Читать книгу Die windvanger - Breyten Breytenbach - Страница 13

5

Оглавление

laat die woordvoël se pad jou dan lok

deur ruigtes van selfverbeelde angste

al langs weë toeka toegegroei

soos die leë geskiedenisse

van nisse en neste

waar soldate se geraamtes

grond geword het

nog voor hulle sin kon spel

die verlede sal nooit ophou verdwyn nie

maar as jy aanhou beweeg

kry jy die betekenis van tot niet gaan –

strek dan jou maak-maar-so-vlerke

en die skrikkerige skaduwee

in die stof is ’n vangs

daar hét jy dit nou

pluk in die veld ’n lat

van die naaste doringboompie af

en slaat jou gat

totdat die babbeling van lof der begrip

borrelend uit die landelike keel kweel

Die windvanger

Подняться наверх