Читать книгу Die windvanger - Breyten Breytenbach - Страница 25

17

Оглавление

toe sê Woordfoël vir die vrou en die kind

kom ons sit op ons hurke

hier teen die hoogte

en kyk af op die rokende stad

en maak bestekopname

ons bly met die pad verbind

aan die plek van oorsprong

al het ons die mense se name vergeet

toe sê Woordfoël vir die vrou en die kind

ons is vry

ek weet dit is swaar

en eens elke jaar is dit goed

om om te draai

om terug te kyk

na die reise en die ryk van dooies

eens elke jaar

word die seisoen donker

en die tyd is daar

klaar en ryp om die pampoen

soos ’n hemelse vrug van ewige lewe

mark toe te bring

kom laat ons sing

hoe sal ons die vlees bewaar?

in die kelders kopknik mummies

swerfswaar van ontbinding

mot en roes het die jasse met gate verblind

hoe sal ons die afstand besweer?

ons stop die reise en getye op

met woestynheuning en sprinkaanvleis

en Ouland se vergete onthousels

dat ’n goeie geur uit die heuwels kom

en hou boek in die stof

toe sê Woordfoël vir die vrou en die kind

kom ons versin onsself as verkenners

maak hout bymekaar

en steek aan die vuur

ons sein vir die burgers

van die dooie stad

dat ons die maan

uit haar donker holtes wil lok

om met die pampoen te versoen

verder sê Woordfoël vir die vrou en die kind

vergewe my asseblief

mens maak gedig ook van stokkies en saad

om die sagte woorde op te vang

mens soek maar altyd rym en maat

en dan die brand van verwerkliking

julle moet dit vir niemand vertel nie

Die windvanger

Подняться наверх