Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 45

week 11 . dag 2

Оглавление

Familie is vir God belangrik

Dit was ’n koue, reënerige winterdag in 1993 toe Werner en Maria Leuschner-Rabie die man langs die plaaspad in KwaZulu-Natal sien staan. Hoewel Werner nooit rylopers oplaai nie, het hy die man jammer gekry. Hulle het hom opgelaai – min wetend hoe hierdie ontmoeting hul lewens sou verander …

Sowat 50 jaar voor daardie dag het loeiende sirenes tydens die Tweede Wêreldoorlog in die ooste van Duitsland die gemeenskap teen ’n komende bomaanval gewaarsku. Oud en jonk het hulle na die ondergrondse skuilplekke gehaas. Toe die valdeur van een van die ondergrondse skuilkamers toegaan, het die negejarige Werner Leuschner met ’n skok besef dat hy sy broers en susters in die massas verloor het.

Omdat Werner se ouers albei reeds vroeër in sy lewe gesterf het, het sy ouer broers en susters hom grootgemaak. Toe hy hulle die volgende dag nie dadelik kon opspoor nie, is hy summier saam met ’n klomp ander weeskinders per skip na Kaapstad gestuur. Dit was deel van die Duitse regering se poging om die kinders tydens die oorlog te beskerm. In Kaapstad is Werner deur ’n Afrikaanse gesin aangeneem. Met die streng aannemingswette van daardie tyd is die klein Duitse seuntjie se verlede in ’n oogwink uitgewis. Al wat hy oorgehou het, was sy geboortevan, sy herinnerings aan sy gesin in Duitsland en ’n brandende begeerte om weer met hulle herenig te word.

As volwasse man is Werner met Maria getroud. Hy het steeds ’n diepe verlange en hunkering na sy familie in Duitsland gekoester. Daarom het hulle saam met hul gemeente en Bybelstudiegroep jare lank gebid dat God sou ingryp om hom weer met sy familie te herenig.

Toe Werner en Maria die man op die reënerige nag langs die pad opgelaai het, het hulle gehoor dat hy ’n Duitse ingenieur is wat kontrakwerk in Suid-Afrika doen. Werner en Maria het hul storie met die ingenieur gedeel en die Duitser het beloof om ’n advertensie met al Werner se broers en susters se name in ’n plaaslike koerant te plaas wanneer hy weer in Duitsland was. Maande lank was dit stil.

In Junie 1994 het die foon laatnag gelui. Toe Werner antwoord en die stem aan die ander kant van die telefoonlyn hoor, het hy van opgewondenheid geskree. Dit was sy broer Horst. Deur sy trane en uitbundige gelag het Werner besef dat hy skielik ná jare weer vlot Duits praat.

Horst het vertel hoe hy daardie aand ’n bottel olie by ’n supermark gaan koop het. Die bottel het gelek en die winkelier het hom ’n stuk koerantpapier gegee om die bottel mee toe te draai. By die huis het hy die bottel uit die koerant gehaal toe sy oog op die advertensie val wat die ingenieur in die koerant geplaas het. Horst het dadelik die nommer in die advertensie gebel en die ingenieur het hom na Werner in Suid-Afrika verwys. Teen die einde van 1994 het Maria en Werner na Duitsland gevlieg om ná ’n soektog van vyf dekades eindelik met sy familie herenig te word.

Jakobus 5:16b: “Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking.”

FAMILIE is vir God geweldig belangrik. Verkeer jy dalk vandag in ’n situasie waar jy van jou familie geskei of vervreem is? Waarom kies jy nie ook om God deel van jou soektog of genesingsproses te maak nie? Hy het elke verlore stuk van die legkaart om alles reg te laat uitwerk. Die Duitse ingenieur was daardie reënerige dag deel van God se legkaart.

Vader God, dankie dat ek U opnuut in my familie kan innooi en kan vra dat U asseblief enige gebroke familiebande ten volle sal herstel. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Werner by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх