Читать книгу Oorkom jou vrees - Benescke Janse van Rensburg - Страница 5

Оглавление

1

Wat is vrees?

Psalm 118:1–9

In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry. Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ’n mens aan my doen? Die Here is by my, Hy help my: ek sal neerkyk op dié wat my haat.

Psalm 91:1–12

Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie. Met jou eie oë sal jy sien hoe die goddelose gestraf word. Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie. Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.

Dink jou vir ’n oomblik in hierdie situasie in: Jou vriende het jou gevra om hul huis op te pas terwyl hulle met vakansie weg is. Jy was aanvanklik opgewonde. Tog, waar jy nou in hul lang donker gang op pad na die donker kombuis staan, sukkel jy meteens om reguit te dink. Jou hart klop vinnig. Jou asem jaag. Skielik hoor jy weer dáárdie geluid uit die kombuis wat ’n koue rilling langs jou ruggraat laat afgly. Is dit ’n inbreker wat in die kombuis rondkrap?

Jy gee ’n stadige tree vorentoe … dan nog een. Duisende gedagtes maal deur jou kop. Moet jy die polisie bel? Moet jy die noodknoppie druk? Moet jy eerder gaan wegkruip? Of moet jy die dief trompop loop? Jy sukkel skielik om ’n besluit te neem.

Vir oulaas haal jy diep asem voordat jy jou hand voel-voel teen die koue gangmuur na die kombuislig se skakelaar uitsteek. Terwyl jy die lig aanskakel, skree jy uit volle bors soos ’n polisiekonstabel wat ’n arrestasie maak: “Wat soek julle in die huis?”

Geskok staar jy en Gemmer die huiskat na mekaar. Hy draai sy kop effens asof hy wil vra: “En vir wat skree jy so?” Dan spring hy van die kombuiskas af en skaam-skaam besef jy dat die sogenaamde inbreker toe die hele tyd eintlik Gemmer die kat was wat in die kombuis na iets te ete gesoek het.

Vrees in ons lewens veroorsaak dat ons perspektief verloor. Dit steel ons selfvertroue en maak ons passief. Dit veroorsaak dat ons vergeet hoe almagtig God is en dat niks vir Hom onmoontlik is nie.

In ’n stadium in Dawid se lewe moes hy dag in en dag uit voor Saul en sy manskappe vlug. In hierdie situasie kon hy toegelaat het dat vrees hom onderkry, maar hy het gekies om sy vertroue in God te plaas. Kyk weer na sy woorde in Psalm 118:5–6: “In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry. Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ’n mens aan my doen?” Ook in Psalm 91:7 lees ons: “Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie.”

Wat staar jy vandag in die gesig? ’n Finansiële krisis? Dreigemente van ’n egskeiding? ’n Krisis met jou kind? Aflegging by die werk? Onthou, God is almagtig. Hy kan en wil jou deur die situasie dra.

Van tyd tot tyd stap ons almal deur daardie lang donker gang op pad na ’n onbekende geluid in die donker kombuis. Gaan jy die ergste verwag of gaan jy jou daaraan herinner dat jy nie alleen in die gang stap nie? God is reg langs jou – en Hy weet reeds wat in die kombuis wag. Menige keer is dit ook maar net Gemmer die huiskat!

Gebed

Vader God, baie dankie dat U konstant by my is deur u Heilige Gees. Lei my asseblief om nie vas te kyk in die “wat as” nie, maar om my oë op U te vestig met die wete dat U my nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Besprekingsvrae

1 Wat is primêre vrese waarmee jy in jou lewe sukkel? Skryf dit neer.

2 Hoekom is dit belangrik om hierdie vrese te identifiseer?

3 Lees Psalm 118:5–6. Watter berusting bring hierdie teksverse jou? Vertrou jy meer op God as op mense (veiligheidspersoneel, jou familie en die polisie) vir jou veiligheid?

4 Lees Psalm 91:7–10. Wat is die voorwaarde om God se beskerming te beleef?

5 Hoe kan ons vreesaanjaende situasies anders hanteer wanneer ons weet dat God ons beskerm?

Oorkom jou vrees

Подняться наверх