Читать книгу Oorkom jou vrees - Benescke Janse van Rensburg - Страница 6

Оглавление

2

Hoekom moet ons van vrees wegbly?

1 Petrus 5:7–9

Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë.

Job 3:25

Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref.

2 Timoteus 1:7

Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

Jesaja 54:17

Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie; elkeen wat vals teen jou getuig, sal gestraf word. Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg. Ek laat geregtigheid aan hulle geskied, sê die Here.

Het jy al ’n boksgeveg of ’n tenniswedstryd dopgehou? Vir iemand met geen kennis van sport nie lyk dit asof die twee boksers bloot vir ’n vale rondtrippel en nou en dan ’n hou inkry en die twee tennisspelers asof hulle net die bal oor die net probeer moker. Tog is al twee sportsoorte uiters strategies. Opponente is konstant besig om mekaar te ontleed en swak punte te identifiseer sodat hulle mekaar kan uitoorlê.

Satan is ons vyand. In 1 Petrus 5:8 lees ons dat hy daagliks soos ’n brullende leeu rondloop en soek na maniere om ons aan te val. Job is ’n sprekende voorbeeld hiervan. Hy het ’n mooi huis gehad, ’n klomp besittings, ’n string kinders en boonop ’n wonderlike verhouding met God. Satan het niks daarvan gehou nie. Wat hom veral frustreer het, was dat sy aanvalle op Job nie gewerk het nie, omdat God ’n muur van beskerming rondom hom, sy familie en ook sy besittings geplaas het (Job 1:10, 1953-hersiening).

Job het egter een groot swak punt gehad: vrees dat sy familie of besittings iets sou oorkom. Satan het dit gesien en toe hy ’n geleentheid kry om Job se geloof te toets, het hy hom geslaan waar dit hom die seerste sou maak. In Job 3:25 lees ons Job se woorde nadat hy alles verloor het: “Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref.”

Watter vrese koester jy in jou lewe? Is jy uitermate bang dat jou kinders iets sal oorkom of dat jou huweliksmaat ontrou aan jou sal wees? Of dalk dat jy en jou gesin in ’n motorongeluk betrokke gaan wees of dat jou besigheid bankrot verklaar gaan word? Besef jy dat die vyand sy ore spits?

In 2 Timoteus 1:7 lees ons: “God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” In Jesaja 54:17 lees ons: “Geen wapen wat gesmee word om jou aan te val, sal iets uitrig nie […] Dit is hoe Ek, die Here, vir my dienaars sorg […]?

Wanneer ons toelaat dat vrees in ons lewens groter word as ons geloof in God, word ons ’n maklike teiken vir die vyand. Behou dus jou fokus. Trek jou bokshandskoene aan terwyl jy jou (en ook die vyand) daaraan herinner dat God die laaste sê in elke situasie het. En wanneer Hy ’n muur van beskerming rondom jou geliefdes en besittings plaas, kan geen brandpyle van die vyand jou raak nie.

Gebed

Vader God, baie dankie dat ek elke vrees in my hart na U kan bring. Lei my asseblief daagliks deur u Heilige Gees om met groter geloof vreesloos te leef. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Besprekingsvrae

1 Lees Job 3:25. Hoe het die vyand geweet wat Job die seerste sou maak?

2 Lees 1 Petrus 5:7. Wat kan ons van dag tot dag met ons vrese doen?

3 Lees 1 Petrus 5:8–9. Wat is die gevaar wanneer ons vrese in ons lewe koester en heeltyd daaroor praat? Hoe staan ons die vyand teë as dit kom by vrese in ons lewens?

4 Lees weer 2 Timoteus 1:7. Wat beteken die teksvers vir jou?

5 Lees weer Jesaja 54:17. Watter berusting bring hierdie belofte van God jou?

Oorkom jou vrees

Подняться наверх