Читать книгу Oorkom jou vrees - Benescke Janse van Rensburg - Страница 11

Оглавление

7

Oorkom jou vrees vir onbeantwoorde gebed

Psalm 40:2–4

Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my ’n nuwe lied in die mond gelê, ’n loflied vir ons God. Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou!

Jeremia 32:27

Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?

Daniel 3:17–18

Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.

Ek het vroeër ’n e-pos van ’n leser ontvang wat skryf: “My hart voel absoluut dood. Geen emosie; net ’n hart wat klop.”

Is dit hoe jy vandag voel? Probeer jy met al jou krag vorentoe beweeg, maar dit is asof ’n onsigbare muur jou stuit? Of dalk probeer jy die verlede terugdraai sodat jy jou vorige besluite kan verander, maar ook daar is ’n muur wat jou keer? En om dinge te vererger, voel dit asof jy in ’n modderige put staan met mure wat die lewe en vreugde finaal uit jou pers?

Dít is hoe Sadrag, Mesag en Abednego moes gevoel het toe hulle voor die vuuroond gestaan het. Hulle het vir God standpunt ingeneem deur nie voor die afgode te buig nie, maar nou het hul dood hulle in die gesig gestaar. Of Abraham en Sara. Hulle het God se belofte vir ’n baba vertrou, maar was reeds verby die ouderdom wat dit menslik moontlik was om kinders te hê. En die vrou met aanhoudende bloedvloeiing. Sy het jare lank dokters besoek en gebid vir genesing, maar niks het gebeur nie.

Wat is die krisis wat jou verlam? ’n Ongelowige huweliksmaat? ’n Finansiële krisis wat ál erger word? ’n Siekte? Slegte nuus wat jou tot in jou fondament skud? ’n Krisis by die werk waarvoor jy verantwoordelik gehou word? Of dalk die verlies van ’n geliefde wat verhoed dat jy vorentoe beweeg?

In Psalm 40:2–4 herinner die psalmdigter ons daaraan dat God ons uit enige donker put kan trek: “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my ’n nuwe lied in die mond gelê, ’n loflied vir ons God.” En in Jeremia 32:27 sê God self: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?”

Sadrag, Mesag en Abednego het nie geweet of hulle die vuuroond sou oorleef nie. Toe koning Nebukadnesar hulle konfronteer omdat hulle nie voor sy beeld buig nie, het hulle nogtans geantwoord: “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie” (Dan 3:17–18). Omdat die drie mans nie hul geloof in God verloor het nie, het hulle beleef hoe Hy hulle sonder ’n geskroeide haar uit die vuuroond red. Omdat Abraham en Sara nooit hul rug op God se belofte vir ’n kind van hul eie gedraai het nie, het Hy aan hulle ’n baba gegee. En die vrou met bloedvloeiing het met net een aanraking aan Jesus se kleed genesing ontvang – omdat sy met haar hele wese geglo het dat dit sou gebeur.

Wat is die wonderwerk waarvoor jy bid? Laat vaar jou vrees en twyfel dat God van jou vergeet het. Hy het nie. Dalk is vandag die dag dat Hy na jou afbuig, jou uit die put trek en op ’n rots laat staan sodat jy Hom kan loof en prys vir jou deurbraak. Gaan jy aanhou om Hom daarvoor te vertrou?

Gebed

Vader God, baie dankie dat niks vir U onmoontlik is nie. Help my om te midde van my krisis gelukkig te leef met die wete dat U my uit die put kan trek en aan my ’n beter toekoms kan gee. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Besprekingsvrae

1 Lees Psalm 40:2–4. Was jy al in ’n situasie waar jy begin twyfel het of God jou sal verhoor?

2 Hoe het God jou uit daardie put kom trek? Hoe het jou situasie uitgespeel?

3 Lees Jeremia 32:27. Watter berusting bring hierdie teksvers jou? Hoe gaan jy volgende keer anders bid, nou dat jy weet dat God self sê dat niks vir Hom onmoontlik is nie?

4 Lees Daniel 3:17–18. Waarom dink jy kon Sadrag, Mesag en Abednego met soveel geloof met koning Nebukadnesar praat?

5 Abraham en Sara en ook die vrou met bloedvloeiing het eindelik antwoorde op hulle gebede ontvang. Wat was die kernbestanddeel van elk?

Oorkom jou vrees

Подняться наверх