Читать книгу Ontdek God in die stories van mense - Benescke Janse van Rensburg - Страница 46

week 11 . dag 3

Оглавление

Familie is vir God belangrik

“Alta, ek weet nie meer of dit gaan werk nie.” Alta kon die moegheid in haar swaer Otto se stem oor die telefoon hoor. Hy het reeds weke lank probeer om die mans in Alta se familie te oortuig om saam met hom na die mannekamp te gaan. Dit was nou twee dae voor die kamp en steeds het hulle met allerhande verskonings vorendag gekom oor hoekom hulle dit nie sou kon meemaak nie.

Hoewel Alta se ouma en oupa diep gelowige mense was (wat gereeld vir hul kinders en kleinkinders gebid het), het haar ouers nie gereeld kerk toe gegaan nie. Toe Alta en haar drie susters self ook getroud is, het hulle nog minder in die kerk gekom.

Alta en haar man is eerste kerk toe genooi. Hoewel hulle aanvanklik nie wou gaan nie, het hulle tog besluit om die diens by te woon. Min het hulle geweet dat hulle daardie dag kragtig tot bekering sou kom. Dit het hul lewens ingrypend verander.

’n Paar maande ná hul bekering het Alta ernstig met God oor die res van haar ongeredde familielede gesels. Terwyl sy vir hulle bid, het die woorde van Handelinge 16:31 op haar hart kom lê: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

Vir Alta was hierdie ’n belofte van God. Sy het dadelik begin om ’n lys op te stel van al die ongeredde lede van haar familie. Hierna het sy daagliks vir hulle begin bid. Dit was nie lank voordat Alta se susters die een ná die ander begin het om haar oor die verandering in haar lewe uit te vra nie. Almal wou weet waar die liefde en vrede in haar lewe vandaan kom.

Nadat een van Alta se susters en dié se man, Otto, tot bekering gekom het, het Alta besluit om haar ander twee susters en haar niggies na ’n vrouekamp te nooi. Teen die einde van die naweek het elkeen van hulle in trane hul lewens ten volle aan God gee.

Nou was die mannekamp waarheen Otto die mans in die familie genooi het slegs twee dae weg en soos een man het almal vasgeskop. Toe Alta die gehoorstuk neersit nadat sy Otto moed ingepraat het, het sy weer voor God gekniel en besluit om alles aan God oor te gee.

God het ingegryp en twee dae later was al die mans by die mannekamp. Deur die loop van die naweek het die een ná die ander ’n ervaring met God gehad en teen die einde van die naweek het Alta se 65-jarige pa na aan trane sy hart ook aan God oorgegee. Toe hy Otto groet, het hy hom met hierdie woorde omhels: “Dankie dat jy aangehou het om my saam te nooi. Hierdie naweek het God my lewe aangeraak.” Sy grootste spyt was dat hy soveel jare laat verlore gaan het sonder om die Here Jesus Christus as sy Vriend en Heer te ken.

Nie net kon Alta elke naam op haar gebedslys afmerk nie. Tot vandag toe is almal steeds aktief in hul gemeentes betrokke.

Handelinge 16:31: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”

FAMILIE is vir God belangrik. Moet dus nooit jou gebede vir jou huweliksmaat, jou kinders of jou kleinkinders onderskat nie. Dit was immers nie net Alta se gebede wat deur God beantwoord is nie, maar ook haar ouma en oupa s’n!

Vader God, dankie dat familie vir U belangrik is. Help my asseblief om nie van my ongelowige familielede te vergeet of hulle af te skryf nie, maar eerder te vertrou dat U hulle deur u Heilige Gees kan verander. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Kyk na ’n foto van Alta en haar familie by www.benescke.co.za

Ontdek God in die stories van mense

Подняться наверх