Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 49

week 12 . dag 2

Оглавление

God is ons finansier

God kan en wil finansieel vir ons voorsien wanneer ons op Hom vertrou. Hier is drie getuienisse daarvan: ’n Besigheidskontrak, ’n seun op pad na ’n sendingreis en ’n pensioenaris.

’n Besigheidskontrak: In Februarie 2009 moes Tommy en sy vrou, Belinda Ferreira, met ’n skok uitvind dat een van hul grootste kliënte hul kontrak uit die bloute beëindig het. Oornag het dit hulle in ’n geweldige finansiële krisis gedompel. Indien hulle situasie nie vinnig sou verander nie, sou hulle die deure van hul onderneming moes sluit.

Totaal magteloos het hulle saam voor God gekniel met ’n smeekgebed dat God aan hulle ’n uitkoms moet bied. Vroeg die volgende oggend het Tommy ’n oproep van ’n vriend gekry wat hom van ’n kontrak vertel het waarvoor hy kon tender. Hy het die persoon dadelik gekontak. Teen die einde van daardie dag het Tommy en Belinda ’n nuwe kontrak gesluit vir vier keer soveel as die een wat hulle verloor het. God het voorsien.

’n Seun op pad na ’n sendingreis: Dit was ’n Vrydagmiddag toe Theresa Daschner vir die soveelste keer langs haar bed kniel om met God oor haar seun se uitreik na Malawi te praat. As enkelma kon sy dit nie bekostig nie, maar sy het vertrou dat God haar van die geld sou voorsien. Terwyl Theresa met God gesels het, het sy duidelik ervaar dat sy ’n brief aan God moes skryf waarin sy elke behoefte wat hulle gehad het en ook die bedrag wat haar seun benodig, moet neerskryf. Deur haar trane het sy die brief afgesluit: “God, ek hoop om binnekort van U te hoor. Liefde, Theresa.” Niemand behalwe God het van Theresa se behoefte geweet nie. Toe sy en haar seun daardie Sondagoggend ná die kerkdiens by die kerk uitstap, het ’n onbekende man haar van agter aan haar arm gevat en ’n klein koevertjie in haar hand gedruk. In die motor het Theresa die koevert oopgemaak en in trane na die geld gekyk. Dit was meer as dubbeld die bedrag waarvoor sy God gevra het. Later het hulle uitgevind dat die weldoener agter Theresa en haar seun in die kerk gestaan het, toe hy ervaar hoe God vir hom sê: “Seën hulle groot!”

’n Pensioenaris: As weduwee en pensioenaris het Babs de Nysschen reeds vroeg geleer om oordeelkundig te werk met die klein pensioen en ook die honorarium wat sy verdien het as opsigter van die kompleks waarin sy gewoon het.

In 2009 het sy ’n kerkbasaar saam met haar vriende bygewoon en meer geld uitgegee as wat sy kon bekostig. Soos gewoonlik het Babs met God oor hierdie saak gesels. Die Sondagoggend ná haar gebed is Babs vroeg kerk toe om te verseker dat alles by die kerk reg was vir die diens. Toe sy in haar motor klim en die paneelkissie oopslaan om haar handskoene daarin te bêre, het ’n koevert haar aandag getrek wat sy nie voorheen daar gesien het nie. Sy het dit oopgemaak. In die koevert was ’n “dankie”-briefie van haar buurvrou vir wie sy ’n paar weke tevore ’n saamrygeleentheid werk toe gegee het. Saam met die briefie was die presiese bedrag wat Babs benodig het om die maand deur te sien.

Lukas 11:9-10: “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”

God is ons FINANSIER. Al die geld van die wêreld behoort aan Hom. Ek moedig jou aan om op Hom te vertrou vir elke deurbraak.

Vader God, baie dankie dat ek my nie oor die dag van môre hoef te bekommer nie. Ek weet dat U vir my sal voorsien. Help my om ’n goeie rentmeester te wees van alles wat U vir my gee. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na foto’s van die stories by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх