Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 52

week 13 . dag 1

Оглавление

Genade

Johan en Rita is op ’n heerlike lenteoggend getroud. Hulle het skaars die konfetti van hulle afgeskud toe Johan sy lysie aan Rita oorhandig van al die take wat sy voortaan tot op die letter moes uitvoer om hom gelukkig en tevrede te hou. Aanvanklik het Rita haar bes gedoen om aan Johan se vereistes en reëls te voldoen. Mettertyd het sy egter besef dat dit vir haar onmoontlik sou wees om daarmee vol te hou. Dit het struwelings in hul huwelik veroorsaak en toe dit ’n hoogtepunt bereik, het hul huweliksbootjie finaal op die rotse beland.

’n Geruime tyd ná die egskeiding het Rita vir Piet ontmoet en kort hierna is hulle getroud. Piet was presies die teenoorgestelde as Johan. Hy het Rita bemin, haar gerespekteer en haar liefgehad sonder dat hy ooit ’n lysie opgestel het van wat sy moes doen om hom tevrede te stel.

Nadat sy reeds jare lank met Piet getroud was, ontdek Rita op ’n dag terwyl sy die huis opruim die lysie wat Johan destyds vir haar gegee het. Terwyl sy die lysie bestudeer, het ’n glimlag oor haar lippe gebreek toe sy besef dat sy steeds al die vereistes op die lys nagekom het. Dié keer het sy dit egter gedoen omdat daar ’n wedersydse liefde tussen haar en Piet was en nie omdat hy haar forseer het nie.

Dít is die verskil tussen die wet en GENADE. In die Ou Testament het die Israeliete God se wette slaafs nagevolg omdat hulle andersins gestraf sou word. Hierdie bedeling is in die Nuwe Testament ná Jesus se kruisdood en opstanding deur die genade-bedeling vervang. Ons volg steeds God se wette, maar hierdie keer doen ons dit omdat ons Hom liefhet en nie omdat ons bang is dat Hy ons gaan straf nie. Genade beteken dat niks wat ’n mens doen, kan veroorsaak dat God jou meer of minder liefhet nie. Hy het jou klaar lief!

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх