! Avontuur het jý genoeg gehad, meneertjie. Dis nie almal van ons wat die roem verwerf om in die selle van die Kasteel opgesluit te word nie. Jy word seker nou onder die manne getel, of hoe?”

Hy bloos verleë.

Véronique staan op.

“Ek sal nou moet gaan, madame. Ek wag om van die kaptein van die Marquessa te hoor.”

Madame Schoonveld se oë rek.

“Mense! Julle klomp Franse begewe julle ook darem in dinge! Dit is ’n wilde man daardie! Die duiwel sit in sy hart, daarvan is ek seker. Hy is beroemd vir die hantering van sy swaard – glo iets om te aanskou.” Sy frons liggies. “Ek hoor hy is gewond in sy laaste geveg. Dit was blykbaar ernstig?”

Véronique knik.

“Dit het by monsieur Lorraine gebeur. Monsieur Etienne Lorraine en hy het ’n swaardgeveg begin. Die kommandeur was ook teenwoordig.”

“Genade! Wat gaan deesdae in dié ou Kaap aan? Is almal dan nou skielik van lotjie getik?”

Véronique lag opgewek.

“Hy het dit oorleef, madame. Ek glo ook nie die kommandeur se teenwoordigheid sou hom verhoed het om te veg nie.”

“Dit kan jy weer sê.”

Claude kyk van die een na die ander.

“Sal ek ook die beroemde Don Diego kan ontmoet?”

Madame Schoonveld kyk na hom.

“Jy het genoeg avontuur vir ’n lang ruk gehad, japsnoet! Terwyl jy in die Blou Dolfyn woon, bly jy uit die moeilikheid.”

’n Rukkie later neem Véronique van hulle afskeid en stap terug Kasteel toe. Sy bekommer haar oor wat van Don Diego geword het. Sy het nog geen tyding van hom ontvang nie.

Dit duur ’n rukkie voordat dit tot haar deurdring dat sy agtervolg word. Sy kyk vlugtig om, maar sien net ’n paar mense in die rondte, wat nie lyk asof hulle haar agtervolg nie. Sy ril liggies. Dis seker maar haar verbeelding. So baie het ook in die laaste tyd gebeur dat sy haar nou al dinge begin wysmaak wat nie so is nie. Maar sy stap tog vinniger.

’n Bedelaar kom na haar en hou sy hand uit.

Sy kyk met bejammering na die vuil, verwaarloosde vent, die pleitende oë en hol wangbene. Nog ’n arme drommel wat hier in die Kaap in ’n doodloopstraat beland het, dink sy.

“Net ’n klein aalmoesie … asseblief …”

Sy haal haar geldsakkie uit waarin daar nog slegs ’n paar riksdaalders is. Dis haar laaste geld, maar sy kan die arme man ook nie so met leë hande laat gaan nie.

Toe sy die sakkie oopmaak, gryp hy haar aan die arm en druk ’n vlymskerp dolk teen haar bors.

“Moenie ’n geluid maak nie – ek druk hierdie mes deur jou soos deur warm botter,” sis hy deur vergeelde, vuil tande.

Sy verstyf en word bleek.

“Wat … wat wil jy hê? Ek het net ’n paar muntstukke …”

“Kom saam,” sê hy bars, “en onthou, ek sal nie aarsel om die mes te gebruik nie …”

Annelize Morgan Omnibus 6

Подняться наверх