Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 50

week 12 . dag 3

Оглавление

God is ons finansier

Daar was niks meer kos in die huis nie. Slegs een karige meubelstuk het in die leefkamer oorgebly nadat die balju daar was. Michélle het ’n knop in haar keel gekry toe sy kyk hoe haar man, Roelf, moedeloos op die enkelbedjie in die leefkamer lê. Toe Michélle haar trane nie verder kon terughou nie, het sy omgedraai in die rigting van hul slaapkamer. Hiér sou sy vir die soveelste keer op haar knieë voor God neerval en om uitkoms smeek.

Twee jaar tevore het die Strydom-gesin ’n goeie leefstyl gehandhaaf. Roelf was die hospitaalbestuurder op die dorp. Hulle het in ’n gemaklike huis gewoon, twee voertuie besit en met Roelf se salaris kon Michélle sonder stres voltyds ma vir hul kinders wees. Dit het alles verander toe Roelf by die huis opdaag met die nuus dat hy uit sy werk bedank het. Hy wou sy eie onderneming begin. Maande lank het Roelf hard gewerk om sy onderneming aan die gang te kry. Ná twee jaar was die Strydoms se reserwekapitaal opgedroog. Die kinders moes menige dae sonder kos skool toe gaan en die balju het aan hul deur begin hamer. In ’n kort tydjie het hulle hul motors, hul huis en ook die meeste van hul meubels verloor.

Van Michélle se welmenende Christen-vriende het haar in hierdie tyd begin aanraai om van Roelf te skei omdat hy “nie vir haar en die kinders kon sorg nie”. Sy het egter besef dis teen God se wil en het saam met Roelf aangehou om God te vertrou vir ’n deurbraak.

Op daardie moedelose dag in die leë huis het Michélle op haar bed neergeval. Deur haar trane het sy die verhaal van Dawid en Goliat in haar Bybel begin lees. Die storie het skielik voor haar geestesoog afgespeel. Sy kon sien hoe die reus van armoede op haar afstap. Sy kon hoor hoe hy haar en haar gesin met dreigemente tart dat hulle nooit uit hierdie finansiële krisis sal kom nie. Net soos Dawid by die riviertjie gehurk het om vyf klippies op te tel, kon Michélle haarself by die water sien hurk. Sy het die Heilige Gees hoor vra: “Michélle, wat wéét jy van My? Wat lê in jou hart soos die klippie in Dawid se hand lê?” Terwyl Michélle ’n oomblik oor die moeilike maande teruggedink het, het sy begin onthou hoe God vir hulle gesorg het. In haar gees het sy ervaar hoe haar geloof al hoe sterker word.

Toe Michélle by die vyfde karaktereienskap van God kom, het sy weer die Heilige Gees se fluisterstem gehoor: “Michélle, dit is met hierdie ‘klippies’ (waarhede) wat julle jul armoede-reus sal verslaan! Hou aan om op My te vertrou.”

Dít is wat die Strydoms gedoen het. Elke keer wanneer die negatiwiteit gedreig het om hulle te oorweldig, het hulle hulself herinner aan wie God is. Hulle het begin om dit wat hulle wel nog gehad het, volgens Bybelse beginsels te bestuur. Roelf het mettertyd weer ’n goeie werk gekry. Vandag, ses jaar later, staan die gesin steeds verwonderd oor hoe God hul situasie omgedraai het. Vandag besit hulle byna twee keer soveel as wat hulle voor die krisis gehad het.

Filippense 4:19: “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”

Verkeer jy vandag in ’n finansiële krisis? Kyk ’n slag terug en herinner jouself aan elke situasie waar God in die verlede vir jou gesorg het. Onthou, Hy kan en wil enige moeilike situasie in jou lewe verander. Gaan jy Hom daarmee vertrou?

Vader God, dankie vir elke besitting wat ek uit u hand ontvang. Ek weet dat alles in die hemel en op aarde aan U behoort en dat ek slegs rentmeester van u besittings is. Help my om nie negatief te raak wanneer dit voel asof U my nie dadelik antwoord nie, maar om steeds my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Michélle en Roelf by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх