Читать книгу Oorkom jou vrees - Benescke Janse van Rensburg - Страница 7

Оглавление

3

Die balansskaal: Vrees versus geloof

Hebreërs 11:1 (DB)

Wat beteken dit om op God te vertrou? Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel nie dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur.

Matteus 17:20

As julle maar geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: Gaan staan daar anderkant! en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.

Lukas 1:37

Niks is vir God onmoontlik nie.

Dink vir ’n oomblik aan ’n balansskaal. Sodra ’n swaar voorwerp op die een kant van die skaal geplaas word, beweeg daardie kant dadelik ondertoe terwyl die ligte kant van die skaal na bo beweeg. Sodra jy egter ’n voorwerp met dieselfde gewig as die eerste een aan die ligte kant plaas, sal dit die skaal laat balanseer.

Ons lewens kan met hierdie balansskaal vergelyk word, met vrees en geloof as die “voorwerpe” wat die skaal op en af laat beweeg. Wanneer ons byvoorbeeld deur ’n moeilik situasie gaan en toelaat dat vrees ’n houvas op ons kry, verdwyn ons geloof in God, en weeg die “vreeskant” van die skaal die swaarste. Wanneer ons egter in die uitdagende situasie kies om aan God se beloftes vas te hou en sterk in die geloof te staan, word die “geloofkant” van ons skaal swaarder en verbreek ons die houvas wat vrees op ons lewens het.

Nie een van ons is gevrywaar van uitdagende, vreesagtige situasies nie. Ons elkeen het egter wel ’n keuse oor hoe ons in hierdie moeilike tye gaan reageer. Gaan ons toelaat dat vrees ons geloof uitdoof of gaan ons vrees met ons geloof verdryf deurdat ons kies om ons oë op God te hou en Hom te vertrou om die onmoontlike moontlik te maak?

Geloof is ’n keuse en nie ’n gevoel nie. Dit is om te kies om te vertrou dat God in beheer bly en dat Hy sal doen wat Hy in sy Woord beloof het. Kyk maar na die woorde in Hebreërs 11:1: “Wat beteken dit om op God te vertrou? Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel nie dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur” (DB). En in Matteus 17:20 sê Jesus: “As julle maar geloof het so groot soos ’n mosterdsaadjie, sal julle vir hierdie berg sê: ‘Gaan staan daar anderkant!’ en hy sal gaan. Niks sal vir julle onmoontlik wees nie.” In Lukas 1:37 lees ons weer: “Niks is vir God onmoontlik nie.”

Terwyl die vyand dus kom met vrese oor kinderloosheid, dat jy alleen gaan oud word, dat ’n gebroke verhouding nooit weer sal herstel nie, dat jou huwelik op die rotse gaan eindig of dat ’n geliefde met ’n siekte gaan sterf, kan jy hom met selfvertroue in die oë kyk terwyl jy hom daaraan herinner dat die God wat ons aanbid binne ’n oogwink aan jou ’n lewensmaat of baba kan gee, dat Hy enige gebroke verhouding of huwelik kan herstel en dat Hy jou geliefde kan genees al voorspel die dokters dat hy of sy slegs ’n paar maande oor het om te leef. Dit is dan dat die “geloofkant” op die skaal na onder beweeg terwyl vrees uit jou lewe wyk.

Kom ons maak dit vandag ’n doelbewuste proses om geloof pleks van vrees in ons lewens toe te laat. God is almagtig en Hy gee nie aan ons ’n gees van vreesagtigheid nie, maar een van krag, liefde en selfbeheersing. Staan sterk in Hom en jy mag dalk verbaas staan oor wat Hy nog in jou lewe kan vermag.

Gebed

Vader God, baie dankie dat U in beheer is van my hede en toekoms. Lei my asseblief om volkome op U te vertrou met die wete dat u deurbraak op die regte tyd kom. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n prent van ’n balansskaal by http://www.faqs.org/photo-dict/phrase/5227/balance-scale.html

Besprekingsvrae

1 Wat weeg vandag die swaarste op jou skaal? Vrees of geloof?

2 Lees Hebreërs 11:1. Hoe vertrou ’n mens God vir ’n deurbraak wat jy nog nie kan sien nie?

3 Lees Matteus 17:20. Wat beteken dit om geloof soos ’n mosterdsaadjie te hê? Het jy al in jou lewe beleef hoe God aan jou ’n onmoontlike deurbraak gegee het – omdat jy geloof gehad het?

4 Lees Lukas 1:37. Wat beteken hierdie teksvers op hierdie oomblik in jou lewe vir jou?

5 Hoe kan ’n mens daagliks prakties kies om geloof pleks van vrees in jou lewe toe te laat?

Oorkom jou vrees

Подняться наверх