Читать книгу Melodie Omnibus 3 - Annelize Morgan - Страница 15

12

Оглавление

Almal is weg en ’n verpleegster kom loer in, maar Lucille Wiid sit nog by Kira.

“Vertel my wat gebeur het. Wat kan jy onthou?”

Kira begin by die soektog na Karools en vertel tot waar Liana en Reinhard aangehardloop gekom het.

“Ek het hard gegil, en my suster en Reinhard het so gou aangekom dat die aanvaller op die vlug geslaan het.”

“Kon jy sien of dit ’n man of vrou was?”

“Nee, daar was net ’n skaduwee, en toe die pyn in my arm. Ek het weggedraai …”

“Anders het die aanvaller jou in die bors gesteek?”

Kira ril. “Ja, seker. Dis die aakligste ervaring. Ek is nie gewoonlik buitengewoon bang nie, maar dié soort ding gaan maak dat ek van nou af gedurig oor my skouer gaan kyk. Ek is sommer kwaad dat ek so moet voel.”

“’n Mens noem dit trauma. Ek kan vir jou berading reël.”

“Ag nee, as ek dink ek kry die ritteltits, sal ek sommer met een van my kollegas by die sielkundedepartement gesels.”

“Hmm …” Lucille tik met haar pen op haar notaboekie. “Ek dink nie dit was toevallig nie, hoor. Iemand teiken mooi vroue in julle omgewing, of vroue wat sekere verbintenisse het, of vroue wat bevoorreg lyk – ek dink nou hardop. As jy aan enigiets dink wat lig op die aanvaller kan werp, laat my onmiddellik weet. Ons sal jou en jou suster bewaak, so moenie worry nie.”

“Baie dankie. Dis regtig gerusstellend, Lucille.”

Die kaptein staan op. “Oukei, dis laat, jy het glo ’n susmiddel in, en ek wil leidrade gaan soek. Sterkte, professor.”

“Kira.”

“Totsiens, Kira.”

Nadat die kaptein uit is, lê Kira en nadink oor haar woorde: dat iemand bevoorregte vroue “teiken”. Maar veral oor die woorde “sekere verbintenisse”. Skimp sy dat die vroue wat naby Reinhard is hulle dié iemand se gramskap op die hals gehaal het?

Watter mens sou tot sulke jaloesie in staat wees? Lettie? Nee, tog nie sy nie. Riki wat karate doen en mal is oor hom? Nee, sy kan Riki dit ook nie sien doen nie. Sy is te effentjies en praat met so ’n kleindogtertjiestem.

Is dit ’n man? Maar hoekom sou ’n man haar wat Kira is leed wou aandoen? Dis alles so vreemd, ’n warboel …

Sy is egter te moeg en te deurmekaar om dit behoorlik te ontleed. Haar oë val toe en voor sy wegdommel, sien sy Reinhard se geliefde, besorgde gesig voor haar geestesoog.

Lucille loop en soek by die plek waar die aanval plaasgevind het. Sy is vies vir haarself dat sy te veel gepraat het. Sy moes nie haar vrese en vermoedens so aan die arme Kira Trollip uitgeblaker het nie.

Gelukkig het die messteek net deur die sagte vleis van haar boarm gegaan en nie die been gebreek nie. En sy is so slank – daardie armpie is nie dik nie. Kira Trolllip kon vanoggend hier in ’n plas bloed met deurboorde hart en starende oë gelê het, soos die mooie Monique Brand.

Onwillekeurig ril Lucille. Iemand is daarop uit om die vroumense te nail wat aan Reinhard Brand verbind is of was. Wie is volgende? Of gaan die booswig weer op Kira toeslaan omdat hy of sy in die eerste moordpoging gefaal het?

Wie sou die mooi, sjarmante Kira genoeg haat om haar dood te wil hê? Jaloerse klein Riki Smit? Dalk is Riki nog die volgende slagoffer. ’n Sekretaresse is mos, naas ’n eggenote, die naaste aan ’n man. Niks is onmoontlik in dié skeefgetrekte ou wêreld of in die verwronge gemoed van ’n misdadiger of psigopaat nie.

Tussen die gras langs die paadjie waar daar nog bloedkolle is, soek sy na iets – enigiets wat die aanvaller kan weggee. Die persoon het die kat glo gevang en vasgehou. Dis ’n liefdevolle kat daardie, ’n regte skootsitter. Dalk is hy iets te ete gegee en toe vasgehou om sy ounooi te lok.

Maar sê nou dit was Liana wat uitgekom het en nie Kira nie? Sou die aanval dan nog steeds plaasgevind het? Wat sou iemand teen Liana hê? Sy behoort mos aan daardie Kaaskop van ’n prokureurtjie – wat nie op Kira se gil gereageer het nie en eers deur Liana gebel moes word.

Professor Brand was gou op die toneel. Baie gou. Maar nou ja, dit het byna reg oorkant sy huis gebeur en hy werk mos laat in sy studeerkamer. Sy het al verskeie kere gesien hoe daardie lig brand as sy verbyry.

Professor Brand se lig brand, en hý brand dalk van woede. Assosiasie. Dikwels dink sy sommer ’n lawwe ding uit en as sy haar kom kry, lei dit haar iewers heen, asof sy ’n persoonlike engel het wat dit in haar brein influister.

Lettie Peens voel waarskynlik meer as vriendskap vir Reinhard – daarom dat sy so gebloos het die dag toe hulle in daardie swierige herehuis gepraat het.

Dalk is iemand bang hy gaan terug na Kira Trollip. Mits hy nie skuldig bevind word aan moord nie.

Is daar een moordenaar, of twee? Sê nou die aanval op Kira is die klassieke geval van ’n sogenaamde copycat-moord, maar dié slag het dit nie geslaag nie? Sy krap haar kop met haar pen en maak gou ’n aantekening in haar boekie.

Behalwe vir die bloed op die sementpaadjie, wat Kira s’n is, kry sy tot haar frustrasie geen teken van spore of platgetrapte gras nie. Sy soek verder. Ja, nader aan ’n boom sien sy platgetrapte gras en sy gaan ondersoek dit.

Geen booswig is so slim dat jy nie iets kan opspoor wat hom of haar aan die pen sal laat ry nie. Al kry jy net ’n enkele haar vir DNS-toetse.

Die booswig is met die mes weg. Om die moordwapen te kry, sou ’n groot deurbraak wees. En sy soek ’n deurbraak.

Hierdie saak moet sy oplos om groot hoogtes te bereik. Dalk kan sy haar eie privaatspeuragentskap stig. Dit sal darem lekker wees. ’n Droom om te bewaarheid. Lucille Wiid, Private Investigator, sien sy die naam op haar kantoordeur. Die vroulike weergawe van Magnum PI, wat sy in haar prille jeug so graag op TV gekyk het.

Intussen sal hulle maar die plek afkordon en kan die polisie verder soek, ook met honde.

Kira is heimlik verheug toe Reinhard met ’n bos blomme instap.

“Hallo, hoe gaan dit met ons pasiënt? vra hy. “Dis nie besoekure nie, maar ek het ingesluip.”

“Ag, heelwat beter, dankie. Ek het die dokter gevra of ek asseblief môre kan huis toe gaan. Almal piep my ook so op.”

“Almal waardeer jou maar net meer omdat jy so ’n noue ontkoming gehad het. Hier is blomme om jou op te beur.”

“Dankie, dis dierbaar van jou. Ek sal die verpleegster vra om dit vir my in water te sit.”

Hy plaas die blomme op ’n tafeltjie en sy hou hom dop. Hy het ’n blou hemp aan wat sy wonderlike oë meer blou as grys maak. Langs sy mond is kepe van swaarkry wat sy haar verbeel nie voorheen daar was nie. Haar hart trek met ’n punt na hom.

“Hoe gaan dit met jou?” vra sy. “Hou jy darem kop bo water?”

“Moet maar. Dit voel of ek van alle kante moeilikheid kry. Ek wou Riki na ’n kollega aangee en sy sekretaresse neem, maar ek is bevrees sy het so ’n bohaai gemaak dat ek dit maar vir eers daar gelaat het. Ek gaan nie voortborduur nie, maar ek voel bykans geteister.”

Sy glimlag. “Ek verstaan. Trek ’n stoel nader en sit.”

Hy kom sit langs haar en kyk haar met troebel oë aan. “Ek voel vreeslik sleg oor wat met jou gebeur het, Kira.”

“Waarom?”

“Ek voel verantwoordelik, asof iemand die vroue teiken wat aan my verbind was of is.” Hy laat sak sy kop en sug. “Waarom sou iemand jou wou doodmaak nádat Monique doodgemaak is? Daar moet mos ’n verband tussen die twee voorvalle wees.”

Hy steek sy hand uit en neem hare. Sy vingers vou om hare en druk en sy druk terug. Haar hart bons in haar keel. Dis so ’n intieme gebaar en dit bring sulke tere herinneringe terug.

“As daar so iemand is soos jy beweer, Reinhard, is daar niks wat jy daaraan kan doen nie. Die polisie moet maar die skuldige probeer vastrek. Ek kan net nie verstaan waarom iemand my nóú teiken nie.”

Hy kyk op, in haar oë, en dis amper asof die Reinhard van voor Monique se tyd vir haar kyk.

“Iemand vermoed dat ek nog steeds iets vir jou voel, en daardie iemand is bang dat jy my sal terugneem.”

Kira kyk met ’n warboel van emosies na hom. Voel hy werklik nog iets vir haar? Twyfel en vrees vir weer seerkry is alles deurmekaar in haar gemoed. Sy weet nie hoe om te reageer nie.

Asof hy haar gedagtes lees, soen hy haar hand. “Ek is regtig steeds lief vir jou. Baie meer as wat jy ooit kan raai. Ek moes nooit met Monique getrou het nie.”

“Reinhard …”

Dis meer ’n sug as ’n woord, want haar gemoed skiet vol. Deur watter diep waters moes sy gaan voordat sy dié bevestiging kon hoor dat hy haar nie afgesterf het nie?

“Ek wil jou net nie saam met my aftrek nie,” sê hy egter grimmig. “Ek het jou al genoeg seergemaak.”

Hy los haar hand, staan op, leun oor haar en soen haar op die voorkop.

Sy wens sy kan sy kop aftrek en hom behoorlik op sy mond soen. Om hom ’n tweede keer te verloor, sou net te vreeslik wees, al het sy soms gedink sy kan hom nie vergewe vir wat hy haar aangedoen het nie.

“Moenie my krag onderskat nie,” protesteer sy tog. “Ek sal jou bystaan.”

“Ek kan dit skaars verwag, veral nadat jy so wreed deurgeloop het.”

Hy soen haar weer en toe hy haar los, staan iemand vir hulle en kyk: Deon Schoeman, wat baie verleë en vies lyk.

“Hallo, Deon,” groet sy, ’n blos van verleentheid op haar wange.

“Hallo, Kira. Lyk my ek is ongeleë …”

“Julle twee ken mekaar mos,” sê sy.

“Ja,” sê albei, maar sy kan sien dat hulle mekaar opweeg. Reinhard maak ook geen aanstaltes om te gaan nie.

“Ek sal later weer kom,” sê Deon naderhand, duidelik vies en ongemaklik.

Hy stap uit en Reinhard kyk Kira fronsend aan. “Moenie vir my sê daar is iets tussen julle nie?”

“E … nee. Nie regtig nie. Deon is slegs ’n goeie vriend.”

“Dan moet hy een bly – en niks meer word nie.”

Sy glimlag vir sy jaloesie en dink: As jý by my hart instap, Reinhard Brand, dan stap enige ander man wat daarin probeer vertoef het uit.

Meteens is daar ’n steuring, en Kira sien twee mense, een met ’n kamera, by die saal inkom en reguit op haar bed afpyl.

“Wie is julle?” vra Reinhard streng. “Tog nie die pers nie? Wie het julle ingelaat?”

“Ons kom net met professor Trollip praat, professor Brand,” sê die vrou kastig verskonend.

“Dan moet julle my verskoon. Totsiens, Kira, word gou beter.”

Hy is so vinnig daar uit dat Kira haar verstom. Natuurlik moes dié mense hulle nou saam betrap en dis nou water op hulle meul. Nou gaan hulle berig dat die professor by die vorige vrou in sy lewe kuier. Dat hy na haar teruggekeer het net nadat sy vrou dood is. Hoe gaan dit nie lyk nie? Sy vrou is skaars koud in haar graf.

“Julle moes met my ’n afspraak gemaak het,” kap sy hulle bitsig. “Om my te bekruip, is regtig nie eties nie. Julle kan die besonderhede oor die aanval by kaptein Wiid van die Stellenbosch-polisie se speureenheid kry. Ek het niks om te sê nie.”

’n Verpleegster kom in en sê kwaai: “Dis nie besoektyd nie en professor Trollip is nie in ’n toestand om besoekers te ontvang wat nie familie of baie naby vriende is nie. Ek moet julle ongelukkig vra om te gaan.”

Kira is dankbaar toe sy hulle soos skape deur toe aanjaag, maar sy ys vir wat in die koerant gaan verskyn.

Liana wys Kira met afgryse die volgende dag se koerant.

“Kyk net! Nou spekuleer daardie misdaadverslaggewer oor jou en Reinhard. Blykbaar het sy en haar fotograaf hom hier by jou aangetref.”

Kira lees fronsend: Eggenoot van vermoorde vrou besoek tweede slagoffer. Professor Brand, eggenoot van mevrou Monique Brand, wat onlangs in hulle tuin vermoor aangetref is, het die slagoffer van ’n tweede poging tot moord in die Medi-Clinic besoek. Sy is professor Kira Trollip, sy gewese verloofde en dosent by die departement Romeins-Hollandse Reg aan die Universiteit Stellenbosch. Professor Trollip is langs die Eersterivier deur ’n onbekende aanvaller met ’n mes in die arm gesteek. Dit was nie noodlottig nie en sy sterk in die hospitaal aan.

Die aanval het ongeveer elfuur in die nag plaasgevind toe sy skynbaar haar kat gaan soek het. Haar gille het haar suster, me Liana Trollip, ’n landdros van Stellenbosch, en professor Brand, wat oorkant die straat woon, se aandag getrek. Hulle het haar te hulp gesnel en die aanvaller het gevlug. Daarna het hulle met professor Trollip, wat kwaai gebloei het, na die Medi-Clinic gejaag. Dié vinnige optrede het waarskynlik haar lewe gered.

Hierdie is die tweede aanval op ’n vrou in die Laan en die polisie vermoed dat die twee aanvalle met mekaar verband hou. Die polisie soek onverpoos na die aanvaller en volg alle leidrade op. Geen arrestasie is nog gemaak nie.

Kira kreun. “Ag hemel, nou weet die hele Stellenbosch en almal wat ons ken wat gebeur het.”

“Dit kon ons verwag het,” sê Liana. “Nou gaan die aasvoëls op ons toesak.”

Sy kyk na die reusebos blomme wat Reinhard gebring het en skud haar kop meewarig. “Dit was baie gaaf van hom, maar dit skep nie ’n goeie indruk na buite as dit lyk of Reinhard jou besonder liefdevol gesind is nie.”

Kira kyk ook na die blomme, wat lyk asof dit baie duur was. “Ja, dis wat hy ook te kenne gegee het, maar weet jy …”

“Weet ek wat?”

Kira kyk grootoog na haar suster. “Hy het ook te kenne gegee dat hy nog iets vir my voel. Dat hy werklik spyt is oor hy my destyds gelos het.”

Liana kyk haar stip aan. “Ja? Wel, laat ek maar erken: ek het ook die gevoel gekry dat hy jou steeds liefhet. Hy het amper stuipe gekry toe jy bebloed flou word, en hy kon nie genoeg vir jou doen nie. Ek kon jou amper nie uit sy arms kry nie. En dat daardie Monique skeef uitgedraai het, is nie altemit nie. Die punt is: wat voel jy vir hóm in hierdie omstandighede?”

“Ek kan nie help om hom steeds lief te hê nie, sus.”

Liana vou haar arms en frons. “Wat as dit blyk dat hy iets met Monique se dood te doen gehad het? Dis nie onmoontlik nie, weet jy? Misdadigers probeer hard om hulle spore dood te vee en alibi’s te kry.”

“Ek glo hy is onskuldig tot die teendeel bewys word – soos dit in ons regstelsel gebeur.”

Liana glimlag wrang. “Ja, dis die regte ding, maar ek wil net nie weer sien hoe jy deur ellende gaan as hy gekruisig word nie.”

“Ek kan nie anders nie, sus.”

Liana sug en skud haar kop. “Nee, jy kan seker nie.”

Kira lê en kyk na die bosse blomme en ruikers wat oral om haar bed staan, en die hopie kaartjies wat haar voorspoed en sterkte toewens. Haar kollegas by die fakulteit het van hulle laat hoor, sowel as mense van dwarsoor Stellenbosch en die universiteit, en sy het ’n stroom besoekers gehad. Heelparty is natuurlik net nuuskierig, maar sy waardeer al die aandag.

“Professor, hier is ’n deputasie om u te sien,” hoor sy ’n verpleegster aankondig en toe sy weer sien, is Daan Moller daar met ’n bossie rose, gevolg deur ’n groep van haar studente.

“Haai, dis gaaf van julle om my te kom sien,” lag sy.

“Ons kom prof opbeur, want ons mis jou,” sê Daan met ’n glimlag. “Ek mis veral vir prof as ek by Coetzenburg gaan draf. Lyk my prof het lyfwagte nodig. Miskien moet ek en ’n paar ouens van die rugby vir prof oppas.”

Sy glimlag. “Dis baie galant, maar lyk my dan sal julle by my moet kom inwoon. Moenie julle bekommer nie, die polisie bewaak ons.”

“Ja, hier sit ’n polisieman voor prof se deur,” sê een van die meisies.

“Daar is glo by die huis ook een. Ek het eers gesê dis nie nodig nie, maar kaptein Wiid wat die saak ondersoek, dring daarop aan. Dit laat my nogal belangrik voel,” grap sy.

Almal vra uit en sy moet antwoord en die storie in detail vertel. Hulle bespiegel en hou omtrent ’n skynhofsaak.

“Ons maak nou of dit ’n speletjie is, maar ek is regtig bekommerd oor prof,” sê Daan. “Ek het net vanoggend gedink aan daardie ou vir wie prof nou die dag op die bergpaadjie weggehardloop het. Dit was duidelik dat prof vir hom vlug. Wie is hy?”

“Toemaar, hy is weg,” sê sy. “Dis professor Brand se swaer, die broer van sy oorlede vrou. Hy is ná haar begrafnis terug Bloemfontein toe, waar hy woon.”

Daan frons en skud sy kop. “Nee, hy’s nie weg nie. Ek het hom vanoggend nog in die dorp gesien. In Andringastraat.”

Kira kyk onrustig na hom. Dewald is nie weg nie? Waarvoor bly hy dan? Hy moet mos sy besigheid gaan bedryf. As hy werklik een besit …

“Jong, dan weet ek nie. Ek het regtig gedink hy is terug Vrystaat toe.”

“Ek gaan vir prof my selfoonnommer neerskryf. Ek is mos naby, in Helderberg-koshuis. As daar enigiets snaaks gebeur, bel my, dan kom ek en my pelle vir prof help.”

Kira wil eers lag, maar sy waardeer die besorgdheid en hou haar gesig sedig. “Baie dankie, Daan, dis regtig gaaf van jou.”

Hy haal papier en ’n pen uit sy rugsak en skryf sy nommer af. Hy sit dit op die bedkassie neer.

Sy is skoon aangedaan toe almal haar plegtig groet, sterkte toewens en sê sy moet gou terugkeer. Dit klink darem asof die studente haar waardeer.

“Dankie dat julle kom kuier het. Ek is van plan om volgende week weer voor die klas te staan. Teen daardie tyd sal ek beslis sterk genoeg wees.”

Nadat hulle uit is, wonder sy oor Dewald Walters. Waarom is hy nog op Stellenbosch? Voer hy iets in die mou? Dis regtig baie verdag. Sy wonder of Reinhard weet.

Sy skakel hom onmiddellik, maar daar is net ’n spookstem wat sê sy moet ’n boodskap laat, en sy doen dit. Dalk weet hy van Dewald, dalk nie. Maar dis beter om seker te maak hy weet sy swaer hang nog hier rond.

’n Halfuur later bel Reinhard terug.

“Dis ’n aangename verrassing om van jou te hoor. Ek was net besig met ’n klas. Jy bel nie dalk oor die berig in die koerant nie?”

“Nee, ek bel nie oor die koerante nie.”

“Ek het jou … ons … gisteraand op TV gesien. Nou weet die hele land dat jy ook ’n slagoffer was.”

“Ag tog! Liana het my nie van die TV vertel nie.”

“So raak mens beroemd en berug. Waaroor wou jy praat?”

“My studente het kom kuier en een was Daan Moller, vir wie ek altyd sien as ek gaan draf.”

“Die kranige rugbyspeler wat in die eerste span is en nog Springbok gaan word?”

“Ja, daardie Daan. Hy het Dewald eendag op ons roete sien draf en dat ek vir hom weggehardloop het. Nou vertel hy my dat hy Dewald vandag in die dorp gesien het, in Andringastraat.”

Daar is ’n kort stilte. “Sowaar? Ek dag hy’s huis toe. Bloemfontein toe. Snaaks, ek moet juis nou Monique se persoonlike goed uitsorteer en weggee. Ek het dit vir hom vertel en hy het ’n paar aandenkings geneem. Sy het baie juwele en kaste vol klere. Die juwele behoort regtens aan Riaan. Ek gaan dit in die bank laat bêre en eendag as hy groot is, kan hy besluit wat om daarmee te doen. Die klere, skoene en handsakke is ’n probleem. My ma het voorgestel dat ons dit verkoop of aan die hospice se winkel gee. Wat dink jy?”

“Gee dit aan die hospice se winkel. Hulle sal darem geld daaruit kan maak, dan gaan dit vir liefdadigheid.”

“Dan maak ek so. Dankie dat jy my oor Dewald gewaarsku het. Ek vermoed hy gaan een of ander tyd met my in verbinding tree. Ag, dalk moet ek hom nooi om nog van Monique se goed te kom haal. Sy het niks aan hom nagelaat nie en hy is darem haar broer. Ek sal hom so teen môre of oormôre op sy selfoon skakel, vandag is ek te besig. Dalk is hy baie verbaas dat ek weet hy is nog hier.”

Hy gee ’n droë laggie, een wat Kira ken en wat sy altyd geniet het. Sy verlang sommer na hom, teen haar wil en beterwete, en sy wens hy kom weer kuier. Dis of die sluise nou oopgegaan het. Asof sy die lekplekkie nie meer kan toestop nie en nou stroom die vloed van die liefde in.

“Ek is bang om weer te kom kuier, want dan embarrasseer ek jou soos nou die dag toe die pers daar ingekom het, maar ek sien uit na jou terugkeer,” sê hy. “Wanneer ontslaan hulle jou?”

“Teen môre of voor die naweek, hopelik. Ek raak nou baie rusteloos.”

“Sê net as ek iets kan doen. Jou moet kom help dra, of iets.”

Sy lag. “Toemaar, Liana kan dit hanteer. En as dit moet, kan Geert help. Totsiens, Reinhard.”

“Totsiens, Kira. Ek mis jou hier langsaan.”

Melodie Omnibus 3

Подняться наверх