Читать книгу Melodie Omnibus 3 - Annelize Morgan - Страница 11

8

Оглавление

Kira kom by die huis aan en gaan reguit kombuis toe om vir haar koeldrank te skink, want nou dood sy van die dors.

“Hallo, Soekie,” groet sy verbaas. Reinhard se huishulp sit betraand langs die tafel by Souf.

“Hallo, juffrou Kira.”

Haar stemmetjie is maar bewerig en Kira gaan nader. “Kry die hele besigheid jou onder?” vra sy simpatiek.

Soekie vee haar oë met haar mou af. “Dis vreeslik, juffrou Kira. Nou is Mevrou se broer ook daar en hy is slordig en onbeskof. En hy irriteer vir Professor iets vreesliks, maar hy kan hom nie wegjaag nie. Mevrou se begrafnis is seker aan die einde van die week en hy gaan natuurlik daarvoor bly. O, ek wens Professor het nooit met daardie vrou getrou nie. Dan was ons nie nou in dié gemors nie.”

Amen, dink Kira weeïg. Sy skink vir hulle al drie koeldrank en kom sit aan die kombuistafel by die ander twee.

“Hou net moed,” probeer sy troos.

“Arme klein Riaan,” kla Soekie. “Hy kan nie huis toe kom nie en hy kla dat Professor se sekretaresse hom gedurig by sy ouma gaan haal om by haar seun te speel. En dié knou hom af. Professor weet dit nie en ons wil hom nie meer ontstel as wat hy reeds ontstel is nie.”

Kira is verontwaardig. “Ag nee, Soekie! Julle moet Professor vertel. Hoekom moet die arme kind swaarder kry as wat hy reeds kry? Professor sal nooit toelaat dat hy by iemand kuier wat hom afknou nie.”

Sy is so vies dat sy sommer haar hele glas koeldrank afsluk. “Ek sal hom vertel as julle te bang is.”

Soekie kyk haar dankbaar aan. “Asseblief, juffrou Kira. Professor was darem nog altyd vir hom soos ’n eie pa. Baie goed, baie vol liefde.”

Kira kyk haar verbaas aan. “Waarvan praat jy? Waarom sê jy soos ’n eie pa? Riaan ís mos professor Brand se kind.”

Soekie skud haar kop, haar lippe saamgepers. “Nee, juffrou Kira. Hy is nie Professor se kind nie. Net haar kind. Mevrou s’n.”

Kira voel ’n lamheid deur haar trek. “Maar hoe werk dit? Sy het dan die kind gekry nadat hulle getrou het. Ek was destyds lank weg nadat hulle getroud is, maar ek weet die kind was nie daar toe hulle getrou het nie en sy was baie ver verwagtend toe ek terugkom.”

Sy onderskep ’n betekenisvolle blik tussen Souf en Soekie.

“Juffrou, daardie vrou het gemaak asof sy nie in die ander tyd was nie, maar ek weet sy was. Toe maak sy of sy ’n vroeggebore honeymoon-baba kry.”

Kira se ledemate voel asof hulle nie kan beweeg nie so geskok is sy. Geen wonder hulle het so holderstebolder getrou nie, al was dit swierig. Monique was haastig.

“Het professor Brand dan niks vermoed of geweet nie?” prewel sy.

“Nee, ek dink nie so nie. Maar ek wonder of hy ná die troue iets agtergekom het,” sê Soekie. “Hy is so ’n jintelman, hy sou haar mos nie uitgeskop het nie.”

“Nee, Soekie, dalk weet hy nou nog nie die waarheid nie en dink hy dis sý kind,” beweer Souf. “Almiskie is hy lelik aan die neus gelei.”

Kira vee met haar hande oor haar gesig asof sy drogbeelde wil wegvee. “Dis nou werklik skokkende nuus. Skokkend en ongelooflik. Hoe seker is jy van jou feite, Soekie?”

“Ek het maar net die maande getel en gewonder, juffrou Kira.”

“As dit waar is, was die vrou meedoënloos,” sê Kira. Was Reinhard dan só dom en maklik om om die bos te lei? Of so hopeloos verlief dat hy blind was?

“Dit wás sy, juffrou Kira. Sy was gek oor Professor en wou hom hê, maar sy was so selfsugtig. Ek dink sy liefde vir haar het lankal opgedroog.”

Was hy werklik ontnugter met die pragtige vrou wat sy hart so vinnig gesteel het? wonder Kira met ’n steekpyn in haar hart. Al die tyd was hy nie so gelukkig soos sy gedink het hy is nie.

Soekie staan op. “Ek moet gaan. Ek het lank genoeg gekuier.”

Kira groet en kyk hoe Souf saam met Soekie loop. Sy moet haar dwing om op te staan en na haar kamer te gaan. Sy smag om Liana hiervan te vertel, maar Liana is in Kaapstad om ’n konsert in die Kunstekaapteater by te woon.

’n Uur later skakel sy Reinhard se huisnommer en is verlig toe hy antwoord en nie Dewald nie.

“Hallo, Kira, waarom bel jy?” vra hy verras. “Jy kan mos sommer oorstap.”

Sy kan nie vir hom sê sy wil Dewald liefs vermy nie.

“Ek kon seker, maar bel is mos gouer. Ek is baie jammer om jou met so iets te ontstel, maar Soekie het my vertel dat Riaan gedwing word om met Riki Smit se seun te gaan speel, en dis nie vir hom lekker nie.”

Daar is ’n kort stilte voor hy sê: “Ek dwing hom beslis nie, ek dag hy wíl gaan. Riki kan ook so aanhou oor ’n ding. Dis nou vir my ’n skok om dit te hoor. Soekie moes my gesê het.”

“Sy wou jou nie ontstel nie, want dinge gaan klaar so swaar …”

“Ag, nonsens. Riaan se welsyn kom eerste. Ek sal dadelik werk daarvan maak. Hy hoef regtig nie weer te gaan nie.”

“Nou ja, dan is die probleem opgelos en ek is bly.”

“Dankie dat jy jou weer eens oor hom ontferm het, Kira. Ek waardeer jou belangstelling.”

“Dis niks. Ek is mos lief vir die knapie.”

Sy brand om te weet of Reinhard die waarheid oor Riaan weet, maar hoe gaan sy ooit uitvind? Sy kan hom tog nie reguit vra nie.

“Jy wil seker nie saam met ’n moordverdagte gesien word nie, Kira, maar het jy nie lus om môreaand of so saam met my te gaan eet nie? Nie op Stellenbosch waar almal ons sal sien nie. In Kaapstad dalk. Nee wag, ek plaas jou in ’n slegte posisie. My gesig was die koerante vol. Ek sal herken word, dan is dit vir jou ’n vreeslike verleentheid.”

Sy is verras en bly. “Dan stel ek voor dat jy liewer hier kom eet. Ek sal vir jou my uitsonderlike paella maak.”

O, sy maak ’n fout, maar die versoeking is net te groot!

“Dankie, dit klink lekker. Ek sal die wyn en sjokolade bring. Hoe laat?”

“So agtuur. Sien jou dan.”

Met ’n rukkende hart sit sy die gehoorstuk op die mikkie terug. Nou is sy in diep water en sy moet swem of sink. Of sy moet haar kop laat lees. Die kop wat die skilpad uitsteek om afgekap te word. Al weer.

Op sy beurt kreun Reinhard kliphard. Wat het hom besiel om haar sommer vir ete te nooi en dan nog haar uitnodiging te aanvaar?

Dis oor hy haar by Deon Schoeman gesien het en haar nie vir ’n ander man gun nie. Hy is in geen posisie om haar weer te laat hoop nie. Hy sal haar net onder sy donker wolk insleep, en naderhand die afgrond in.

Hy skakel haar en sy tel dadelik op asof sy nog steeds by die foon is.

“Kira, ek is jammer, maar kan ons daardie ete uitstel tot ná die begrafnis? Ek het daaroor nagedink en dis net nie die regte ding om nou te doen nie.”

“Natuurlik. Nes jy voel.”

“Anderdag reël ons dit wel.”

“Ja, anderdag.”

Sy sit neer. Na hierdie jongste verwerping het sy gesoek. Dis haar verdiende loon dat sy nou weer so gekwes word.

Reinhard voel sleg toe hy die gehoorbuis terugplaas, maar hy weet hy doen die regte ding.

Nou moet hy Kira eers op die agtergrond skuif en Riki skakel. Hy is sommer kwaad vir haar. Sy raak deesdae skoon oorhoops en hy kan dit skaars meer hanteer.

“Halloo, Riki hier,” kom die aangeplakte kleindogtertjiestem oor die foon toe hy skakel.

“Riki, dis ek, Reinhard.”

“Oo, Reinhard … e … Prof. Jinne, dis ’n verrassing. Is iets verkeerd?”

“Ja, iets is verkeerd. Ek hoor vaneffe dat jy Riaan dikwels gaan haal om met Jannie te speel – teen sy sin.”

Daar is ’n kort stilte, toe kom haar verontwaardigde stemmetjie: “Maar ek het dan gedink hy hou daarvan! Hulle speel so lekker saam, al is Jannie ’n bietjie ouer.”

“Nee, hulle speel nie lekker saam nie en Riaan is maar broos vandat sy ma dood is. Dis nie dat ek ’n sissie van hom wil maak nie, maar hy moet tot minstens ’n maand ná sy ma se begrafnis in vrede gelaat word, asseblief.”

“O, nou goed. Ek het maar net probeer goed doen, jy weet, Prof.” Haar stemmetjie klink huilerig.

“Ek skat so, maar voldoen nou asseblief aan my versoek.”

“Ek sou gedink het ’n seun van jou sal tough wees … soos jy.”

Hy vervies hom nog meer. “Hy is nie …” kom dit uit voor hy hom kan keer, maar hy sluk sy woorde. “Riaan is sterk genoeg, maar hy is deur ’n trauma en ek neem hom na ’n sielkundige vir berading.”

“Jy raas met my, maar ek verdien dit,” kom die klein stemmetjie oor die foon.

“Dankie dat jy probeer help het, maar jy kan dit nou maar los.”

“Goed, Prof.” Gedwee en nederig.

“Totsiens, Riki.”

“Totsiens, Prof.”

Dis skaars ’n halfuur later toe die voordeurklokkie lui. Reinhard is besig om in sy studeerkamer te werk en sug oor die onderbreking. Deesdae is hy teësinnig om die deur oop te maak, maar hy staan op en loop soontoe.

“Riki?” Hy is uit die veld geslaan, want daar staan sy, uitgevat en met ’n stomende bak kos in die hand.

“Ek bring net ’n vredesoffer,” giggel sy.

Hy onderdruk ’n sug. “Dit was sowaar nie nodig nie.”

“Ag, dit is. Dis van my lekker lasagne.”

“Kom in.”

Hy neem haar na die kombuis en toe sy die bak neersit, kyk sy skalks na hom. “Ons kan dit saam eet. Dit lyk nie of iemand vanaand vir jou kook nie.”

“Hoe kan ek weier?” Hy moet die sarkasme uit sy stem hou. “Ongelukkig is daar nog ’n derde persoon ook in die huis – my swaer, Dewald. Ons kan seker nie eet sonder om met hom te deel nie.”

“O ja, Prof het my gesê hy is hier.” Haar stem klink erg teleurgesteld en sy glimlag gedwonge. “Jy kan hom seker roep, want dit word koud. Sal ek solank die tafel dek?”

“Ja, dankie.”

Hy wys haar waar alles is en kan skaars sy ergernis onderdruk. Sy hou hom op en hy sal nou seker tot middernag moet sit en voorberei.

By die trap roep hy: “Dewald!”

Sy swaer verskyn onmiddellik, asof hy gewag het om geroep te word.

“My sekretaresse het vir ons kos gebring. Kom eet saam.”

“Graag, gaarswaer!” Hy spring by die trappe af.

Liewe hemel, moet die man altyd so kinderagtig wees? dink Reinhard wrewelig.

“Maar jy het mos ’n fraai sekretaresse,” sê Dewald toe hulle by die eetkamer instap. Riki is net besig om die laaste messegoed uit te pak.

Sy giggel. “Ag, nee wat, ek is maar gewoon. Aangename kennis. Ek is Riki Smit.”

Dewald neem haar hand en hou dit langer vas as wat nodig is, terwyl hy soos ’n wafferse casanova diep in haar oë kyk. Reinhard slaan dit gade en dink dat dié twee eintlik baie goed by mekaar pas.

“Kom sit,” nooi Riki asof sy die gasvrou is en plaas hulle weerskante van haar.

“Waar is Jannie vanaand?” vra Reinhard uit beleefdheid.

“O, hy’s by Josephine.”

“Wie is Jannie?” vra Dewald. “Jou kêrel?”

“O nee, dis my seun. Hy’s al in die preprimêr. Ek is lankal geskei. My eks betaal darem genoeg onderhoud.”

Dewald lyk skielik nie meer so flikflooierig nie, dink Reinhard geamuseer. ’n Ma met ’n kleintjie pas nie by sy idee van ’n romantiese verbintenis nie.

“Ek gaan haal die lasagne,” sê Riki en trippel uit.

“Oulik,” merk Dewald op. “Monique het seker nie van haar gehou nie.”

Reinhard frons. “Ek glo nie Monique was bang vir kompetisie nie.”

Sy stem het bars uitgekom, hy weet, maar dit klink asof Dewald insinueer dat sy vir Reinhard ook aantreklik moet wees.

Riki kom met twee yslike borde vol lasagne ingetrippel en sit dit voor hulle neer. “Lekker eet.”

Haar eie porsie is maar klein.

“Waarom eet jy so min?” vra Reinhard.

“O, ek moet my figuur dophou,” lag sy.

Terwyl hulle eet, verbeel Reinhard hom dat haar voet aan syne raak en hy skuif vies weg. Dit val hom ongelukkig al meer op dat sy by hom aanlê en nie bloot vriendelik is nie. Dié probleem sal hy een of ander tyd moet aanspreek en dit gaan pynlik vernederend wees, vir hulle albei.

Sy is besig om Dewald uit te vra en hy vertel haar alles van sy vervelige swembadbesigheid. Sy lyk beïndruk en maak vleiende opmerkings. Reinhard is maar bly hy hoef nie saam te gesels nie.

Hulle borde is leeg. “Wat van seconds?” vra sy.

Reinhard neem sy kans waar. “Nie vir my nie, dankie, maar dit was heerlik, Riki. Dankie dat jy ons bederf het. Eet julle twee seconds, ek moet my voorbereiding vir môre se agtuurklas gaan klaarmaak. Sal julle my verskoon?”

Sy lyk afgehaal, maar Dewald sê dadelik dat hy baie graag seconds wil hê.

Reinhard neem met verligting afskeid. Laat dié twee mekaar maar amuseer. Hy stel in elk geval nie belang in hulle onderwerpe van gesprek nie.

Die volgende oggend is Riki voor hom op kantoor en hy het spesiaal vroeg gekom. Sy klas is agtuur, maar hy is al halfagt daar om ’n paar dinge te doen voordat hy lesinglokaal toe gaan.

“Jy hoef nie so vroeg te kom werk nie,” sê hy toe hy instap. “Jy het mos ’n kind om by die preprimêre skool te besorg.”

“Ag, ek neem hom vroeg skool toe. Wil Prof heerlike koffietjies hê? Dit perkoleer al lekker.”

“Nee dankie, ek het so pas koffie gehad.”

“Ag toe, ek het ’n nuwe soort gekoop wat baie lekker is.”

“Nou goed dan.”

Hy gaan na sy kantoor en haal die nodige lêers uit sy briewetas.

Sy kom in met die stomende koffie, melk en suiker op ’n skinkbord, loop om die lessenaar sodat sy langs hom staan en sit dit neer. Só naby is sy dat hy amper aan haar raak en die sieklike soet geur van haar goedkoop parfuum styg in sy neus op. Hy staan weg.

“Twee suikers?” vra sy met ’n stroperige stemmetjie en gooi sommer vir hom melk en suiker in asof hy dit nie self kan doen nie.

“Jy hoef my regtig nie op te piep nie, Riki,” betig hy haar. “Ek is nie ’n kleuter nie.”

Sy kyk half geskok na hom, haar blou oë groot tussen die wimpers wat van swart maskara gekoek is. “Maar ek doen dit graag! Jy is deesdae so … onder druk. Foei tog.”

Tot sy afgryse beweeg sy al nader, asof sy hom wil omhels. Liewe hemel, nou gaan sy darem te ver.

“Riki, jy verdring my,” sê hy streng. “Hou asseblief jou afstand. Ek is nie besig om in duie te stort nie.”

Sy vries en kyk hom verskrik aan. Dit lyk asof sy trane in haar oë kry. Toe draai sy om en loop uit.

Hy sug moedeloos. Hy sal die bul by die horings moet pak en die personeelmense moet vra om haar na ’n ander pos te skuif as dit moontlik is. Hy moet ’n ander sekretaresse kry. Een wat ouer en valer is, én getroud. Verkieslik iemand wat ’n ouma is.

Meteens hoor hy die geluide van ’n harde gesnuif. Ag nee! Sy is nou besig om langsaan te grens sodat hy dit moet hoor. Hy gaan nie uit om haar te troos nie, want sy moet die boodskap kry.

Hy doen wat hy moet doen, neem sy lêer en loop uit na haar kantoor op pad na die lesinglokaal. “En nou?” vra hy. “Huil jy?”

Haar oë is rooi en haar maskara gesmeer en sy vee met ’n patetiese uitdrukking op haar gesig met ’n snesie aan haar neus. “Dis niks. Ekskuus, Prof. Ek sal jou nie weer … verdring nie.”

“Dankie.”

Hy loop uit en weet hy doen die regte ding, maar hy voel nogtans soos ’n hond.

As vroumense huil, maak hulle hom hulpeloos. Monique se maklike trane het altyd die wind uit sy seile geneem. Ergerlik sug hy weer en loop vinnig die gang af.

Deesdae sug hy darem baie. Dit raak ’n slegte gewoonte.

Hy het ook nie die koffie gedrink nie. Dit sal Riki nog verder krenk.

Melodie Omnibus 3

Подняться наверх