Читать книгу Oorkom jou vrees - Benescke Janse van Rensburg - Страница 4

Tien wenke vir fasiliteerders

Оглавление

Hier is verdere riglyne vir fasiliteerders:

1 Kies vir jou ’n goeie span om jou te ondersteun

Kry vir jou ’n goeie mede-aanbieder sodat hy of sy in jou plek kan waarneem indien iets voorval en jy nie die groep kan bywoon nie. Dit sal ook die druk van jou afhaal indien iemand ’n vraag vra wat jy nie onmiddellik kan beantwoord nie.

2 Wees vriendelik en gasvry

Die groeplede het moeite gedoen om na jou huis toe te kom. Laat hulle welkom voel en sorg vir iets te ete en te drinke. Julle kan ook as groep ’n rooster volg waarvolgens elkeen ’n beurt neem om vir eet- en drinkgoed te sorg.

3 Wees jouself en moenie die groep probeer beïndruk nie

Mense kom gou agter as jy iemand anders probeer na-aap of voorgee dat jy al die wysheid in pag het. Erken dit as jy nie ’n antwoord het nie en vra om verskoning as jy ’n fout begaan het. Onthou, julle is saam as groep op reis deur die Bybel om iets meer omtrent God se karakter te ontdek.

4 Berei goed voor

Sorg dat jy vooraf deur die spesifieke Skrifgedeeltes en die dagstukkie werk sodat jy die Besprekingsvrae maklik kan hanteer. Kyk ook of daar bykomende materiaal op www.benescke.co.za is wat jy kan gebruik om die byeenkoms verder in te kleur.

5 Bid vir die lede

Moet nooit die krag van gebed onderskat nie. Maak ’n lys van die groeplede en sorg dat jy vooraf vir elkeen afsonderlik vir beskerming bid en dat niks sal voorval wat sal verhoed dat hulle die byeenkoms kan bywoon nie. Bid ook dat God hul harte deur sy Heilige Gees sal voorberei om oop te wees vir dit wat Hy deur elke bespreking in hul lewens wil deponeer.

6 Laai die oudiogreep af

Op die webwerf www.benescke.co.za is daar ’n oudiogreep vir elke dagstukkie. Jy kan dit vooraf van die webwerf aflaai en as inleiding gebruik voordat julle na die besprekingsvrae oorgaan. As jy nie toe­gang tot die internet het nie, kan jy vooraf met een van die lede afspreek om die stukkie te lees. Kies iemand met ’n sterk stem wat die groep se aandag sal behou.

7 Moenie dadelik self die vrae beantwoord nie

Soms is daar ’n stilte nadat jy die vraag gestel het. Laat die groeplede toe om te dink. Sodra iemand geantwoord het, kan jy beleef vra of iemand anders iets wil byvoeg voordat jy jou antwoord op die vraag gee. Maak ’n punt daarvan om almal te betrek en skep ’n geleentheid vir groeplede om die vrae waarmee hulle worstel, aan die groep te stel. Baie keer sukkel van die ander lede met soortgelyke vrae en groei die hele groep as een lid die moed bymekaarskraap om dit te opper.

8 Sorg dat die les vloei

Moenie te vinnig van een vraag na die volgende beweeg nie, maar moet ook nie te lank by een vraag stilstaan nie, tensy jy voel dat ’n enkele vraag genoeg is. Vra of enigeen graag ’n paragraaf of Skrifgedeelte wil voorlees. In plaas daarvan om iemand te kies, vra eerder dat iemand vrywillig aanbied en wag dan geduldig totdat iemand in die groep begin voorlees. Onthou om daarna vir hom of haar dankie te sê.

9 Verdeel soms in kleiner groepies

Dit is soms makliker om in kleiner groepies te gesels. Dit verseker dat al die groeplede ’n geleentheid kry om deel te neem en met vrymoedigheid vrae te stel. Julle hoef nie tydens elke byeenkoms in kleiner groepies op te deel nie. As fasiliteerder kan jy vooraf besluit of die spesifieke bespreking hom daartoe leen.

10 Sluit die les af met gebed

As van die groeplede nie gemaklik voel om hardop voor ander te bid nie, kan jy voorstel dat twee of drie mense ’n kleiner groepie vorm en saambid. In die groot groep kan jy eers op die ry af vra hoe dit met elkeen gaan en of daar iets spesifieks is waarvoor julle kan bid. Daarna kan julle in die kleiner groepies saambid.

Oorkom jou vrees

Подняться наверх