Читать книгу Die windvanger - Breyten Breytenbach - Страница 12

4

Оглавление

toe sê die dief vir die vrou en die kind

kom ons stap weer weg uit hierdie stad

van heilige bekeerdes

die mense hierlangs

hou nie van spotvoëls en morbekke en vals note nie

hier kom duisternis

voorwaar voorwaar ek sê verder vir julle

nou gooi hulle ons nog met skille

binnekort sal dit drolle wees

toe sê die dief vir die vrou en die kind

dis beter om blind in die vreemde te gaan

as om twee ontgogelde klippe

vir oë in die kop te kry

hier kom ’n getrommel van gewetens

luister hoe jil en joel die gelowiges

met skemerte is die stemme

tuine en boorde vol onkruid geheuens

en die vadere se gebeentes klik

soos grafte vol woorde

kyk van heinde en ver

trek die swart onweer laer

en onnodige geraas

ons gee pad

ons neem saam

die bewegings van die maan

wat die son se intieme naam is

in die nagte stil van sterre

toe sê die dief vir die vrou en die kind

ek weet julle voete en harte is seer

ek is jammer ek het julle verkeerd voorgesê

maar dit belowe ek weer

op my eer as dief

as ons honger word vir liefde

steel ek ’n hele brood lewe

so groot soos ’n gedig

en so voedsaam soos ’n vis

seën die brood

en aanbid die vrugte

uit die aarde van geboorte

toe sê die dief vir die vrou en die kind

ons sal onthou

die ewige blou vlam van die hemel

en ons neem met ons mee

die see en die berg

en die stof van ons voete

dis klaar stap vir stap die gesig

van die begin van die einde

van ’n derde en laaste ballingskap

Die windvanger

Подняться наверх