Читать книгу Melodie Omnibus 3 - Annelize Morgan - Страница 16

13

Оглавление

Die telefoon lui net toe Lucille by haar lessenaar aankom om ’n verslag te begin skryf. Dis al ná ses in die aand en sy wil klaarkry en huis toe gaan. Die dag was lank en warm.

Sy tel op en hoop daar het nie nóg ’n aanval plaasgevind nie.

“Kaptein Wiid?” kom ’n vrouestem oor die foon. “Ek probeer u al heelmiddag in die hande kry.”

“O, ek is jammer. Ek was uit op ondersoek. Wie praat?”

“Lettie Peens.”

Aha, dink Lucille, my besoek het tog goeie gevolge. Die dame het nagedink, en nou wil sy haar hart lug. Iemand se kierangs gaan braai.

“Wat het u op die hart, mevrou?” vra sy vriendelik.

“Ek wil u iets vertel, maar dis baie vertroulik en ek wil nie hê iemand moet sien dat ons praat nie. Veral nie my man nie.”

Nog ’n aha-oomblik. “Wil u my iewers ver van u huis of buite Stellenbosch ontmoet, mevrou Peens?”

“As dit kan, vanaand nog. Miskien by die begraafplaas se hek op Onder-Papegaaiberg.” Sy gee ’n senuagtige laggie. “Niemand sal in die nag soontoe wil kom nie. So agtuur, as dit donker is?”

“Reg, mevrou. Ek sal daar wees. Watse kar ry u?”

“’n Rooi Mercedes-sportmotor.”

Hei, smart, nè? dink Lucille. Gekoop deur haar man voor die val, of dalk as ’n soenoffer oor sy gewete hom gepla het oor sy rondlopery?

“Ons sien mekaar dan agtuur,” verseker sy Lettie Peens.

Net onder die twee uur vir verslag skryf, dink sy. Dat sy honger is, moet sy maar verduur. Vanaand peul nog ’n wurm uit die blik en daarvoor kan sy aandete maar ’n ruk lank uitstel.

“Dankie dat u gekom het, kaptein,” kom Lettie Peens se stem in die donker na Lucille aan toe sy aan die passasierskant van die sportmotor inklim.

“Dis my werk, mevrou.” Diskreet adem sy die aangename geure van die leerbekleedsel en die vrou se duur parfuum in.

“Sedert u by my was, het ek baie diep gedink. Baie diep. Ek slaap ook sleg.”

“Sjym.” Lucille wag en probeer die vrou se gesigsuitdrukking in die donker uitmaak, maar dis moeilik. Haar stem se effense bewing verklap egter haar senuagtigheid.

“My man het ’n verhouding met Monique Brand gehad.”

Dis nie nuus nie, dink Lucille, maar sy hou haar dom. “Ja? Is u seker?”

“Doodseker. Ek het hom verskeie kere gevolg en gesien hy gaan parkeer kastig daar onder die bome langs die Eersterivier. Dan sluip hy oor, sommer helder oordag as hy weet die bure en haar man is by die werk.”

“Haai, mevrou, en sy was u beste vriendin?” vra Lucille kastig verontwaardig en geskok.

“Ja, die slet. Verbeel jou, sy knoop iets aan met mý man. Ek was eintlik al vriendin wat sy gehad het – ons het mekaar van jongs af geken. Toe skop sy my in die tande.”

“Ai, mans kan darem verraderlik wees. Mooi gesigte en lywe verlei hulle sommer maklik.”

“Ja, is dit nie vreeslik nie? En Jaco het nog altyd ’n oog vir ’n mooi vrou gehad. Ek leef maar daarmee saam, maar dié ding met Monique het my baie seergemaak.”

“Sjym, ek kan my indink.”

Lucille dink weer eens aan haar pa wat haar ma met kinders en al net so gelos het. Sy kry Lettie Peens regtig jammer, al verdink sy haar van gemene spel.

“Jaco het by Monique geld probeer leen toe hy in die ka- … knyp is. Maar dink jy sy het hom lief genoeg gehad om hom te help? O nee! Sy was te suinig. Sy het haar natuurlik net met hom vermaak, want sy was verveeld.”

“Regtig? Ja, ek het my ook verbeel die liefde maak mense vrygewig, maar dis seker nie altyd waar nie.”

“Nie in haar geval nie. Jy sou sweer sy het arm grootgeword. Haar man het haar onderhou, nie sy vir hom nie. Maar wat ek jou wil vertel, is veel erger as die geldleenstorie.”

Lucille leun glad vorentoe so gretig is sy om te hoor. “Wat kan dit wees?”

“Die baba wat sy verwag het, was nie haar man s’n nie – dit was my man Jaco s’n.”

Lucille snak hard na haar asem. “Nee! Wat vertel u my?”

“Die tyd toe daardie baba verwek is, was Reinhard Brand oorsee. Hy is mos dikwels besoekende professor by ander universiteite, want hy is ’n groot kundige oor opgaardamme en koelstelsels, of sulke dinge. Ek kon nog nooit mooi verstaan waaroor dit gaan nie. Ek is maar ’n boervrou.”

“Professor Brand het beweer hy het nie geweet mevrou Brand was swanger ten tye van haar dood nie. Glo u dat dit waar is?”

“Ek weet nie. Daardie Monique was so slim soos die houtjie van die galg. Sy het Reinhard juis gevang met ’n swangerskapstorie en dit was nie eens sy kind nie – ek praat nou van klein Riaan. Sy wou mos nie die pil drink nie, want sy het gesê dit maak haar vet en sy was ydel verby. Dan gebeur glipse mos.”

Lucille knik. Ja, nou is een van haar vermoedens bevestig. Jaco Peens is die pa van Monique Brand se kind en dié wete het mevrou Peens tot raserny gedryf. Dalk tot moord?

Sy is ook gaande oor die verontregte professor Brand, met wie sy simpatie en gedeelde leed het weens hulle eggenote se owerspel. Sy gun hom moontlik nie vir ’n ander vrou nie. Beslis nie vir Kira Trollip, sy ou liefde, nie.

Hy tree nou teenoor die mooi professor op asof sy liefde weer kan blom. Veral noudat sy seergekry het en hy haar kon bystaan. Baie interessant. Lettie Peens het seker gesien hoe hy Kira by die begrafnistee soen. Daar was ook ’n berig oor die aanval in die koerant wat op iets meer tussen hulle gesinspeel het en Lettie het dit seer sekerlik gelees.

“Weet u dat iemand professor Trollip aangeval en met ’n mes gesteek het?” vra sy en wens sy kan Lettie se gesigsuitdrukking sien. Sy spits haar ore vir die nuanses in die ander vrou se stem.

“Nee! Wanneer?” vra Lettie kamtig geskok.

“Eergisternag, so ongeveer elfuur.”

“Waar? In haar huis?”

“Nee, sy het die kat buite by die rivier gaan soek toe dit gebeur het. Dit was in gister se koerant.”

“Ek kan dit nie glo nie! Die duiwel is los op Stellenbosch. Is sy dood?”

“Nee, net erg in die arm beseer. Sy het ’n noue ontkoming gehad. Ons vermoed egter dit was poging tot moord.”

“Liewe deug. Jy weet, ons dorp ken nie so iets nie. Ons kry nie altyd koerante op die plaas nie en ek was heeldag te besig om dorp toe te kom.”

As jy dink ons dorp ken nie moord en pogings tot moord nie, lewe jy in ’n gekkeparadys, mevrou Peens, dink Lucille minagtend.

“Waarom sou iemand haar aanval?” wil Lettie weet.

“Dit weet ons nog nie, maar ons sal uitvind.”

Lettie krap in haar handsak. “Ek het op dié brief van Monique aan Jaco afgekom, waarin sy hom vertel dat sy hom nie weer wil sien nie en dat sy Reinhard nie vir hom sal los nie. Jy weet ons kan nie kinders hê nie, en dit was sý kind wat sy gedra het. Ek dink hy het kop verloor en haar in sy ontnugtering en woede gaan aanval.”

Sy oorhandig die brief en Lucille gryp dit amper, so gretig is sy om dit te kry.

“Dit is dalk nie die geval nie, mevrou. U raai wild, maar baie dankie vir die nuttige inligting.”

Lettie is skielik haastig. “Ek sal moet gaan. My man was by ’n vergadering en ek wil nie ná hom by die huis aankom nie.”

Lucille groet haar en klim uit die motor. Hell hath no fury like a woman scorned? dink sy vir die hoeveelste keer.

Terwyl sy huis toe ry, is sy baie agterdogtig. Dié vrou wil met alle geweld haar ontroue man inkrimineer. Skryf mense deesdae nog vir mekaar afsêbriewe? Daar is mos selfone en e-pos. Of het Monique Brand dit gedoen omdat sy nie die moed gehad het om dit in sy gesig vir hom te sê nie?

So iets kan mos as ’n bewys gebruik word dat hy kwade bedoelings teenoor Monique ontwikkel het. Waarom sou Jaco Peens dus so ’n brief bêre waar sy vrou dit kan kry?

“Kaptein, ek dink u moet kom kyk. Hier was ’n inbraak by my huis terwyl ek uit was. Die huishulp was ook nie hier nie.”

Lucille Wiid is sommer dadelik wakker. “Jinne, professor Brand, dis nou ’n ding. Het u die polisie ontbied?”

“Ek ontbied vir u en hoop u meld dit aan. U sien, die inbraak was by my oorlede vrou se kamer en dis haar goed wat gesteel is. Ons het dit nog nie uitgesorteer nie. Haar juweelkluis met die kosbaarste goed is nog hier, maar die minder kosbare juwele wat sy in laaie gehou het, is alles weg. U moet maar kom kyk, asseblief. Dit help nie ek probeer oor die foon verduidelik nie.”

“Gee my tien minute, en ek en die polisie is daar, professor.”

Sy vlieg uit die bed en gryp haar klere. Sowaar, dis verby middernag. Daar gebeur darem baie in die Laan. Asof dit al werk is wat sy het, hou daardie straat se mense en gebeure haar lekker besig.

“Dankie dat u gekom het, kaptein.”

Hy staan so groot en asemrowend in die deur met slegs ’n PT-broekie en T-hemp aan dat Lucille Wiid na asem snak. Sy moet haar egter professioneel voordoen en kug eers.

“Kyk julle manne om die huis rond, asseblief, ek gaan net eers na die toneel,” beveel sy oor haar skouer aan die twee polisiemanne agter haar. “Kom vertel my of julle spore of iets kry.”

“Volg my, asseblief,” sê Reinhard en lei haar binnetoe.

Sy is weer eens verstom toe sy die weelde van die oorlede vrou se suite sien. Dis nie bloot ’n kamer met en suite-badkamer nie, dit lyk na ’n vyfsterhotel se interieur. Laas was dit vreeslik netjies en nou lyk dit of ’n orkaan dit getref het. Die kaste van die aantrekkamer is oop en die inhoud is oor die vloer gestrooi.

“Joeg! Dis ’n gemors,” prewel sy en gaan na die venster. “Dit lyk nie asof iemand hier ingekom het nie.”

Reinhard staan nader. “Nee. Die agterdeur was oop en die alarm was af.”

Lucille kyk hom fronsend aan. “Dan het die dief mos die kode geken. Dis iemand na aan u. Dink u nie ook so nie?”

Daar is ’n siniese uitdrukking op sy gesig, merk sy, asof hy inderdaad iemand verdink.

“My swaer ken die kode. Hy het hier gebly totdat my vrou begrawe is. Ek weet ook dat hy in die dorp opgemerk is, want ’n student wat Kira Trollip ken, het haar vertel en sy het my vertel.”

Lucille haal haar boekie uit en teken dit aan. “U sê die kluis is nog onbeskadig?”

“Dis beskadig, maar nie oopgeforseer nie. Kom ek wys u.”

Hy neem haar na waar ’n skildery van die muur afgehaal is en sy sien die deur van ’n kluis. Iemand het daaraan gepeuter, want daar is krapmerke aan die buitekant, maar die kluis is nog dig toe.

“Die booswig het dit probeer oopmaak, maar gefaal,” merk sy op. “Wat vermis u alles in die kamer?”

“Soos ek gesê het, minder waardevolle juwele, aandrokke, dink ek, en persoonlike goed soos haar haarborselstel met die kam en handspieël met goudbeslag. Ek het dit vir haar present gegee en dit was nogal waardevol. Ek weet nie watter ander klere weg is nie.”

Hy loop na die hoop klere wat voor een kas lê. “Die pelsjas en nertsbaadjie is albei weg. Leerbaadjies ook. Verder weet ek nie.”

Lucille kyk verwonderd rond. “Sy het ’n helse klomp goed gehad,” glip dit uit voordat sy haar kan keer.

“Ja, sy het.”

Monique en haar man het nie dié kamer gedeel nie, besef Lucille. Daar was eenvoudig nie plek vir hom nie, dink sy meewarig. Kyk al die skoene!

Reinhard staan in die kombuis en drink koffie. Soos voorheen is die polisie die huis vol en snuffel hulle en die speurders oral. Weer eens is hy bly dat Riaan nie hier is om dit te beleef nie.

Wie sou Monique se besittings begeer? Haar stiefbroer? Haar eksminnaar Adriaan Bouwer? Maar laasgenoemde ken nie die huis of die alarmstelsel nie. Alle aanduidings is dat Dewald die skuldige moet wees. Hy het mos net ’n paar goedjies gekry.

Maar hoe kon hy so brutaal waaghalsig wees? Hy moet mos weet dat almal hom sal verdink.

“Professor, daardie swaer van u … Ek wil net ’n bietjie navraag doen oor sy omstandighede in Bloemfontein. Het u vir my kontaknommers?” vra Lucille Wiid toe sy ingehaas kom. “Ons sal hom ook moet soek, want ons moet hom ondervra.”

Reinhard gee haar Dewald se selfoonnommer en sy adres en telefoonnommer in Bloemfontein.

“Ons volg dit op, professor,” verseker sy hom. “U kan maar gaan slaap, dis al vieruur in die oggend. Moet net nie enigiets aanraak nie en hou ander mense uit, asseblief. Ons vingerafdrukdeskundige kom môre.”

“Dankie, ek sal so maak. Koffie voor u gaan, kaptein?”

Sy wil eers ja sê, maar bedink haar. “Nee dankie, professor. Laat ek maar bed kry. Môre is nog ’n lang dag. Lekker slaap, as dit moontlik is.”

“Jy ook, dankie.”

Die volgende oggend is Reinhard net klaar aangetrek en geskeer toe sy selfoon lui.

“Professor, u swaer se selfoon gee ons net ’n spookstem. Ons het polisiebeamptes na sy adres in Bloemfontein gestuur, maar hy woon glo al geruime tyd nie meer daar nie. En sy besigheid, Precious Pools, is bankrot en toegemaak,” sê Lucille Wiid.

“Nou toe nou!”

“Ons gaan hom in Stellenbosch soek. Hy is nie getroud nie, of hoe?”

“Nee. Dankie dat u my laat weet het. Ek gaan nou die sekerheidsmaatskappy skakel sodat hulle die plek van voor af kan kom beveilig.”

“Goeie idee, professor. Ek sien u netnou weer.”

Die kaptein lui af en hy staan nadenkend daar. Dis heeltemal geloofbaar dat Dewald gehoop het om iets uit Monique se boedel te kry. Hoe meer hy daaroor dink, hoe meer vermoed hy dat Dewald vir die begrafnis gekom het nie slegs oor hy verwag het om te erf nie, maar om die huis te leer ken en dit vir hom maklik te maak om toegang te kry.

Gelukkig dat hy nie die kluis oopgekry het nie, want die goed wat daarin was, is derduisende rande werd. Gelukkig is dit nou veilig in ’n bankkluis. En dit wat wel gesteel is, is in gewone terme reeds waardevol.

Die polisie is ’n kortkop agter Dewald – hy sal mos nooit wegkom nie. Wat het hom besiel, of is hy só desperaat vir geld?

Deur die sitkamervenster sien hy ’n polisiemotor stilhou. ’n Man met ’n tassie klim uit en kom na die voordeur.

Hy maak oop. “Is u die vingerafdrukdeskundige?”

“Ja, ek is. Môre, professor. Speursersant Immelman. Aangename kennis.”

Reinhard neem hom na Monique se kamer. “Doen wat u moet doen, sersant. Niemand sal u pla nie.”

Soekie kom in die gang af. “Wie is nou weer hier, Professor?”

“Die vingerafdrukdeskundige. Laat hom maar in vrede werk.”

Sy kyk senuagtig na die deur van die slaapkamer. “Om te dink dat iemand sommer hier kan inkom en ons besteel! Ek word nou rêrig bang.”

“Ek gaan die sekerheidsmaatskappy ontbied en hulle sal alles herinstel sodat ons nuwe kodes het.”

Sy selfoon lui en hy antwoord. “Kaptein Wiid? Het u my swaer opgespoor?”

“Nog nie, professor. Terloops, die polisiewag wat by die Trollips moes wees, was weg toe die inbraak gebeur het. Liana Trollip het aangedring dat hy gaan, want haar vriend het by haar gebly. Boonop het sy ’n alarmstelsel laat installeer. Dit wys jou net: mens moenie onverskillig of gemaklik raak nie. Van vandag af laat ek daardie buurt patrolleer. In julle geweste gebeur daar nou te veel snaakse dinge na my sin. Ek is in elk geval nou-nou daar – ek wil u graag iets wys.”

“U kan nou kom, want oor ’n uur en ’n half moet ek uitgaan.”

“Professor, herken u dié handskrif?”

Lucille het die brief wat Lettie Peens haar gegee het só gevou dat sy net een reël vir hom wys.

Jy hou aan om te vra en ek is nou moeg daarvoor, lees hy fronsend.

“Herken u dié handskrif, professor?”

Hy bestudeer dit ’n oomblik lank. “Dit lyk na Monique s’n. My vrou s’n. Maar waar kry u dit?”

“Ek sal u later sê, professor. Het u enige voorbeeld van haar skrif?”

“Ons kan in haar laaie gaan kyk. Of na wat sy in die telefoonboekie geskryf het.”

Hulle gaan soek en vind ’n ou inkopielys in Monique se handskrif. Lucille vergelyk dit met die brief.

“Lyk dieselfde, maar dit kan vervals wees. Ek sal dit vir ’n handskrifdeskundige gee.”

“Wat het u daar, kaptein?” vra hy, want hy kan sy nuuskierigheid nie meer beteuel nie.

Sy kyk onderlangs na hom. “Soos ek gesê het, ek sal u later wys. Op die oomblik is dit nog te vertroulik. Ek kan u net sê dat dit iets is wat ek by haar vriendin Lettie Peens gekry het.”

Hy lyk so gefrustreerd en verydel dat sy hom jammer kry.

“Sodra die handskrifdeskundige bevestig het of dit eg is, sal ek u kom wys.”

“Nou goed dan.”

Hy klink egter vies. Sy kan dit verstaan, maar sy moet hom ook nie so simpatiekgesind wees dat dit haar swak maak nie.

Melodie Omnibus 3

Подняться наверх