Читать книгу Melodie Omnibus 3 - Annelize Morgan - Страница 12

9

Оглавление

“Monique se begrafnis gaan ’n aaklige affêre wees, maar ons kan nie juis wegbly nie,” kla Liana, wat stemmig in ’n koningsblou pakkie geklee is.

Kira trek haar romp reg en kyk in die portaalspieël of haar hare nog netjies is. “Ek wonder of die polisie en ons kaptein Lucille daar gaan wees?”

“Seer sekerlik. Dit sal ’n groot begrafnis wees, want as ’n vermoorde persoon begrawe word, is daar mos ’n hele skare nuuskieriges. Sy word nie veras nie, dus kan hulle enige tyd weer haar lyk opgrawe vir verdere forensiese ondersoek, indien nodig. Ag, wat praat ek nou? Dit klink so ghoulish. Geert sal ons by die Moederkerk kry. Ons moet maar solank stap.”

Heeltyd wat hulle onder die akkerbome deur die Laan in die rigting van die Teologiese Fakulteit en om die draai na die groot wit kerk met sy hoë toring stap, dink Kira met medelye aan Reinhard. Hoe aaklig moet dit nie vir hom en klein Riaan wees nie. Ook vir Dewald, al is hy so onaangenaam, en vir Reinhard se weduweema, tant Ursula.

Sover sy weet, het Monique nie ander naby familie nie, maar die hele dorp het haar seker geken, want sy was so opvallend – ryk en mooi. Hulle het ook ’n besige sosiale lewe gehad. Monique het baie onthaal, maar die Trollip-susters het sy nie uitgenooi nie.

Nou is dit vreeslik stil by Reinhard se huis. Mense kom wel, maar daar is min besoekers, asof hulle dink hy kan dalk aandadig wees aan sy vrou se dood. Haar hart krimp by dié gedagte.

“Daar is Geert by die hek,” sê Liana. “Kyk al die mense. Die lykswa het haar kis al afgelaai. Dis seker voor in die kerk. Ek hoop ons kry nog plek.”

Geert wink. “Maak gou, ons kan nog agter in die kerk plek kry,” roep hy.

Hulle haas hulle binnetoe en Kira sien dat die kerk stampvol is, tot bo in die galerye. Sy herken baie universiteitskollegas, die rektor van die universiteit ingesluit, en ook al Reinhard se kollegas. Riki sit daar in swart asof sy rou, haar gesig sedig.

Kira se oë soek na Reinhard en sy sien die breë skouers in ’n bank heel voor. Regs van hom is Riaan en links is sy ma. Langs haar sit Dewald Walters.

Sy wil vir Reinhard golwe van onderskraging aanstuur, en weet dat wat sy vir hom voel, nie blote jammerte is nie. Sy moet aan haarself erken dat sy hom nog steeds liefhet. Haar liefde het net gehiberneer in die ystydperk ná sy verraad, maar nou ontwaak dit uit die sluimerslaap om haar te treiter.

Sy voel iemand kyk na haar en toe sy haar kop draai, maak sy oogkontak met kaptein Lucille Wiid, wat netjies in ’n grys pakkie en wit bloesie geklee is. Sy het selfs pêrels aan haar hals en ore. Lucille knik en sy knik terug.

“Hallo, ek is bly ek kry plek langs jou,” hoor sy, en Deon Schoeman skuif langs haar in.

“Hallo. Ja, die kerk bars uit sy nate.”

Voor, onder die hoë, swierige preekstoel, staan Monique se kis versier met wit lelies. Sy sidder toe sy daarna kyk, want binne is die vrou met haar wonde, leweloos en gevries soos ’n winkelpop. Sy wil nie daaraan dink nie.

Sy kyk rond en sien Lettie en Jaco Peens, albei met somber gesigte en deftig geklee. Lettie vee kort-kort met ’n sakdoek aan haar oë, maar Jaco se gesig is strak en sy oë droog.

Waaraan sou hy dink? wonder Kira. Het hy Monique tog tot die einde liefgehad en nou treur hy van binne en probeer dit vir die res van die wêreld wegsteek? Of het hy haar in ’n vlaag van woede vermoor?

Die diens is vir Kira ’n marteling, want die predikant probeer hard om Monique te prys vir deugde wat sy nie in oorvloed gehad het nie. Op die pamflet met die gesange pryk ’n foto van ’n beeldskone, laggende Monique, haar blonde hare tot op haar skouers.

Die predikant simpatiseer met die familie – versigtig, asof hy slaggate probeer vermy. Hy konsentreer op die verlies wat dit vir klein Riaan is.

Kira kyk na Reinhard se agterkop en wens sy was in ’n posisie om hom werklik by te staan en te troos, al het wat ook al gebeur.

“Sal ons ná die begrafnis gaan tee drink?” vra Deon fluisterend en onderbreek haar gedagtegang.

“Ek weet nie … Ek het eintlik nie lus om begraafplaas toe te gaan nie, maar ons sal seker moet.”

“Kyk hoe jy voel as dit verby is.”

As die diens erg was, is die teraardebestelling nog erger, dink Kira.

Reinhard en sy swaer was die voorste draers en Riaan het langs hulle gestap, sy hand in sy ouma s’n, en hy het kort-kort sy oë met sy mou afgevee. Kira se hart het vir almal gebloei.

Sy hoor skaars die predikant se woorde “Stof tot stof …” want sy kyk hoe Monique se kis in die gat verdwyn en hoe Reinhard en Riaan die eerste hande vol grond ingooi.

“Sjym, daardie arme klein kannetjie,” hoor sy agter haar en draai om na Lucille Wiid, wat opreg simpatiek lyk.

“Ja, arme ou seuntjie. Hy gaan sy ma mis.”

Agter Lucille sien sy die polisievrou wat haar die dag van die moord by Reinhard se hek voorgekeer het. Hulle is almal sowaar hier, dink sy, nes Liana voorspel het.

Kira hou Reinhard dop. Groot en indrukwekkend staan hy daar in ’n swart pak, sy gesig somber. Langs hom lyk sy swaer verpot. Dewald se gesig is wel ernstig, maar hy stort nie ’n traan oor sy suster nie. Dis veemd dat hy nie regtig hartseer lyk nie, dink sy.

Sy sug verlig toe die seremonie by die graf verby is.

“Jy kan saam met my kom as jy na die teedrinkery wil gaan,” bied Deon aan en neem haar hand. Sy wil wegtrek, maar dan laat sy hom begaan.

By die teedrinkery in die groot saal naby die kerk los Kira later die groep mense waar sy is – Liana, Deon, Geert en ’n paar kollegas – en loop na waar Reinhard met mense praat. Hy draai na haar toe hy haar sien naderkom.

“Dankie dat julle die begrafnis bywoon.”

“Ag, Reinhard, ons sou mos nooit weggebly het nie. Ek kan net vir jou sê dat ek aan jou … julle … dink en dat ek jou sterkte toewens. Dis so ’n aaklige ding om verby te kry, is dit nie?”

Hy knik. Impulsief beweeg sy nader. Dit laat haar hart in haar bors fladder toe hy haar hande neem en dit druk.

“Jy is dierbaar.” Hy buk en soen haar teer op die mond.

Hulle oë hou mekaar gevange, maar toe trek sy haar hande weg en loop.

Op pad terug na Deon-hulle sien sy dat Riki Smit haar met venyn aankyk. Liewe hemel, die vrou is jaloers, dink sy. Natuurlik is sy lankal beenaf op Reinhard. Almal spot daaroor.

Lucille Wiid, wat knibbel aan ’n toebroodjie, ’n koppie tee in die ander hand, het alles gesien. Dis heel insiggewend om vandag hier rond te loop en te kyk hoe mense hulle gedra, dink sy.

Daardie Riki Smit het beslis haar oog op Reinhard Brand. Lettie Peens staan by ’n ander vrou en lyk bedremmeld van hartseer, maar sy loer ook kort-kort in professor Brand se rigting. Wel, dié Monique was glo haar beste vriendin, al het sy en Lettie se man iets aangehad wat meer as blote vriendskap was. Die normale reaksie van so ’n vrou sou jaloesie en woede oor die verraad gewees het. Lettie behoort eintlik bly te wees dat die kompetisie uit die weg geruim is en sy haar man kan terugkry.

Jaco Peens gesels met iemand in die wynbedryf, sien Lucille. Een van die vroulike wynmakers – sy dink dis Stellenuitsig se nommertjie daardie. Nog mooi en jonk. Die man is maar ’n vrouejagter. Een minnares is skaars onder die grond en hy soek reeds ’n ander een. Dit laat Lucille aan haar pa dink. Lafhartige verraaiers. Sy kan sulke mans nie sterk genoeg veroordeel nie.

Daar gaan die Trollips en hulle aanhangers. Die man by Kira leun glad oor om elke woord te hoor wat sy sê. Dit lyk of hy die skoot hoog deur het. Reinhard Brand het sowaar daardie mooi Kira gehad, en toe beweeg hy aan na die skone Monique. Maar nou ja, ’n man soos hy sal dit mos regkry om die keur van vroue in te palm. Lyk hy nie vandag mooi nie? Selfs in ’n lanferpak.

Wel, sy het gesien wat sy wou, haar ordentlike en menslike belangstelling getoon, en nou kan sy weer gaan, besluit sy.

Dalk moet sy binnekort met Lettie Peens gaan gesels. Op hulle plaas Verkeerdevlei, in daardie pragtige Kaaps-Hollandse opstal. Sy wil graag sien hoe weelderig die Peense lewe. Sy was nog nie in so ’n plek nie. Dis seker soos die herehuis by die Dorpsmuseum.

Reinhard voel hoe die bloed uit sy wange sypel terwyl die prokureur Monique se testament lees. Hoe hanteer ’n mens so ’n nuwe skok met waardigheid? Gelukkig besit hý die huis in die Laan met al die inhoud en is hy en Monique buite gemeenskap van goed getroud, anders moes hy nou ’n nuwe tuiste gaan soek het.

Sy was altyd baie versigtig dat hy nie sy hande op haar geld kan lê nie, maar sy het verwag dat hy háár moet onderhou.

Hy kom agter dat sy swaer ook geskok en ontnugter langs hom sit, maar vir Dewald kry hy nie jammer nie. Het hy regtig verwag om van sy suster te erf? Monique was nie lief vir hom nie en het skaars van hom gepraat. Sy het hom nooit ná die troue, waar Reinhard hom ontmoet het, na hulle huis genooi nie.

Die prokureur kug. “Nou ja, dit was mevrou Brand se laaste wens: dat haar bates gelykop tussen haar twee kinders verdeel word. Aangesien die kind wat sy verwag het saam met haar oorlede is, erf Riaan Brand, haar eerste kind, alles.”

Reinhard hoor sy swaer saggies vloek, maar hyself bly sprakeloos sit.

Die prokureur kyk simpatiek na hom, want hy kan natuurlik sien hoe ’n geweldige skok dit was.

“Het … e … was u bewus daarvan dat mevrou Brand u kind verwag het?” vra die prokureur.

Reinhard skud sy kop. “Sy het my nooit vertel nie.” Die woorde kom skor uit. Hoe ’n skreiende vernedering is dit nie.

Hy dink met wrok en wrewel, amper met haat, aan sy oorlede vrou. En tog kry hy haar jammer dat sy as swanger vrou so gruwelik moes sterf. Wie sou daarvan geweet het? Indien enigeen? Sy het beslis nog nie gewys nie, maar met Riaan het sy ook lank nie gewys sy is swanger nie. Sy het ook nie oggendnaarheid gehad nie. Inteendeel, sy het blakend gesond en stralend gelyk.

Swangerskap het haar laat blom, al wou sy eintlik nie kinders gehad het nie. Sy was maar snoep met haar liefde vir arme Riaan, maar nou sal hy ten minste geldelik baat.

Die nadoodse ondersoek moes die swangerskap tog gewys het. Reinhard brand om met die kaptein te praat.

Verlig dat hy die laaste van sy swaer gesien het, staan Reinhard op die stoep van sy huis.

’n Voertuig hou voor die hek stil en hy herken die kaptein. Sy het gekom voordat hy haar kon skakel, want die testament en die gevolge daarvan het hom so besig gehou.

“Môre, professor,” groet sy toe sy naderkom.

“Môre, kaptein. Ek wou u nog skakel, maar het eenvoudig nie tyd gehad nie.”

“O? Nou ja, hier is ek. Dit was seker telepatie.”

“Kom in,” nooi hy en neem haar na die sitkamer.

Sy gaan sit en haal haar notaboekie en pen uit. “Waaroor wou u my geskakel het, as ek mag vra?”

Hy neem oorkant haar plaas en kyk haar ernstig aan. “Het die lykskouing op my oorlede vrou gewys dat sy swanger was?”

“Ja, maar dis tog iets wat u moes geweet het?” Haar oë rek. “Genade, moenie vir my sê u het dit nie geweet nie?”

“Nee, ek het nie.”

Sy druk haar vingers voor haar mond. “Oe, dis verskriklik,” prewel sy. “Ek sweer ek dag u weet.”

“Nee, ek het eers daarvan gehoor toe die prokureur haar testament bekend maak en sê dat haar bates gelykop tussen haar twee kinders verdeel moet word. Maar aangesien een nou saam met haar oorlede is, erf net Riaan.”

Lucille sluk. Sy is regtig diep geskok. “Nou kry die kannetjie … die oorlewende kind alles?”

“Ja, Riaan kry alles, maar ek dink dit kom hom toe.”

Sy staar na Reinhard asof sy probeer uitmaak of hy teleurgesteld en kwaad is oor hy niks erf nie.

“Ek het genoeg geld van my eie, kaptein. Ek het Monique se geld nie nodig nie. Riaan is ook nie mý seun nie. Sy was swanger toe ons getrou het, maar ek het dit nie geweet tot dit te laat was nie.”

Haar mond val letterlik oop. “Jissis … ekskuus.”

Watse slet was dié Monique dan? wonder sy geskok. Sy het Reinhard Brand gevang, hom weggeraap voor arme Kira Trollip, en dit verwagtend met ’n ander man se kind. Afgryslik! Immoreel!

“Hoeveel maande was Monique swanger?” vra hy. Dis of hy haar nie meer as sy vrou kan eien en haar dit noem nie.

“Die forensiese patoloog het dit op sowat ’n maand en ’n half geskat.”

Hy maak sommetjies in sy kop en kners op sy tande. Hoe kon dit sy kind gewees het as hy op daardie tydstip oorsee was om ’n maand lank ’n reeks lesings te gee? Hy het haar en Peens mos betrap toe hy terugkeer, en Monique was nie versigtig nie. Sy wou nooit op die pil gaan nie, maar het hulle dan nie ander voorbehoedmiddels gebruik nie?

Het sy gedink sy kan weer met so ’n slenter wegkom? Veral as hy die laaste tyd maar min aan haar geraak het? Was dit haar manier om hom te probeer verplig om nie van haar te skei nie? Sou sy vir almal gaan vertel het dat hy haar los net wanneer sy sy kind verwag?

Van Monique kon jy regtig enigiets verwag. Niks kan hom meer verbaas nie.

Dis sy straf omdat hy jare gelede verraad gepleeg en die vrou wat hy werklik liefgehad het bitter seergemaak het: dat die vrou met wie hy in haar plek getrou het, vir hom twee kinders sou gee, maar nie een sy eie nie.

“Professor, u is wasbleek,” sê Lucille verskrik. “Kan ek nie vir u ’n dop of iets skink nie? Waar hou u die drank?”

“Nee, ek het nie drank nodig nie, dankie.” Hy praat, maar dit voel asof sy lippe dood en styfgetrek is en sy asem uit sy longe gepers word.

Lucille vlieg op en draf kombuis toe, waar sy Soekie aantref, besig om groente te skil. “Gou, maak vir professor Brand tee met baie suiker. Hy het ’n helse skok agter die blad!”

Op pad na die Peense se plaas dink Lucille aan Reinhard Brand. Sy dag die man kry ’n hartaanval. Hy was letterlik grys in die gesig. Sowat van ’n skokreaksie het sy lanklaas gesien.

Dit het eg gelyk, of anders kan hy heluit goed toneelspeel. Die outjie wat die vermoorde se geld erf, is toe al die tyd nie syne nie. En net toe hy sy eie kind maak, word dié saam met die ma vermoor.

Indien hy die moord gepleeg het, weet hy nou dat hy sy ongebore kind ook om die lewe gebring het. As dit so is, gaan sy gewete hom tot raserny dryf.

“Sjoe! Sjoe! Sjoe!” sê sy kliphard en vee sweet van haar voorkop af.

Hierdie saak is nie sommer eenvoudig nie, dink sy vervaard. Daar peul die vreeslikste wurms uit die blik. Amper meer wurms as wat sy kan hanteer. Sy sal dinge baie mooi moet uitpluis.

Haar superintendent aan wie sy rapporteer, sal ook verbaas wees as sy hom van dié nuwe kinkel in die kabel inlig. En sal die pers dit nie opraap en uitbasuin nie!

Dalk sal Lettie Peens vandag vir haar leidrade gee wat sy nie voorheen gehad het nie.

Melodie Omnibus 3

Подняться наверх