Читать книгу Melodie Omnibus 3 - Annelize Morgan - Страница 8

5

Оглавление

Kira haas haar na die voordeur toe die klokkie lui en daar staan kaptein Lucille Wiid.

“Môre, professor. Ek hoop ek is nie nou ongeleë nie, maar ek sal met u en u suster ’n paar woorde moet wissel.”

“Liana is dorp toe, maar ek verwag haar binnekort terug. Wil u nie inkom nie?”

“Gee u om as ons op die stoep sit? Dis ’n mooi tuin, en buitendien is dit vrek warm.”

“Goed, kom ons sit hier.”

Die kaptein neem plaas op die stoel waar Reinhard slegs ’n halfuur gelede gesit het. Kom sy ook om die nuus van Abel se dood mee te deel? wonder Kira.

Daar is iets omtrent dié jong vrou wat vertroue inboesem. Sy kan nie help om van haar te hou nie. Wat jy sien, is waarskynlik wat jy kry. Sy is oop en eerlik en het ’n aangename gesig. Nie mooi nie, maar ook nie onaansienlik nie. Bietjie oorgewig, maar alles is in proporsie. Mooi tande ook, en goed versorgde naels. Haar praat is ’n mengsel van plat en hoogdrawend, wat nogal amusant kan wees.

Karools die kat kom aangestap, stert omhoog, en vly hom teen die kaptein se bene aan. Sy buk af en streel hom.

“Haai, jou mooi ding. Is dit ’n mannetjieskat?”

“Ja, sy naam is Karools en jy kan gevlei voel dat hy by jou flikflooi.”

“Ek hou van katte, veral rooies.”

Karools loop na Kira en spring op haar skoot. Die kaptein glimlag. “Lief vir sy ounooi. Ek het ook ’n kat. Haar naam is Liefie en sy is al weer preggies … Wag, ek gesels nou nonsens en mors jou tyd.”

Met ’n saaklike gesig haal sy ’n pen en notaboekie te voorskyn.

“Professor Brand het ons van sy tuinier se dood vertel,” sê Kira.

Lucille se wenkbroue lig. “O, het hy? Ja, die arme man. Ek veronderstel hy het iets gesien en moes toe uit die weg geruim word, maar dit moet natuurlik bewys word.”

“Abel was ’n goeie mens. Ons het hom jare lank geken. Ek kon nie glo dat hy moord sou pleeg nie. Foei tog, sy arme familie.”

“Ja, ek kry sy vrou jammer. Hy’t gelukkig nie meer klein kindertjies nie, sy kinders werk al. Hulle sal darem seker na hulle ma kan kyk. Daar is ’n paar ander goed waaroor ek wonder. Hoe goed ken u vir mevrou Riki Smit?”

“Wel, ek weet sy is al professor Brand se sekretaresse van voordat hy getroud is.”

Lucille speel met haar pen en kyk af na die notaboekie asof sy aantekeninge daarin lees. Toe kyk sy Kira deurpriemend aan. “Vandat u en professor Brand verloof was?”

“E … ja.”

So, die kaptein het daardie inligting al gekry, dink Kira. En nou vermoed sy dat ek jaloers op Monique was.

Sy kyk Lucille vas aan. “Dit beteken sy is al meer as vyf jaar lank sy sekretaresse. Dis ongeveer hoe lank hy met Monique getroud was.”

“Dit moes vir u ’n vreeslike slag gewees het toe hy u los vir die oorledene.”

Is sy werklik simpatiek, of is haar stemtoon nou geveins? wonder Kira. Sy gaan maar doodeerlik met die kaptein wees, al maak dit haar dalk ’n verdagte.

“Ek het gedink ek gaan dood só seer het ek gekry.”

“Sjym, ek kan dit begryp. Nou moet ek jou reguit vra of die jaloesie aan jou gevreet het?”

“Ja, natuurlik het dit. Ek het Monique gehaat en wou nie met haar vriende maak nie, maar dit beteken nie dat ek haar sou vermoor nie. Teen dié tyd het ek mos al vrede gemaak met die verlies.”

Lucille maak ’n gebaar met haar hand. “Ek beskuldig u nie, professor, ek vergewis my maar net van alle vorige verhoudings wat professor Brand gehad het.”

“Ek vermoed Riki Smit het oor my by u geskinder?”

Die kaptein grinnik, maar lyk asof sy haar bedink en die grinnik verdwyn byna onmiddellik. “Ja, sy het heelwat te vertel gehad.”

“Dan ken u mos my storie in detail,” merk Kira droog op.

“Ek moet dit van u kant ook hoor – nie net van iemand wat dalk nydig of bevooroordeeld is nie.”

“Dink mevrou Smit dat ek tot moord in staat was ná al die tyd wat verbygegaan het?”

“Helaas, ja. Maar ek kan nie te veel uitwei nie. Ek vermoed egter dat haar lojaliteit aan die professor ietwat … e … oordrewe is.”

Lucille kyk hoe die mooi vrou voor haar hierop reageer. Gaan sy jaloers wees? Dit sal insiggewend wees.

Kira pers haar lippe opmekaar. “U bedoel dis meer as lojaliteit? Eerder verliefdheid? Sy was nog altyd gaande oor hom.”

Lucille skud haar kop meewarig. “Ai, dis nou die soort man wat vroumense die sonde in sal lei. Ekskuus, dis baie onprofessioneel van my om dit kwyt te raak.”

Kira glimlag wrang. “Maar dis ongelukkig waar. Op skool en universiteit het die meisies vreeslik vir hom geval en ek het destyds besluit dis iets waarmee ek maar moet saamleef. Ek is nie van nature jaloers en besitlik nie. Dis net …”

“Toe Monique in sy lewe gekom het dat u jaloesie ervaar het?”

Kira sug. “Ja. Ek het maar te goed gesien dat ek nie by so ’n beeldskone en ryk meisie kon kers vashou nie.”

“Skoonheid vergaan, maar deug bly staan. Geld is ook nie alles nie.”

Kira kyk verbaas na haar.

“Mense word maklik deur skoonheid verblind,” voeg Lucille by. “Daardie man het blykbaar ’n prys betaal … Maar nou sê ek te veel.”

Sy skryf iets in haar boekie en Kira hou haar dop. Daar is iets simpatieks omtrent dié kaptein, dink sy. Sy is nie ’n harde polisievrou wat lyk asof sy al alles aan die skadukant van die lewe gesien en beleef het nie.

“Was u al ooit verlief, kaptein?” vra sy.

Die bruin oë ontmoet hare en in hulle dieptes sien sy meteens kwesbaarheid.

“Ek was al. Dit het nie uitgewerk nie. Ons was saam in die polisiekollege.”

Dan weet jy hoe seer maak ’n liefdesteleurstelling, dink Kira.

Lucille skraap haar keel. “Nou ja, dit is seker maar goed dit het nie uitgewerk nie, want ek hou van my werk, terwyl Soois wou hê ek moes gou ophou en kleintjies kry.”

Nee, dink Lucille, die seerste was toe haar pa met ’n ander vrou weggeloop het en hulle – haar hartseer ma en hulle drie kinders op laerskool – net so gelos het. Maar sy gaan dit nie voor dié vreemde vrou noem nie, al lyk sy ook hoe goedhartig. Voorkoms kan misleidend wees. Buitendien wil sy nie hê Kira Trollip moet haar jammer kry nie. Sy moet ook nie lyk asof sy swak plekke in haar mondering het nie.

“Het u geweet dat mevrou Smit karate geneem het?” vra sy die professor, wat haar met ’n skuinsgedraaide kop sit en betrag asof sy haar hart en gedagtes kan lees.

Kira is opreg verbaas. “Nee. Het sy al ’n swart gordel of iets?”

“Nee, nog nie, maar sy het lank karate geneem en sy beweer sy kan haar teen enige aanvaller verdedig.”

“Dit beteken dat sy nie so tingerig is soos sy voorkom nie.”

“Juistemint. Sy is sterker as wat sy lyk.”

Kira lig een wenkbrou vraend. “Is sy ook ’n verdagte?”

“Wel … ja. Sy het net soveel rede soos enigiemand anders gehad om ’n wrok teenoor mevrou Brand te koester. Jaloers te wees.”

Ná ’n stiltetjie vra sy: “Hoe laat gaan u in die oggende draf?”

Kira is dadelik op haar hoede. “Ek staan sesuur op en draf ongeveer ’n halfuur tot ’n uur lank.”

“Het u die oggend van mevrou Brand se dood enigiemand of enigiets verdags gesien of gehoor?”

“Nee. Die straat was stil. Anderkant die rivier het ek studente gekry wat ook draf. Ek het agtergekom iets is nie pluis nie, want ek het al van die berg af gehoor dat sirenes hier onder loei. Toe ek terugkeer, sien ek die polisievoertuie en ambulans voor die Brands se huis staan.”

Lucille skryf in haar boekie, dan klap sy dit toe. “Ek wou eintlik met u suster ook gesels het.”

“Sal ons tee drink en haar nog tyd gee om op te daag?”

“Dit sal gaaf wees, dankie.”

Kira gaan kombuis toe. Sy kom agter dat sy liggies bewe. Genade, wat gaan nou met my aan? wonder sy. Ek hoef mos nie bang te wees nie.

Om haar kalmte te herwin, maak sy sommer self tee. Sy is verlig toe sy Liana se motor hoor aankom. Dankie tog vir ’n weerligafleier.

Liana en die kaptein is druk aan die gesels toe sy met die skinkbord tee op die stoep uitgaan.

“Haai, sus, Lucille vertel my nou wat die nadoodse ondersoek opgelewer het,” sê Liana.

Kira sit die skinkbord neer. “Dis seker taamlik voor die hand liggend, of hoe?”

Lucille kug. “Mevrou Brand is met ’n mes gesteek waarvan die lem breed is, soos ’n slagtersmes. Die tuinier is oor die kop geslaan met ’n harde, stomp voorwerp. Hy is ook in die gesig geslaan of geskop. Die persoon of persone wat albei moorde gepleeg het, moes sterk gewees het.”

Kira voel hoe haar maag draai. “Hoe aaklig! Dis nie te sê ’n man het dit gedoen nie, is dit?”

Lucille skud haar kop. “Nie noodwendig nie. Ek sou dit byvoorbeeld ook kon regkry.”

“Sal Reinhard nou sy vrou kan begrawe?” vra Kira.

“Ja, hy sal binnekort kan.”

Liana skink ’n koppie tee en gee dit vir die kaptein aan. “Jy het gesê jy wil my oor iemand uitvra.”

Lucille skink eers melk in haar tee en voeg drie lepels suiker by. “Ja. Hoe goed ken u … julle … die Peense?”

Kira en Liana wissel ’n blik. Kira weet sommer haar suster dink ook aan Geert se bewering dat Jaco Peens baie by die rivier geparkeer het.

“Ons ken hulle van sien en so aan, maar ons is nie vriende nie,” sê Liana. “Lettie Peens en Monique Brand het alewig oor en weer gekuier. Ek skat hulle was beste vriendinne.”

Moedswillig sê Kira: “Waarom vra jy?”

Haar vermoede dat Riki weer geskinder het, word beaam, maar nie op die manier wat sy verwag het nie.

“Mevrou Smit beweer dat meneer Peens geld by die Brands wou leen, want hy is glo in finansiële moeilikheid.”

“Wat? Ek dag Jaco Peens rol in die geld,” roep Liana uit. “’n Ander ou se geldsake is ook dikwels duister.”

Lucille kyk haar onderlangs aan. “Professor Brand het glo geweier.”

Kira frons. “O, en toe probeer Jaco dit uit Monique kry?”

“Hoe weet u dit?” vra Lucille onmiddellik.

Kira kan haarself skop. Nou moet sy verduidelik. “Nee, ek bespiegel maar net. Sy was in eie reg glo skatryk. Hulle was in elk geval goeie vriende.”

Die kaptein kyk bykans agterdogtig na Kira. “Sou u beweer dat sy hom besonder simpatiekgesind was?”

“Sy motor is onlangs dikwels hier naby geparkeer gesien.” Kira kry dadelik spyt dat sy dit verklap het.

Liana sien blykbaar haar ongemak, want sy kom tot haar redding. “Geert de Boon, my vriend wat langs professor Brand woon, het dit beweer.”

Kira kyk hoe die kaptein die inligting registreer en dat sy weer ’n aantekening in haar boekie maak.

“Meneer De Boon is ’n prokureur met ’n praktyk op die dorp, nè?” sê-vra die kaptein.

Kira knik. “Ja, hy is.”

“Jou tee word koud, Lucille,” sê Liana. “Terloops, jy kan maar die ge-u los. Ons is Liana en Kira – ons is nie formele mense nie.”

Lucille roer haar tee en teug daaraan. Sy knik instemmend, al keur sy dit nie regtig goed dat ’n mens te eie raak met getuies en verdagtes nie. Sy ken Liana darem al ’n paar jaar lank. Die twee susters het haar in elk geval pas ’n goeie leidraad gegee. Wat as die Peens-kêrel uit magtelose woede vir Monique Brand aangeval het? Nadat sy ook geweier het om hom te help, en dit terwyl hy desperaat is?

Was hy nie dalk verlief op haar nie? Toe wil sy niks meer van hom weet nie en hy word so kwaad dat hy haar vermoor? Passiemoorde het immers baie variasies.

Die tuinman het dit gesien en toe slaan Peens hom katswink en gaan gooi hom in die rivier. Hy sal sterk genoeg wees om dit te kan doen, en sonder dat iemand hom sien, natuurlik. Wel, dis nog ’n moontlikheid om op te volg.

Liana skink vir haar ook tee, maar sy staan en kyk na Lucille. “Dis natuurlik moontlik dat Jaco Peens ’n vreeslike uitval met Monique gehad het … Wag, ek moet liewer nie jou werk oorneem nie.”

Lucille se oë is waaksaam. “Professor Brand was weg en die honde het meneer Peens geken omdat hy gereeld hier gekuier het?”

“Nee, wag,” sê Kira. “Waarom sou hy Monique wou doodmaak as hy dalk ’n verhouding met haar gehad het?”

“Hier’s ’n baie groot slang in die gras,” knik Lucille.

“Lettie,” sê Liana opgewonde. “Sy het uitgevind en in haar woede, vernedering en jaloesie haar mededinger vermoor.”

“Daar is nou so baie verdagtes dat arme Lucille nooit die saak opgelos gaan kry nie,” merk Kira droog op.

Lucille kyk uitdagend na haar. “Watch my. Ek sal dit nog uitpluis, al is daar hoeveel aandagafleiers. Hierdie saak gaan my maak of breek.”

“Dan hoop ek dit maak jou,” sê Kira en sien met verbasing dat Lucille vir haar die mooiste glimlag gee.

“Dankie vir die tee, maar ek moet nou gaan,” kondig sy aan. “Julle was vandag ’n groot hulp.”

Melodie Omnibus 3

Подняться наверх