Читать книгу Melodie Omnibus 3 - Annelize Morgan - Страница 14

11

Оглавление

Reinhard kyk op toe Soekie vinnig by sy studeerkamer inkom.

“En nou, as jy so verskrik lyk? Wie is by die voordeur? Kom hulle my arresteer?”

“Professor maak nog grappies, maar dis nie snaaks nie. Hier is ’n man wat sê hy is Riaan se pa en hy wil met Professor praat. Hy sit nou daar in die sitkamer.”

Reinhard vries eers, maar toe staan hy op.

“Dit kan wees, Soekie. Jy weet dit nie, maar Riaan is nie my kind nie. Hy is ’n ander man se kind. Ek weet dis vir jou ’n skok …”

“Nee, Professor,” sê sy kalm. “Ek weet.”

Hy kyk verbaas na haar. “Jy weet? Hoe so? Ons het niemand vertel nie.”

“Ek het doerie tyd die maande getel, Professor.”

Hy vee met een hand deur sy hare. “Wragtig, die hele tyd is ek nog salig onder die indruk dat niemand die waarheid weet nie. Dat hulle dink Monique het prematuur geboorte geskenk.”

Hy sien dat sy hom aankyk asof sy vir hom jammer is en daarvan hou hy nie. “Ek sal met die ware pa gaan praat,” sê hy byna bruut en loop by haar verby.

As Soekie weet, sal ander ook weet. Sy sou tog gepraat het, al is dit net met die mense die naaste aan haar. Wel, die oomblik van waarheid is hier, Reinhard Brand, dink hy meewarig. Niks bly ooit geheim nie. Dis nie hoe die wêreld werk nie.

Die man wat opstaan toe hy inkom, is omtrent so oud soos hy en nogal aantreklik. Baie bruingebrand, met donkerblonde hare en met die bou van ’n rugbyspeler. Net ’n kortkop korter as hy.

“Adriaan Bouwer,” stel die man homself voor. “Riaan se pa.”

Reinhard steek nie sy hand uit nie, maar kyk die vreemdeling takserend op en af. Ja, dié soort man sou vir Monique aantreklik gewees het.

“Reinhard Brand. Waarom kom jy nou eers na vore? Riaan is al byna vyf jaar oud.”

Die man kug en Reinhard hou nie van die skelm uitdrukking in sy geelbruin oë nie.

“Ek wou nie julle huwelik verongeluk nie. Monique wou my ook nie sien nie. Sy het gesê ek moet wegbly, jy sal vir Riaan ’n pa wees.”

“En dit was ek inderdaad, na die beste van my vermoë. Ek het hom soos my eie kind liefgekry. Sit asseblief, dat ons die saak kan uitpraat soos twee beskaafde mense.”

Hulle sit, maar die man lyk vir Reinhard ongemaklik dog gedetermineerd. Instinktief hou hy net niks van dié Adriaan Bouwer nie. Al het hy nie ’n verhouding met Monique gehad nie, sou hy nogtans nie van hom gehou het nie.

“Het jy ooit geweet … ek meen … het jy geweet Riaan is nie joune nie?”

Reinhard kyk stip na die man. “Ek het gou genoeg agtergekom en Monique het gebieg. Sy was so hartseer, pateties en smekend, en ek was nog so lief vir haar dat ek die onvermydelike aanvaar het. Die arme kind is nie verantwoordelik vir die sondes van sy ouers nie.”

Adriaan Bouwer se blik beweeg heen en weer soos hy die inhoud van die vertrek bekyk.

“Het jy jou verbeel ek sal Riaan gee aan ’n pa wat hy nooit geken het nie bloot omdat sy ma dood is?” vra Reinhard bars.

“Hy is tog bloed van my bloed. Ek is ook getroud en my vrou sal hom graag wil inneem.”

Reinhard kan amper nie praat nie, so verontwaardig is hy. “Het jy ander kinders?”

“’n Dogter.”

“Wat hoe oud is?”

Die man huiwer eers. “Tien.”

“Jy het met ander woorde ’n verhouding met Monique gehad toe jy al getroud was, of is jou vrou net ’n houvrou?”

Adriaan Bouwer ruk hom op. “Kyk hier, ek –”

“Nee, kyk jý hier,” grom Reinhard. “Riaan is die helfte so oud soos jou dogter. Jy het dus vir Monique swanger gemaak toe jou dogter al omtrent vyf jaar oud was. Natuurlik wou jy nie skei nie, want dan moes jy onderhoud betaal. Toe gebruik Monique mý as ’n vangnet.”

“Nou goed, dit het gebeur toe ek al getroud was. Maar dinge is nou anders. Monique is dood en die kind het nie ’n eie ouer nie.”

“Dis nie vir mý anders nie. Riaan is my seun en ek staan hom nie aan vreemdelinge af nie.”

“Waar is Riaan? Ek wil hom sien.”

“Nie hier nie, maar hy is veilig. Jy gaan hom nie sien nie. Almal dink in elk geval hy’s myne.”

“Ek kan DNS-toetse laat doen om te bewys hy’s myne. Hy is vir my kosbaar …”

Reinhard se oë trek op skrefies. “O so? Nou, ná al die jare, en nadat jy hom nooit eens gesien het nie, is hy skielik kosbaar? Is dit nie dalk omdat hy Monique se erfgenaam is nie?”

Hy sien hy is in die kol, want Adriaan se wange kry rooi vlekke op.

“Ek het nie eens geweet hy het geërf nie!” protesteer Adriaan.

Reinhard sit vorentoe, sy vuiste gebal. “Ek kan sien jy lieg. Jy hét geweet. Iemand het jou ingelig en nou is jy nie agter jou kind aan nie, maar sy geld. Wel, jy sal hom nie kry nie, en jou gulsige pote sal jy nie op sy geld sit nie. Daarvoor sal ek sorg, al kos dit hofsaak ná hofsaak.”

Die ander man spring op. “Jý wil jou gulsige pote op sy geld kry!”

Reinhard staan stadig op. Hy moet met mening die impuls onderdruk om die man aan die kraag te vat en hom uit te boender.

“Ek het nie sy geld nodig nie. Ek het genoeg van my eie. Maar jy is seker flentergat genoeg om dit te wil hê, te oordeel na jou voorkoms. Trap voor ek jou uitgooi.”

“Probeer,” sê hy uitdagend en Reinhard se hand skiet uit. Hy gryp Adriaan se baadjie vas en ruk hom nader, sodat hulle gesigte byna teen mekaar is.

“Moenie my uittart nie. Ek kan en sal jou baie seermaak as dit moet, al dink ek beskaafde mense praat dinge uit en raak nie handgemeen nie.”

Hy stamp Adriaan weg en dié trek sy baadjie reg, sy gesig bloedrooi. Hy storm uit, maar roep oor sy skouer: “Jy het nog nie die laaste hiervan gehoor nie!”

“Sit net weer jou voete op my erf en ek maal jou flenters,” skree Reinhard agter hom aan.

Hy bly hygend staan en besef dat sy vuiste gebal is en dat daar moord in sy hart is. Hy kan nie onthou wanneer laas hy so kwaad was nie. Nee, hy kan. Hy was so kwaad die aand voor Monique se dood toe hulle so gestry het.

Hy kon haar daardie aand gerus vermoor, só kwaad was hy. Dit het wilskrag gekos om hom in te hou. Sy het die vreeslikste goed aangevang en altyd verwag om vergewe te word. Nou moet hy ook uitvind dat sy Riaan na sy biologiese pa vernoem het.

Hy loop op die stoep uit en sien dat Adriaan Bouwer in ’n ou bakkie geklim het. Ook dat die taamlik gehawende Isuzu ’n Vrystaatse nommerplaat het toe die man wegry.

Reinhard se eerste vermoede is dat Dewald dié man ken en dat hy hom van die testament vertel het. Dit was nie in die koerante nie, want hulle hou alles dig. Waar sou hy dus uitgevind het as dit nie by Dewald was nie?

Wrewel en woede stoot bitter in sy keel op.

Toe hy by die huis inloop, staan Soekie handewringend daar. “Jitte tog, ek dag Professor slaan hom kisboude.”

Reinhard skud sy kop. “Nee, maar ek was lus om dit te doen. Verbeel jou, hy wil Riaan nou eers hê, en hy was nie eens by toe die kind gebore is nie! Dis oor Riaan van sy ma geërf het, om geen ander rede nie. Hy kan tog nie sê hy het die kind lief nie, want hy ken hom nie.”

Toe Reinhard weer alleen in sy studeerkamer is, bedink hy hom. Hy vermoed wel dat dié Adriaan Bouwer agter sy seun se geld aan is, maar hy is darem die kind se biologiese pa. Bloed is immers dikker as water. Het hy nie die reg om sy eie seun op te eis nie? Veral as die kind se ma dood is?

Hy kreun en vryf met albei hande deur sy hare. Vir die hoeveelste keer verwyt hy homself dat hy vir Monique se liste en skoonheid geval het. Spyt skroei deur hom en dis die pynlikste emosie denkbaar.

Hy het ’n klankbord nodig. Die Trollip-susters is regsgeleerdes. Miskien moet hy hulle opinie vra. Hy sal dit môre doen. Nou het hy te veel werk en hy is nog te ontsteld. Hy moet die saak kalm benader.

Maar het hy die reg om die wrede waarheid te openbaar aan die vrou wat hy so benadeel en verwerp het? wonder hy dan.

Elke keer as hy Kira sien, verlang hy skreiend na wat hulle gehad het. Weet hy dat sy gevoel vir haar nog die kamers van sy hart vol lê.

Dis al aand en Kira, wat laat gewerk het, gaan kombuis toe om Liana te help om die aandete voor te berei. Sy tref Souf by haar suster aan.

“Is jy nog steeds hier, Souf?” vra Kira verbaas. “Ek dag jy is al huis toe. Jy hoef mos nie laat te bly nie.”

“Juffrou Kira, ek moes net kom vertel voor ek gaan. Daar het iets vreesliks langsaan by die Brands gebeur.”

Kira is dadelik bekommerd. “Wat is dit?”

“Soekie vertel my daar het ’n vreemde man aangekom en gesê hy is klein Riaan se pa en hy wil hom kom haal.”

“Genade,” prewel Kira. “En toe?”

“Toe hoor sy hoe hulle stry in die sitkamer en Professor sê vir die man hoekom kom hy eers as Riaan amper vyf jaar oud is? Hy’s nie vir die kind so lief soos Professor nie en hy is net agter die erfgeld aan. Die man sê toe hy het ’n vrou en sy wil ook die kind hê. Professor vra of die man al getroud was toe Mevrou Riaan verwag het, en hy erken dit.”

“O, toe kom die hele sak patats uit!” roep Liana.

Kira kry Reinhard vreeslik jammer. Monique het hom uit en uit gevang. Hoe moes hy nie gevoel het toe hy dit uitvind nie? Hy is tog ’n trotse man. Dis hoe sý hom in elk geval ken.

“Soekie sê Professor het al die tyd geweet Riaan is nie syne nie, juffrou Kira. En nogtans was hy goed vir daardie vrou en soos ’n eie pa vir Riaan.”

“Hy moes baie lief gewees het vir haar,” kry sy dit uit en daar is ’n brandpyn in haar hart.

Wat was Reinhard nie bereid om op te offer ter wille van Monique se liefde nie? Het die soet toe suur geword, veral toe hy sulke onverkwiklike dinge oor haar begin uitvind? Hét hy sy vrou in ’n oomblik van woede en ontnugtering vermoor?

Wat moet sy dink? Sy word bang vir die man wat sy liefhet, maar die liefde wil nogtans nie wyk nie. Dis soos ’n ongeneeslike siekte. Selfs ontnugtering genees haar nie daarvan nie.

Souf skraap haar keel. “Professor en Mevrou het glo die middag voor haar dood vreeslik gebaklei. Soekie sê jy kon hulle stemme waar hoor, want Mevrou het geskree en gehuil.”

Kira voel koue vingers by haar ruggraat afkielie.

Souf beweeg na die agterdeur. “Dan sê ek maar totsiens.”

“Totsiens, Souf,” groet hulle gelyk.

Toe sy uit is, kyk hulle grootoog na mekaar.

“Daardie bakleiery klink baie verdag,” meen Liana. “Dis die soort ding wat in die hof as ’n bewys vir gewelddadige optrede kan dien.”

Kira sidder. “Ja. Alles klink so verdag. So na rede vir moord. Ek wil net nie glo dat Reinhard moord kan pleeg nie.”

“Ek kan my indink hoe ontsteld hy moes gewees het toe die pa sy opwagting maak, en dít nadat Riaan ryk geërf het. Reinhard sal nie toelaat dat iemand vir Riaan uitbuit nie.”

“Hy sal dit self nie doen nie …” begin Kira, maar weer kom die aaklige gedagte by haar op dat Monique se geld destyds ook vir hom aanloklik moes gewees het. Nie bloot haar skoonheid nie.

Daarna moes hy uitvind dat sy nie juis ’n aangename persoonlikheid het of besonder intelligent is nie, want dis iets wat mense oor haar geskinder het.

Kira staan op nadat hulle ’n fliek op TV klaar gekyk het. “Waar is Karools? Hy sit mos gewoonlik op een van ons se skote as ons TV kyk.”

“Ag, dis ’n warm nag. Hy jag seker daardie groot rotte by die rivier.”

Kira is egter onrustig en gaan op die voorstoep uit. “Karools! Kietsie, kietsie!” roep sy.

Daar is geen teken van die kat nie en sy tuur die donker in. “Waar is jy, ounooi se diertjie? Speel jy jagter en roofdier? Vang jy goggas en muise?”

Sy loop na die hek, kyk oor die straat, in die donker onder die bome langs die rivier.

Miaau, hoor sy die geskree van ver af kom.

“Karools, kom huis toe!” roep sy en wag.

Nog ’n miaau. Maar hy kom nie.

Dalk het ’n hond hom in ’n boom opgejaag, dink sy. Iets is snaaks. Sy maak die hek oop en loop oor die straat.

“Karools, waar is jy? As jy in ’n boom is, kom af.”

’n Ent weg sien sy die blink oë. Nie op die grond nie, maar ’n kort entjie bo die grond. Hy sit op of in iets. Sy gaan nader.

Skielik is die oë nie daar nie en hy trek soos ’n blits by haar verby met een lang, verontwaardigde Miaau!

Die volgende oomblik is daar ’n groot skaduwee, swarter as die ander skaduwees, voor haar. Sy koes en draai instinktief weg, maar iets blink en daar is ’n brandpyn in haar boarm.

Sy gil deurdringend, want sy besef sy moet gesteek wees.

“Kira!” hoor sy haar suster skree. Sy hoor voete op die teerblad klap, maar haar arm is so seer dat sy vir ’n oomblik duisel en na die straat strompel.

Sy voel arms om haar en hoor Liana se benoude stem: “Hemel tog, wat het gebeur, sus?”

“Ek dink … iemand het my aangeval …”

Honde blaf verwoed naby en sy sien die twee poedels en Reinhard aangehardloop kom.

“Wat gaan aan, Liana? Wag, laat ek haar optel, dan dra ek haar huis toe.”

Sterk arms tel haar op en sy leun teen sy breë bors. Hy drafstap met haar oor die straat en sy kreun van die pyn in haar arm.

“Sy bloei vreeslik!” hoor sy Liana se angstige stem. “Kyk hoe lyk haar arm.”

Onder die stoeplig kyk hulle met afgryse na haar.

“Sy het ’n steekwond in haar boarm,” sê Liana. “Ons moet haar dadelik by ’n dokter kry.”

Kira voel hoe die warm bloed teen haar arm afloop en die pyn vloei soos vlae rooiwarm lawa deur haar. Toe word alles swart en sy tol in ’n donker gat weg.

Daar is lig en gesigte bo haar, en die pyn is nie meer so kwaai nie.

“Waar is ek?” prewel sy.

Liana se gesig is by hare. “In die Medi-Clinic. Ek en Reinhard het jou gebring en die polisie ontbied. Jy het ons verskriklik laat skrik. Jy moes tien steke kry. Wat het jy daar op die oewer in die donker gaan soek?”

“Vir Karools,” antwoord Kira swak. “Ek dink iemand het hom gevang en toe val daardie persoon my aan.”

Dis Reinhard se gesig wat nou naderkom en sy probeer vir hom glimlag. In sy oë is byna weer daardie ou uitdrukking van liefde wat sy jare gelede so goed geken het.

“Iemand het jou met ’n mes aangeval en jou arm oopgekloof. Jy kon doodgebloei het. As jy nie so gegil het en ons uitgehardloop het nie, ys ek om te dink wat kon gebeur het.” Sy stem is vol deernis.

“Dankie dat julle my gered het.”

“Ook maar goed jy het flou geword, want die pyn moes ondraaglik gewees het,” sê Liana en vat haar hand. “Om te dink jy word sommer daar bý ons, twintig treë van die hek af, aangeval. My hart het amper gaan staan. Is dit deesdae te gevaarlik om by ’n mens se hek uit te gaan?”

“Haai, Kira. Amper was jy bokveld toe.”

Die tergende stem is Geert s’n. Sy kyk by Liana verby en sien hy glimlag skeef vir haar.

“Ek kan nie glo iemand wil my doodmaak nie,” prewel sy. “Dis aaklig om te dink iemand haat my so of beskou my lewe as so nutteloos en onbelangrik dat hulle my sommer wil doodmaak.” Sy kry amper nie die woorde uit nie so uitgeput voel sy.

Reinhard se groot, warm hand sluit om een van hare en die sensasie is so lekker en gerusstellend dat dit voel asof daar warmte deur haar lyf trek en in haar hart gaan sit. Asof hy weer, soos lank terug, vir haar ’n steunpilaar is en liefdevolle ondersteuning bied.

“Net môre kry ek mense om vir ons ’n alarmstelsel te kom installeer,” sê Liana beslis. “Ons moet dalk ’n muur om die erf bou en ’n elektroniese hek ook laat installeer. Ek raak nou senuagtig. En jy gaan stap nie weer buite in die donker nie, hoor jy?” raas sy met Kira.

“O, hier is kaptein Wiid en twee polisiebeamptes,” sê Geert. “Ons het haar geskakel en hulle wil verklarings neem.”

Kira kyk op na die drie en glimlag bewerig. “Hallo. Dis verblydend dat die gereg so vinnig reageer.”

Lucille Wiid klik met haar tong. “Dis nou vir jou ’n lelike ding. Dit kan bloot ’n skelm of ’n rondloper wees, of …”

Sy bly stil en frons.

“Ek begin wonder of daar sprake van ’n reeksmoordenaar is as die tweede vrou in ons straat aangeval word,” meen Liana, haar gesig bleek.

“Dis nog nie ’n reeks nie,” protesteer Kira, wat nogtans ’n siddering van vrees en afgryse deur haar lyf voel trek. “Dit kan dalk net ’n rower wees, of dalk …”

Sy huiwer en dink: ’n verkragter? Sy noem dit liewers nie, maar vang Liana se oog en weet wat sy dink.

’n Dokter in ’n wit jas sluit by hulle aan. “Ons pasiënt moet rustig wees. Sy het ’n groot skok weg en die meswond is diep. Julle kan miskien môre weer kom kuier.”

“Dis dokter Brink, die man wat jou toegewerk het, sus,” stel Liana hom voor.

“Aangename kennis en dankie, dokter.”

“Bly ek kon help. Ek was toevallig aan diens toe hulle jou inbring.”

“Kaptein Wiid van die Stellenbosch-polisie se speureenheid,” stel Lucille haarself voor. “Ons neem net ’n verklaring by die pasiënt af, dan gaan ons weer, dokter.”

“Ons klomp moet seker maar gaan,” sê Liana. “Môre kom ek weer. Jy moet rustig wees en jou oor niks bekommer nie.”

“Ek hou nie daarvan dat jy alleen gaan bly nie,” sê Kira.

“Toemaar, ek plaas voorlopig ’n polisiewag by julle huis,” verseker Lucille haar.

Reinhard los Kira se hand en spyt trek deur haar.

“Ek sal ook ’n ogie oor Liana hou,” sê hy. “Moenie jou bekommer nie, en word gou gesond.”

“Ek sal natuurlik ook ’n ogie hou,” sê Geert. “Ek kan selfs daar by Liana gaan plak, indien nodig.”

Liana waai afwysend met een hand. “Dankie vir julle besorgdheid, maar ek is regtig nie bang nie. ’n Polisiewag sal seker genoeg beskerming wees.”

Sal dit regtig? dink Kira bekommerd. Skielik voel dit vir haar asof hulle van alle kante bedreig word.

Melodie Omnibus 3

Подняться наверх