Читать книгу Melodie Omnibus 3 - Annelize Morgan - Страница 13

10

Оглавление

Lucille snak letterlik na haar asem toe sy op die lowerryke werf van die spogplaas Verkeerdevlei inry en voor die imposante herehuis stilhou. “Verkeerd” is wat sy met dié mense assosieer, dink sy. Die naam pas hulle.

Op die ryklik versierde krullerige gewel staan Anno 1810. Jissim, dink sy, dis een van die oudste plase in die distrik wat seker deur goewerneur Simon van der Stel aan ’n Hollandse vryburger gegee is. Toe beland dit uiteindelik in die Peense se besit – Jaco is al die hoeveelste geslag wat hier boer. Van dié plase het hulle in geskiedenis op skool geleer.

Die mense lyk ryk, maar die skyn bedrieg alte dikwels, soos sy al menigmaal in haar werk agtergekom het. Agter hierdie imposante fasade gaan dit heel waarskynlik beroerd. In elk geval wat die Peens-huwelik betref, as hy daardie slet van ’n Monique aangehang het.

Twee groot rottweilers hardloop haar tegemoet en sy praat eers gerusstellend met hulle. Sy hou van honde, veral dié soort. ’n Lekker afskrikmiddel vir diewe oor hulle swart en baie fris en kwaai is. Mense is mos banger vir swart honde as vir ander.

Sy sien mense in die tuin werk en die sonbesies tjirr in die hitte. Om darem so ’n tuin te hê, kan net ’n voorreg wees. Op die hange van die heuwels om die huis sien sy die wingerde oploop, groen en vrugbaar. Peens is bekend vir sy wyn, maar sy het uitgevind dat hy die afgelope jaar gekroek het met uitvoere en nou is hy in die moeilikheid.

Stadig stap sy by die trappies van die stoepie op, terwyl die honde aan haar ruik en hulle neuse oral probeer indruk. Sy lui die voordeurklokkie. Daar is ’n koperklopper in die vorm van ’n leeu met ’n ring deur sy nek op die breë houtdeur en sy kletter dit ook sommer.

Die deur gaan oop en ’n netjiese meisie in uniform staan daar. Halló, die mense het seker ’n huis vol bediendes.

“Ek is kaptein Wiid; ek kom mevrou Peens sien,” kondig sy haarself met die nodige waardigheid aan.

Die meisie lyk half verskrik, half agterdogtig, asof sy moeilikheid verwag. Dalk die balju van die hof omdat hier slegte skuld is? dink Lucille geamuseer, maar sy hou haar gesig ernstig.

“Kom in, kaptein. U kan in die voorkamer wag as u nie omgee nie. Ek gaan roep vir Mevrou.”

Lucille gaan sit op een van die stoele met ’n antieke voorkoms. Sy kyk rond na die kandelare, die skilderye, die Persiese matte op die blink teëlvloer, die stinkhoutkaste en alles wat kosbaar is. Dis regtig soos sy verwag het, soos ’n museum, dink sy. Sou dit nou lekker wees om hier te bly? Niks is uit plek nie en jy durf seker nie mors nie. Nie baie huislik nie.

Sy vergelyk haar eie klein woonstelletjie hiermee en sug. Twee uiteenlopende wêrelde sowaar.

Lettie Peens kom in, uitgevat asof sy kerk toe gaan. “Môre, kaptein. Ek kan nie dink waarom u my wil sien nie.”

Lucille staan op. “Ag, ek het mos maar my roetine-ondersoeke, mevrou. Jammer as ek steur, maar my superintendent het my gestuur.”

Sy wil nou nie die vrou mislei nie, maar die hoë rang van die offisier sal haar dalk beïndruk.

Lettie Peens gaan sit op ’n hoërugstoel, so op die rand, asof sy wil vlug. Lucille gaan sit ook weer. Hulle kyk vir mekaar.

“E … daar is net iets wat ek wil uitklaar, mevrou,” begin Lucille en merk dat die vrou ongemaklik lyk. Dat dit lyk asof sy sweet hier in die koel voorkamer waar die mure van ouds dik gebou is om die hitte uit te hou.

Waarvoor is sy bang?

“Mevrou Peens, u was goed bevriend met oorlede mevrou Brand.” Sy wag.

“O ja, ons was beste vriendinne,” beaam Lettie Peens en kry skielik ’n hartseer uitdrukking op haar gesig. “My arme vriendin, om so wreed te sterf.”

“Weet u dat sy ’n baba verwag het?”

Lettie Peens se gesig word eienaardig rooi.

“Nee, ek het nie geweet nie! Hoe absoluut verskriklik!” roep sy uit asof sy totaal in die duister was en nou die skok van haar lewe kry.

Lucille se goed geslypte instink en mensekennis sê onmiddellik vir haar dat die vrou jok. Die rooi kolle is nou in haar nek sowel as op haar gesig.

“Is dit nie iets wat vriendinne mekaar vertel sodra dit gebeur nie?” vra Lucille gemaak verbaas. “’n Mens is mos trots as jy ’n baba gaan hê.”

Lettie skud haar kop. “Monique het my nooit in haar vertroue geneem nie. Ek sou ook gedink het sy sou my vertel, maar sowaar, sy het nie.”

“Is daar enige rede waarom nie, dink u?”

“Nee, hoe sal ek nou weet?” vra Lettie oordrewe verontwaardig. “Dalk wou sy nie die kind gehad het nie …”

Sy byt op haar lip asof sy dink sy het haar mond verbygepraat, merk Lucille se skerp oë.

“Ek sou dan dink sy is trots om die kind van so ’n uitstaande man soos professor Brand te kry?” treiter Lucille haar opsetlik. “Hy is slim en mense kyk op na hom. Ek sou boonop hoop die kind – as dit ’n seun is – lyk na hom. Hy is besonder manlik en aantreklik.”

Lucille kan sweer Lettie Peens bewe.

“Hy ís geweldig aantreklik …” Sy sluk weer haar woorde.

Nóg ’n bewonderaar van die macho professor sit hier voor haar, dink Lucille meewarig. Maar wie kan hom ook miskyk? Hy is seker die verruklikste man in die Kaap. Amper soos ’n filmster. Amper te goed om waar te wees.

“Ek huiwer om so iets te beweer, maar was hy die pa?” waag Lucille dit. Sy vermoed sy oortree nou allerhande reëls, want sy lê dalk woorde in dié vrou se mond en Lettie lyk nie vir haar te intelligent nie.

Lettie se rooi kolle is nou aaneen rooi; sy lyk amper soos ’n beet. Lucille sien sweet op haar voorkop pêrel ten spyte van die koel vertrek.

“Waarom wonder u of hy die pa was?” vra Lettie skerp, bykans bitsig.

Lucille kyk haar kastig met groot oë aan. “Professor Brand het ook nie geweet sy vrou verwag nie,” deel sy Lettie Peens met ’n lae, dramatiese stem mee. “Maar hy weet nou.”

“O hemel,” prewel die vrou en lyk asof sy flou gaan word.

Voor Lucille se oë verdwyn die rooi en verbleek sy tot lakenwit. Dis die fassinerendste verskynsel, dink Lucille tevrede.

“Het u enige kinders, mevrou Peens?”

“N- … nee …” Dis so sag dat Lucille haar ore moet spits om te hoor.

“Mag ek vra wat die rede is, of is dit te pynlik?”

Lettie lyk soos ’n vis op droë grond wat gaap vir asem. “Ek kan nie kinders kry nie,” prewel sy. “Ek moes ’n histerektomie ondergaan.”

“Sjym,” sê Lucille simpatiek. Sy steek die feit weg dat sy ingenome is met haarself. Hier het sy ’n kishou geslaan.

Nou is daar twee moontlikhede, dink Lucille terwyl sy die vrou sit en betrag. Nommer een: Haar man is dalk die pa van daardie kind wat die skone maar losbandige mevrou Brand verwag het, en nou weet die professor dit ook. Nommer twee: Lettie Peens het uit jaloesie die moord gepleeg en is geskok omdat sy die ongebore kind ook vermoor het. Kindermoord behoort teen enige normale vrou se grein te gaan.

Lucille staan op en groet. “Ek gaan dan maar eers, maar ek sal weer met u praat, mevrou. Moet asseblief nie Stellenbosch verlaat voordat ons die ondersoek afgehandel het nie.”

Kira is effens geïrriteerd toe sy die deur vir kaptein Lucille Wiid oopmaak.

“Ek is jammer om al weer ’n pes te wees,” maak die speurder verskoning, “maar daar is net ’n klein dingetjie wat ek moet opklaar.”

Kira onderdruk ’n sug. “Kom in, Lucille. Ek sien werkstukke na, maar ek het darem genoeg tyd daarvoor.”

Hulle stap sitkamer toe. “Waarmee kan ek help?” vra sy toe hulle gaan sit het.

“Jy draf mos daar by Coetzenburg die berg op. Is daar iemand wat jou op die dag van die moord gesien het wat jou kan identifiseer?”

Kira kyk haar onrustig aan. Dit klink asof sy ’n verdagte is!

“Laat ek dink. Ja … daar is ’n student wat altyd dieselfde tyd draf. Ons het al gesels. Hy is in my derdejaarsklas en in Helderberg-koshuis. Hy speel rugby vir die eerste span van sy koshuis en vir die universiteit. Sy naam is Daan Moller.”

“Dink jy ons kan hom gaan soek? Ek wil net uitsluitsel kry.”

“Jy dink tog nie ék het Monique Brand vermoor nie?” vra Kira met ’n ongemaklike laggie. “Waarom sou ek so iets doen?”

Lucille kyk skalks na haar. “Jy was vroeër verloof aan professor Brand en toe trou hy met haar …”

“Ag nee! Ek sou tog nie jare daarna die vrou wat hom afgevat het, gaan staan en vermoor nie. Ek is lankal oor die ding.”

Lucille tik met haar pen teen haar voortande. “Lyk my al die vroumense wat met hom te doen kry, vrek oor hom. Ek sou blerrie kwaad gewees het as ’n ander vrou hom voor my neus weggeraap het. Dit lyk nie vir my of jy en hy vyande is nie.”

Kira kyk haar verontwaardig aan. “Natuurlik is ons nie vyande nie. Ons is vriende. Ek het hom lankal vergewe.”

Sy is nie seker of sy die waarheid praat nie. Het sy hom werklik vergewe? Kan hulle bloot vriende wees as hy haar hele wese oorstuur en haar met verlange en begeertes vul wat haar snags laat wakker lê?

“Julle is besonder goeie vriende – die soort wat vibes het.”

“Wat suggereer jy?” vra Kira kwaai.

“Nee, net wat ek sê. Ek kan mos sien as mense baie van mekaar hou. Kan ons daardie student gaan soek?”

“Ja, ek dink ons moet hom beslis gaan soek. Ek vermoed sy koshuis oefen rugby op Coetzenburg dié tyd op ’n Woensdag. Anders kan ons hom by die koshuis gaan soek.”

“Sal ons sommer nou ry? Jy kan saam met my ry. Dit sal nie lank vat nie.”

“Ja,” sê Kira en beteuel haar humeur met moeite. Dis tog verregaande om te dink dat sý Monique vermoor het, dink sy wrokkig.

Maar jy het ’n motief gehad en jy hét haar dikwels weggewens, treiter die stemmetjie van haar gewete.

Hulle ry die kort entjie tot by die rugbyveld, waar die mans met oefeninge besig is.

Lucille parkeer. “Sjoe, hier is darem vir jou beefcake, hoor,” grinnik sy. “As ek ’n damestudent was, het ek hier vir my ’n stukkie kom soek. Skuus, ek is nou sommer laf. Kyk of jy jou student gewaar.”

Kira weier om geamuseer te word, want sy is gebelg, verontwaardig en vies.

“Ons moet maar naderstap,” stel sy kil voor.

Hulle loop tot langs die veld en die son bak neer. Kira kry warm en merk dat Lucille se wange bloedrooi is.

Dit neem Kira ’n hele rukkie van soek tussen die klomp manstudente voordat sy Daan Moller gewaar.

“Daar!” beduie sy. “Daardie groot ou met die rooierige hare. Daar waar hulle push-ups doen.”

“Oukei. Ons kan hulle seker nie onderbreek nie, anders word die afrigter kwaad.”

“Nee, ons sal seker moet wag.”

Kira kan skree, want hulle wag uiteindelik byna ’n halfuur voordat die manne klaar is. Sy haas haar oor die gras, met Lucille op haar hakke.

“Daan!” roep sy en wuif. “Daan!”

“Hei, Daan, jou meisie roep jou,” bulder een van die ander, maar toe Kira naderkom, kyk hy haar verbaas aan. “Ekskuus, professor. Ek het nie gesien dis u nie.”

Sy knik ’n groet. “Hierdie is nog een van my studente,” verduidelik sy vir Lucille.

“Ek gaan roep hom, prof,” bied die student aan en draf agter Daan aan.

“Jis, hulle sien jou vir ’n jong ding aan, nè?” terg Lucille. “Van ver af lyk jy so.”

Daan en die ander student kom aangedraf en Kira sien dat Daan vreeslik verbaas lyk. Sy kan nie help om van verleentheid te bloos nie.

“Prof soek my?” vra hy en kyk van haar na Lucille.

“Ja. Daan, dis kaptein Lucille Wiid, van die Stellenbosch-polisie se speureenheid. Lucille, dis Daan Moller.”

Hy kyk verras na die kaptein. “Aangename kennis. Het ek iets gesondig dat ’n speurder my hier kom soek? Ek weet ek het spoedkaartjies, maar ek dag dis die verkeerspolisie se job om my te kry.”

Lucille grinnik. “Ek kom net verneem of jy professor Trollip die oggend van 20 Februarie gesien het toe jy met die bergpaadjie opgedraf het.”

“Wat? Ja, ek het seker. Ons sien mekaar elke oggend.” Hy kyk vraend na Kira. “Wat gaan aan, prof?”

“My buurvrou is daardie oggend vermoor en kaptein Wiid wil net seker maak dat ek dit nie gedoen het nie. Ek soek dus ’n alibi.”

“O ja, prof Brand van ingenieurswese se vrou. Ek onthou nou, dit het helse opslae gemaak.” Fronsend dink hy. “Dis nou moeilik.”

“Kan jy onthou dat daar op daardie oggend sirenes geloei het toe ons op pad ondertoe was?” por Kira hom aan.

Sy gesig verhelder. “O ja, ek onthou! Ons was albei op pad af en toe hoor ons dit. Ek het nog teenoor my pelle gespot dat die koshuis dalk aan die brand is.”

“Ja?” Kira kyk hom afwagtend aan.

“Ja, ek het vir prof op die gewone tyd gesien – dit wil sê so tussen ses en sewe. Dink ek. Ja, ek het.”

Kira voel asof sy kan gil oor hy so twyfelend oorkom, maar Lucille knik.

“Oukei. Dankie vir die hulp, Daan.”

Toe hulle terugloop motor toe, kyk Kira skelmpies na Lucille. Sy is stil en lyk ingedagte. Is sy nou gerusgestel, of nie? Sy wil die kaptein nie pols nie, want dan lyk dit soos die vrees van ’n skuldige mens.

“Jammer dat ek jou uit die werk gehou het, maar nou voel ek beter,” sê Lucille toe sy Kira aflaai.

“As jy beter voel, voel ek ook beter. Totsiens.”

Terug in haar studeerkamer by haar nasienwerk, kom Kira agter dat haar hart rukkerig klop, asof sy skuldig is en amper uitgevang is. Dis nou ’n verspotte reaksie, dié vrees as sy niks verkeerd gedoen het nie.

Melodie Omnibus 3

Подняться наверх