Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 6 - Annelize Morgan - Страница 7

4

Оглавление

Véronique swaai verskrik om toe sy die stem agter haar hoor. Al wat sy van die man kan uitmaak, is sy silhoeët. Sy deins terug.

“Ek … ek …” stamel sy, maar kan nie verder kom nie.

Hy kom stadig nader. Haar hart hamer in haar keel. Sy is alleen op die Marquessa en hier is niemand wat haar te hulp sal kom nie.

“U oortree op my skip, senorita,” vervat die man.

Sy herken Don Diego se stem en sug amper van verligting.

“Ek is jammer, monsieur, maar ek … ek het na leidrade kom soek.”

Hy kom staan by haar, sy een hand rus liggies in sy sy.

“Wat presies het jy gedink sou jy hier vind?” wil hy ysig weet. Sy donker oë gloei in die dowwe lig wat deur die patryspoort val.

Sy sluk hard.

“Ek het na ’n wegsteekplek kom soek, monsieur. Ek het gedink dat my vader dalk sy juwele hier sou kon versteek het.”

Hy beduie na die luik wat onder die kis sigbaar is.

“Dit is nie juis ’n ideale wegsteekplek nie, senorita. Hier reis honderde passasiers en een van hulle sou dit wel ontdek het. Ek het die luik vroeër gebruik om toue in te berg. Dis nou leeg.”

Sy knik met ’n frons.

“Ek sien.” Dan kyk sy op na hom. “Ek is jammer as ek oortree het, monsieur … Oor ’n paar dae moet ek by monsieur Lorraine gaan aanmeld en … wel, ek wou darem nog probeer om iets wys te word voor dan.”

Sy gesig bly stroef.

“Hier sal u geen leidrade vind nie, senorita. U vader het met al sy besittings aan land gegaan. Dit kan ek u verseker.” Hy frons diep. “Hoe het u aan boord gekom?”

Sy aarsel.

“U bootman, Pedro, het my gebring.”

Sy gesig verstrak.

“U speel met vuur, senorita. My manne is geharde seemanne. Hulle is mense sonder beginsels. U het uself in ’n baie gevaarlike situasie laat beland.”

Sy knik.

“Ek besef dit, monsieur, maar ek het gedink dat ek wel daaruit sal kom.”

Hy lag sinies.

“U selfvertroue verbaas my.”

Hulle hoor iemand met die trap na die ruim kom.

“Senorita! Is jy nog daar?” roep Pedro toe hy die laaste trap afklim.

Véronique verbleek. Sy wil nie antwoord nie en kyk pleitend na Don Diego.

Hy draai stadig om.

“Ja, Pedro, sy is nog hier.” Sy stem is kalm, dreigend.

Pedro steek vas en sien dan die twee teen die agterste wand van die ruim.

“Ek … ek het nie geweet dat u hier is nie, senor!” stamel hy. Hy kyk agterdogtig na Véronique wat haar bewende hande inmekaarstrengel.

Don Diego trek haar skielik nader aan hom.

“Jy steur ons, Pedro!” roep hy na die ander man en dan draai hy skielik om en druk Véronique styf teen hom vas. Hy soen haar sag op haar voorkop en streel met sy lippe oor haar wange, soek haar sagte rosige mond, en terwyl die verbaasde Pedro toekyk, soen hy haar teer soos ’n verliefde minnaar dit sou doen.

Véronique verstyf in sy omhelsing. Sy voel die bloed in haar ore suis, haar hart wilde slae in haar bors hamer. Dan maak sy haar oë stadig toe en ontspan in sy arms. Sy laat toe dat hy haar soen en weet dat dit die een ding is wat sy met haar hele wese begeer – om deur hierdie man bemin te word. Sy drink sy liefkosings in, voel veilig in die warmte van sy omhelsing.

Don Diego druk sy vingers deur haar hare en trek haar kopdoek af. Die kopdoek fladder na die vloer toe hy haar weer soen.

Pedro draai stadig om en klim die trap op. Hy begryp nie wat gebeur nie.

Véronique sien Pedro gaan, maar sy sê niks.

Don Diego stoot haar versigtig van hom af weg, en vir ’n kort oomblik kyk hulle diep in mekaar se oë.

“U speel goed toneel, senorita,” sê hy. “Ek is jammer dat ek dit gedoen het, maar dit was die enigste manier om u uit Pedro se kloue te kry.”

Sy knik bewerig.

“Hy is weg, monsieur.”

Hy kyk om na die trap en dan terug na haar. ’n Vreemde glimlaggie speel om sy mondhoeke.

“U sal nou van hom ontslae wees, maar …” Hy aarsel. “My manne sal dit aanvaar dat u mý meisie is.”

Sy waag dit nie om na hom te kyk nie.

“Erger dinge kan gebeur,” antwoord sy in ’n poging om lighartig te klink. “Ek kon byvoorbeeld Pedro se meisie gewees het as u nie betyds opgedaag het nie.”

“Moet net nooit weer na die hawe kom nie, senorita. As hier iets uit te vind is, sal ék dit doen.”

Sy saaklikheid is vir haar ’n antiklimaks. Sy sou so graag die betowerende oomblik van so pas wou bewaar het, maar vir hom was dit net ’n manier om van Pedro ontslae te raak. Sy wonder skielik of hy kan vermoed hoe sy oor hom voel, dat sy eensklaps tot dié ontdekking gekom het. Sy blote nabyheid verlam haar rede. Hy mag nie weggaan nie, hy mag nooit uit die Kaap weggaan nie. Maar die situasie is hopeloos. As die lente kom, sal hy vertrek en sal sy hom dalk nooit weer sien nie, sal hy ook nooit weer aan haar dink nie.

Later sit hulle in die skuit wat hulle terug na die land neem. Pedro moes vir sy straf agterbly om vir een week op die skip wag te staan. Nou is Véronique en Don Diego alleen saam met die twee matrose wat hulle na die land roei.

Sy kyk na Don Diego waar hy regop voor in die skuit sit en met ’n diep frons na die strand tuur. Sy wonder waaraan hy op hierdie oomblik dink. Sy hand rus op die boegspriet; die kettinkie om sy nek glinster in die flou son. Vandag dra hy ’n swart mantel wat los en wyd om hom hang.

Hy is vreemd, dink sy verwonderd, en geheimsinnig soos die see waarop hy vaar. Hy is ongetem soos die storms oor die oseaan en soms bedrieglik kalm soos die water langs die koraalriwwe. Sy sal Don Diego nooit begryp nie. Sy teerheid van netnou is so teenstrydig met sy gewone ysige kalmte, of die wilde woede wat in sy donker oë kan opvlam. Hy is ’n raaisel vir haar, maar sy het hom lief.

Véronique laat haar trommels klere by die Blou Dolfyn bewaar. Die vriendelike madame Schoonveld is gretig om haar te help. Sy draf soos ’n rooimier rond om alles veilig agter slot en grendel te kry.

Véronique hou net ’n paar eenvoudige tabberds uit wat nie te opvallend sal wees nie. Sy kan nie soos ’n skatryk hofdame gekleed gaan terwyl sy die werk van ’n kamermeisie moet doen nie.

Eindelik het sy alles gereël. Teen die middag wag sy vir die koets van die landgoed van monsieur Etienne Lorraine. Sy sien glad nie daarna uit om te gaan nie en wens eintlik dat sy die pos nooit aanvaar het nie. Met slegs een goue Louis en ’n paar riksdaalders nog in haar sak kan sy egter nie anders nie. Sy sal nie vir baie lank nog haar losies kan betaal nie.

Claude, haar jong reisgenoot, keer haar in die binnehof van die Kasteel voor toe sy vir ’n wandeling gaan.

“Mademoiselle!” roep hy na haar.

Sy gaan staan en wag hom glimlaggend in.

“Wat is dit, Claude?”

“Ek hoor dat u na monsieur Lorraine toe gaan.”

Sy knik.

“Dis reg … Ek gaan daar werk.”

Hy kyk onbegrypend na haar.

“Werk? Watse werk?”

“Ek is van nou af net ’n kamermeisie, Claude.”

Hy staar ongelowig na haar. Hy knipper sy oë asof hy nie mooi verstaan nie. “Dit kan nie wees nie …?”

Sy glimlag effens.

“So gaan dit maar, my liewe Claude. Hier tel ’n titel niks. As jy geen geld het nie, is jy niks.”

“Maar as kamermeisie … Dis tog onsin! Enigeen kan sien dat u van die adel is.”

“My agtergrond tel nie meer nie. Ons is almal hier om die land te tem en dit ons eie te maak – Hollanders én Franse én al die ander wat hierheen kom. Ons gaan ’n nuwe volk word, Claude. Elkeen sal sy beskeie deel moet bydra.”

Sy oë blits.

“Dit mag nie gebeur nie. As ons Franse alleen bymekaar kan woon, sal dit anders wees. Ons … ons gewone mense sien op na die adel … vir raad en leiding.”

“Nie meer nie, Claude. Ek is maar een van die baie wat nog sal moet afstand doen van daardie voorreg.”

Hy staar onbegrypend na haar, ’n diep frons tussen sy oë.

“U … aanvaar dit … sommer net so?” wil hy weet.

“Daar is vir my niks anders te doen nie. Ek het geen heenkome of inkomste nie.”

“U laat my werklik sleg voel, ma’mselle,” sê hy dan. “Ek baklei om dinge verander te kry, maar ek wonder of dit ten goede sal wees.”

Sy lag sag.

“Begin jy dalk nou dink?” wil sy skertsend weet. “Jy moet nog baie mooi dink, Claude, want dit mag dalk wees dat jy op ’n Hollandse meisie verlief raak.”

“Nooit!”

“Hulle is mooi, weet jy? Dit maak ’n meisie nie beter net omdat sy Frans is nie.”

Hy haal sy skouers op.

“Dit sal baie kos om mý te oortuig.”

’n Koets kom die binnehof ingery. Véronique kyk op. “A, hier is monsieur Lorraine se koets nou. Claude, sal jy asseblief so gaaf wees om my te help met my bagasie?”

Hy grinnik. “Mais oui! Waar is dit?”

Sy beduie vir hom en ’n rukkie later kom hy met die twee klein trommels terug. Die koetsier laai dit in die koets en dan help Claude haar in die rytuig.

“Ek gaan kom kyk hoe hulle u behandel, ma’mselle!”

Sy skud haar kop.

“Moet liewer nie … Dit gaan dalk glad nie goed nie en met jou voortvarende manier gaan jy miskien moeilikheid maak.”

Hy glimlag verleë.

“Ons sal sien … Miskien kom ek net vir u kuier.” Hy bloos bloedrooi toe hy dit sê.

Sy lag opgewek.

“Ek sien uit daarna. Au revoir, Claude.”

Die koets vertrek op die lang rit na Drakenstein. Véronique kyk vol hartseer na die dorpie wat by hulle verbygaan. Nou is sy onherroeplik ’n diensmeisie en dit sal nooit anders wees as sy haar vader nie kan opspoor nie. Sy sal ’n kamermeisie bly en dalk nooit trou nie. Don Diego sal met die lente uit die baai vertrek en sy sal alleen hier in die vreemde moet bly.

Baie laat dieselfde dag bereik hulle Drakenstein. Véronique word op die landgoed deur madame Lorraine ingewag. Die ou dame is nie baie vriendelik nie en wil Véronique so gou moontlik aan haar dogter oorgee. Dis Lyzette se plig om haar kamermeisie oor haar wense in te lig.

Lyzette is niks vriendeliker as haar ma nie. Sy sit op haar bed en sorteer glaskrale waarmee sy borduurwerk op een van haar tabberds wil doen. Sy kyk op toe Véronique in die deur verskyn.

“My pa het dit toe sowaar gedoen,” sê sy ontevrede.

“As u my glad nie hier wil hê nie, sal ek teruggaan Kaap toe.” Véronique bly in die deur staan.

Lyzette maak ’n ongeduldige gebaar met haar een hand.

“Wat sal dit help? My pa wil jou skynbaar hier hê en daar is niks wat ek aan die saak kan doen nie. Jy kan solank vir my hierdie krale sorteer. Dis ’n lastige werk.” Sy staan op en gaan voor die spieëltafel sit.

Véronique gaan op die bed sit en begin die krale sorteer.

“As ons baie saam moet wees, kan ons net sowel vriende wees,” sê sy.

“Ek weet nie wat om met ’n kamermeisie te doen nie,” antwoord Lyzette nors.

“Ek is hier om jou te help aan- en uittrek, en jou hare te doen en klein persoonlike takies. Dis maar eintlik al werk wat ’n kamermeisie doen.”

“Dan kan jy maar net sowel teruggaan. Ek kom reg met al daardie dinge.”

Véronique staan op. “Kom, laat ek jou wys.” Sy stap na Lyzette en tel die haarborsel op.

“Jy raak nie aan my hare nie! Ek hou daarvan so deurmekaar.”

Véronique skud haar kop. “’n Meisie in jou posisie moet altyd netjies wees.” Sy gaan agter Lyzette staan en beskou die volmaangesiggie in die spieël. “Ek kam vir jou krulle bó en laat dit dan in los lokke agter in jou nek hang. Hoe klink dit?”

“Maak soos jy wil, maar jy gaan nie my lewe oorneem nie.”

’n Uur later is Véronique klaar en moet Lyzette teësinnig erken dat die kapsel goed lyk. Sy glimlag selfs skugter.

“Ek het jou onderskat, Véronique,” sê sy en draai haar kop om haarself beter te kan beskou. “Miskien beteken ’n kamermeisie tog iets.”

Véronique glimlag. “By die eerste bal gaan jy die mooiste wees,” sê sy.

Lyzette draai na haar. “Dis oor twee weke. Die kommandeur kom ook hierheen.”

“Is dit waarvoor die krale is?”

“Ja, maar ek hou nie van borduurwerk nie. Ek sukkel daarmee.”

“Moet jou nie daaroor bekommer nie. Ek sal dit vir jou klaarmaak.”

Hierdie keer glimlag Lyzette opreg bly.

“Dankie, ek het begin dink dat ek soos al die ander kere weer gaan afsteek by die ander.”

“Jy sal nie, dit belowe ek jou.”

Véronique kyk ingedagte na die plomp meisie. Sy lei die lewe waaraan ek al die jare gewoond was, dink sy. Dit sal vreemd voel om nou agter die gordyne te moet uitloer om na die pret te kyk. Daar sal nie mans wees wat om haar draai en haar dansboekie wil hê om hulle name in te skryf nie. Sy sal net kan toekyk en terugdink aan ’n tyd wat nou vir goed verby is.

Die twee weke voor die bal gaan gou verby. Véronique hoor niks weer van Don Diego nie, maar sy het dit ook nie verwag nie. Sy twyfel sterk dat hy ooit hierheen sal kom.

Sy en Lyzette het so te sê vriendinne geword, maar Lyzette se ouers behandel haar steeds uit die hoogte. Henri Lorraine probeer haar nie juis vermy nie, maar dis duidelik dat hy baie ongemaklik en skuldig voel in haar geselskap. Dus is Véronique net op Lyzette aangewese vir geselskap. Die dae word vir haar eensaam.

Vroeg die middag van die bal begin die gaste al opdaag. Hulle kom in koetse en ook perdekarre en baie van hulle sal die nag op die landgoed moet oorslaap omdat die paaie so gevaarlik is. Die landgoed, L’Espérance, is ’n hele bedrywigheid. Monsieur Lorraine en sy broer ontvang die gaste en sien toe dat die perde versorg word.

Lyzette is die ene opgewondenheid. Sy sien baie uit na die bal omdat sy weet dat sy vanaand nie vir die ander jong meisies van Drakenstein hoef terug te staan nie. Sy dra ’n tabberd van ligroos fluweel wat haar harde gelaatstrekke baie versag. Véronique het haar hare in klein krulle en lokke volgens die mode gekam en met ’n swierige haarkam op haar kop vasgesteek.

Toe sy eindelik die boudoir verlaat om by die gaste aan te sluit, begin Véronique die kamer tydsaam opruim. Daar is vir haar nou niks meer te doen as om na die orkes te luister en te dink aan al die geleenthede waarheen sy gegaan het nie. Sy is nog maar een-en-twintig en haar tyd van vrolike jolyt is reeds verby. Dis asof sy nie meer kan glo dat sy haar pa nog sal opspoor nie. Niemand weet wat van hom geword het nie en as sy nie iewers ’n leidraad kry nie, kan sy maar daarvan vergeet om hom te vind.

Later gaan sy met die trap af en gaan staan in ’n donker hoek, waar die lig van die kandelare nie kan bykom nie. Sy kyk met verlange na die swierige aandtabberds van die jong meisies en ouer vroue. Sy was altyd deel van die pret en nou is sy net ’n toeskouer. Die galante mans, hul krawatte en mansjette spierwit gestyf, is net so sjarmant as dié wat sy in Frankryk geken het. Almal loop by haar verby en sien nie die eensame kamermeisie wat in die skaduwees skuil nie.

Madame Lorraine kom by haar verbygestap en steek skielik vas.

“Wat maak jý hier?” vra sy skerp.

Véronique bloos verleë. “Ek het net kom kyk hoe die bal vorder, madame.”

Madame Lorraine frons ontevrede. “Jy mag nie hier kom nie, Véronique. My gaste meng nie met my bediendes nie.”

“Ek is jammer, madame.” Sy kom uit die skaduwee en begin weer met die trap na bo loop.

“En jy bly vir die res van die aand daar bo!” roep madame Lorraine haar agterna. “Ek wil nie vanaand in die skande gesteek word nie. Hier kom die kommandeur nou! Toe, weg is jy!” Sy draai haar rug op Véronique, en Véronique talm net lank genoeg om kommandeur Simon van der Stel by die voordeur te sien inkom.

Sy verstyf skielik, want agter die kommandeur, duidelik deel van sy gevolg, kom Don Diego Fernandez. Hy is ’n imposante figuur in sy uitrusting van wit sy en swart fluweel. Sy donker blik dwaal oor die gaste, asof hy iemand daar soek. Dan kyk hy terug na madame Lorraine en buig galant. Hy druk ’n ligte soen op haar hand, wat die ou dame laat bloos van plesier. Hy glimlag en Véronique se hart ruk in haar keel.

“Dis vir my ’n aangename voorreg om u te ontmoet, madame,” sê hy.

Véronique draai vinnig om en hardloop die res van die trappe op na bo. Sy vlug na haar slaapkamer. Wat maak Don Diego hier? Hoekom het hy hierheen gekom? Sou die Lorraines hom dalk ken?

In haar boudoir gaan sy by die venster staan en druk haar voorkop teen die koel ruit. Don Diego was die laaste mens wat sy vanaand op die bal verwag het. Sy het nie eens geweet dat hy enigeen van die hoëlui aan die Kaap ken nie. Sy het nie die vaagste benul gehad dat hy deur die Lorraines genooi is nie. Sy is egter net ’n kamermeisie en sal beslis nie geraadpleeg word oor wie genooi en wie nié genooi moet word nie.

Baie later sit sy in ’n stoel en slaap en wag op Lyzette om terug te kom. Eers as sy die meisie in haar bed gehelp het, kan sy self gaan slaap. Véronique het nooit geweet hoe vermoeiend die werk van kamermeisie kan wees nie.

Skielik klink daar uitroepe van buite af op. Sy ruk orent en vryf moeg met haar hand oor haar oë.

“Jy waag dit om my te beledig, monsieur!” skreeu monsieur Etienne Lorraine buite homself, duidelik hoorbaar deur die oop venster.

Sy spring op en hardloop na die venster. Dis byna middernag, maar nog geeneen van die gaste het al vertrek nie, lyk dit vir haar. Hulle staan almal buite in die koue en staar na die twee mans wat besig is om hulle baadjies uit te trek.

Etienne Lorraine staan die naaste aan Véronique se venster en oorkant hom, met ’n spottende glimlag om sy mond, staan Don Diego. Hy lag sorgeloos oor Lorraine se woede.

“Kom nou, senor, maak die waarheid dan só seer?” vra hy in ’n sarkastiese stem.

Véronique draai haastig om en gryp haar mantel. So in die hardloop hang sy dit om haar skouers en draf die trappe vinnig af na onder. Die voorportaal is verlate en sy kan ongemerk agter die nuuskierige gaste verbysluip na die dieper skaduwees, weg van die lanterns op die stoep. Simon van der Stel is nie onder die gaste nie en Véronique wonder waarom hy hom nie aan hierdie onwettige swaardgeveg steur nie.

Sy het die skaduwees net bereik toe Don Diego sy swaard met ’n skerp fluitgeluid uit die skede trek.

“Gereed, senor?” vra hy met ’n flikkering in sy donker oë.

Etienne Lorraine aarsel voordat hy ook sy swaard ontbloot. “Oui, ek is gereed.”

Naby hulle hoor Véronique een van die gaste gedemp sê: “Monsieur Lorraine is ’n baie goeie swaardvegter. Ek wonder of die Spanjaard dit weet.”

Véronique se hart krimp ineen. Wat besiel Don Diego om hier op die Lorraines se grond met so ’n geveg te begin? Hy moet mal wees as hy dink dat hy hiermee kan wegkom.

Die twee mans kring versigtig om mekaar, som mekaar op en probeer vasstel hoe hulle die geveg kan laat verloop. Don Diego lyk op sy gemak, asof dit ’n speletjie is. Die glimlag verlaat nie sy mondhoeke nie, maar sy donker oë bly waaksaam, gloei soos arendsoë in die dowwe lig.

Etienne Lorraine steek skielik onverwags na Don Diego, maar dié spring rats uit die pad. Die geveg het in alle erns begin. ’n Ruk lank kap, steek en sny hulle in ’n verwoede geveg na mekaar, maar dan breek hulle weg om elkeen hul aanvalsplan uit te werk.

Die gaste staar met groot oë en opgehoue asem na die twee vegters. Net die flou lig van die lanterns verlig die toneel. Niemand praat nie.

Hulle spring weer aanmekaar. Lorraine swaai wild na Don Diego, maar die swaard gly skadeloos langs die ander lem weg. Don Diego glimlag steeds. Sy oë boor in dié van Lorraine, wat hom vol haat aankyk.

Vinniger as wat die oog kan sien, fluit Don Diego se swaard deur die lug en gly met ’n sisgeluid deur Lorraine se syhemp. ’n Dun strepie bloed lê oor sy bors waar die punt van die swaard sy vel gesny het.

Dis nie ’n pynlike wond nie, maar dit laat Lorraine goed besef dat hy ’n nederlaag mag ly.

Die omstanders suig hulle asems skerp in. Die Spanjaard is rats soos ’n kat en vinnig soos ’n slang. Hulle is skielik onseker oor die uitslag van die geveg en kyk bekommerd na mekaar.

Véronique volg elke hou van die swaarde met ingehoue asem. Die twee mans veg verbete. Sy weet nie eens waaroor dit gaan nie, maar in stilte stuur sy ’n skietgebedjie op dat Don Diego nie iets moet oorkom nie.

Lorraine begin moeg word, terwyl Don Diego nog rats om hom trap. Hy jaag Etienne Lorraine oor die stoep en met die trappe af, al vegtende, sodat die gaste verskrik padgee. Don Diego bly koel, kalm en beredeneerd. Lorraine raak wanhopig en gooi alles in die stryd om sy teenstander met sy swaard te deurboor.

Hulle veg weer naby mekaar, kruis swaarde en spring rats uit die pad van die ander se wapen.

Véronique hou monsieur Lorraine dop en sy weet dat die geveg so te sê verby is. Sal Don Diego sy lewe spaar?

Sy merk ’n vinnige beweging by monsieur Lorraine en sien dat hy ’n dolk uitgepluk het wat dof in sy hand glim. Voordat sy egter ’n waarskuwing kan skreeu, is die twee weer teenaan mekaar en uiter Don Diego ’n uitroep van pyn.

Die gaste sug verlig.

Véronique gil toe Don Diego stadig inmekaarsak.

Annelize Morgan Omnibus 6

Подняться наверх