Читать книгу Oorkom jou vrees - Benescke Janse van Rensburg - Страница 9

Оглавление

5

Leef vreesloos met die wete dat God steeds wonders verrig

Markus 11:24

Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

Johannes 16:23

Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee.

Deuteronomium 33:27

Die ewige God is ’n skuilplek, sy arms is altyd onder jou.

Hier is stories van ’n paar lesers wat getuig hoe God hulle in hul nood ondersteun en gehelp het.

Barbara vertel: “My ouers woon op ’n plaas in die Bethal-omgewing. Een Sondagoggend ’n paar jaar gelede het ’n man aan hul voordeur geklop en vir geld gevra. My pa het gesê dat hy nie geld by hom het nie, maar dat hy wel vir die man kos sou gee. Hy het na die kombuis gestap om die kos te kry. Toe hy terug by die voordeur kom, het die man hom met ’n vuurwapen gedreig. Die aanvaller het my pa beveel om op sy maag op die grond te gaan lê. My pa het dit gedoen, maar op sy rug gedraai en die aanvaller reguit in die oë gekyk. My ma het die hele gebeurtenis geskok dopgehou van waar sy buite die huis agter die druiweprieel geskuil het.

“Terwyl die aanvaller die vuurwapen op my pa rig, het my pa aangehou bid dat God hom moet beskerm. Die aanvaller het ’n paar keer die sneller van die pistool probeer trek, maar niks wou gebeur nie. Toe hy dit besef, het hy in vrees omgedraai en weggehardloop. My ouers het die boeregemeenskap en die polisie ontbied. Die aanvaller is later deur die polisie in die landerye naby die huis aangekeer nadat hy op die polisie geskiet het – met dieselfde pistool wat hy vroeër op my pa gerig het! Ek dank God dat Hy daardie dag by my ouers op die plaas was en ek twyfel nie vir ’n oomblik dat wonderwerke vandag nog gebeur nie!”

Paula vertel: “’n Paar jaar gelede was daar ’n ander vrou in my man se lewe. Dit was vir my geweldig traumaties en in ’n stadium het ek onder die druk geswig, ineengestort en in ’n kliniek beland. Alhoewel ons nie deur ’n egskeiding is nie, het my man nie meer sy trouring gedra nie. Dit het in ’n houertjie in ons huis gelê. Ek wou dit laat smelt het, maar iets het my gekeer. Dit is immers vir my die mooiste ding as ’n man sy trouring met trots dra.

“Ná jare se gebede waarin ek vir God gevra het om my man aan te raak en met hom te maak soos Hy wil en nie net soos ek wil nie, het my man besluit om ’n mannekamp by te woon. Ek sal nooit die Sondag vergeet toe ek van die kerk af teruggekom en hom vir die eerste keer na die kamp sien nie. Daar was trane in sy oë toe hy my omhels en vra waar sy trouring is. Hy wou dit weer dra.

“Na ’n baie lang tyd het God my gebede beantwoord. My man het sy hart vir God gegee en waarlik vir Hom begin leef. My kinders het ’n nuwe pappa en ek is van vooraf verlief en lief vir my man. Moet dus nooit ophou bid vir jou huweliksmaat nie. By God is alles moontlik!”

Louise vertel: “Verlede jaar op 9 Junie wou ek selfmoord pleeg. Ek was op pad vanaf Witbank na Bedfordview. My huwelik was nie gesond nie en ek was net moeg vir alles en almal. Ek het vier kinders: ’n dogter van 17, ’n seun van 12 en ’n identiese tweeling van 2. Op die pad het ek geweet dat dit nou of nooit is. Ek het my veiligheidsgordel losgemaak en vinniger begin ry. Die laaste keer toe ek op die snelheidsmeter gekyk het, het ek teen 210 km per uur gery. Ek wou agter teen ’n groot vragmotor vasry om te verhoed dat ’n ander motoris se lewe ook geneem word.

“Dit was nie lank voordat ek die eerste vragmotor langs die pad gesien staan het nie. Ek het versnel en reguit op die vragmotor afgepyl. Net voordat ek die vragmotor getref het, het my tweeling se gesigte voor my verskyn. Ek het uitgeswaai en die vragmotor letterlik met millimeters gemis.

“’n Paar kilometer later het nog ’n vragmotor langs die pad gestaan. Weer het ek versnel. Dié keer het ek, net voordat ek die vragmotor getref het, groot pienk woorde op die agterkant van die vragmotor gelees: ‘Driving for Jesus.’ Ek het uitgeswaai en weer die vragmotor net-net gemis. Ek het langs die pad tot stilstand gekom en besef dat God my deur sy genade gekeer het om my eie lewe te neem.

“Vandag sidder ek om te dink dat my kinders sonder my sou moes grootword. Ek dank God dat Hy my nooit verlaat of in die steek gelaat het nie. In Hom is daar altyd hoop, al voel jy ook hoe moedeloos!”

Barbara, Paula en Louise is reg. God doen steeds wonderwerke. Luister weer na Jesus se woorde in Markus 11:24: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.” Johannes 16:23 sê: “Dít verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee.” En Deuteronomium 33:27 sê: “Die ewige God is ’n skuilplek, sy arms is altyd onder jou.”

Daar is krag in die Naam van Jesus Christus. Kom ons begin bid – sonder twyfel in ons harte. En kom ons wag opgewonde op die deurbraak wat Hy vir ons beplan. Onthou, Hy sluimer en slaap nooit nie!

Gebed

Vader God, baie dankie dat ek in elke situasie na U kan kom met die wete dat U my beskerm. Lei my en my geliefdes vandag om bewus te wees van u teenwoordigheid rondom ons. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Besprekingsvrae

1 Het jy onlangs ’n wonderwerk van God beleef? Wat het gebeur en hoe het dit jou geloof versterk?

2 Lees Markus 11:24. Hoe versterk hierdie teksvers jou geloof wanneer jy bid?

3 Lees Johannes 16:23. Watter krag lê daarin om in die Naam van Jesus Christus te bid?

4 Lees Deuteronomium 33:27. Watter berusting bring hierdie teksvers jou?

5 Waarom glo jy kan jy voortaan vreesloos leef, met die wete dat God in beheer is?

Oorkom jou vrees

Подняться наверх