Читать книгу Die windvanger - Breyten Breytenbach - Страница 21

13

Оглавление

donker weg uit New York

die strate nat van pêrelgrys reën

hoë torings stil in die slaap

van steunende reuse, skimme, mis

en vroeë boemelaars beweeg koulik

uit beddens papier en dose karton

’n swart kat glip weg agter vullisdromme

op die balkon was daar ’n dooie blou duif

in New Jersey sug fabrieke rookpluime

soos messe wat ook die sin van sny verloor het

van die lughawe het ons gestyg

in ’n vaal kombers en weswaarts

oor ons onsigbare roete gepyl

daar was geen engele bo die wolke nie

totdat son ons vang oor ’n leë land

waar skaduwees groen vou in bruin oewers aarde

en riviere slinger soos silwer slange van ouds

dan was daar reguit strepe deur die mens

gemaak om verskiete aan mekaar te verbind

alle golwing was afgeplat my hand

in die hemel soos ’n blinde kind

kom die maan ooit hier?

sou daar putte wees onder

en toktokkies en drome wat teen mure skuur?

die dorpe was bottelskerwe gestring

aan die draad van ’n dronkwordpad

en kwikspatsels damme of gate gif

daar was ’n stad as die verkragting van saamwees

toe stilte

en skielik die kreukels en karbonkels

swart berge, en later die donker bleek

dambord van ’n woestyn uiterse

stoere eensaamheid

die dood word dag vir dag gemaak

die verstand ’n verslindende vaartuig

niks is blou of bewerig nie

hoeveel keer moet die tong draai

in die onbekende intieme holte

op soek na die woord genade

in die mens se bestaan?

ons is doodmaak en vergeet

ons aai die sot wurm van bewustelik lewe

draai, draai my lied

jy loop te ver

kom terug na die kat op straat

die duif so stil op die nag se balkon

draai saam met die son na die oseaan

se flonker draai weg van die aarde

se are en vlekke berge

en kors onverskillige lewe

en strand teen die oopte

van ’n ander dimensie

nog ’n laaste piek en kruin

sproeisel sneeu ’n silwerjakkalsjas

dan daal ons neer deur ’n nuwe weefsel wolke

na die groener vlaktes van Kalifornië

se voetheuwels, snelweë, knoetskerke, lommerryke voorstede

en voorstelle, turkoois swembaddens, ’n see seekant se kant toe

omsoom met seweduisend palmbome

Die windvanger

Подняться наверх