Читать книгу Oorkom jou vrees - Benescke Janse van Rensburg - Страница 3

Vyf wenke vir die gebruik van hierdie studiegids

Оглавление

1 Tydsduur

Vir individuele studie kan die studiegids oor ’n tydperk van 32 dae bestudeer word. In groepsverband kan die gids vir ’n tydperk van 32 weke gebruik word as die groep besluit om elke week ’n ander hoofstuk te behandel. Kleingroepe kan vooraf besluit hoe lank elke ontmoeting gaan wees. ’n Goeie riglyn is om sowat ’n uur en ’n half aan die bespreking af te staan.

2 Groepbespreking

Die studiegids sal die beste werk as elke deelnemer in die groep ’n eksemplaar van die studiegids het. Individue wat aan die bespreking deelneem, kan vooraf deur die Skrifgedeeltes en die dagstukkie lees en aantekeninge maak van die teksverse of waarhede wat vir hom of haar uitstaan. Die dagstukkies kan dan weer in die groep gelees word voordat die besprekingsvrae behandel word. Die doel van die groepbespreking is om saam te ontdek hoe die Skrifgedeelte ons vandag steeds kan help om van ons vrese ontslae te raak.

3 Besprekingsvrae

Aan die einde van elke dagstukkie is daar besprekingsvrae wat in die groep of individueel behandel kan word. Neem die vrae bloot as vertrekpunt vir die gesprek. Nie elke deelnemer hoef by elke vraag te antwoord nie, maar laat genoeg geleentheid vir gesprekvoering.

4 Bybelvertalings

Die Bybel in Afrikaans (1953-hersiening), Die Bybel Nuwe Vertaling (1983-vertaling), Die Bybel vir Almal (BVA), Die Bybel Nuwe Lewende Vertaling (NLV) en Die Boodskap (DB) is in hierdie studiegids gebruik. Dit is nuttig om verskillende vertalings te gebruik aangesien dit die studie verryk.

5 Bykomende materiaal

Kleingroepleiers kan gerus ’n draai maak by die webwerf www.benescke.co.za om bykomende materiaal te verkry wat die besprekingstyd in die groep kan verryk. By sommige dagstukkies word byvoorbeeld verwys na foto’s en videogrepe wat van die webwerf afgelaai kan word.

Oorkom jou vrees

Подняться наверх