Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan - Страница 12

9

Оглавление

Véronique weet dat dit nie sal help om teë te stribbel nie. Sy volg die vuil bedelaar omdat sy geen ander keuse het nie. Sy kan ook nie begryp wat aan die gang is nie. Is daar dalk ’n verband tussen hierdie man en haar pa se ontvoerders?

Hulle stap vinnig en bereik spoedig die minder gegoede dele van die nedersetting. Hy stoot haar voor hom uit en blaf kortaf bevele wanneer sy nie weet watter rigting om in te slaan nie.

“Hierin,” sê hy na ’n lang ruk kortaf.

Sy kyk vraend na hom. Hulle is in ’n smal straatjie en sy weet nie wat hy bedoel nie.

Hy beduie met sy kop na ’n deur regs van hulle.

“Toe, maak oop en gaan in.”

Véronique aarsel. Sy kan aan geen manier dink om uit die situasie te kom nie. Dan stoot sy die deur oop en stap stadig die gebou binne. Hy volg haar vinnig en druk die deur weer agter hom toe. Dan ontspan hy effens.

“Toe, stap!”

Sy loop weer voor hom in ’n smal gang af na ’n toe deur aan die onderpunt. Hy beduie vir haar om te wag. Dan klop hy drie maal liggies aan die deur, wag ’n sekonde en herhaal die klop.

Die deur gaan oop en ’n lang, maer man kyk af na Véronique. Hy grinnik tevrede.

“Dankie, jy kan maar gaan,” sê hy vir die man wat Véronique gebring het.

“Die betaling …”

Die lang man glimlag snedig en gooi ’n paar goue muntstukke na die bedelaar, wat dit opraap en haastig daarmee met die gang af verdwyn. Dan kyk die lang man na Véronique en wys vir haar om die vertrek binne te kom.

Sy gehoorsaam swygend.

Die kamer is klein, en by ’n lendelam tafel sit twee ander mans. Hulle kyk op toe Véronique instap.

“Verbrande mooi vroumens, Jan,” sê die een en grinnik.

Die lang man frons ergerlik.

“Ons is hier vir besigheid en nie speletjies nie, Louis. Is die meisiekind se kamer reg?”

Louis staan lui op.

“Dae gelede al. Dit het ons lank geneem om haar te kry.”

Die derde man kyk na die ander twee.

“Hoe gaan ons die baas laat weet?”

Jan, die lang man, kyk na hom.

“Jý kan hom gaan sê, Jules. Siende dat jy so haastig is dat hy van ons vonds moet hoor.”

Jules lyk nie baie gelukkig hieroor nie, maar stribbel nie teë nie.

Véronique kry die indruk dat die ander twee half bang is vir die lang man. Hy moet van Hollandse afkoms wees as sy aan sy naam moet oordeel. Tog lyk hy nie soos een nie … ook nie soos ’n Fransman óf ’n Spanjaard nie. Miskien is hy ’n Duitser … maar sy kry nie die geleentheid om verder te wonder nie.

Louis kom na haar toe.

“Kom saam, jy kan nie hier sit en luister na wat ons klets nie.” Hy kry haar aan die arm beet en sy moet op haar tande byt om nie uit te roep van pyn nie.

“Sy mag nie seerkry nie, Louis,” sê Jan dreigend, “nie nou al nie.”

Véronique sluk hard. Wat gaan hulle met haar maak? Wat het die lang man nou net bedoel? Sy volg Louis teen wil en dank na ’n deur agterin die vertrek. Hier stoot hy haar by ’n klein, vuil kamertjie in en grinnik.

“Jy sal die rotte gou gewoond raak. Hulle is nie juis baie astrant hier nie.”

Sy kyk vinnig na hom.

“Rotte? Moet ek hier tussen die rotte sit?”

Hy glimlag skaapagtig.

“Ek dink nie jy het veel van ’n keuse nie, engeltjie.”

Toe hy die deur agter hom toetrek, sidder Véronique liggies. Sy kyk rond in die kamer, maar gewaar nie een van die ongediertes nie. Dan gaan sy versigtig nader aan die bed en gaan op die rand daarvan sit.

Die kamer is vuil en die beddegoed smerig. Sy ril om net daaraan te dink dat sy daarop moet slaap. Voor die venster het hulle planke vasgespyker sodat sy nie daardeur kan ontsnap nie.

Sy kyk na die toe deur. Louis het dit van buite gesluit. Sy kan hul stemme slegs dofweg uitmaak omdat hulle gedemp met mekaar praat. As sy net vir Claude gevra het om saam met haar te kom … maar dis nou te laat om daaraan te dink. Hy en madame Schoonveld is seker besig om vir hom ’n kamertjie reg te kry, en miskien sal hy môre by die Kasteel na haar kom soek. Dan sal almal weet dat sy nie teruggekom het nie. Maar wat sal dit help? Hulle sal haar nooit hier kry nie. Niemand weet eens dat sy deur ’n smerige bedelaar ontvoer is nie … gedwing is om na hierdie plek te kom nie.

Sy sit lank so op die bed terwyl sy haar haglike posisie in oënskou neem. Die stemme in die ander vertrek raak af en toe stil en dan hoor sy ’n deur oop- en toegaan. Sy weet nie wat hulle besig is om te doen nie en sy stel ook nie belang nie.

Buite is die son besig om onder te gaan. Dis al sterk skemer toe die deur van haar kamertjie eindelik weer oopgaan en Louis inkom. Hy sit ’n kers op ’n lendelam laaikassie neer en kyk na haar.

“Die rotte vlug gewoonlik vir die lig. Dit hang net af hoe honger hulle is.”

Sy sidder liggies.

“Wat is julle plan met my?”

Hy grinnik.

“Geduld, liefie. Jy wil mos jou pa sien, of hoe?”

Sy kyk vinnig na hom.

“Waar is hy?”

“O, jy sal hom sien … die een of ander tyd.” Hy sit ’n bord met kos langs die kers neer. “Eet nou. Dit gaan ’n lang nag wees.” Dan draai hy vinnig om en maak die deur agter hom toe voordat sy hom nog iets kan vra.

Sy frons diep. Hulle weet waar haar pa is, en hulle gaan haar na hom toe neem. Maar hoekom? Hoekom is hulle so gewillig om haar na haar pa te neem? Sy kan dit nie verstaan nie.

Sy besef skielik dat sy nog niks sedert die oggend geëet het nie en staan op om die bord te gaan haal. Sy trek ’n vies gesig toe sy die gemors daarop sien. Sy kan nie eens bepaal wat alles op die bord is nie, en sy laat dit net daar. Só honger is sy darem nou ook nie.

Sy gaan ingedagte by die venster staan en kyk uit na die smal agterplasie van die gebou. Daar is dit nog vuiler as binne. Sy sien rondloperkatte tussen die vullis snuffel op soek na iets om te eet. Sy dink aan Don Diego. Hy sal haar nooit vind nie, al probeer hy hoe hard. Niemand sal haar hier kry nie. Sy laat haar voorkop teen die planke rus en veg teen die trane van moedeloosheid. Sy weet nie meer of sy aan die wen- of verloorkant is nie. Sy weet nie eens vir seker of sy haar pa nou wil sien nie … nie in hierdie omstandighede nie. Sy weet nie wat die rampokkers in die mou voer nie.

’n Beweging agter haar laat haar vinnig omkyk, en sy deins effens terug. Twee groot rotte sit op die laaikassie by die bord kos. Hulle steur hulle nie aan die kers nie, maar knibbel smaaklik voort aan die pappery.

“Sjoe!” probeer sy hulle verjaag, maar hulle versit net hul vet agterstewes sodat hulle haar in die oog kan hou. “Sjoe! Sjoe!” Dit help nie. Hulle bly haar aanstaar met hul ronde kraalogies waarin die kerslig flikker.

Véronique ril weer en klouter op die bed. Hulle beweeg na die ander kant van die bord en knibbel rustig voort. ’n Derde sluit by hulle aan, staar ’n oomblik lank na haar en begin dan ook vreet.

Sy sluk hard.

“Loop!” skreeu sy op hulle, maar hulle roer nie. “Loop!” Die derde rot beweeg onseker na die rand van die laaikassie, maar keer dan terug toe hy sien dat niks gebeur nie.

Véronique leun versigtig oor en neem die blaker. Met die kers in haar hand voel sy beter, maar sy bly na die rotte kyk. ’n Krieweling op die bed laat haar haar bene vinnig onder haar inruk. Twee rotte het op die matras geklouter en staar nuuskierig na haar.

Sy klim van die bed af en hardloop na die deur. Met haar vuisies hamer sy teen die hout.

“Laat my uitkom! Laat my uitkom!”

Die deur gaan skielik oop en Louis kyk na haar.

“Wat is dit nou? Hoekom skreeu jy so?” Hy lyk ontevrede.

“Die … rotte … hulle is oral!” stamel sy en begin huil.

“Hulle sal jou niks maak nie, vroumens!” Hy kyk by haar verby, die kamer in. “As hulle jou kos gevreet het, sal hulle jou seker met rus laat.”

“Hulle sit op die bed … en op die kas … en oral op die vloer!” Sy huil onbeheers.

“Onnosel vroumens,” brom Louis en maak die deur weer toe.

Véronique vee die trane uit haar oë en gaan met haar rug teen die deur staan. Die kers brand nog op die bed en sy kan vier rotte op die smerige beddegoed sien rondklouter. Sy byt op haar tande. Ek moet myself onder beheer kry, dink sy benoud. Ek sal moet vasbyt en op ’n uitkoms uit hierdie gemors wag. Iewers sal die kans kom en dan moet ek gereed wees.

Dit voel soos ure later toe die deur eindelik weer oopgaan en Louis inkom.

“Ons gaan nou ry en jy kom saam, liefie.” Hy grinnik. “Ek kom jou, met ander woorde, van die rotte verlos.”

Sy haal bewerig asem.

“Dankie dáárvoor. Waarheen gaan julle my neem?”

“Jy sal dit weldra uitvind. Kom nou. Ons is haastig.”

Dit kos nie veel oorreding om haar die kamer met die rotte te laat verlaat nie. Sy volg vinnig op Louis se hakke. Die lang man en die ander een is nêrens te sien nie.

Toe hulle buite kom, staan ’n perdekar voor die deur ingespan. Die lang man hou die leisels en Jules sit langs hom.

Louis help Véronique in die rytuig, en klim dan self agterna. Die ander twee praat nie en toe almal op is, vertrek hulle. Louis hang ’n swart mantel om Véronique se skouers en bind haar oë toe.

“Net sodat jy nie later weer die pad kan vind nie, liefie.”

Sy byt op haar tande. Hoe sal sy nou weet wanneer om te ontsnap? Haar hande is nou wel nie vasgemaak nie, maar sy is seker daarvan dat Louis haar deurentyd dophou … miskien selfs met ’n dolk in die hand. Sy ril.

“Kry jy koud?” wil hy weet.

Sy skud haar kop.

“Ek haat dit net om geblinddoek te wees.”

Hy lag sag.

“Dis nie vir lank nie, liefie, dan is alles verby. Jy sal sien, jy het niks om jou oor te bekommer nie.”

“Hoe kan ek seker wees?” wil sy weet. “Eers dwing ’n vuil ou man my met ’n mes om te gaan waar hý wil hê ek moet gaan, en dan sluit julle my in ’n kamer vol rotte op met stink kos en ’n kers. Dan sê jy nog ek het niks om my oor te bekommer nie!”

“Tse! tse!” klik hy met sy tong. “Ek weet ek is nie ’n goeie kok nie, maar niemand het nog gesê ek kook stink kos nie!”

“Bly stil!” roep die lang man ergerlik oor sy skouer. “Dis nie nou die tyd om te klets nie!”

Hulle ry ’n lang ruk in stilte voort. Af en toe gaan hulle oor ’n bruggie of om ’n skerp draai, maar na ’n ruk gee Véronique op. Sy sal nooit weer die pad hierheen kan vind nie.

’n Uur later hou hulle stil en word sy van die rytuig afgehelp. Louis haal die swart doek van haar oë af en sy knipper haar oë. Dan kyk sy om haar rond.

Hulle is by ’n bouvallige huis en die lig kom van twee lanterns wat voor die huis hang. Om hulle is bosse en sy kan niks verder van die omgewing uitmaak nie.

“Kom,” sê Louis en hy en Véronique volg die lang man en Jules die huisie in. Louis neem die twee lanterns met hom saam.

“Die baas sal eers môreoggend hier kan wees,” sê Jules en gaan by die tafel sit waarop ’n stowwerige bottel wyn staan. Hy haal die prop af, ruik daaraan en trek ’n suur gesig. Hy drink die inhoud met ’n ophaal van sy skouers. “’n Mens kan seker nie kieskeurig wees nie,” sê hy toe hy die bottel eindelik van sy mond af wegvat.

“Vat die meisie na die agterste kamer,” sê die lang man kortaf aan Louis.

Louis grinnik vir Véronique.

“Hier is geen rotte nie, ek belowe jou. Net miskien spinnekoppe en slange, maar ek glo nie hulle sal jou hinder nie. Jy is mos die dogter van die graaf van Sévigné!”

Véronique volg hom swygend met ’n koue rilling. Watse afskuwelike dinge gaan hierdie mense nie nóg met haar aanvang nie?

Die kamertjie is hierdie keer effens groter en daar is geen planke voor die venster gespyker nie. Hy grinnik toe hy sien waarna sy kyk.

“Dit sal nie help nie, liefie. As jy probeer weghardloop, sal óf ons óf die wilde diere óf die slange jou kry. Jy sal nie baie ver kom nie en dit sal ’n jammerte wees as jy deur ’n leeu verskeur word.”

Sy draai vinnig na hom.

“Loop hier uit, jou monster!”

Hy lag opgewek en maak die deur agter hom toe. Sy hoor hoe hy die grendel terugskuif.

Sy draai om en gaan by die venster staan en kyk na die bosse wat vlak by die hut begin. Iewers hoor sy ’n leeu brul en verder weg hoor sy die getjank van ’n jakkals. Met ’n rilling draai sy weg van die venster af. Sal sy vannag hier moet bly en wag op haar lot môre? Sy kan dit nie doen nie. Sy kan nie hier sit en wag vir hulle om met haar te maak wat hulle wil nie. Sy weet nie watse duiwelse planne hulle in die skild voer nie, sy weet net dat sy tot elke prys hier moet wegkom.

Véronique gaan weer by die venster staan. Sy durf nie die lantern wat Louis in die kamer gelaat het, met haar saamneem as sy probeer vlug nie. Sy het ook geen wapen om haar teen die aanvalle van enige wilde diere te verdedig nie. As sy probeer vlug, sal sy baie waag, maar sy sien ook nie daarvoor kans om bloot hier te sit en wag dat die nag verbygaan nie.

Sy gaan by die deur staan, maar sy hoor nie die mans praat nie. Hulle is te ver van haar af. Sou een van hulle dalk buite wag staan? As sy net kan wegkom tot in die koetspad waarmee hulle gekom het, is sy seker sy sal veilig wees. Hulle sal haar agternasit, maar die bouval kan nie té ver van die nedersetting af wees nie.

Met ’n ligte frons beskou sy die deur. Daar is geen grendel aan die binnekant nie. Dus sal sy die katel voor dit moet skuif en hoop dat dit lank genoeg hou om haar wegkomkans te gee.

Die deur gaan skielik oop en sy spring met ’n skrik terug. Louis het die grendel teruggeskuif en die deur tegelykertyd oopgemaak. Hy kyk agterdogtig na haar.

“Wat is dit nou?” wil hy weet.

“Ek wou julle roep om vir my water te bring. Ek is dors.”

“Ek kom nou.” Hy maak die deur weer toe en Véronique sug van verligting.

’n Paar minute later keer hy terug met ’n beker vol swart koffie. Hy hou dit na haar uit.

“Ek weet nie of die water drinkbaar is nie. Die koffie is nie te sleg nie.”

Sy knik.

“Dankie.”

“Jy sal moet slaap, liefie. Dis nou-nou dagbreek en dit gaan ’n lang dag vir jou wees.”

“Gaan ek my vader sien?”

“Jy kan so sê.”

“Wat bedoel jy?”

“Wag maar. Jy sal sien.” Hy maak die deur agter hom toe en stoot die grendel terug. Sy hoor hoe hy wegstap.

Sy drink die koffie met klein slukkies. Dit smaak glad nie te sleg nie en sy vergewe Louis ’n hele klomp van die dinge wat hy gedoen en gesê het. Eindelik sit sy die beker neer, luister ’n oomblik by die deur of sy geen beweging hoor nie, en stap dan na die bed. Sy skuif dit bietjie vir bietjie nader na die deur. Die misvloer maak die bewegings amper onhoorbaar. Eindelik is die swaar houtkatel voor die deur.

Daar is nou geen terugdraai nie, dink sy. Sy maak die vensterluike versigtig oop. ’n Oomblik aarsel sy, maar dan klouter sy oor die vensterbank na buite.

Die nag is koud en donker om haar en sy voel skielik bang. Sy ken nog nie die gevare van hierdie land nie en ’n lewendige leeu het sy ook nog nooit gesien nie. Sy moet egter die nedersetting probeer haal sodat sy die kommandeur kan waarsku en sy dragonders hierheen lei.

Sy haal diep asem voor sy behoedsaam van die hut af wegsluip om met ’n ompad by die koetspad uit te kom.

Toe sy ’n halfuur later eindelik die koetspad bereik, hoor sy die luide uitroepe van die bouval se kant af. Sy besef dat hulle haar verdwyning ontdek het en haas haar om weg te kom.

Sy aarsel nie maar hardloop so vinnig as wat sy kan in die pad af. Te lank kan sy ook nie in die pad bly nie, want daar sal hulle haar die gouste raaksien. Dus hardloop sy nog ’n entjie en gaan dan die ruigtes langs die pad binne. Sy vorder nou nie meer so vinnig nie, maar hulle sal haar ook nie so gou in die hande kry nie.

Louis het agter die huis gaan soek, maar gou genoeg besef dat Véronique nie dáárdie kant toe sal vlug nie. Sy sal so gou moontlik by die koetspad probeer uitkom omdat dit na die Kaap lei. Hy glimlag. Sy gaan haar vasloop, dink hy en draf agter die ander twee aan, wat intussen die perde opgesaal het.

Véronique hoor die geklap van perdepote en verstyf. Sy sal iewers moet wegkruip, want vinniger as ’n perd kan sy nie vorder nie. Sy gaan agter ’n digte bos skuil en wag om te sien wat gebeur. Kort daarna hoor sy twee ruiters nader kom.

“Sy sal nie in die pad bly nie, idioot,” hoor sy die lang man sê. “As sy enige verstand het, sal sy die bosse in vlug.”

“Jy vergeet van die leeus hier rond.”

Die lang man snork minagtend.

“In die pad sal hulle haar ook kry. Ons moet haar net vind voordat die wilde diere dit doen. Die baas gaan …” Hulle ry verby Véronique en hulle stemme gaan verlore. Sy begin weer versigtig aanstap. Sy glo nie dat hulle haar sal hoor terwyl hulle op die perde is nie.

Sy vorder ’n hele ent voordat sy die ruiters hoor terugkom.

“Sy kon nie só ver weggekom het nie, tensy sy heeltemal ’n ander koers ingeslaan het.” Jules klink onseker van homself.

“Louis het seker ’n ander rigting ingery,” praat die lang man half met homself. “Ons sal moet gou maak as ons haar voor sonop wil kry. Teen daardie tyd mag sy dalk al die nedersetting bereik het, en dan is al ons planne in sy peetjie.”

“Wat gaan ons nou doen?” wil Jules weet.

“Ons gaan te voet.”

“Te voet? Hoekom dan?”

“Omdat sy ons dan nie kan hoor aankom nie, dis hoekom!” Die lang man klink ergerlik. “Kom, ons moet die perde op stal gaan sit.”

Hulle ry verder en Véronique wonder wat sy moet doen. Nou gaan hulle haar te voet jaag, en die lang man is reg: sy sal hulle nie kan hoor as sy self aan die vlug is nie. Sy draai om en begin weer in die koetspad voorthardloop.

Sy hardloop tot haar asem fluit voordat sy hygend gaan staan. Sy hoor nog nie haar agtervolgers nie. Net ’n paar sekondes lank rus sy en dan strompel sy voort. Voor haar in die dowwe maanlig kan sy ’n vurk in die pad sien. Haar moed sak in haar skoene. Sy het geen idee met watter een van die twee paaie sy gekom het nie, maar daar is ook nie tyd om te lank te wik en te weeg nie. Sy kies blindelings die linkerkantste pad en begin weer hardloop. Die nedersetting kan nie meer te ver wees nie.

Jules en die lang man vorder vinnig. Hulle weet van die vurk in die pad en besluit vooraf dat Jules die linkerkantste pad sal vat. Hulle is dus nie baie ver agter Véronique toe sy by die vurk kom nie. Hulle is fikse, groot mans en dis nie vir hulle so uitputtend as vir haar nie.

Haar lang tabberd hinder haar in haar poging om te vlug. Die wye romp laat haar telkens struikel, maar sy gee nie moed op nie. Sy weet dat dit nie meer ver is na die nedersetting nie, maar sy weet ook nie of sy nog die krag sal hê om dit te haal nie. Met elke haal voel sy haar kragte afneem. Miskien is sy selfs op die verkeerde pad en moes sy die ander een gevat het. Dis nou te laat om daaroor te wonder. Sy moet tot elke prys van haar agtervolgers ontvlug. ’n Ent verder gaan sy die bosse in en gaan skuil agter ’n digte struik sodat sy haar asem kan terugkry. Sy skuil nie lank daar voordat Jules by haar verbyhardloop nie.

Sy sluk hard. Dit gaan baie moeilik wees om van die drie ontvoerders af weg te kom. Hulle is drie en sy is net een, en dit gaan nie vir hulle moeilik wees om haar iewers voor te keer nie. As sy maar kon weet of sy op die regte pad is!

Sy begin weer hardloop, maar nou bly sy tussen die bosse. Sy vorder stadiger, maar die vlug is ook nie so uitputtend nie. Haar gedagtes is op die oomblik baie ver van wilde diere, en toe sy die leeu hoor brul, gaan sy botstil in haar spore staan. Die ongedierte kan nie baie ver wees nie. Miskien is hy op haar spoor. Sy onderdruk die angsgevoel wat in haar opstoot. Sy het heeltemal van die leeus en jakkalse vergeet.

Iewers regs van haar hoor sy iets in die bosse beweeg. Sy hurk agter die lae struike met ’n hart wat in haar keel klop. Die beweging kom al hoe nader, en sy onderdruk met moeite haar begeerte om op die vlug te slaan. Met brandende oë staar sy in die rigting waar die geluid vandaan kom. Wat dit ook al is, dit sal vlak by haar moet verbygaan. As dit ’n wilde dier is, sal sy om hulp moet skree of verskeur word. Trane brand in haar oë. Sal sy op dié manier teruggedryf word na haar ontvoerders?

Plotseling gewaar sy die gestalte wat nader kom. Hy sluip behoedsaam van struik tot struik en fynkam die bosse in die flou lig van die wintermaan.

Dit moet Jules wees, dink Véronique verlig. As sy doodstil bly sit, het sy ’n kans dat hy haar nie sal gewaar nie.

Hy kom naby haar tot stilstand, staar ’n oomblik intens na waar sy is. Haar hart slaan tamboer in haar ore. Dan draai hy weg en stap verder. Véronique slaak byna ’n sug van verligting toe sy hom van haar af sien wegbeweeg.

Toe hy eindelik buite sig is, kom sy stadig orent en begin weer haar vlug na wie weet waar.

Sy kom op ’n effense hoogte uit en skielik lê die see en wit branders in die verte voor haar. Sy bemerk ’n paar dowwe ligte daar naby en byna huilend van vreugde besef sy dat dit die nedersetting moet wees.

Sy kruip uit die bosse en begin met hernude ywer hardloop. Sy kan oor ’n halfuur daar wees as sy haar pas kan volhou. Dit moet al byna oggend wees, maar sy is seker daarvan dat die kommandeur nie sal omgee as sy hom oor só ’n belangrike saak laat wakker maak nie.

’n Hele ent teen die heuwel af sien sy die ruiter in die flou maanlig aangery kom. Sy mantel wapper in die ligte wind en haar hart slaan ’n slag oor. Dis Don Diego! Sy begin weer hardloop, en toe sy binne hoorafstand kom, roep sy: “Diego! Diego!”

Hy antwoord nie, hou net sy perd ’n oomblik in en kom dan nader op ’n stywe galop.

Sy hardloop struikelend tot by hom.

“Don Diego! Help my! Help my asseblief.”

Hy buig af na haar.

“Wel gedaan, liefie. Dit was amper, maar nie goed genoeg nie.”

Sy staar geskok na Louis se grinnikende gesig.

Annelize Morgan Omnibus 6

Подняться наверх