Читать книгу Die windvanger - Breyten Breytenbach - Страница 20

12

Оглавление

bygaande kamerverse

was ingebed in die notaboek

oorgetrek met leer

van ’n karmosyn kleur

(om die helder ekstase van pyn te reflekteer)

wat ek ná ’n verdonkering se gefuif in Seattle

in die New York-taxi iewers

tussen ’n lughawe en die stad

van torings vergeet het

soos ’n klont koue kots

(die Nigeriese drywer blaai dalk nog

deur my nagte)

opsetlik?

wou ek aanhou lewe

gatvol vir die dood

en die taal asyn aan die lippe

om te sien of ’n woord of twee

van waarde nog buite die grys askruik

van die skrif

uit die mond kan val

en dié te deel met die intieme anonieme vriend?

het is ’n beswaring en is verrot

wou ek soek tot op die been van herinnering

en hierdie optekenwoorde een vir een wurm

uit die wond van vergeet?

dis ’n bestiering

my anonieme intieme vriend

om die saamhang van ’n gebedeboek

te mag verloor

en teen alle onmag in

met skaduwees te toor

die gekrys van ’n blinde voël

ek bring die vergane vlugte

van gedigte wat nooit weer

in my gaan bloei

nou as lappe en klippe

tot aan jou lippe

het is beswaddering en is gis gisters

Die windvanger

Подняться наверх