Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan - Страница 9

6

Оглавление

Sy staar onbegrypend na die skitterende edelstene in haar hand. Hoe het Lyzette se vader, Etienne Lorraine, dit in die hande gekry? Is daar dalk werklik ’n leidraad op L’Espérance wat sy misgekyk het?

Sy skud haar kop. Miskien het Lorraine die juwele by iemand gekoop … miskien by iemand wat dit by haar pa gesteel het? Maar dan moet sy in elk geval uitvind by wié hy dit gekry het!

Véronique weet dat sy nie nou meer sal kan slaap nie. Sy voel te opgewonde oor haar ontdekking. Uiteindelik het sy ’n tasbare bewys dat haar vader wel hier in die Kaap is … as hy nog lewe.

Sy maak een van die trommels oop en haal ’n liggrys tabberd uit. Dis nie te erg gekreukel nie en sy sal dit kan dra totdat sy môre haar goed by madame Schoonveld kan gaan haal. Dit duur nie lank om te verklee en haar hare weer netjies te kry nie. Dan verlaat sy haar kamer haastig.

Dit duur ’n rukkie voordat sy uitvind waar Don Diego is, en sy haas haar soontoe. ’n Wag staan voor die deur, maar hy laat haar toe om in te gaan. Die kommandeur moes hom van haar koms gesê het, dink sy verlig.

Sy gaan die kamer saggies binne en steek dan vas.

Don Diego lê op ’n bed aan die oorkant van die ruim vertrek. ’n Hollandse verpleegster is net besig om op te ruim nadat sy sy wond weer skoongemaak en verbind het. Sy glimlag vir Véronique toe sy by haar verbygaan en die kamer uitstap.

Véronique druk die deur sag agter haar toe en aarsel ’n paar oomblikke voordat sy nader gaan.

Hy lê met toe oë, maar sy hande beweeg rusteloos asof hy baie pyn het. Sy staar na sy hande: sterk, manlike hande, bruingebrand deur die son.

“Monsieur …”

Sy oë gaan stadig oop en hy frons liggies. Dan draai hy in haar rigting en daar kom ’n flikkering in sy oë.

“Senorita … hoe kom u hier?”

“Ek het saam met die kommandeur gekom. Na alles wat gisteraand gebeur het, kon ek nie langer op L’Espérance bly nie.”

Die frons op sy voorkop verdiep.

“Het hulle jou … weggejaag?”

Sy skud haar kop.

“Nee, maar hulle sou seker. Die kommandeur het my ’n uitkoms gebied.”

Hy glimlag effens. “Ek het u tog gesê dat … hy ’n goeie man is.”

“Ek weet dit nou.” Don Diego het dit oorleef! juig dit in haar.

Hy kyk na haar met ’n onpeilbare uitdrukking in sy donker oë.

“U het my lewe gered, senorita …”

Sy kyk weg.

“Ek kon nie toelaat dat hy u doodmaak nie, monsieur … nie só nie.”

“Hoekom … het jy dit gedoen?” Daar is ’n dringendheid in sy vraag wat haar vinnig na hom laat kyk.

“Omdat …” Sy bly stil. Hoe kan sy aan hom sê dat sy dit gedoen het omdat sy hom liefhet? Hoe kan sy aan hom sê dat sy hom met haar eie lewe sal beskerm as dit nodig mag wees?

“Omdat wát, senorita?”

Sy kyk weer na hom, maar kan nie aan iets dink om te sê nie. Hy bly na haar kyk met daardie vreemde uitdrukking in sy oë wat haar hart vinniger laat klop.

“Ek … ek kon hom nie keer om die mes te gebruik nie …” vermy sy sy vraag.

Hy kyk weg na die plafon en daar is ’n veraf uitdrukking in sy oë.

“Ek gaan my terugreis na Spanje vervroeg,” sê hy skielik.

Haar hart slaan ’n slag oor. Sal hy voor die einde van die winter gaan?

“Dis gevaarlik hierdie tyd van die jaar, monsieur,” sê sy met ’n effens bewerige stem.

“Ek het net ’n paar mooi dae nodig om weg te kom.”

“Hoekom … wil u gouer weggaan?”

Hy glimlag skeef.

“Hier is niks vir my in die Kaap nie. Ek swerf al veertien jaar lank op see. Dit word deel van ’n mens en jy kan later nie meer daarvan wegkom nie. As ’n mens iets té lank gedoen het, kan jy later nie meer daarvan wegkom nie.”

Dis waar, dink sy afgetrokke. Ek was my lewe lank soos ’n prinses behandel. Dis ’n onaangename ondervinding om jou dan in die posisie van ’n bediende te bevind.

“Dis nog nie te laat om ’n verandering te maak nie,” sê sy nogtans.

“Waarvoor? My pa was ’n Spaanse edelman en my moeder was van die Franse adel. Hulle lewe nie meer nie. Niks hou my êrens vas nie.”

Waarom praat hy oor hierdie dinge? wonder sy.

“Hoekom bly u nie hiér nie?”

Hy kyk ondersoekend na haar.

“Ek sal eers jou vader opspoor,” sê hy stadig, “dáároor hoef jy jou nie te bekommer nie. Maar dan gaan ek terug … Miskien sal ek iewers in Spanje tot ruste kom, en sal die see en die verre horisonne my nie meer roep nie.”

“Jy sal die see nooit vergeet nie,” sê sy gelate.

Hy glimlag geheimsinnig.

“Miskien tog … as daar iets is wat die plek van die see kan inneem.”

“Dis onmoontlik. Ek sien dit sommer.”

Hy lag net sag, maar antwoord nie daarop nie.

Sy hou die oorkrabbetjies na hom uit.

Hy kyk onbegrypend na haar nadat hy hulle geneem en in die flou lig beskou het.

“Hulle is mooi … soos jou oë. Jy behoort hulle te dra.”

Sy sluk.

“Hulle het aan my moeder behoort.”

“Soveel meer rede vir jou om hulle te dra.” Die styfheid het ongemerk uit hul gesprek verdwyn.

“Lyzette Lorraine het hulle vir my as geskenk gegee.”

Hy kyk vinnig na haar en al die vriendelikheid verdwyn uit sy blik.

“En jy aanvaar dit sonder meer?”

“Ek het die pakkie nie oopgemaak voordat ek vanoggend by die Kasteel aangekom het nie.”

Hy kom stadig orent en sy gesig vertrek van pyn.

“Wat gaan jy nou maak?” vra sy met groot oë.

“Ek gaan vasstel hoe jou moeder se juwele op L’Espérance beland het!”

“Jy kan nie! Jou wond sal weer begin bloei!”

Hy antwoord nie, klim van die bed af en reik na sy hemp wat die verpleegster oor die rugleuning van ’n stoel gegooi het.

Véronique staar magteloos na hom terwyl hy die hemp aantrek.

“Jy soek jou dood, en waarvóór? Vir ’n man wat jy nie eens ken nie,” sê sy bitter.

Hy kyk na haar.

“Ek het jou my woord gegee dat ek jou pa sal vind. Ek is van plan om my woord gestand te doen, senorita.”

Sy kyk hoe hy sy kaplaarse aantrek en sy mantel neem.

“Ek skeld jou vry van jou belofte,” sê sy hees. “Jy kan nie só uitgaan nie. Jy sal jouself skaars kan verdedig.”

Daar is ’n vreemde uitdrukking in sy oë toe hy weer na haar kyk.

“Ek het al erger dinge deurgemaak, senorita, vir veel minder. Ek sal dit wel oorleef.”

Hy het klaar aangetrek en is weer die fiere, wilde Spanjaard wat sy leer ken het. Hy is nie meer die weerlose, gewonde man wat netnou nog op die bed gelê het nie. Sy weet nie hoeveel pyn hy op hierdie oomblik moet verduur nie, want hy toon geen teken van enige ongemak nie.

“Jy het jou swaard vergeet,” sê sy sag.

Hy tel dit van die tafeltjie af op en gespe die skede om sy middel vas.

“U sal weer van my hoor, senorita. Dra asseblief my groete aan die kommandeur oor.” Dan glimlag hy vlugtig, maak die deur oop en verdwyn in die gang af.

Die wag roep hom agterna, maar hy luister nie, en toe Véronique die deur bereik, is hy nêrens te sien nie.

Asof hy maar nog in die kamer moet wees, kyk sy om – en merk toe dat hy een van die oorkrabbetjies op die bed laat val het. Sy stap terug bed toe om dit te kry. Hy het dus die ander oorkrabbetjie saamgeneem, dink sy. Hy het iets van haar by hom, iets wat hom aan haar sal herinner. Hulle is mooi, het hy gesê, soos jou oë.

Sy raak met haar hand aan die kussing waar sy kop gelê het. Dis nog half warm en sy trek haar hand vinnig terug. In stilte bid sy uit die diepte van haar hart dat hy nie iets moet oorkom nie … dat hy moet terugkom na haar toe …

Kort na middagete gaan sy na die vertrek waarheen Simon van der Stel haar ontbied het. Sy word dadelik binnegelaat en vind die kommandeur waar hy rusteloos heen en weer loop. Hy kyk op toe sy binnekom.

“Wat het van mijnheer Fernandez geword, juffrou? Hoekom het hy gegaan?”

Sy sluk verward.

“Hy … hy het leidrade omtrent my pa se verdwyning gaan opvolg, U Eksellensie.”

“U was by toe hy weg is. Hoe het hy dit gedoen?”

“Ek kon hom nie keer nie, U Eksellensie, en die wag is onverhoeds betrap. Hy het nie verwag dat monsieur Fernandez sal probeer wegkom nie.”

Van der Stel sug ergerlik.

“As ek geweet het die man het sulke planne, het ek ’n kordon om die Kasteel laat plaas! Genugtig, hoe kan ’n mens met ’n meswond in jou maag so iets doen? Hy is van sy sinne beroof!”

Véronique weet nie wat om te antwoord nie. Sy kon Don Diego nie keer nie, al wou sy. Sy kon die wag gewaarsku het, maar nou is dit te laat om daaraan te dink.

Van der Stel kom staan voor haar.

“Julle Franse kan ’n mens sowaar ’n klomp ergernis besorg! Ken u mijnheer Claude le Vau?” verander hy die onderwerp.

“Ja, U Eksellensie.”

“Ek het hom laat gevange neem vir opstokery! Ek kan dit nie hier duld nie!”

Véronique se oë rek.

“Maar, U Eksellensie, hy is maar ’n jong seun!”

“Die klein niksnuts het die Franse teen my opgestook! Kan julle mense dan geen rede verstaan nie!”

“Ek begryp nie wat u bedoel nie?”

“Monsieur Lorraine is besig om die Franse teen my te organiseer. Hy het u jong, voortvarende vriendjie, Claude, gekry om hulle op te sweep.”

Véronique kyk verbaas na hom.

“Monsieur Etienne Lorraine?”

Die kommandeur sug diep.

“Ja, dit het ek vanoggend eers uitgevind. Nou wil ek by u weet of u enigiets verdag gesien het terwyl u op L’Espérance was.”

Sy antwoord dadelik: “Nee, U Eksellensie, niks nie. Ek was maar net een van die bediendes en hulle het my nie juis in hul vertroue geneem nie.”

“Ek begryp. Dat ’n Saterdagoggend nou só moet begin!”

Véronique antwoord liewer nie. Die kommandeur is duidelik in geen goeie bui nie. Sy wonder of hy sy dragonders agter Don Diego gaan aanstuur.

Sy stem is skielik sagter: “My aanbod staan nog, juffrou. U mag hier aanbly totdat u vader opgespoor is. U sal vry kan rondbeweeg mits u nie die mense hier in die Kasteel in hul werk steur nie.”

“Dankie, U Eksellensie.”

“A1 wat ek in ruil daarvoor verwag, is dat u ’n goeie Kaapse burger sal wees en u nie met die opstokery sal bemoei nie.”

“Ek het belangriker dinge om aan te dink as opstokery,” antwoord sy, maar vra tog: “Mag ek met monsieur Claude le Vau praat, asseblief?”

“Watse nut sal dít hê? Hy kan gerus maar ’n week in afsondering in die selle sweet!”

“Soos u dit goed dink, U Eksellensie.”

“U kan dan maar gaan, juffrou.”

Véronique verlaat die vertrek haastig. Sy wil nie verder onder kruisverhoor geneem word oor Claude se dinge nie. Sy wens dat sy met die seun kon praat, maar miskien is die kommandeur reg. Hy sal wel van sy opstandigheid vergeet nadat hy ’n week in die selle was. Sy is net verbaas om te hoor dat monsieur Etienne Lorraine ook met die saak gemoeid is. Sy het die indruk gekry dat hy hom nie veel aan die res van die Franse setlaars steur nie, maar miskien doen hy dit juis om ’n bietjie aansien te verwerf?

Die volgende paar dae hoor sy niks van Don Diego nie en sy begin wonder of hy nie dalk iewers iets oorgekom het nie; sy twyfel of hy hom behoorlik sal kan verdedig in ’n tweegeveg.

Elke keer dat sy na die oorkrabbetjie kyk, dink sy aan hom en moet sy die verlange na hom onderdruk. Dit is alles so hopeloos. Hy het die see lief en daar is vir haar geen plek in sy lewe nie. Sy weet nou dat hy nie getroud is nie en moontlik ook geen beminde het nie, maar dit verander niks aan die hopeloosheid van die situasie nie.

Die Dinsdagoggend besluit sy om die ent na die Blou Dolfyn te stap en by madame Schoonveld uit te vind hoe sy haar trommels by die Kasteel kan kry. Sy wil nie die kommandeur oor iets so persoonliks lastig val nie.

Dis ’n triestige oggend en die markplein is verlate. Sy onthou nog hoe die Spanjaarde daar gedans het en dink onwillekeurig aan Don Diego. As hy nie meer hier is nie, sal daar gedurig iets wees wat haar aan hom sal laat terugdink, en dan sal die hartseer en verlange diep in haar binneste kom lê. Sy sal snags daaraan lê en dink en weet dat hy nooit na haar sal terugkeer nie.

Sy kyk uit oor die baai waar die Marquessa nog voor anker lê, en die aanblik van die skip laat haar beter voel. Hy is nog hier. Solank die skip aan sy anker lê en wieg, is Don Diego in die Kaap en is daar nog hoop.

Sy vind madame Schoonveld in die herberg se kombuis, waar sy besig is om bevele vir die middagete te gee. Sy lyk bly om Véronique te sien.

“My hartjie, maar dis ’n verrassing! Ek dag jy is op Drakenstein!”

Véronique groet haar met ’n soen.

“Ek is terug, madame. Ek bly nou in die Kasteel.”

Madame Schoonveld knik goedkeurend.

“En so hoort dit! Het daar iets gebeur dat jy so gou terug is?”

Véronique lag.

“Dis ’n lang storie, maar om dit op te som: ek het probleme veroorsaak en die kommandeur het my verblyf in die Kasteel aangebied.”

“Kom jy jou goed haal?”

Véronique aarsel.

“Ek weet nie hoe om dit in die Kasteel te kry nie, madame. Ek wil die kommandeur nie graag lastig val nie.”

“Toe maar, ek sal toesien dat dit daar afgelaai word. Dis darem nie so ’n klomp goed nie.”

Véronique glimlag dankbaar.

“Baie dankie, madame, ek weet nie hoe om u daarvoor te vergoed nie.”

Die ou dame se gesig verkreukel.

“Dis my plesier, kind. Kom, ek gaan vir jou iets te drinke gee. Dis nare weer vanoggend. As die wind net wil opsteek, dan waai die wolke weg en kry ons weer sonskyn.”

Véronique kyk by die venster uit.

“Ek hou van die nat weer. Dit laat my aan Frankryk dink.”

Madame Schoonveld kyk ondersoekend na haar.

“Jy moet jou nie oor jou vaderland verknies nie, juffrou. Baie min van die mense aan die Kaap keer ooit terug na hul vaderland. Jy sal hierdie land moet leer liefkry.”

’n Ongelukkige uitdrukking kom lê in Véronique se oë.

“Hierdie land het my tot dusver nog nie juis goed behandel nie, madame.”

“Dis omdat jy hom nog nie ken nie, kind. Dis ’n vrugbare land en hy gee wat hy het, in oorvloed. Die nedersetters lei geen maklike lewe nie, dis waar, maar as die land eers getem is, sal dit ’n goeie lewe bied.”

“Monsieur Van Riebeeck het die nedersetting meer as vyftig jaar gelede gestig, madame. Neem dit dan só lank om ’n land mak te maak?”

Madame Schoonveld lag.

“Dis mos nie ’n taak vir een geslag nie, kind. Maar kom, hier is jou tee. So ’n ietsie warms sal jou sommer beter laat voel.”

’n Uur later verlaat Véronique die herberg. Sy voel beter vandat sy weer met die vriendelike Hollandse dame gesels het. Sy het nie juis vriende hier aan die Kaap nie en sy waardeer dit dat die ou dame haar so goed behandel.

By die Kasteel besluit sy om tog maar weer die kommandeur te gaan vra vir ’n geleentheid om met Claude te gesels. Sy kry die jong man jammer dat hy in so ’n penarie beland het, en as sy vir hom iets kan doen, sal sy dit met graagte doen.

Simon van der Stel stem in om haar by Claude toe te laat, maar net ’n paar minute lank. Miskien voel hy dat hy haar versoek nie ’n tweede keer kan weier nie, en kort voor middagete word sy deurgelaat na Claude se sel.

Hy straal van vreugde toe hy haar sien.

“Mademoiselle! U weet nie hoe bly ek is om u te sien nie!”

Sy kyk na hom en voel bitter jammer vir hom. Hy lyk verwaarloos. Sy hare is onversorg en sy klere is vuil. Hy lyk moeg en sy oë sit agter in sy kop.

“Wat het jy gemaak, Claude?” vra sy sag.

Sy hande klem om die tralies.

“Ek het oortree, ma’mselle. Ek verdien my straf.”

Sy kyk verbaas na hom.

“Het die lewe van ’n gevangene jou só gou van sienswyse laat verander?”

Hy glimlag skeef.

“’n Mens het baie tyd hier om na te dink. Ek moes liewer na ma’mselle geluister het. Kyk in watse gemors is ek nou.”

“Spyt kom altyd te laat, Claude. Die kommandeur sal jou net ’n week hier hou. Dan sal hy jou seker vrylaat.”

Hy lyk verlig.

“Dis goeie nuus! Ek was só bang hy kry dit in sy kop om my in die Donker Gat te gooi!”

“Ek glo nie hy sal so iets doen nie. Wat gaan jy doen as jy vrygelaat word?”

Hy grinnik.

“Ek sal dadelik begin skoene maak. Iemand sal wel my skoene koop.”

“Natuurlik sal hulle!” Sy vra skielik: “Sê my, Claude, het jy monsieur Etienne Lorraine leer ken terwyl ek by hom in diens was?”

Hy draai sy kop skeef.

“Werk u dan nie meer daar nie?”

“Nee … Ek woon nou tydelik hier in die Kasteel.”

“Ek sien. Monsieur Lorraine het ’n paar keer hierheen gekom om die Franse te organiseer. Hy het my nog belowe dat hy my die geld sal voorskiet om ’n skoenwinkel te begin as ek vir hom werk … teen die kommandeur.”

“Dit was baie dom van jou. Ek glo ook nie monsieur Lorraine sal jou nou nog help nie.”

Claude knik stadig.

“Ek weet, maar dit maak nie meer saak nie. Miskien sal die kommandeur my help … as ek belowe om uit die moeilikheid te bly.”

Véronique kyk weg.

“Ek sal nie daarop reken nie, Claude. Ek dink hy is al baie vies vir ons Franse.”

Hy kyk vinnig na haar.

“Dis alles monsieur Lorraine se skuld! Hy praat ’n mens maklik ’n gat in die kop!”

Die wag staan nader.

“U tyd is verstreke, juffrou.”

Sy knik en kyk na Claude.

“Ek sal jou dalk nie weer kan besoek nie. Gedra jou net, ek is seker die kommandeur sal die saak nie verder voer nie.”

Hy glimlag half treurig.

“Dit gaan maar moeilik om myself in toom te hou, maar ek sal probeer, ma’mselle.”

Véronique wuif vir hom toe sy wegstap. Sy penarie hinder haar, maar meer kan sy nie vir hom doen nie.

Sy loop en wonder wat Claude nóg omtrent Etienne Lorraine weet wat hy dalk nie aan haar wou uitlap nie.

Toe sy haar kamerdeur oopmaak, sien sy die brief op die vloer onmiddellik raak en sy raap dit op. In die koevert klingel geld. Iemand moes dit in haar afwesigheid onder die deur ingestoot het.

Sy breek die seël en haal die brief uit. Dis van Lyzette, en daar is ’n paar riksdaalders ingesluit.

Sy lees:

Beste Véronique – Ek moet jou dringend spreek. Dis baie belangrik. Ek stuur vir jou geld sodat jy ’n koets kan huur om hierheen te kom. – Lyzette

Annelize Morgan Omnibus 6

Подняться наверх