Читать книгу Oorkom jou vrees - Benescke Janse van Rensburg - Страница 10

Оглавление

6

Oorkom jou vrees met die wete dat God in beheer is

1 Korintiërs 13:12

Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.

Psalm 46:11–12

Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting.

Na aanleiding van ’n dagstukkie (hoofstuk 18) waarin ek geskryf het dat God se gedagtes nie ons gedagtes is nie en dat Hy altyd die groter prentjie sien wanneer ons net ’n gedeelte sien, deel ek graag hierdie e-pos wat Johan Oosthuizen uit Kasakstan gestuur het.

Hy skryf: “My stiefpa, vir wie ek baie lief was, het ’n tyd gelede ernstig siek geword en is in die hospitaal opgeneem. In dieselfde tyd het ’n buitelandse prediker spesiale dienste by ons kerk gelei. Een aand na afloop van die kerkdiens het die prediker ’n uitnodiging gerig aan alle siekes in die gehoor (of diegene wat namens ’n siek geliefde wou instaan) om na vore te gaan sodat hy vir ons kon bid. Ek het dadelik namens my stiefpa vorentoe gegaan.

“Die prediker het vir almal voor my in die ry gebid. Toe hy by my kom, het hy egter nie vir my gebid nie, maar na die persoon langs my beweeg. Ek is teleurgesteld huis toe. Toe ek by die huis kom, het ek ’n oproep van my ma gekry met die hartseer nuus dat my stiefpa aan ’n hartaanval gesterf het.

“Ek is die volgende aand terug kerk toe. Na afloop van die diens het ek die prediker gevra hoekom hy nie die vorige aand vir my gebid het nie. Hy het geantwoord dat God aan hom gewys het dat my stiefpa ernstig siek was. As hy vir hom sou bid, sou my stiefpa leef, maar dan sou hy later ’n veel erger dood sterf. In die nadoodse ondersoek het ons uitgevind dat my stiefpa kanker gehad het. Dit is nie tydens sy lewe gediagnoseer nie. God het hom dus daarvan gespaar.

“Ek het opnuut besef dat God almagtig is. Wanneer Hy soms nie ons gebede beantwoord nie, is Hy heel moontlik eintlik besig om ons te beskerm!”

Johan is reg. God sien die hele legkaart waar ons net ’n deel daarvan sien, en daarom vrae vra en wonder of God van ons vergeet het. In 1 Korintiërs 13:12 lees ons: “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”

Koning Hiskia se lewe is ’n voorbeeld hiervan. Hy was ’n gelowige en godvresende man wat in die bloeityd van Juda geregeer het. Hy het egter ernstig siek geword. Op sy sterfbed het hy God gesmeek dat God nie sy lewe sal beëindig nie. God verhoor toe sy gebed en verleng sy lewe met vyftien jaar (2 Konings 18).

In hierdie ekstra vyftien jaar het Hiskia egter toegelaat dat trots ’n houvas op sy lewe kry toe hy by die Babiloniërs met sy weelde en besittings begin spog het en vergeet het dat dit ’n genadegawe uit God se hand is. Hiskia se seun Manasse is ook in hierdie tyd gebore. Hy het afgode gedien en het ’n ernstige straf oor die volk gebring. Sou Hiskia beter af gewees het as sy lewe nie verleng is nie? Heel moontlik.

Waarvoor smeek jy God vandag? Soms moet ons ons aan die woorde in Psalm 46:11–12 herinner: “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ’n beskutting.”

Wanneer slegte dinge oor ons pad kom, is ons geneig om God te bevraagteken. Is dit nie eerder tyd dat ons Hom daarvoor moet dank nie? Onthou, Hy verander nooit nie. Hy bly ’n God van liefde wat jou oneindig liefhet en wat jou wil beskerm. Waar ons nou net gedeeltelik sien, sien Hy die volle prentjie. Kom ons bedaar dus en herinner ons daaraan dat Hy gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is. Kom ons dink daaraan dat al maak dinge nie nou sin nie, ons eendag alles sal verstaan wanneer ons die volle prentjie sien soos Hy dit sien. Sterkte.

Gebed

Vader God, baie dankie dat U die toekoms ken en my daagliks wil beskerm. Help om my te bedaar en opnuut te besef dat U God is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Besprekingsvrae

1 Was jy al in ’n situasie waar jy vrae aan God gestel het oor ’n moeilike gebeurtenis in jou lewe? Hoe het jy dit hanteer?

2 Hoe het jou perspektief oor die situasie verander as jy nou terugkyk?

3 Lees 1 Korintiërs 13:12. Wat beteken hierdie teksvers vir jou?

4 Lees Psalm 46:11–12. Watter berusting bring hierdie teksvers jou?

5 Hoe gaan jy in die toekoms anders kyk na uitdagende situasies, wanneer jy nie noodwendig antwoorde het om die situasies te verduidelik nie?

Oorkom jou vrees

Подняться наверх