Читать книгу Oorkom jou vrees - Benescke Janse van Rensburg - Страница 8

Оглавление

4

Die waarheid agter vrees

Efesiërs 6:11, 17

Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel […] Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.

Jesaja 41:13

Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.

Jesaja 43:1–3

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

Langtong was die monster in een van die kinderstories wat my en my broer se kinderoppasser ons gereeld vertel het. Al het ons later die storie uit ons koppe geken, het dit ons bly fassineer hoe hierdie groen draak met die slymerige tong dit kon regkry om ’n hele dorp se inwoners in vrees te laat leef wanneer hy vanuit die berg brul, terwyl Langtong geen tande gehad het nie.

Dag na dag het Langtong gebrul en onder in die vallei het die inwoners van vrees geril. Die vrees het mettertyd so erg geraak dat nie eens die dapperste van die swaardvegters in die dorpie dit sou waag om teen die berghang uit te klouter om Langtong met ’n swaard van kant te gaan maak nie. As hulle dit wel gedoen het, sou hulle verbaas gewees het om te sien dat hierdie monster skadeloos was!

Die vyand gebruik ook ’n “Langtong”-strategie om ons te verlam. Hy brul vanuit die berg met potensiële vrese oor die toekoms en in ons harte begin ons van vrees te ril. Hoe meer ons na sy gebrul luister, hoe minder word ons geloof in God. Maar as ons fokus op God en sy vermoë om ons uit enige moeilike situasie te haal, raak ons geloof in God sterker en word Langtong se gebrul totaal uitgedoof.

In Efesiërs 6 herinner Paulus ons daaraan om daagliks ons wapenrusting aan te trek en die swaard op te neem sodat ons die vyand en die negatiewe gedagtes waarmee hy ons probeer aanval, kan verslaan. Hoe doen ons dit? Ons bêre God se Woord en sy beloftes in ons hart.

Om God se beloftes te leer ken, verg ’n doelbewuste proses. Skryf die beloftes neer en plak dit êrens waar jy dit gereeld kan sien – in jou badkamer, in jou motor, teen die yskas. Wanneer jy dit sien, kan jy dit memoriseer. En wanneer die vyand kom om jou aan jou vrese te herinner, kan jy, net soos Jesus in die woestyn, jou swaard uitpluk en sê: “Vyand, ek glo nie jou leuens nie, want daar staan geskryf […]”

Hier is twee voorbeelde van God se beloftes uit die boek Jesaja: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou” (Jes 41:13). En: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, jou Redder” (Jes 43:1–3).

Voel dit vir jou asof Langtong vandag in jou nek blaas? Tel jou swaard op. Stap saam met God teen die berghang uit. En wanneer jy voor Langtong gaan staan, kyk hom in die oë voordat jy hom eens en vir altyd met God se beloftes verslaan!

Gebed

Vader God, baie dankie vir u Woord in my lewe. Herinner my vandag aan u beloftes sodat ek my oë in elke moeilike situasie op U kan hou. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Besprekingsvrae

1 Lees Efesiërs 6:11, 17. Watter rol speel die swaard in die wapenrusting wat ons daagliks moet aantrek? Hoeveel tyd bestee jy om God se Woord te leer ken?

2 Hoe gebruik jy die swaard (God se Woord) prakties om die vyand se aanvalle in jou lewe teen te werk?

3 Om God se beloftes te leer, is ’n doelbewuste proses. Watter praktiese riglyne het jy van hoe ’n mens dit van dag tot dag deel van jou lewe kan maak?

4 Lees Jesaja 43:1–5, 13. Watter berusting bring hierdie teksverse jou?

5 Het jy al gevoel asof “Langtong” se gebrul uit die berg jou van vrees laat ril? Hoe het jy die situasie hanteer?

Oorkom jou vrees

Подняться наверх